“O ja, Etienne is baie goed vir my, en hy neem my oral na waar ek dit nie alleen sal waag nie …”
“Etienne?”
Nou bloos Dian regtig. “Ruys,” sê sy.
“O …” die streng gesig verlig ’n bietjie. “Ek ken hom so lank al as Ruyssenaer of Ruys dat ek soms sy voornaam vergeet. Hoe gaan dit met ouma en oupa?”
“Baie goed, dankie. Dis wonderlik dat ons studente daar in hulle rondawels kan bly. Losies is regtig ’n probleem. En al is ouma en oupa oud, help hulle my en Riek en Louis met alles. Oupa gaan nou weer ’n reeks lesings oor die radio gee.”
“Ja, ek verstaan so. Ons het vanmiddag oor die telefoon gepraat. Nou moet ek weg wees.”
“Gaan Pa dan nie eet nie?” kom dit verbaas van Dian, wat ’n gesonde eetlus het.
“Danster sal vir my iets bring.”
“’n Rou wortel en ’n appel,” sê sy vrou en rol haar oë.
“’n Mens kan nie net van vloeistof lewe nie …”
“Nee, jy het die een koppie bitter swart koffie ná die ander nodig,” spot mevrou Serfontein goedig.
“Soos ek wou gesê het toe ek in die rede geval is, ’n mens moet soms ook iets hards kou om jou tande sterk te hou. Verskoon my nou asseblief.”
Die hoof glimlag effens en gaan dan sy gang.
“Hy’s tog so dierbaar,” sug Dian. “Ek wens ’n mens kon hom help of … Ag, ek weet ook nie. Dis byna onmoontlik om iets met hom te bespreek.”
“Daar slaan jy die bal raak.”
“Ek wil so graag vir Tiesjie gaan pleit. Wat dink Mamma?”
“Nee, los dit. Pa is weer in een van sy buie. Hy wil alleen wees. Ek is al gewoond daaraan. Nou laat ek hom maar in vrede na sy dakkamer daarbo gaan. Sodra hy seker is niemand wil hom nog vanaand in die studeerkamer spreek nie, sal hy soontoe verdwyn.”
Sy praat ewe rustig en asof dit haar effens amuseer, maar Dian weet al lyk haar ma so beheers, is sy in werklikheid ’n senulyer. As selfs sy haar pa se prikkelrige bui kan aanvoel, moet dit haar ma pla, daarvan is sy seker.
Josef het sy suster gevra om hulle ouers in te lig oor sy voornemens, maar sy besluit dis nie nou die regte tyd daarvoor nie.
“Is daar ’n spesifieke rede hoekom Pa so af voel?” vra Dian. “Ek dink partykeer dis die goed wat hy skryf wat hom so rusteloos maak.”
Mevrou Serfontein kyk verbaas na haar dogter. “Dis waar wat jy daar sê. Dit ís rusteloosheid! … In dié geval is daar miskien ’n rede voor. Hy het onlangs ’n stapel boeke laat kom. Jy weet mos hy koop gereeld nog aan, al kry hy amper nooit tyd om dit te lees nie. In elk geval, een van hulle gaan oor die verlore kontinent Atlantis.”
“Ek kan skaars glo Pa sal so iets lees.”
“Wel, hy het. Toe ek een aand ingaan om nag te sê, sit hy agter sy lessenaar met dié boek en oorlede meneer Schoonbee se Feëverhale van Alle Nasies. En hy het vir ’n wonder daaroor gepraat, maar meer asof hy met homself gesels.”
Nou kan Dian sien hierdie dinge is vir haar ma moeilik. Sy streel haar ma se hand terwyl sy wag dat sy moet aangaan.
“Die boek oor Atlantis beweer oeroue mense of wesens het paaie oor die hele aarde gebou of gevorm, en dat ’n sekere magnetiese veld deur daardie weë loop en dat party uitverkorenes daardie energie nog kan voel. Soos ek kon agterkom, was dieselfde idee ook die uitgangspunt van meneer Schoonbee se boek. Hy wou bewys alle lande se fabels is basies dieselfde, al het die mense van destyds nooit kontak met mekaar gehad nie. Hy het geglo die verhale het langs sulke magnetiese weë na hulle toe gekom.”
“Maar hoe vind ’n mens uit waar daardie paaie is?” Dian is effens geskok om te dink haar pa hou hom met sulke fantasieë besig.
