Hoewel Julene nie daaroor praat nie, bly die impulsiewe aanbod van die Turkse meisie haar hardnekkig by. So ook haar vraag: Hoekom nie? Julene kan aan geen geldige rede dink hoekom nie. Oda is ’n beskaafde, opgevoede meisie. Haar grimering, haar nagklere, die feit dat sy op ’n ski-vakansie was en in so ’n duur kliniek opgeneem is, vertel (sonder dat Oda dit self so pertinent hoef te gestel het) dat geld geen probleem is nie. Sy hoef dus nie te vrees dat sy dalk in ’n krotbuurt sal beland nie. Afgesien van ’n baie romantiese vakansie tussen groen teeplantasies en digte woude en ’n pasella seiljagtog op die Middellandse See, sal sy boonop betaal word om dit te geniet. Werklik ’n unieke kans.
Dis maar net haar versigtigheid (wat al tweede natuur geword het) wat haar die aanbod summier van die hand laat wys het. Omdat sy self in die verlede ander mense ’n rat voor die oë gedraai het, was sy nog altyd waaksaam dat iemand dit nie met háár doen nie. Want dis die straf van die mens wat bedrog pleeg: jy kan ander ook nie vertrou nie, erken Julene selfkastydend aan haarself.
Uit Oda se oogpunt beskou, kan sy al meer verstaan hoekom sy die aanbod gedoen het. Wanneer sy teruggaan, sal sy gebonde wees aan die plek waar die dokter is wat haar behandel. Natuurlik sal dit veel aangenamer wees om die dokter oral met jou saam te neem. As geld nie ’n kwessie is nie – “Kadri sal betaal” – hoekom dan nie, veral as die dokter vry is om dit te kan doen?
Miskien is hierdie aanbod ’n bestiering, wil sy al meer begin dink. Dis net tydelik en sal vir Muriël tyd gee om aan die gedagte gewoond te raak dat sy skielik ’n stiefdogter ryker geword het. Dit sal haar self ook kans gee om perspektief te kry en te besluit oor haar toekoms. Terselfdertyd sal dit haar die kans gee om ’n land wat sy nooit gedroom het om te sien nie, te besoek – en dit op ene Kadri se koste. Hoekom nie?
Met die gevoel dat sy tog ’n bietjie impulsief optree – iets wat nie deel van haar samestelling is nie – lig sy haar pa die volgende oggend oor haar besluit in toe hulle op pad is kliniek toe. Vanoggend het sy self gevra of sy weer kan saamgaan.
“Ek hoop nie jy voel ek het skaars hier aangeland en wil nou weer weg nie. Dis nie dit nie, Pa.”
“Ek verstaan, Julene. En ek is bly jy gaan. Dis ’n wonderlike geleentheid wat ek jou van harte gun. Daar is tyd genoeg om daarná besluite te neem. Ek glo ook jy verdien ’n vakansie. Albert het jou ’n hardwerkende, konsensieuse dokter genoem.”
Sy knik, glimlag effens. “Ek moet sê, noudat ek besluit het, begin ek daarna uitsien. Ek het nooit werklik vakansie gehad terwyl ek aan die Meissner-kliniek verbonde was nie. Ek wou nêrens anders wees as net daar nie.” In haar hart voeg sy by: En ek was ook te bang die regte kleindogter daag in my afwesigheid op. “Ek hoop net Oda se aanbod staan nog. Miskien sal dié Kadri nie daarvan hou nie. Hy is immers die een wat moet betaal.”
By die kliniek aangekom, stap sy direk na Oda se kamer, stoot die deur oop en steek vas in haar spore. Omdat sy ’n dokter is, is sy nie daaraan gewoond om aan pasiënte se deure te klop nie. Daar is egter reeds iemand by Oda. ’n Dokter, na sy wit jas te oordeel. Sy wonder of Oda ’n terugslag ondervind het. Maar die volgende oomblik sien sy hoe hy die pasiënt optrek in sy arms, hoe Oda se arms om sy nek gaan en is daar ook ’n snik hoorbaar toe hy sy kop oor die rooi lippe buig. Baie versigtig trek Julene weer die deur aan en stap in die gang af.
Sy voel nie juis geskok of ontstig oor wat sy gesien het nie. Dis baie algemeen dat vroue soms verlief raak op hul dokters of hulle verbeel hulle is verlief. Miskien is dit waar dat die dokter hom skuldig maak aan onprofessionele gedrag. Maar . . . as albei vry mense is, en hulle niemand te na kom met die soenery nie, hoekom nie? Sy glimlag by haarself.
Sy gee die amoreuse paartjie genoeg tyd, en toe sy weer by die kamer kom, staan die deur oop en lê ’n baie sedige meisie met groot oë teen die kussings. Die onskuld self, dink Julene geamuseerd. Die somberheid op die gesiggie helder egter onmiddellik op toe sy gewaar wie haar volgende besoeker is.
