Anderkant die spieël. Melissa Scharneck. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Melissa Scharneck
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800726
Скачать книгу
>

      Anderkant die spieël

      Melissa Scharneck

      Queillerie

      Vir my susters,

      Landi, Nadia en Christine

      Knowing your own darkness is the best method for dealing

      with the darknesses of other people.

      CARL JUNG

      Voorwoord

      Die wêreld is vol donker kamers waarvan niemand weet nie. Waarin mens te skaam is om te onthaal, waar jy jou dingetjies weggesteek hou – om in die laataandure daar­teen te baklei. Sodat jy jouself kan meet, kyk of jy dié lewe se tyd werd is, of jy lewendig kan uitstap en of jy op die vloer sal bly lê: in ’n plas van jou eie bloed.

      Ek veg nie meer in donker kamers nie. Ek veg teen my snor wat groei en my skoene wat druk. Ek veg met wax en pantoffels. Nie met die deel binne-in my bors wat voortleef wanneer daar nie meer ’n lyf is waarin dit kan skuil nie. Die donker kamer se deur is iewers agter my toegetrek.

      Ek hoop om nooit weer ver genoeg terug te stap om dit te kan oopmaak nie.

      Niemand wíl ’n sad storie hê nie

      Niemand wíl ’n sad storie hê nie. Ek’s seker as Sylvia Plath kon kies, sou sy eerder op die stoofplate doenig wees as onder die grill. Vandag het ek gaan krap waar dit nie jeuk nie. Nader aan die koekpan as die kospot, en ek hou nie daarvan nie.

      Tussen die bokse wat ek nog moet uitpak, het ek op een van Mark s’n afgekom. Sy bokse is duidelik gemerk met groen kleeflint. Toe ek sien hy merk syne so, wou ek Maggie op al myne skryf, maar ’n paar weke terug was ek aansienlik minder sarkasties as nou. Soos in Bloubaard se storie is ek aangesê om sy bokse net eenkant te sit. In die spens. Hy sal dit self uitpak.

      Ek was ingedagte toe ek die boks oopmaak, gedink dis kombuisgoed. Dit was nie aspris nie.

      Toe die lem deur die groen kleeflint trek en die boks se flappe oopspring, het ek my fout agtergekom. ’n Boks vol A5-grootte boekies met bruin leeromslae. Kan net Mark s’n wees. Prokureurs het mos alewig netjiese boekies vol reëls wat die mensdom in toom hou.

      Jy mag nie moor nie, herinner ek myself aan een van hulle.

      Om die eerste boek op te tel en oop te maak, dít was aspris. Seker onnodig ook, maar ek wou sien.

      Want êrens is daar fout in hierdie huwelik. Ek weet dit al ’n hele ruk en ek wou kyk, die rede daarvoor soek. ’n Bose wese het in my oor begin fluister om nie te glo en te vertrou alles is soos wat dit op die oog af lyk nie. ’n Boks boeke kan nie net ’n boks boeke wees nie.

      Dit was nie. Die boeke, al twaalf van hulle, is van hoek tot kant vol geskryf met ’n netjiese, vloeiende handskrif wat aan niemand in hierdie huis behoort nie.

      Ek het so tien blaaie uit die eerste dagboek gelees. Ek wens ek kon dit uitwis. Wat die oog gesien het, sal die brein onthou . . . ’n Mooi handskrif, ’n eerlike verteller, ’n dieper insig in die lewe van ’n hartseer vrou en ’n donker, donker tema, resenseer ek die geleesde deel in my kop.

      Juliet se deel. Juliet se handskrif. Háár donkerte.

      Juliet was Mark se eerste vrou. Die een wat doodgegaan het met die geboorte van haar eerste kind, haar énigste kind. Sy was nog nie eers dertig nie. Ek skend die privaatheid van ’n vrou wat nie geweet het of sy kom of gaan nie.

      Ná ek die tien of wat bladsye verorber het, weet ek nie meer of haar dood bloot toeval was nie. Dalk kon sy die lewe net nie meer verdra nie. Die twaalf dagboeke is in agt maande geskryf. Haar laaste agt. Toe sy swanger was. En in daai hele eerste tien bladsye verwys sy nie een maal na haar swangerskap of ongebore kind nie.

      Ek het reeds aanvaar geen kind sal tydens hierdie lewe my lieste verlaat nie.

      My eerste man is aan ’n hartaanval dood voor ek kon swanger raak, en met Mark is ek eers getroud lank ná die begeerte om ’n kind te baar my hart verlaat het. Maar ek het al baie swanger vroue geken en al waaroor hulle praat, is swangerskapkwale en opgewondenheid oor die nuwe baba. Juliet sê niks daaroor nie. Dis nie normaal nie.