“Seker maar deur gevoel … Oorblyfsels van sulke weë kan glo uit ’n vliegtuig gesien word. Reguit lyne kan blykbaar van een geslag se heilige plek na ’n ander getrek word. Meneer Schoonbee se boek het ’n groot kaart van die aarde voorin waarop sulke paaie aangedui word. Toe ek oor Pa se skouer daarna kyk, het hy ewe sedig gesê: ‘Ons sou die Lang Reguit Pad gevolg het’ en kon hoor hy sou daardie naam met hoofletters skryf.”
Mevrou Serfontein probeer glimlag, maar haar oë lyk moeg.
“Hy en ou meneer Schoonbee was baie na aan mekaar. Nou lyk dit vir my of hierdie nuwe boek hom weer diep laat nadink. Hy het vererg bygevoeg: ‘Maar die wêreld dink mos net aan geld, geld, geld!’”
“Dit klink vir my glad nie na Pa nie. Is hy nie dalk siek nie, Mamma?”
“Miskien, maar onthou, hy is nie ’n gewone mens nie. Wir müssen uns damit abfinden,” beëindig mevrou Serfontein die gesprek in haar moedertaal.
3
JOSEF SE PLAN
Dis die eerste aand van die nuwe skooljaar. Driehonderd seuns vergader in Keurboslaan Seunskool se konsertsaal vir Godsdiens.
Die nuwe prefekte staan voor, net onderkant die verhoog waar die personeel binnekort sal verskyn. Loggenberg se kop steek ver bo die ander s’n uit. Maar Brian Spaulding se wit kop kom kort. Hoe werk dit dan? Is hy nie veronderstel om die hoofseun te wees nie?
Die personeel daag nou op. Vooraan is Miss Kennerley, die gevreesde onderwyseres wat Engels en Latyn gee. Geslagte seuns het al voor haar gebewe. Sy is ’n universiteitsvriendin van die hoof, uit sy dae op Cambridge. Hulle het albei beurse gewen en die mense sê hulle het vriende geword omdat albei tien keer slimmer as die ander studente was.
Miss Kennerley was jare lank die hoof van ’n spoggerige meisieskool in Johannesburg, maar sy het altyd tydens haar langverlof hier kom uithelp. Later het sy verveeld geraak met die meisieskool en selfs in die buiteland gaan werk, maar sy is nou al ’n hele ruk permanent op Keurboslaan. Al is sy tingerig, vrees die seuns die ondersoekende blik van agter haar knypbril meer as die hoof se koue woede – en dit sê heelwat.
Agter die Engelse dame volg die hoof se broer, Adolf Serfontein, meneer Dempers, meneer Böckl, meneer Venter en sy vriend meneer Geer, die sportonderwyser, en ’n paar ander. Mevrou Mostert, die huismoeder, verskyn ’n rukkie later saam met Barbara Venter, die hoof se sekretaresse. Sy en meneer Spaulding is al ’n paar jaar lank verloof, maar kom nie tot trou nie. Barbara is te gelukkig in haar werk om sommer ’n verandering te maak.
Tussen die heel kleintjies agter in die saal waar die diensprefek Theo Killian hulle dophou, staan ’n nuwe skolier met goue krulhare en ’n besonder mooi gesiggie. Ná heelwat beraadslaging is Lavrans hier toegelaat. Hy dra nou uiteindelik die roos-en-grys kleurbaadjie waarna hy so lank gesmag het. Hy is ’n kosganger nes al die ander en gaan vannag hier slaap.
Lavrans gaan nie huis toe verlang nie. Sy ouers bly net onderkant die skoolterrein en hy mag hulle elke aand gaan groet. Op die oomblik hou hy niks van die atmosfeer by die huis nie. Tiesjie en sy pa praat glad nie met mekaar nie. Sy ma was die vakansie siek en voel nog steeds nie lekker nie.
“Pa is kwaad omdat party seuns nie opgedaag het nie,” fluister hy vir Pietie Elsenach en Dolfie Krynauw, albei verlangs familie van hom en ook groentjies.
“Wie praat daar onder?” vra die hoof wat soos ’n onvergenoegde kardinaal op die verhoog lyk.
Hy is reeds die duiwel in, dink Killian omgekrap, en dan sien hy nie die kleinste oortreding oor nie.
“Watter prefek is daar aan diens?”
Asof hy met sy arendoë nie weet nie!
“Dis Lavrans wat gepraat het, doktor,” sê Killian.
Die hoof kyk na sy jongste kind en