Keerkring van die hart. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624066422
Скачать книгу
vang hom vas, verdryf daardie ander beeld uit sy jeugjare en hy sien die spore op die gesig – diep, lelike groewe, die genadelose kerwing van die jare wat geleef is met hulle eie verhaal op die gelaatstrekke gegraveer. Meteens is dit vir die jong oë wat so stip kyk asof hy vreemde groewe op die gesig sien, groewe waarvan hy die verhaal nie ken nie.

      “Pa … mag ek Pa iets vra?”

      “Ja, kind, vra maar.”

      Albei weet dit gaan nie ’n gewone vraag wees nie.

      “Was dit … baie swaar daardie tyd toe … toe Pa die drank laat staan het?”

      Eindelik kyk hy van die wit bekertjie af op.

      “Dit was smartlik, Kassie … smartlik.”

      “Pa het nooit iets gesê nie. Ek bedoel, nooit gepraat …” Die bekertjie word op die hoek van die tafel neergesit.

      “Nee. Daar was niks om te sê nie … niemand om mee te praat nie … Dit was net ek en die smartlikheid …”

      Kas knik, wetende dat hy nie werklik begryp nie, nooit werklik sal begryp nie. Net nog ’n ander alkoholis sal weet, hom dit kan voorstel. Hy kyk weer op. Hierdie man het ’n hel vir sy vrou en kind op aarde geskep, maar hy het ook sy eie hel geskep – miskien die grootste hel vir homself, want waar is daar ’n groter hel as om te weet jy het dit vir jouself geskep? ’n Aardse hel is draaglik as jy met die vinger na ’n ander kan wys, maar as die vinger omdraai en na jouself keer … Kas se oë vernou. Hy het netnou vir Joop Burger gesien as ’n man met ’n lang pad van mislukkings agter hom? Dan het hy verkeerd gekyk, besef hy. Daar is wel baie mislukkings, maar ook een oorwinning, van die grootste oorwinnings wat ’n mens op hierdie aarde kan behaal. En hy het dit manalleen behaal sonder hulp van behandeling of inrigtings of selfs die bystand van ’n geliefde of ’n medemens.

      Hy glimlag meteens.

      “Ek is trots op Pa.”

      Die woorde val sag en tog ook oorverdowend in hierdie laat naguur tussen pa en seun, word byna iets tasbaars tussen hulle. Stadig, baie stadig lig die ooglede.

      “Kas … Kassie, ek wou nog altyd vir jou sê … ek is jammer …”

      “Jammer, Pa?”

      “Ja. Ek is jammer die lot het op my geval om jou pa te gewees het. Ek is jammer … vir alles … alles.” Die knopperige vingers swaai in ’n halfsirkel, sluit alles saam in ’n enkele keerkring, prop jare van hartseer en frustrasie, jare van skaamte en skande, dekades van verbittering en byna haat in een eng sirkel in. Dit sluit meer as net die gelapte broek, die skurwe, koue voete, die dun kombersie in. Dit sluit ook die klad in, die stigma om ou Joop van die onderdorp se seun te wees …

      “Ek is jammer, seun …”

      “Ek is nie … nie meer nie.” Weer is dit of hulle die woorde kan aanraak. Die oë kyk reguit. “Regtig, Pa, ek bedoel dit. Ek erken ek wás, maar … ná vannag nie meer nie. Ek is bly … en dankbaar ek is Joop Burger se seun. Pa … Pa, vertel my asseblief, hoe stry ’n mens teen iets wat groter is as jyself? Vertel my hoe ek moet maak, asseblief.”

      Die ou man vra nie vrae nie. Dit is nie nodig nie. Hy weet, al van daardie aand af toe Liesel Dempers sy seun geboë en meteens volwasse agtergelaat het, dat Kas ’n stryd voer … ’n stryd teen iets groter as hyself. Hy knik nou net, staan op, tel die wit bekertjie op, kyk dan af in die smekende oë hier digby hom.

      “Jy het die regte resep, Kasman. Harde werk en … die knieë buig. Hard werk en hard bid, seun. Dis die enigste resep wat daar is.”

      Dis ’n hele rukkie later dat Kas sy oë weggeskeur kry van die donker deuropening waar sy pa verdwyn het. Dan druk hy sy voorkop teen sy saamgeknelde vingers. Wie op Grasbult sal ooit dink dat ou Joop ook ’n resep het, ’n resep wat so baie van Grasbult se voorstes nie het nie, juis omdat hulle dit nog nooit nodig gehad het nie? As Robert Rabe sy pa was, sou hy vannag miskien vergeefs gepleit het vir ’n resep waarvolgens hy kan handel om ’n persoonlike stryd te stry, om ’n oorwinning oor homself te behaal. Maar dank God hy is Joop Burger se seun. Anders sou hierdie seun nie die resep by sy pa kon kry nie.

