Oom Faan frons nou skerp op sy dogter af en ook haar vriendin kyk haar verbaas aan. Liesel is byna openlik vyandig in haar houding teenoor Kas Burger. Dit kom beslis ’n bietjie vreemd voor, veral omdat sy hom vanaand vir die eerste keer ná maande weer gesien het. Marlise spring oom Faan voor en laat gemaak opgewek hoor: “Wel, aan my sou dit beslis ’n verskil gemaak het. Ek is baie bly oom het hom gesoebat, oom Faan. Mag ek môre kom tee drink in die kantoor?”
Oom Faan knik, probeer ook glimlag.
“Natuurlik – as jy koek saambring. Kas hou van sjokoladekoek.”
Marlise haak by hom in en hulle begin aanstap gang toe.
“Sjokoladekoek sal daar wees – ek belowe! Hulle sê mos die pad na ’n man se hart loop deur sy maag, dan nie?”
Liesel hoor hulle lag en die ergernis neem in haar toe. Marlise is verspot. Sy hoop regtig nie sy gaan haar goedkoop maak voor Kas Burger nie. Sy kan haar gerus môre ’n bietjie deur die dorp neem en terloops wys waar Kas woon. Dit behoort haar oë oop te maak.
Maar ook hierin spring Marlise haar voor. Die volgende oggend, toe oom Faan met die trappie afstap op pad kantoor toe, tref hy sy dogter se vriendin in die blomtuin aan, besig om blomme te pluk.
“Môre, oom Faan. Ek het sommer eie reg gebruik en begin blomme pluk vir die huis. Ek hoop nie oom is kwaad nie?”
“Nee, natuurlik nie, kind. Gaan gerus voort. Maar ek het gedink jy slaap nog.”
“Liesel slaap nog maar ek is al vroeg wakker. Ek wil netnou ’n bietjie deur die dorp stap. Ek brand om dit te sien. Dis ’n pragtige plekkie. Klein, maar intiem, en dit het soveel atmosfeer.”
Oom Faan se oë is warm. Die pad na sý hart loop beslis deur Grasbult. Vir baie stedelinge is Grasbult, wanneer hulle met die snelweg na die Noorde hier verbykom, ’n simpel klein dorpie, en baie wonder hoe enige mens by sy volle verstand uit vrye keuse op so ’n ou plekkie kan woon. Maar vir oom Faan en die ander Grasbulters wat hier uit sy stofaarde gebore en getoë is, is Grasbult ’n klein hawe van rus, ’n klein oase in ’n wêreld wat verleer het wat rustigheid en kalmte is. Op Grasbult is die dolle gejaag van die moderne lewe, die geweldige spanning, iets vreemds. Op Grasbult haas jy jou langsaam, en op die ou end, het oom Faan al agtergekom, kry hulle meer uitgevoer as daardie man wie se lewe van soggens vroeg tot saans laat in die malle rondomtalie van die stadslewe vasgevang is.
Hy glimlag nou breed vir haar.
“Onthou die sjokoladekoek!” sê hy voordat hy in die motor klim.
“O, dít sal ek beslis nie vergeet nie!” roep sy en wuif tot siens.
Marlise rangskik eers die blomme en sit oral bakke vol in die huis rond terwyl sy saggies neurie. Wanneer laas het sy so gelukkig … en so opgewonde gevoel? Sy is ’n stadskind, en dis die eerste keer dat sy op Grasbult kom kuier, hoewel die Demperse en Jouberts al jare lank vriende is en Liesel al dikwels met skoolvakansies by haar in die stad kom kuier het. Maar sy het nog nooit sinnigheid gehad om ’n vakansie hier op Grasbult te kom deurbring nie. Vanoggend kan sy haarself skop daaroor.
En amper het sy hierdie keer ook nie gekom nie. Dit was net Liesel se gekerm wat haar eindelik maar laat toegee het om vir ’n week saam te kom. En vanoggend, net maar twee dae ná haar aankoms, wens sy sy kon die week na jare uitrek. Sy hou van Grasbult en sy mense. Die dorp self is nie meer vir haar ’n vaal ou dorpie soos sy dit altyd in haar gedagtes geskets het nie. Dis nou ’n klein stukkie paradys waar jy soggens vroeg wakker word met duisende voëls se gesang in jou ore, en saans voordat jy in droomland wegsink, die kriekies hoor skree en die paddatjies hoor roep en selfs ’n uil êrens in een van die bome ’n geheimsinnige hoe-hoe laat hoor. Dis ’n dorpie waar jy by elke hekkie waar jy verbygaan vriendelik gegroet word, vreemdeling of nie; ’n plek waar jy sommer ná bekendstelling op die voornaam genoem word, ’n plek met gawe mense, aardse mense van wie sy hou. Ja, sy hou sommer baie van hierdie wêreld en sy mense … en sommer baie, baie van Kas Burger.