“Merhaba!”
Ewe kontant groet Julene ook in Turks: “Merhaba! Hoe vra ’n mens in jou taal hoe dit gaan?”
“Nasilsiniz?”
“Wel dan . . . nasilsiniz?”
“Iyi.”
“En dit beteken?”
“Goed. En dit sal sommer nog beter gaan as jy my vertel jy aanvaar my aanbod van gister.”
“Dan gaan dit baie iyi met jou, want ek het jou kom sê ek aanvaar jou aanbod.” Sy hou haar hand omhoog toe dit lyk asof Oda uit die bed gaan spring van blydskap. “Maar wie sê Kadri – wie hy ook al mag wees – sal daarvoor te vinde wees? Ek verwag eerlik nie vergoeding nie, Oda, miskien net my reiskoste. Maar jy het gesê Kadri is die een wat sal moet betaal. Wie is hy?”
“Hy sal nie omgee om te betaal nie, Julene. Hy rol in die geld, regtig.”
“Maar wie is hy?” hou Julene vol.
“Hy is my aanstaande,” antwoord sy, sonder entoesiasme.
2
“O.” Julene vra nie verder uit nie. Liewer nie. Oda se gesig vertel haar genoeg. Hierdie meisie staan op trou met ’n landgenoot, maar toe stuur die noodlot ’n jong doktertjie oor haar pad en nou is sy nie meer so seker of sy die aanstaande van ’n skatryk Turk wil wees nie.
Weer het sy bedenkinge oor die wysheid van haar besluit om Oda te vergesel, maar dan stoot sy dit van haar af weg. Watter liefdesprobleme Oda ook al mag hê, dit het en kan tog nooit iets met háár te doen hê nie. Sy glimlag en maak asof sy niks vreemds agtergekom het nie. “Ek gaan nou jou terapeut spreek om my te wys wat gedoen moet word. En natuurlik ’n verslag by dokter Rudman kry. Sien jou later.”
Sy sien ’n flits oor die jong gesig gaan wat verklap dat die dokter se naam innige emosies by die pasiënt opwek. Meewarig wonder sy hoekom die pad van die liefde nooit reguit loop nie. Nie dat sy juis eerstehandse kennis van die liefde het nie, moet sy erken. Al was sy vir ’n kort tydjie aan Horst Buchner verloof, was dit eerder die Godfather se verlowing as haar en Horst s’n. Sy glimlag by haarself. Albert Meissner het begeer, en die begeerte ook onomwonde uitgespreek, dat sy kleindogter en sy hoofarts sou trou sodat hy die Meissner-kliniek met ’n geruste hart ná sy dood in die hande van die familie kon agterlaat. Wel, hulle het tot by die verlowing gevorder sonder dat hulle werklik verlief was op mekaar. Sy kon haar dalk verbeel het sy is verlief, maar sy weet nou dat sy bloot respek gehad het vir Horst Buchner as dokter en as mens . . . en respek is nie liefde nie.
Oda se gesiggie verskyn weer voor haar. Haar en Horst se liefde was nie van die soort wat ’n meisie sommer ’n skatryk aanstaande wil laat los vir ’n vaal kêreltjie soos dokter Rudman nie, al is hy ook hoe slim. Van Horst se kant het sy uit die staanspoor geweet daar is nie liefde nie. Eers het sy gedink die verhouding gaan suiwer om die Meissner-kliniek. Later sou sy vasstel hy het deur die verlowing eintlik by haar kom skuiling soek teen ’n ongeoorloofde gevoel vir die trolliejoggie van die kliniek . . . Die klein snip wat glo pas graad twaalf agter die rug gehad en nooit geweet het wanneer sy haar mond moet hou nie. Horst het gedink hy is besig om mal te word en die verlowing moes help om hom van dié malligheid te red. Sy grinnik toe sy die terapeutiese afdeling binnestap. Maar heeltyd was hy, of dan immers sy hart, op die regte spoor, ten spyte van wat nugter verstand te sê gehad het. Want die bedrieglike klein snip was toe altyd die regte kleindogter, diep in die twintigs en ’n gekwalifiseerde dokter. Teen hierdie tyd is hulle seker al getroud en sy kan hulle met ’n oop gemoed van harte geluk toewens. Bewaar my net van die liefde, sê sy in haar hart toe sy haar tot die terapeut wend.
Die paar dae wat volg, vlieg behoorlik verby en die grootste gedeelte daarvan bring Julene in die kliniek deur. Sy raak heeltemal gekonfyt in die terapie wat Oda nog sal nodig hê en in die oefeninge wat voorgeskryf is. En sy leer haar pasiënt beter ken. Soms moet sy lag, soms maar net haar kop skud, want Oda is so ’n mengsel van vrou en kind, veral kind, dat sy stilweg