Hul oë ontmoet en hulle kyk mekaar stil aan. Dan glimlag sy. “ ’n Geval van aardjie na haar vaartjie dus?”
Hy glimlag skeef terug. “Ek hoop nie dis al wat jy van my geërf het nie, my kind – my dwaasheid.”
“Nee. Daar is ander dinge waarvoor ek vandag baie dankbaar is . . . soos om ’n goeie dokter te wees. As ek dan hierdie aarde moet bewandel . . . as dit so beplan was, dan . . .” Sy kyk hom skielik gul aan en die woorde kom maklik oor haar lippe: “Dan is ek bly jý is die man wat my moes verwek, Pa. Want dit is en bly ’n voorreg om ’n Meissner te wees . . . al is ons, of party van ons, soms ook dwase.”
“My kind . . .” Hy bring haar hand na sy mond en soen dit. Hy voel hoe sy borskas swel. “Dankie, Julene. Ek is trots op my dogter. Kom. Kom dat ek jou aan my kollegas gaan voorstel.”
“As jou dogter? Maar sal dit nie ’n vreeslike geskinder afgee nie?”
Hy lag, lyk skielik jare jonger. “Wat daarvan? Miskien is dit weer een van my dwase oomblikke, maar ek is lus om dit van die dak van die kliniek te verkondig! Kyk! Kyk hierdie pragtige dogter van my!”
Julene voel effens geamuseerd toe haar bekendstelling nie juis reaksie by die res van die personeel uitlok nie. Dis anders hier as by die Meissner-kliniek. Dáár is almal deel van die familie. Almal weet alles van almal af. Sy is byna dadelik ná haar ontmaskering daar weg, maar sy kan haar goed voorstel hoe die hele kliniek gegons het van die skokkende gebeure: Julene Meissner is nié Albert Meissner se kleindogter nie, maar die buite-egtelike kind van sy jonger broer, Fritz! Die verspotte trolliejoggie met die boksterte is eintlik die ware kleindogter en daar skuil inderdaad ’n gekwalifiseerde dokter agter die vermomming. En dat Horst Buchner met láásgenoemde gaan trou . . . O, sy glo die Meissner-kliniek se personeel sal nog lank nie uitgepraat raak nie!
Hier is dit heeltemal anders. Die personeel bestaan uit ’n span baie bekwame, geniale medici wat uit alle uithoeke van die aarde hier saamgetrek is. Die persoonlike element ontbreek – daar is nie werklik belangstelling in jou as mens nie. Daar was wel hier en daar ’n verbaasde wenkbrou, want niemand was bewus daarvan dat Fritz Meissner, jare lank reeds ’n senior en die afgelope jaar net in konsulterende hoedanigheid hier werksaam, ’n kind het nie. Maar as hy dan op ’n dag skielik met ’n dogter te voorskyn kom . . . wat daarvan?
Julene geniet dit om saam met haar pa die pasiënte te besoek, hoewel dit die heimwee na die Meissner-kliniek in haar verskerp. Horst Buchner én die Godfather het haar verseker dat haar plek oop is in die Meissner-kliniek en dat sy enige dag kan terugkeer daarheen. Dit is ook wat sy met haar hele hart wens om te doen, maar goed weet sy nie kan doen nie. Almal weet van haar bedrog en sy het sekerlik hul respek verloor. Haar strengheid in die kliniek – wat hulle as hooghartigheid aangesien het – ontlok nou seker baie leedvermaak. Wie sal vermoed dat dit eintlik ’n skerm was om te keer dat mense té na aan haar kom en dalk haar ware identiteit ontdek? Nee, ’n dokter wat nie die personeel se respek afdwing nie, kan nie ’n goeie dokter wees nie. En dit is al wat daar in die lewe vir haar oorgebly het: om ’n goeie dokter te wees. Haar hele toekoms sal sy daaraan wy, maar wáár sy ’n goeie dokter gaan wees, weet sy nie. Hier beslis nie. Sy moet uit haar pa en Muriël se lewens padgee sodat hulle in vrede met hul huwelik kan voortgaan.
“En hier is Oda, ons Turkse pasiënt,” hoor sy haar pa se stem tot haar deurdring en sy dwing haar gedagtes terug na die hede. “Dit is my dogter, Julene, ook ’n baie knap dokter.”
Daar is lewendige belangstelling in die oë van die fyn, donker meisie in die bed. “Merhaba!” roep sy spontaan uit.
Fritz Meissner glimlag. “Dit beteken hallo!” verduidelik hy.
“Jy is pragtig! Ek wens Kadri kan jou sien! Werk jy ook hier?” vra sy op goeie Engels.
“Nee,” glimlag Julene. “Ek kuier net. Hoe gaan dit?” vra sy beleef.