’n Rukkie later stap Marlise luierend onder die bome deur en kies sommer ’n koers terwyl sy belangstellend alles om haar bekyk, en dit wat vreemd en nuut is, van naderby gaan beskou. Eerlank is sy aan die kant van die dorp en lê die sportterrein met nog net een platdakhuisie daarnaas voor haar. Sy wil net omdraai en terugstap sodat sy Kas se sjokoladekoek kan gaan bak, toe sy hom gewaar.
Oom Joop is besig om ’n halsstarrige haan in die hok te probeer kry. Hy is onbewus daarvan dat hy ’n toeskouer het en, in sy onmag met die rumatiekbene om die ratse haan in ’n hoek te dryf, vertel hy hom ook in geen onsekere taal wat hy met hom sal doen as hy hom in die hande kry nie, die ditse ding! ’n Hartlike skaterlag agter hom laat hom wip soos hy skrik en dan verleë omdraai.
“Lyk my daardie haan is nog net vir een ding goed, oom, en dis om heerlik bruin te braai in sy eie vet met lekker bruingebakte aartappeltjies om hom.”
“Dit kan jy weer sê, meisie. Dis net wat met hom gaan gebeur as ek hom in die hande kry!” beaam oom Joop pootuit en vee die sweet met ’n kakiesakdoek uit sy oë.
Weer lag Marlise spontaan, die lewensvreugde borrelend in haar.
“Ek sal oom help, maar op een voorwaarde – ek word ook vir die dis genooi. Top?”
“Top!”
Oom Joop staan terug en nou is dit sy beurt om te lag totdat die trane rol. Die meisie lyk gehawend toe sy eindelik trots tussen die drade en bosse orent kom, die rooi haan stewig vasgevat, haar oë skitterend.
“Hy het my laat sukkel, oom, maar ek het hom. Waar moet ek nou met hom heen?”
Oom Joop skuifel vinnig nader.
“Hier, meisie. Sit hom in hierdie draadhokkie en môre waai sy kop.”
“Wanneer eet ons hom – môremiddag?”
“Top!”
“Niks hou my môremiddag hier weg nie! Ek het hard gewerk vir daardie stukkie kos! Ek sal nou eers moet loop, oom. Tot môremiddag, hoor?”
“Tot siens, meisiekind. Kom seker. Jy is baie welkom.” Laggend en onbewus van haar geskraapte knieë en die feit dat dit lyk asof sy deur ’n warrelwind opgetel en êrens neergegooi is, stap Marlise terug huis toe. Sy sal haar moet roer as sy daardie koek betyds gebak wil kry sodat sy dit nog voor teetyd kan versier.
Liesel tref haar ’n rukkie later in die kombuis aan, druk besig. “Wat maak jy?”
“Ek bak koek. Nee, gaan sit op ’n ander plek, jy is in my pad,” beveel sy sommer eiegeregtig en Liesel gaan plak haar aan die oorkant op ’n stoel neer. Sy frons.
“Marlise, jy gaan tog nie so verspot wees om regtig ’n sjokoladekoek vir Kas Burger te bak nie.”
Marlise kyk op en vee met ’n meelhand haar kuif uit die oë. As skoolmeisies was sy en Liesel groot maats, maar sy is nie meer so seker of sy nog soveel van haar eertydse vriendin hou noudat hulle jong meisies geword het nie.
“Ja, ek gaan.”
“Jy kan nie ernstig wees nie!”
“Natuurlik is ek. Liesel, ek is ’n jaar ouer as jy, nè? En jy weet ook ek het baie mansvriende. Maar Kas is anders. Kas was vir my iets … iets spesiaals vandat ek hom die eerste oomblik gewaar het.”
Liesel lyk openlik geskok.
“Maar jy ken hom nie! Jy weet nie wie en wat hy is, waar hy uitkom nie, waar …”
“Ek hoef nie te weet nie – nie regtig nie. Alles wat ek wil weet of hoef te weet, kan ek in Kas self sien. Liesel, ek kan jou dit maar sê, want daar is tog geen gevaar dat ek miskien op jóú tone sal trap nie: ek is verlief op Kas Burger. Ek is vir die eerste keer werklik verlief en ek gaan my uiterste bes doen om hom beïndruk te kry, al sê jou pa hy het nie tyd vir ons geslag nie.”