Julene sal wat wil gee om te weet waaroor daar so lank in die sitkamer gepraat word, maar natuurlik gesels die twee aanstaandes op Turks en vir haar is dit Grieks. Onvergenoeg draai sy haar weg van die deur. Sy voel geskok in haarself. Om ander mense se gesprekke af te luister . . . Wat is met haar aan die gang? Het sy háár opvoeding en beskaafde maniere hier in Turkye verloor? Maar dan verweer sy haarself heftig: Ek is net ’n mens, en ek wéét ek is onder bespreking. Ek het my naam ’n paar keer gehoor. Wat meer is, dis ongemanierd om van ander mense te praat as hulle nie kan verstaan wat jy sê nie! Die twee Turke kan maar gerus hul maniere opknap!
Dis seker maar goed dat Julene die gesprek nie kan volg nie. Sy sou sweerlik ’n hartaanval gekry het.
“Hierdie vriendin van jou . . . waar kom jy aan haar?”
“Ek het jou reeds gesê ek het haar in die kliniek ontmoet.”
“Is sy werklik ’n mediese dokter?”
“Ja! Haar pa is ook ’n dokter.”
“Maar sy is nie werksaam in die kliniek nie?”
“Nee. Sy was net op besoek.”
“Sy is dus werkloos. Sy het dit ook aan my erken. Hoe is dit dat ’n mediese dokter werkloos is? Dit laat my baie sterk twyfel aan dié dokter-storie. Daar is ’n tekort aan dokters dwarsoor die wêreld.”
Oda gryp wild in haar gedagtes rond. “Ek sal jou vertel wat die ware toedrag van sake is, maar jy moet belowe jy sal haar nie laat agterkom ek het jou vertel nie. Sy is natuurlik nog baie sensitief daaroor.”
“Sy is meer as sensitief. ’n Mens kan nie na haar kyk nie dan is sy op haar perdjie.”
“Ja, ek weet,” sus Oda. “Sy is baie prikkelbaar, maar as jy ook die dag voor jou troue in die steek gelaat word, sal jy ook so wees. Of sal jy nie omgee as so iets gebeur nie?”
“As ek die dag besluit om te trou, sal daar getrou word. Niemand gaan my tevergeefs voor ’n kerkdeur laat wag nie.” Oda voel ’n rilling langs haar ruggraat afgaan toe hy effens minagtend vervolg, asof sulke goed soos liefdesteleurstellings benede hom is. “Dan ly sy aan ’n liefdesteleurstelling . . . en dis blykbaar nie iets wat die slimste dokter op aarde kan regdokter nie.”
“Nee.” Oda voel haar hart krimp. “Tyd sal maar die wonde moet heel en ek het toe gedink ek sal haar saamvra hierheen. Ek moet nog behandeling kry en dit maak mos nie saak of jy haar of ’n dokter hier in Istanboel betaal nie?”
“Sy wil nie betaling hê nie.”
Oda se oë rek. “Sy sê sommer net so. Jy sal haar móét vergoed vir haar dienste, Kadri! En baie goed ook. Sy is ’n spesialis in die een of ander rigting, het ek verstaan,” las sy sommer ’n stukkie by om hom verder te beïndruk.
“Natuurlik sal sy vergoed word. Ek wou net eers seker maak sy is wel ’n dokter, maar nou verstaan ek wat sy bedoel het toe sy gesê het sy is tussen twee betrekkings. Was natuurlik te trots om te erken sy is op straat oor ’n man wat haar gelos het.” Weer sê hy dit op ’n toon wat impliseer dat so iets nooit met Kadri Murad kan gebeur nie . . . en Oda se rug begin sommer pyn van spanning. “Kry julle reg. Ek neem julle oor ’n uur vir ete.”
Sy maak dadelik verskoning. “Ek het taamlik beweeg vandag en my rug is effens seer. Julene kan saamgaan.”
Hy kyk haar skerp aan. “Ons sal later oor die ongeluk gesels. Ek hoop net jy het jou les geleer. Jy kon dood gewees het, Oda!”