“Dit gaan goed, dankie. U baba sal kan sê wanneer ek weer honderd persent is.”
“My . . . baba?” Julene en haar pa kyk mekaar vlugtig aan. Oda lag. “Ja. U pa. Dis wat ’n pa op Turks is . . . baba.” Sy kyk vraend na haar dokter op. “U het gesê u sal vandag sê wanneer ek kan huis toe gaan.”
“Ek sal dit nog met dokter Rudman bespreek, maar ek sien geen rede hoekom jy nie eersdaags kan gaan nie, op voorwaarde natuurlik dat jy voortgaan met die behandeling vir jou rug. Ons sal met ’n dokter in Istanboel moet reël.” Verduidelikend vervolg hy teenoor Julene: “Hierdie dametjie het ’n baie onaangename ervaring gehad. Sy was hier vir ’n ski-vakansie en die ski-hyser het ontspoor. Gelukkig het hulle nie geval nie, maar haar rug het ’n paar goeie stampe weg. Dit kon dus baie erger gewees het. Sy vorder goed, maar sy sal nog ’n ruk lank terapeutiese behandeling moet kry en veral baie getrou moet wees met haar oefeninge,” laat hy waarskuwend teenoor die pasiënt hoor.
Oda lyk ’n oomblik lank peinsend en dan helder haar gesig op. “Hoekom stuur u nie iemand saam met my wat sal toesien dat ek al die bevele stiptelik uitvoer nie?” Haar blik pen Julene skielik vas. “Ja. Ek dink dis ’n blink plan! Hoekom kom jý nie saam met my Turkye toe nie? Jy is ’n dokter, jy is met vakansie . . . Dán kan jy sommer sien hoe my land lyk en jy sal boonop uitstekend vergoed word. Kadri kan betaal.”
“Nee, ek . . .”
Maar daar is geen keer aan die Turkse dame nie. “Kadri besit groot teeplantasies aan die Swart See by Rize en dis pragtige wêreld! Bosryke klowe, digte plantasies, helder bergstrome . . . O, dis ’n aardse paradys! Of ons kan sy seiljag neem en teen die Mediterreense kuslyn af vaar – ons kan al die interessante baaitjies en hawetjies aandoen. Kadri het ’n privaat eiland in die Golf van Antalya waar ons ’n dag of wat kan oorbly as ons moeg word vir die bootlewe en . . .”
“Stadig, Oda!” probeer Julene die woordevloed keer. “Dit klink alles baie gaaf en wonderlik, maar dis nie moontlik nie.”
“Hoekom nie?”
Julene aarsel, kyk na haar pa, en hoewel hy nie ’n woord sê nie, lees sy die vraag in sy oë ook: Hoekom nie?
“Dis net . . . Dankie vir die aanbod, maar ek kan dit nie aanvaar nie.” Sy draai dadelik weg deur toe.
Haar pa snap die wenk en begin ook deur toe beweeg terwyl hy sê: “Ek sal met dokter Rudman praat en hy sal jou kom sê wanneer jy huis toe kan gaan.”
Maar Oda se oë bly op Julene gerig: “Dink weer daaroor, asseblief! Jy gaan ’n wonderlike, kostelose vakansie kry en ek beloof jou, jy sal nie moeite met my hê nie! Asseblief, dink weer daaroor!”
Julene knik net en met ’n klein glimlaggie verdwyn sy vinnig die gang in. Dis stil tussen pa en dogter terwyl hulle langs mekaar die gang af stap.
“Ek het nie geweet jy is ook ’n ortopedis nie, Pa. Ek was net bewus van die narkotiseur,” sê Julene later met ’n skuins blik na haar pa.
Hy skud sy kop glimlaggend. “Ek is nie ’n ortopedis nie. Maar ek het baie ervaring opgedoen hier in Switserland. Soos jy weet, is Switserland die ski-mekka van die wêreld. Deur die jare het ek daagliks met die gevolge van ski-ongelukke te doen gekry. Oda was baie gelukkig, hoor!” Hy bespreek haar geval met Julene en sluit af: “Ek sou werklik graag wou sien dat sy in bekwame hande oorgegee word, anders kan sy later in haar lewe probleme ondervind. Sy is nog baie jonk, moet nog kinders in die wêreld bring.”
“Dan is dié Kadri haar man?”
“Nee. Sy is nie getroud nie. Ek weet eintlik nie presies wie Kadri is nie. Hy was glo pas ná die ongeluk hier, maar ek het hom nie te sien gekry nie. Rudman het hom ontmoet. Soos ek kan aflei, is hy die hoof van die huis of die familie, maar hoe dié twee skakel, weet ek nie. Sy is ’n baie gawe kind.”
“Ja. En baie impulsief ook.”