      Sy spoeg vuur oor haar huwelik met die man met wie ek nou getroud is. Sy bevraagteken die gode, verwyt haar ouers en vervloek haarself. Sy was nie gelukkig nie.

      Ek is ook nie gelukkig nie, maar darem nie ongelukkig tot só ’n mate nie. Ek het nog nie by ’n verduideliking gekom oor hoekom sy so haatdraend teenoor Mark was nie, en ek weet ook nie juis of ek verder wil lees nie. Hy laat dit altyd klink asof alles met Juliet maanskyn en rose was. Nie so erg dat dit my irriteer nie, maar hy praat nooit sleg van die vrou nie.

      Wat my betref: hy mishandel my nie, hy behandel my eintlik glad nie sleg nie. My grootste (en enigste) probleem is sy afwesigheid. Soms voel dit asof ek glad nie getroud is nie, vir weke aaneen stoksielalleen.

      As mens nie daarvan hou dat jou man gereeld weg is nie, beteken dit sekerlik jy wil hom graag by die huis hê? By jou? Maar ek weet nie altyd nie. Soms wonder ek of ek teen sy afwesigheid stry omdat ek voel dis my plig. Omdat ander vroue voel dis hulle plig. “Hou jou man by die huis, anders weet jy nie wat hy doen nie!”

      Mark se doen en late is nie gewoonlik vir my rede tot kommer nie.

      What you see is what you get. Hy lyk soos hy is: effens bogemiddeld. Hy is ’n kop langer as ek, dra sy bruin hare in ’n kantpaadjie, kyk mooi na sy lyf en sy vel, en mense wat nie saam met hom bly nie sien hom selde in iets anders as ’n pak.

      Vandat ek hom ken, is ek oortuig hy is ’n goeie man. Hy het my nog nooit rede gegee om anders te dink nie.

      Nie tot vandag nie.

      Tien van Juliet se dagboekbladsye het my laat wonder of ek my man ken soos ek moet. Ons is nog skaars twee jaar getroud en ek het lankal ophou glo slegte goed gebeur nie met goeie mense nie.

      Dalk is die boeke fiksie. ’n Roman waaraan sy gewerk het. ’n Psychological thriller . . .

      Dalk is ek net weer paranoïes.

      Hoekom hou hy die donnerse goed nou al vir soveel jare? Sekerlik weet hy wat daarin staan? Of dalk het hy dit nie gelees nie, uit respek of iets. En hier kom ek en val sommer weg asof dit ’n blitsverkoper op ’n afslagrak is.

      Wat my meer pla as die dagboeke se inhoud, is die geweldige angstigheid wat my oorval het toe ek besef ek het een van Mark se bokse oopgemaak. Hoekom is ek so bang hy kom agter ek het die dagboeke gesien? Ek wonder nou al vir ure waar ek sulke presiese groen kleeflint gaan kry om die boks weer toe te plak. Asof ’n deel van my bang is vir hom. Baie bang.

      Nee, ek moet iets doen. ’n Bietjie uit die huis uit kom.

      Voor ons nuwe huis, met die baguakaart in my hand, besef ek eers hoe mislik die dag is. Koud en nat en na aan sneeu. Soos iets uit ’n Elsa Joubert-boek waarin die slimmes perdry vir naai misgis.

      Op hierdie dorp is al die slotte te groot en die sleutels te klein. Mark het my al na meer as een plek gesleep waarmee ek nie heeltemal tevrede was nie, maar dié dorp is ’n hasegat. Ek het so gevoel toe ek hier inry en ek voel nog steeds so. Dis ’n hasegat waarin ek besig is om te val. Die val voel vir ewig en ek het geen idee waar ek gaan land nie.

      Dalk land ek nooit. Ek sal nie verbaas wees as ek my hier op Voortrekkersrus doodval nie.

      Dis in elk geval verspot dat ek nou al hierheen moes trek terwyl Mark eers oor ’n paar maande gaan tyd kry om aandag te gee aan die nuwe kantoor wat hy hier wil oopmaak. Nou sit ek soos ’n uil op ’n kluit en wag dag na dag vir my man om huis toe te kom.

      Die man wat my verlei het soos ’n haas met ’n horlosie en ’n onderbaadjie, om hom wyd en syd te volg. Hy is so anders as meeste mans. Gekultiveerd, slim, opwindend en buitengewoon. Ons kon aande om sit en gesels en ek het die belofte van ’n pragtige lewe in sy oë sien brand. ’n Lewe waarin ek die een helfte van twee gelukkige mense sou wees.

      Hy het nie verander nie. Ek het. Hy is nog steeds nes die haas met die onderbaadjie, maar ek het besef hy