Sy laat haar ooglede skuldig sak. “Dit sou gebeur het al was jy ook by, Kadri. Dit was net ’n ongelukkige voorval.”
“ ’n Voorval wat my laat besef het dat jy agter my rug wegsluip. Jy het natuurlik beplan om betyds terug te wees sodat geen haan daarna sou kraai nie.” Sy knik ongemaklik. “Hoekom, Oda? Het ek jou al ooit iets geweier?”
“Nee.” Sy kyk met ongelukkige oë op. Hy het nie, maar as hy net minder beskermend wil wees! Hy behandel haar nog steeds soos ’n dogtertjie wat goed opgepas moet word; wat nêrens op haar eie mag gaan nie. Dis op die punt van haar tong om hom te sê dat sy lankal groot is – dat sy al twintig is. Maar dit kan dalk onwys wees om dié feit so pertinent onder sy aandag te bring. Want as sy dan so selfstandig is, hoekom sal sy nie by haar besluit kan bly en met hom trou nie . . .
“Jy is nog ’n impulsiewe kind, Oda. Jy kan sulke onverantwoordelike dinge doen. Dis tyd dat jy grootword, weet jy?” Hy gee haar ’n drukkie en sy vlug kamer toe. Julene voel egter nie na tere gebare toe sy hoor sy moet alleen saam met Kadri gaan eet nie. Sy draai net daar om en stap die sitkamer binne.
“Meneer Murad . . .”
Hy staan reeds met die telefoon in sy hand. “Ja, juffrou?” Dat hy haar knaend as juffrou aanspreek en nie, soos sy gewoond is as dokter nie, laat haar nog meer kriewel. Is dit omdat hy steeds twyfel of sy werklik ’n dokter is, of is dit sy manier om haar te laat verstaan hy is nie beïndruk met haar titel nie? Sy is ’n vrou – dokter ofte nie – en geen vrou kan volgens hom haar verstand gebruik en dink nie.
“Oda sê my u het my genooi vir ete. Ek is jammer, ek kan nie die uitnodiging aanvaar nie, dankie.”
“Hoekom nie?”
Sy frons. ’n Beskaafde, verfynde man sou haar verskoning summier aanvaar het, maar hierdie Turk móét delf. “Ek . . . het ’n ligte hoofpyn en voel moeg.”
Hy lyk weer soos hy vanoggend by die vasmeerplek gelyk het – lus vir slange vang. “Ekskuus, juffrou?”
Sy kyk hom verward aan. Hy het haar tog duidelik gehoor. Hy kom stadig nader, kom reg voor haar staan en spring haar voor toe haar mond oopgaan: “Dis hoekom ek sê ’n vrou moet liewer nie dink nie. Die ongeleerde vrou lieg omdat sy onnosel is; die geleerde een omdat sy dink jý is onnosel.”
“Ek het nie . . .” kom die protes halfpad uit en dan klap haar mond toe toe sy in sy oë kyk. Nee. Dit sal moeilik gaan om hierdie man om die bos te lei. Hoe geleerd hy is, weet sy nie, maar hy is nie onnosel nie, dit weet sy nou.
“Dit was nie nodig om jou siel sonde aan te doen nie, juffrou. Jy kon my reguit gesê het jy wil nie saam met my gaan eet nie. Ek sou dit onmiddellik aanvaar het – met verligting. Goeienag.”
Sy sien hoe hy doelgerig by die voordeur uitstap en sy hoor die deur toeklik. Sy bly roerloos in die middel van die sitkamer staan . . . en sy weet nie of sy al ooit in haar lewe so klein gevoel het nie.
Toe die kos wat Oda oor die telefoon bestel het, arriveer, is sy niks honger nie. “Ek voel nie na eet nie, dankie, Oda. Ek gaan maar bad en inkruip.”
“Wat makeer, Julene?” wil haar kamermaat weet en val met soveel gesonde eetlus weg dat Julene wonder of dit waar is dat verliefdes net van liefde en koue water lewe.
“Ek het ’n hoofpyn,” antwoord sy . . . en hierdie keer praat sy die reine waarheid.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными