Hy dink nou veral aan jong Rob Rabe. Robert Rabe se seun het nie nodig om juis ambisie te hê nie. Sy pa het reeds alles, of byna alles, vir hom bereik. Hulle is van die rykstes in Grasbult se distrik. Rondom, die Rabes se modelplaas net vyf kilometer buite Grasbult, is reeds tot volle kapasiteit bewerk en ontwikkel. Al wat Rob sal moet doen, is om dit wat reeds bereik is, in orde en in stand te hou. Natuurlik is daar altyd die moontlikheid van uitbreiding. Grond kan gekoop word waarop nog meer modelplase tot stand gebring kan word. Maar ou Robert is ’n verstandige man en daarby nog ’n perfeksionis ook. Op Rondom lê die spreekwoordelike klip nie uit sy plek nie, en daarom dat hy nie verder uitbrei as die een groot modelplaas nie, omdat hy besef dat ’n man net sóveel kan behartig en nie meer nie. Maar of die jong Rob ’n waardige opvolger vir sy pa sal wees, betwyfel Faan. Ook as enigste kind tot in die afgrond bederf, lyk dit nie of hy hom baie bekommer oor die toekoms en die verantwoordelikhede wat so ’n erfenis eendag op sy skouers gaan laai nie. Wel is dit wonderlik om eendag ’n erfenis soos Rondom te kan ontvang, maar dit bring ook groot verantwoordelikhede mee – en Faan Dempers betwyfel dit sterk of dáárdie skouers dié verantwoordelikheid kan dra.
En daar is deesdae ’n besondere verhouding tussen Liesel en Rob Rabe. Hy weet nie of hy baie daarvan hou nie. Op die oog af is Rob nou die mees gesogte man op Grasbult, maar hier diep in Faan Dempers se hart lê die twyfel. Hy weet nie … hy weet nie of Rob Rabe ’n waardige erfgenaam vir Rondom en, vir hom persoonlik van meer belang, ’n waardige man vir sy vrou sal wees nie. Daar is tekens, nou nog baie vaag, miskien selfs baie misleidend in hierdie vroeë jeugstadium, dat Rob Rabe maar taamlik onverantwoordelik is. Daar is ’n onrus in Faan Dempers en ’n heimlike wens dat hierdie vriendskap tussen Rob en Liesel mettertyd liewer moet oorwaai.
Nie dat ’n vriendskap tussen Rob en Liesel iets nuuts is nie. Hulle het saam grootgeword. Die ouers aan beide kante is deur al die jare intieme huisvriende. Maar dis tog vir Faan asof daar die afgelope tyd iets meer intiems in die vriendskap tussen die twee jong mense ingesluip het, en hy behoort eintlik verbaas te wees dat hy teenstand hierteen in sy hart ervaar. Of is Kas miskien die oorsaak dat hy deesdae so krities teenoor Liesel se vriende staan? wonder hy meteens. Hy het nie miskien in die gewoonte verval om elke jong man wat sy voete oor die drumpel van Hartelus sit, te meet aan die jong Kas Burger, te weeg naas ou Joop van die onderdorp se seun nie? En weet hy nie in sy hart na watter kant toe die weegskaal sak nie?
Dis ’n hele ruk later dat Kas opstaan en die dokumente bymekaarmaak. Hy en sy senior het die watersaak klaar bespreek. Maar Faan se stem hou hom terug.
“Net ’n oomblik, Kas. Sit. Daar is iets …”
Kas gaan sit, kyk reguit terug.
“Ja, meneer?”
Faan aarsel, maar kyk dan op.
“Ek wil jou iets vra, en wat hier gesê word, bly natuurlik net tussen ons. Dis in verband met Rob Rabe en die kring waarin my dogter beweeg.” Hy sien onmiddellik die waaksaamheid in die jong man se oë, die verstilling in die mondhoeke, en hy weet instinktief dat sy agterdog gegrond is. Rob is nie die man wat hy voorgee om te wees nie.
“Ek wil weet watter soort man hy werklik is, Kas. Voor my en Liesel sit hy natuurlik sy beste voetjie voor. Ek het die gevoel ek ken hom nie werklik nie, al ken ek hom eintlik van sy babadae af. Ek weet jy beweeg nie in dieselfde kring nie, maar julle jong mense praat tog onder mekaar, hoor dinge waarvan ons ouer mense nooit hoor nie.”
Daar is duidelike onwilligheid in die jong stem toe Kas eindelik antwoord.
“Miskien moet u liewer hierdie vrae vir iemand anders vra, meneer. Ek … is nie die aangewese persoon om u te sê nie. Vra liewer …”
“Maar jy is, Kas. Niemand anders sal my die waarheid vertel nie. Almal sal wegskram. Ek kan net vir jou vra. Liesel is my enigste kind, Kas. Ek is bekommerd, baie bekommerd. Liesel is in die verkeerde rigting aan ’t beweeg en ek weet nie eintlik hoe ek haar moet keer nie, want ek het haar op daardie pad gehelp.” Hy sug terwyl hy hierdie eerlike belydenis doen, kyk dan weer op, en meteens is hy en die jong man voor hom gelykes, kan Faan Dempers sy hart oopmaak teenoor ou Joop se seun soos wat hy dit nie teenoor sy intiemste vriend kan doen nie. Hulle gesels lank, baie langer as ’n rukkie gelede oor die watersaak, en baie ernstiger, want vir albei is hierdie gesprek van groot belang, en albei weet dat dit om Liesel gaan … Liesel wat vir hulle albei so baie beteken.
Daardie aand het pa en dogter ’n ope gesprek, ’n gesprek wat later byna in ’n rusie ontaard. Enersyds is daar Faan Dempers se beslistheid om sy dogter te probeer red van die duidelike afgrond wat hy voor haar sien gaap. Andersyds is daar die opstand en verset van die jeugdige Liesel wat byna vir die eerste keer in haar lewe teengegaan word en voorskrifte kry.
“Dis ’n sieklike geskinder. Ek glo nie hierdie stories nie. Rob het hom nog altyd goed gedra waar ek by was.”
“Ja, dit glo ek, hoop ek, altans, maar hy is nie dieselfde man wanneer jou en my en sy pa se rug gedraai is nie. Ek erken dat my bronne van inligting uitdruklik gesê het dat dit stories is wat rondgaan, maar die lewe het my geleer, Liesel, dat stories selde heeltemal losgemaak kan word van die waarheid. Êrens is daar altyd ’n stukkie waarheid in ’n geskinder, en net daardie tikkie is genoeg vir my.”
“Wie is Pa se bronne van inligting?”
“Dit is nie van belang nie …”
“Ja, dit is. Is dit Kas Burger? Kan Paps dan nie sommer weet dat hy Rob doelbewus by jou sal beswadder nie?”
“Kas is nie daardie soort man nie, Liesel. En ek wil jou waarsku – nie een enkele woord van ons gesprek vanaand aan Rob of sy ouers nie.”
“Hoekom nie?” Sy staan uitdagend voor hom. “Hoekom nie vir Rob en Kas bymekaarbring en laat Kas sy bewyse aan hom voorlê nie? Hoekom ’n man sommer verdoem op grond van wat ou Joop Burger se seun oor hom te sê het?”
“Kas het nie kwaadgepraat nie, Liesel. Ek moes hom so te sê dwing om my hierdie dinge te vertel. Ek moes by iemand vasstel of my vermoedens korrek is. Ek is lankal bekommerd, my kind, veral ook oor jou. Ek wil meer doel en rigting in jou lewe sien. Ek waardeer dit dat jy tuis gebly het ná Ma se dood, maar … die lewe gaan voort. Jou lewe moet nou weer rigting kry. Ek gaan jou en tant Miemie oorsee stuur. Daarna, wanneer jy terug is, moet jy jou inskryf vir daardie kursus aan die universiteit en volgende jaar gaan jy universiteit toe.”
Iets in haar pa se stem, sy hele houding, vertel Liesel dat sy hom nie meer so maklik soos altyd om haar pinkie gedraai gaan kry nie. Nie vanaand nie. Dis ’n vreemde, streng pa wat voor haar staan en haar woede teenoor Kas Burger neem buite verhouding toe.
“En as ek weier?”
“Dis nie vir jou om te weier nie, Liesel.” Sy wenkbroue flikker waarskuwend en hy hoor weer die jong Kas sê: “Ek sou haar so ver as moontlik van Rob Rabe af weggehou het, meneer. As sy my dogter was, sou ek haar oorsee gestuur het, haar dwing as dit nie anders kan nie. Sy is nog onmondig.” Hy herhaal nou daardie woorde.
“Jy is nog onmondig. Tot dusver het ek jou vrylik jou gang laat gaan, Liesel. Nie meer nie. Van nou af maak jy soos ek sê. Ek gaan nou vir tant Miemie bel en sodra ons dit gereël kan kry, vertrek julle.”
Hy draai om en stap uit. Liesel storm voordeur toe, spring in haar motor en eers toe sy voor die platdakhuisie in die onderdorp stilhou, besef sy waarheen sy gery het. Sy loop hom by die voordeur raak en nog nooit was haar oë vir Kas Burger so blou as in hierdie stormagtige oomblikke nie. Toe sy eindelik klaar is, het hy nog geen woord ter selfverdediging gesê nie. Alles binne-in haar het uitgeborrel sonder voorbehoud totdat