“Dis hoekom ek uit die skool geskop is.”
“Jy is wát?”
“Ekskuus. Ek moes geskors gesê het.”
“Hoekom is jy … geskors?”
“Wel, ek het ’n stuk vir die jaarblad geskryf. Almal moes dit doen, en dan word die bestes gekies. Myne was ’n kortverhaal.”
Haar pa lyk so streng dat ’n ander kind aan die huil sou gegaan het. Maar nie Tiesjie nie. “En toe?”
“Toe kom Meintjies … ek bedoel juffrou Meintjies een dag by my en sê my storietjie is ’n oulike poging vir so ’n klein dogtertjie.” Die minagting in die kinderlike stem is duidelik. “Asof ek ooit omgegee of dit in die jaarblad verskyn of nie. Ek het dit net geskryf omdat dit vir my lekker was.”
Haar pa se swart oë toon belangstelling wat sy nie opmerk nie.
“Maar nou ja, dit het nogtans verskyn, betyds om vandag huis toe te bring. Ek maak die jaarblad toe oop en … en …”
“Ja?”
“Sy het kastig ‘verbeterings’ aangebring!” sis Tiesjie verontwaardig.
“Maar ’n redakteur moet tog enige taalfoute regmaak en seker maak dat …”
Tiesjie val haar pa in die rede soos nie een van sy ander kinders dit sal waag nie. “Ek praat nie daarvan nie, Pa. Sy kan regmaak soos sy wil. Ek praat van my storie. Sy het uitgekrap en bygeskryf sonder om eens dieselfde woorde as ek te gebruik. Ek skryf ‘blomgeel gordyne’ en sy verander dit na ‘gordyne van geel, geblomde materiaal.’”
“Nooit!”
“Ja, ek sê Pa mos. Ek vra haar toe hoe kan iemand ’n mens se werk so opmors. Dis al wat ek gevra het! Maar toe maak sy asof ek g’n reg het om vrae oor my eie werk te vra nie. En toe oom Gene my kom haal, sê sy vir hom ek is geskors tensy ek voor die hele skool om verskoning vra omdat ek haar voor ’n hele klomp mense beledig het. Maar sy kan gaan doppies blaas!” sluit Tiesjie haar koorsagtige toespraak af, met ’n uitdrukking wat sy by haar ouboet geleer het.
“Dis genoeg!” knal die basstem wat die skoolseuns so goed ken. “Jy raak onnodig opgewonde. Alle skrywers voel vroeër of later gekniehalter. Dis omdat hulle …”
“Maar kan Pa dink! Jy skep jou karakters en jy weet hoe voel hulle oor mekaar, en jy weet presies hoe hulle sal praat. Dan kom so iemand en mors alles op, en gebruik uitdrukkings wat die karakters nooit sal gebruik nie …” Sy snak na haar asem.
“Kom nou, jy neem die saak gans te ernstig op,” sê haar pa sussend en effens geamuseerd. “Dalk het jou juffrou baie nasienwerk gehad en toe was daar nie tyd om vas te stel …”
Tiesjie val hom weer in die rede. “Vas te stel! Daar’s net een ding wat sy wil vasstel. Sy wil hê Pa moet sien hoe wonderlik sý skryf! Sy vra altyd hoe dit met Pa gaan. Sy’s nes al die ander wat so oor Pa te kere gaan, en ek begin dink Pa hou eintlik …”
Daar is ’n oorverdowende slag. Die bietjie meegevoel wat die skoolhoof nog met sy dogter gehad het, is nou daarmee heen.
“Dis niks,” paai dokter Krynauw sy gasvrou in die vertrek langsaan. “Hy het net met sy vuis op die tafel geslaan. Hy’t dit eenkeer gedoen om te keer dat ek hom van ’n leuen beskuldig. Dit sou die einde tussen ons gewees het.”
In die studeerkamer het Tiesjie bleek geword. Haar stortvloed woorde het skielik opgedroog.
“Jou gedrag is onvergeeflik,” sê haar pa. “Ons ry op pad lughawe toe by jou skool aan en as daar nog iemand is, vra jy om verskoning en belowe om dit later in die openbaar te herhaal.”
