Die Keurboslaan-reeks
1. Jong doktor Serfontein
2. Die hoof van Keurboslaan
3. Nuwelinge op Keurboslaan
4. Die kroon van Keurboslaan
5. Raaisels op Keurboslaan
6. Die Serfontein-kinders
7. Hoofseun Richard
8. Geheime op Keurboslaan
9. Misverstand op Keurboslaan
10. Krisis op Keurboslaan
11. Ongenooide gaste op Keurboslaan
DIE MISVERSTAND
By Keurboslaan Seunskool word alles reggemaak om die drie-honderd seuns te verwelkom. Hulle kom binne vier-en-twintig uur terug van die wintervakansie af. Almal is kosgangers, want hier is nie dagskoliere nie.
Die hoof se studeerkamer lyk die middag eerder huislik as amptelik, want hy en sy vrou geniet ’n rustige tydjie saam met hulle gesinslede wat tuis is.
Mevrou Serfontein lyk baie jonk vir ’n negentienjarige seun se ma. As vrou van een van die land se bekendste skrywers en rykste sakemanne, verskyn haar foto dikwels in tydskrifte en sy is selfs in die buiteland as ’n skoonheid bekend.
Die dogters, veertienjarige Dian en negejarige Laetitia, is heel mooi. Die dertienjarige Bernard begin ook in ’n aantreklike seun ontwikkel; klein Lavrans, wat al sy ouers se beste eienskappe geërf het, is op sy beurt die mooiste kind in die omtrek.
Maar selfs met al hierdie aantreklike mense in die geselskap, is dit nog steeds doktor Serfontein wat die meeste aandag trek. Al vind sy kinders hom nie baie genaakbaar nie, is hy vir hulle en die paar mense wat kan sê hulle is sy vriende, die middelpunt van die lewe.
Ná ’n oomblik van stilte word een van die lang skuifdeure oopgeskuif en twee mans kom by die vertrek in.
Die bekende dokter, Eugene Krynauw, is baie ouer as die hoof se tweede seun, Richard, maar hy en die sewentienjarige is byna ewe lank. Hulle is net ’n rapsie korter as die hoof, wat ’n besonder lang man is. Albei het rybroeke en leerjasse aan, want hulle het so pas ver in die fris, koel buitelug perd gery.
“Hier is ons!” sê dokter Krynauw. “Die mis lê dik aan Swaziland se kant. Ek het in ’n stadium gedink ons haal dit nie.”
Sy goedige bruin oë betrag sy vriende van agter ’n bril. Sy stem is diep en strelend, en klink baie na die hoof se manier van praat. Hy was sy hele skoolloopbaan lank hier op Keurboslaan. Ná die hoof se troue was Eugene Krynauw soos ’n seun in die huis. Krynauw en mevrou Serfontein is eerder soos ’n broer en suster.
Helen Serfontein se uitsonderlike groen oë, wat die oudste seun Josef en die derde seun Berrie by haar geërf het, kyk liefdevol na dokter Krynauw en haar seun wat by die vertrek instap. Richard het sy goue hare by sy ma geërf en dié is nou nat en krullerig van die ligte reën wat so dikwels in die winter hier val. Sy pa het swart hare en oë, maar afgesien van die verskil in haarkleur is Richard sy pa se ewebeeld, met dieselfde byna perfekte gesig wat altyd ernstig lyk, totdat ’n flou glimlag ’n eie sjarme daaraan verleen. Die seun se swart oë is ekstra opvallend by die ligte hare.
“Julle is net betyds vir ’n lekker koppie tee,” sê mevrou Serfontein.
Die hoof is gewoonlik suinig met woorde, maar hy heet hulle hartlik welkom.
“Dis jammer doktor kon nie saamkom nie,” sê Krynauw.
“Ja … Nou ja, môre is nog ’n dag.”
“Dan moet ek weer in die stad wees. Ek het reeds meer tyd afgeknyp as wat ek moes.”
“Ons sien te min van jou,” kla mevrou Serfontein. “En ek is kwaad dat jy Tessa nie saamgebring het nie.”
“Sy maak haar seun se skoolklere reg,” verduidelik dokter Krynauw met ’n glimlag vir sy mooi vrou se oom en aangenome pa. “Dian en Tiesjie, hoe lyk dit, gee julle om as ons môre baie vroeg ry?”
