Sy het gaan sit, die brief oopgevou . . . en voor haar oë het ’n verhaal ontvou wat na ’n versinsel geklink het. Net . . . dit was geen storie nie. Albert Meissner is nie ’n man wat stories vertel nie. Sy ken hom. Toe Fritz hom weer by haar voeg, het hy ’n verslae, geskokte vrou aangetref wat net stom die brief na hom uitgehou het om te lees.
’n Meissner is ook maar net ’n mens, en dit is seker menslik om te probeer wal gooi wanneer jy met die skokkende feite uit jou verlede gekonfronteer word. Fritz Meissner het skielik baie menslik en baie magteloos gevoel toe hy eindelik van die geskrewe velle af opkyk in sy vrou se oë.
“Ek ontken ten sterkste dat daar ’n kind in die prentjie was,” het hy beslis gesê.
Maar gister op die lughawe het daardie kind na hulle toe aangestap gekom – ’n pragtige, lenige blonde meisie van dertig . . . Net een kyk na die gelaatstrekke het die man gedwing om te erken: Hierdie meisie is wat Albert sê sy is: ’n Meissner. Toe pa en dogter teenoor mekaar staan, was die ooreenkoms só opvallend dat Muriël se hart pynlik saamgetrek het. Al die jare het sy só begeer om vir haar man ’n kind te gee. Vandag staan sy dogter voor hom, maar dis ’n ander vrou se kind.
Die bedenkinge wat Julene in haar omgedra het sedert dokter Albert na haar pa verwys en voorgestel het dat sy Switserland toe moet gaan om hom te ontmoet, het oombliklik verdwyn toe sy voor die vreemde man tot stilstand kom. Sy het ook oombliklik besef dit was ’n fout om te kom – Muriël Meissner se oë het haar dit vertel. Sy is vandag, ’n dag later, selfs oortuig dat dit ’n fout was om hierdie mense net van haar bestaan te vertel. Dit dien geen doel nie. Sy het geen behoefte daaraan om in hierdie stadium van haar lewe ’n pa te hê nie. Sy het al die jare sonder een klaargekom. Wat jy nie ken nie, mis jy nie. Ook Fritz Meissner het geen behoefte om in hierdie laat jare van sy lewe ’n dogter te hê nie. Hy het sy lewe lank nooit ’n kind gehad nie. Wat hy wel gehad het, was ’n gelukkige, rustige huwelik met ’n goeie vrou . . . en dit is nou skielik op die spel met die ontydige verskyning van ’n onbekende dogter. Nog iets waaroor sy skuldig moet voel . . .en daar is reeds so baie waaroor sy skuldig voel.
Dis stil in die motor op pad na die wêreldberoemde kliniek. Haar blik rus op die sneeubedekte Alpe, maar sy sien dit nie regtig raak nie. Is dit haar lewenslot om altyd skuldig te voel? ’n Soort ekskuus-dat-ek-lewe-houding? Want sy moes nie daar gewees het nie. Die blote feit dat sy bestaan, het al soveel mense se lewens ontwrig, al soveel hartseer gebring, soveel skokke vir so baie, het selfs al ’n lewe geëis – haar moeder s’n.
Vandat sy haar verstand gekry het, was dit net sy en Anna, haar ma se ouer suster na wie sy gevlug het toe sy ontdek sy is swanger en dat die pa net skielik van die aardbol af verdwyn het. Toe sy sterf met haar kind se geboorte het Anna eintlik geen ander keuse gehad as om die baba groot te maak nie. Maar Anna was bitter en sy het wraak gesweer en deur die jare het sy haar planne fyn uitgewerk. Die Meissners het Julene misken, maar sy sou sorg dat die kind haar regmatige plek as ’n Meissner tussen die Meissners inneem.
Anna het gewerk en geswoeg en opgeoffer en Julene het ’n mediese dokter geword. En tipies Meissner: ’n bekwame een. Intussen het die noodlot in Anna se hand gespeel: Albert Meissner word een van die bekendste medici in die land en sy kliniek beroemd ver buite die grense van Suid-Afrika. Hier bou die patriarg, wat baie eerder as ’n despoot bestempel kan word, ’n bekwame span op waarna afgunstige buitestanders verwys as die Meissner-mafia met Albert Meissner as die Godfather aan die hoof daarvan. Maar sy persoonlik lewe is nie so suksesvol nie. Hy het net een seun en dié besluit tot sy pa se grootste ontsteltenis en teleurstelling om ’n balletdanser te word. Albert belet hom die huis en skrap sy naam van die familieregister. In hierdie stadium verwag sy skoondogter reeds sy enigste kleinkind, maar Albert Meissner is te verbitterd om sy besluit te heroorweeg, en sy seun en dié se gesin verdwyn uit sy lewe.
Toe Julene haar doktersgraad verwerf, besluit Anna dis tyd om haar plan in werking te stel. Julene moet op die toneel verskyn as Albert Meissner se lank verlore kleindogter. Hy het geen rede om agterdogtig te wees nie, want Julene het die sterk Meissner-gelaatstrekke geërf. Albert besluit om die verlede te vergeet – sy seun sterf kort ná die begin van sy balletloopbaan in ’n ongeluk – en om sy kleindogter in sy lewe en in die Meissner-kliniek terug te ontvang. Van toe af lei Julene ’n dubbele lewe, gedurig bevrees dat die regte kleindogter sal opdaag en die bedrogspul aan die kaak stel. Sy dryf haarself om aan die hoë standaarde wat haar “oupa” stel, te voldoen.
’n Paar jaar lank gaan dit baie goed. Julene word oral aanvaar as Albert Meissner se enigste kleinkind en erfgenaam. Sy raak verloof aan Horst Buchner, die hoofarts, en die persoon wat daarmee kan spog dat hy die enigste mens op aarde is wat die Godfather se volle vertroue en respek geniet. Die swaarkryjare is verby vir Julene én vir Anna wat intussen Albert Meissner se huishoudster geword het sonder dat hy die vaagste vermoede het van die ware verbintenis tussen die twee vroue.
Maar toe daag die regte kleindogter op en die bedrogspul word oopgevlek. Julene verloor haar verloofde en bieg teenoor die Godfather – nou ’n ou man met ernstige hartprobleme. Hy besluit dis beter om te vergewe as om in verbittering te lewe. Hy het tog aan hierdie vals kleindogter geheg geraak. Anna bly aan as sy huishoudster, want, soos hy sê, as sy regtig gif in sy koffie wou gooi, sou sy dit jare gelede al gedoen het. En Julene, bepaal hy, moet Switserland toe gaan en haar pa leer ken.
Maar dit was ’n fout, besluit Julene opnuut toe hulle voor die indrukwekkende kliniek stilhou. Ek moes nooit gekom het nie.
Haar pa draai na haar voordat hulle uitklim. “Julene . . .” Hy ontmoet haar oë moedig. “Ek weet ek het geen reg om jou enige guns te vra nie. Daarvoor is ek te diep in die skuld by jou. Maar ter wille van Muriël . . . As haar houding aan die begin nie te vriendelik is nie, probeer verstaan, asseblief.”
Julene knik. “Natuurlik verstaan ek. Ek verkwalik haar geensins nie. Ek voel net baie jammer dat ék die oorsaak is van die skok en hartseer. Ek besef nou, noudat ek reeds hier is en dit te laat is, dat dit baie selfsugtig van my was om te kom. Ek is jammer.”
Haar woorde is gloeiende kole op sy hoof. Hy reik spontaan na haar uit, neem haar slanke vingers in syne. Sy stem is skor: “Moenie! Jy het niks om voor jammer te sê nie!”
Sy kyk na hom op en vir die eerste keer roer daar iets in haar hart. Sy knik net stom, weet nie wat om te sê nie.
“Het jy enige toekomsplanne? Hier is ’n pos oop as jy miskien belangstel. Albert het ’n onverbeterlike rapport oor jou as medikus gegee.”
Sy glimlag effens, verlang skielik so na die beduiwelde ou man dat sy trane agter haar ooglede voel prik. “Liewe Oupa. Ek verdien dit nie.”
“Oupa?”
“Ja.” Soos net ’n Meissner reguit en vas kan terugkyk al weet sy sy het gefouteer, kyk sy hom vas in die oë. “Ek het oom Albert Oupa genoem toe ek my as sy kleindogter voorgedoen het. Dis moeilik om van die gewoonte ontslae te raak. Ek moet nog leer om nie aan hom as my oupa te dink nie.”
Soos wat jy nog sal moet leer om vir my pa te sê, dink hy. “Hou my aanbod in gedagte, Julene. Hierdie kliniek is een van die bestes ter wêreld. Jy kan baie goeie ervaring hier opdoen.”
“Die Meissner-kliniek tel ook onder die bestes,” sê sy en hy kan die verlange en trots in haar stem hoor.
“Was jy gelukkig daar?”
“As medikus, ja. As mens bitter ongelukkig vanweë die vals rol wat ek moes speel.”
“Dit was nie jou skuld nie. Anna . . .”
Maar weer toon sy dat sy nie verniet ’n Meissner is nie. ’n Meissner kan sy pak slae vat . . .
“Die feit dat Anna verkeerde drome gedroom het, verskoon my nie. Ek was ’n volwasse mens en ’n volwaardige afgestudeerde dokter toe ons met die