“Ek sal dit nooit doen nie!” Sy gee nie om of hierdie woorde haar dood gaan kos nie. Tiesjie staan soos ’n klein martelaar voor ’n groot leeu.
“Jy maak soos ek sê of jy gaan nie saam oorsee nie. En as die skool jou ná die vakansie nie sonder ’n verskoning wil terugneem nie, bly jy tuis sonder om verder te leer.”
Tiesjie leer graag en maklik, en sy het reeds allerhande planne vir die volgende jaar, maar dit skeel haar nie nou nie. “Waar bly ek dan die vakansie?” vra sy met ’n skerp stemmetjie.
“By jou ouma en oupa in die stad, as hulle daarvoor kans sien.”
“Dis goed so.”
Sy loop sonder toestemming by die studeerkamer uit.
2
DIE LAASTE AAND
Later, ná ’n harde stel tennis teen meneer Geer, die sportonderwyser, en ’n halfuur se swem, bad en verklee doktor Serfontein voor hy na sy vrou gaan soek.
Sy is in die sonkamer besig om briewe te skryf en het reeds haar groen aandrok aan. Hy lyk ook deftig in sy meer formele pak.
“Ek het ’n vermoede jy kom vra om van die ete verskoon te word,” sê sy.
“Wel, eintlik ja. Daar wag nog ’n magdom werk vir my. Ek moet onder andere ’n paar seuns spreek, en persoonlike probleme neem heelwat tyd in beslag.”
“As dit oor gevoelens gaan, laat dit aan Burger oor. Hy hou mos daarvan.”
“Hy het genoeg om te doen. Gee jy om as ek wegbly?”
“Nee wat. Eugene is hier, en Riekie sal netnou saam met Dian, Ruyssenaer en Willemse opdaag. Dis oorgenoeg mans. Die gaste sal jou buitendien verveel, dan sit jy weer daar en lyk soos ’n sfinks. Dit skrik almal af.”
“Is ek werklik so onopgevoed?”
“Jy is maar soos jy is,” sê sy glimlaggend en stap saam met hom uit stoep toe.
“Hoe lyk dit my die lewe druk jou? Ons gaan dan met vakansie!” probeer sy hom opbeur.
“Dis allesbehalwe vakansie vir my, met al die afsprake.” Hy kyk na die swart berge teen die aandhemel. “As ek en jy alleen kon weggaan …”
“Ons kan ongelukkig nie. Dink net hoe sal die kinders voel as hulle moet weet jy wil hulle nie saamneem nie.”
“Dis nie dat ek hulle nie by ons wil hê nie. Daar is net so baie dinge wat my aandag verg … En dan voel ek skuldig omdat ek so min vir hulle kan doen.”
“Ek is tog daar vir hulle. Wat van Tiesjie?”
“Sy weet wat sy behoort te doen. Sy is hardekop en ongemanierd. Sy moet hierdie keer ’n les leer.”
“Laat ek liewer die saak hanteer.”
“Nee, ek het haar voor ’n keuse gestel en sy moet self besluit.”
“Benut jy die kans om ons gesin se woeligste lid by die huis te los?”
Die hoof antwoord nie direk nie. “Soos altyd moet jy my gedrag maar probeer vergewe,” sê hy en skuur sy wang vir ’n oomblik teen haar hare.
“Wie kan ooit vir jou kwaad bly?” terg sy met teerheid in haar stem.
“Jy, baie keer.”
Metz, die uittredende hoofseun, stap saam met ’n paar ander seniors van die skoolgebou na die hoof se huis toe. Dis die gebruiklike tyd vir die hoofseun om verslag te lewer oor die dag, maar dit sal nie vanaand gebeur nie.
“Julle gelukkige ape,” sê Metz knorrig vir die ander.
Twee van hulle is besonder lank terwyl die ander drie effens korter is. Brian Spaulding, met sy lewendige gesig en woeste wit hare is nog nie sewentien nie, maar reeds net so lank soos die hoof, en Loggenberg is selfs nog langer.
“Daar lê nog ’n hele jaar vir ons voor,” sê Brian, “en ou Berrie het nog ’n jaar langer oor. Hy moes agterbly ná daai ongeluk. Maar dalk dop jy nog, Metzie, dan kom jy ook terug.”
“Nee wat,” sê Metz mismoedig.