“Nee, glad nie, oom Gene,” antwoord Dian bedees.
“Natuurlik nie,” sê Tiesjie. Haar ma gee haar ’n raps met haar silwer vingerhoed en dan voeg sy nors by: “Oom Gene.”
Helen Serfontein glo nie daarin om haar kinders te bederf nie.
Haar man se wenkbrou trek effens op, maar hy maak nie ’n opmerking oor die vermaning nie. Sulke sake het hy nog altyd aan sy vrou oorgelaat.
“Goed dan,” sê dokter Krynauw wat maar altyd die vredemaker is. “Ek vat julle jong dames skool toe, en dan moet ek my eie gesin gaan groet voor ek aan die werk spring.”
“Dis gaaf van jou om hulle te neem,” sê die hoof effens formeel, so kenmerkend van hom, selfs teenoor sy gesinslede. “Dis jammer ek moet nou ’n draai by die Lochiels se plaas gaan maak.”
“Dis vir my ’n groot eer om in sulke mooi dames se geselskap te wees. Maar moenie dat die plaasbestuurder langdradig wees nie, anders gaan doktor nie saam met die skoliere per trein van Johannesburg af hierheen kan ry nie, en dan sal niemand weet wat aangaan nie.”
“Dít sal nooit gebeur nie!” sê mevrou Serfontein. “Riekie, nog tee? Hoekom eet jy nie? Die besigste deel van die rugbyseisoen is mos verby. Jy hoef nie bang te wees om koek te eet nie.”
“Dankie, Mamma. Ek sal maar tot aandete wag.”
Hier is weer ’n geval waar die hoof se sterk invloed opmerklik is. Richard praat sag en beheers met ’n diep stem net soos sy pa s’n.
Hy tel Lavrans van die mat af op en laat die krulkop op sy skoot sit.
“Kyk my twee blonde Serfonteins, Gene,” sê die ma. “Lyk Riekie en Lavrans nie verbasend baie na mekaar nie?”
Krynauw kyk vol bewondering na die seuns.
“Hulle is die stil Serfonteins,” sê hy, “nes Dian. Jy het drie stilles en drie woeliges, Helen.”
“Miskien gaan Berrie na die stilles se kant oor. Hy het meer as ’n uur laas gepraat.”
“Sy mond is die hele tyd vol koek, dis hoekom!” sê Tiesjie vies.
Berrie se groen oë gluur onder lang, dik wimpers uit. “Is nie! Ek dink,” sê hy.
“Dit sal die dag wees,” spot dokter Krynauw. “Nou ja, wat gebeur dan môre? Riek, kom jy saam met my en die meisies?”
“Ja, asseblief, oom Gene. Ek moet Josef by die lughawe gaan kry. Pa het daardie tyd ’n vergadering in die stad.”
“O ja. Dan kom Josef sommer met jou pa se motor huis toe? As hoofseun gaan jy seker saam met jou pa om die jongspan op te pas.”
“Dis reg, ja.”
“Ons span het hierdie keer goed gevaar oorsee,” sê dokter Krynauw. “Veral vir Josef was dit ’n baie suksesvolle toer. Dis jammer jy kon nie saamgaan nie, Riek. Die bestuur wou jou vreeslik graag daar gehad het, en jy het tog verlede jaar gegaan toe jy maar net sestien was. Ek kry nou nog lekker as ek dink hoe jou kolf die buitelanders se balle gemoker het!”
“Ek het hom belet,” sê Helen Serfontein koel. “Hy was die afgelope tyd onder te veel spanning met al sy skoolwerk, sy pligte as prefek en die sport en alles. Verder het Roelof as eksperiment vier seuns uit verbeteringskole ingevoer, en dit was baie geslaagd, veral wat Loggenberg betref. Maar al vier is in Riekie se slaapkamer en daar was hoeveel probleme voor hulle tot bedaring gekom het. Jy weet self hoe dit hier gegaan het. Ek kon sien sy senuwees is gedaan en ek wou hom nie ná al die rugby so gou op ’n belangrike kriekettoer laat weggaan nie.”
Almal luister met respek.