      Ons sal hulle wys, Pa, dink hy. Ons sal hulle wys waar ou Joop en sy seun nog eendag gaan kom, Pa. Ons sal háár wys …

      Die jaar begin ten einde spoed. Die dag breek aan dat Liesel en haar pa se oujongnooisuster uit die buiteland moet terugkeer. ’n Groot verwelkomingspartytjie word gereël.

      “Ek is nie juis lus vir so ’n affêre nie, maar soveel mense het nou al geskimp in daardie rigting dat ek verplig voel om ’n verwelkomingsgeselligheidjie vir Liesel te gee. Jy kom natuurlik ook, Kas.”

      “Dankie, oom Faan, maar …”

      “Ek gaan nie hierdie keer nee aanvaar nie, Kas,” laat oom Faan onnodig streng hoor. “Ek wil jou graag daar hê. Asse­blief!”

      “Dit glo ek, maar dis Liesel se partytjie en sy sal nie ingenome wees met u keuse van gaste nie.” Hy hou sy hand omhoog toe dit lyk of oom Faan heftig wil protesteer. “Asse­blief. Ons laat dit daar. Ek sal daaroor dink.”

      Daardie aand sit pa en seun saam om die kombuistafel terwyl hulle aandete geniet. Oom Joop hou sy seun onderlangs dop. Die afgelope twee, drie weke is daar ’n merkbare rusteloosheid in Kas te bespeur en oom Joop dink hy weet wat die rede is. Die datum van Liesel se terugkeer kom nou vinnig nader.

      Hy aarsel eers. Daar het die afgelope tyd baie groter vrymoedigheid tussen pa en seun ingetree as wat daar eers was, maar Kas se innerlike was nog altyd net sy eiendom. Hy skink die wit bekertjie weer vol koffie en laat dan ongeërg hoor: “Dit is mos haas tyd dat Liesel Dempers huis toe kom, nie waar nie?”

      Die oë bly op die bord voor hom gerig.

      “Ja. Sy kom aanstaande week.”

      “Hm. Ek verstaan Faan Dempers gaan ’n groot opskop gee ter viering daarvan.”

      “Ja.”

      “Ek neem aan jy gaan ook?”

      Die oë lig nou omhoog, strak, reguit.

      “Nee, Pa. Ek gaan nie – en Pa weet dit.”

      “Hoekom nie, Kas? Hoekom wil jy nie gaan nie? Skaam? Nog altyd skaam? Ek het gedink dis ’n saak wat jy lankal met jouself uitgemaak het. Of het jy daardie aand vir my gelieg, sommer maar net gepraat?”

      Kas frons skerp.

      “Waarvan praat Pa? Wat …?”

      “Daardie nag, Kas, onthou jy nie? ’n Klompie maande gelede … Jy het daardie nag vir my gesê jy is nie meer skaam omdat … omdat jy my kind is nie. Maar jy het dit nie regtig bedoel nie, nè, Kassie? Jy wou Pa se gevoelens maar net nie kwets nie, want jy is ’n goeie seun. Jy was maar net jammer vir my …”

      “Pa!” Hy sluk, sy stem skor. “Pa, ek het dit werklik bedoel! Maar … maar dis nie mý plek daar nie. Verstaan dan tog! Ek … hoort nie daar nie!”

      “Hoekom nie? Hoekom hoort Robert Rabe se seun dan daar en jy nie? Die verskil is nie in die seuns nie, nè, Kasman? Dit is in die pa’s. Dis omdat jy ou Joop se seun is dat jy voel jy hoort nie daar nie.” Kas antwoord nie, maar die ou man knik op die vraag in sy oë. “Ja, ek … ek was in die kombuis daardie dag toe sy … toe Liesel hier was. Ek het gehoor, Kassie. Gaan na daardie partytjie toe … ter wille van my, asseblief. Gaan stap daar in, nie as ou Joop van die onderdorp se seun nie, maar as Joop Burger se seun. Gaan wys hulle dat ou Joop nie ’n minderwaardige seun het nie, maar ’n seun op wie elke pa trots kan wees.”

      Kas se adamsappel beweeg pynlik op en af.

      “Pa, ek … kan nie! Ek wéét ek sal nie welkom wees nie.”

      “Vir my, Kasman. Doen dit vir Pa, Kassie.”

      “Pa …” Hy sug, vee oor sy oë. “Dit gaan ’n groot gedoente wees. Aanddrag en … so aan. Ek het nie eens die regte klere nie.”

      “Ek