Etosha. Piet van Rooyen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Piet van Rooyen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153324
Скачать книгу
sê julle?” vra Fabianus vir die ander APU’s.

      “Nee, los hom net hier. Laat hom sien of hy self kan loskom.”

      “Wat sê jy, mannetjie?” vra Fabianus vir die nuwe rekruut.

      Mistake kyk na die ander om hom, sien die spot en die minagting in hulle oë. “Laat hom hang,” sê hy.

      “Laat hom hang,” sê Fabianus.

      “Fechter sal nie hiervan hou nie,” sê Jason.

      “Fechter sal nie weet nie,” sê Fabianus dreigend.

      “Fechter sal nie weet nie,” brom die ander instemmend.

      Die APU’s klim in die voertuie en ry. Terug op die spore tel hulle die wilddief se geweer op. Hulle kry die renosterhoring ’n ent verder in ’n bos. Hulle kan altyd ’n storie hieroor versin. Die donker het hulle ingehaal voordat hulle die wilddief kon vastrap. Hy was te skelm, het te vinnig gehardloop. Maar hulle het darem die geweer opgetel waar hy dit laat val het. Die horing het hy nog. Hulle sal maar by die krale daarvoor moet gaan soek.

      So sal hulle sê. Fechter sal hulle glo. Hy vertrou hulle. Hulle werk al lank saam.

      Die wildpatrollie is haastig om terug te kom by die kamp. Dis ’n hele paar uur se ry. Die stof staan dik op die vlaktes soos die bakkies volspoed daaroor brul. Die manne moet hulle staan ken om nie afgeruk te word in die wilde draaie en deur die duike nie.

      Mistake voel ’n bruising van opgewondenheid in hom opstoot. Hy’s tevrede. Hy voel reeds deel van hierdie groep. Hy is bly hy is aan hulle kant, nie teen hulle nie. Hy is bly hy het netnou gesê hulle moet die ou man laat hang. Dit was die regte ding om te doen. Hy kyk rondom hom na die ander gesigte. In elkeen se blik brand daar die warm gloed van sukses.

      7

      Olivia en doktor Hugh Brown, hoof van die Etosha Ekologiese Navorsingsinstituut, is besig om die leeu op te sny, toe die APU’s terugkom in die kamp. Dis reeds lankal donker en Olivia is moeg na die dae se agtervolging van die leeu, maar sy wil die werk klaarmaak. Hulle sal vinnig moet speel in hierdie hitte. Met al die vet beesvleis in sy pens sal die karkas gou vrot word. Die binnegoed ruik al klaar sieklik skerp.

      Hulle kry min genoeg kans om ’n leeu op die dissekteertafel te hê. Dis egter ’n skrale troos. Hulle sou albei graag eerder die leeu lewend wou terughê in die Park. Dit was ’n mooi jong mannetjie en, op grond van wat hulle met die aanvanklike deurkyk van die organe kan agterkom, vry van siektes of infeksie. Dis dié soort genetiese materiaal waarmee hulle parke in Suider-Afrika sal kan herbevolk as al die leeus daar uitgestorwe is. Hulle kry weekliks berigte van insidente van tering en kattevigs waarvan die leeus in plekke soos die Krugerwildtuin, Londolozi en Mala-Mala reeds by die honderde vrek. Slegs die ontwikkelde, leeu-ontvolkte binneland skei nog noordelike Namibië en die Kalahari se leeus van die aangetasde populasies elders. Dis hoekom hierdie werk so belangrik is; waarom Olivia en haar projek met soveel belangstelling deur die res van die internasionale bewaringswêreld dopgehou word.

      “Die spul is raserig vandag,” sê doktor Hugh.

      Olivia knik haar kop. Sy vee met haar wang oor haar hempsmou. ’n Knaende gejeuk pla nou al lank, maar sy kan nie waag om te krap nie. Die plastiekhandskoene wat sy aan het, is met bloed besmeer. Die assistent, ’n kort, stug Kwanyama met die naam Ambrosius, is veronderstel om die meeste van die snywerk te doen, maar sy is gedurig besig om self in die binnegoed te krap en met haar hande in die vuilrooi mengsel van bloed, slym en mis in die karkasholte rond te voel.

      Die leeu se bek hang oop, die pienk lippe pap. Die tande steek skerp en geel by die tandvleis uit. Dit lyk asof hy slaap. Olivia druk met haar vinger aan die lippe. Dit voel koud en leweloos, byna rubberagtig. Sy stryk oor die snorbaarde wat wyd weerskante van die neus uitsteek.

      Al lyk die skade op die vel min, is die leeu sleg stukkend geskiet aan die binnekant. Sy kan nou duidelik sien waar die drie skote deur is wat haar lewe gered het. Een is reg aan die onderpunt van die hart deur, ’n byna skadelooslykende merk wat sy met die punt van haar duim oop en toe kan flerts. Die ander, waarskynlik die skoot wat die meeste weefselskade veroorsaak het, sit na agter, reg deur die sentrum van die longe. Die finale skoot, die doodskoot, is hoog deur die nek tussen die werwels deur. Sy kan nou verstaan hoekom die leeu met daardie laaste skoot soos met ’n voorhamer neergevel is. Die skok van al daardie energie so na aan die rugmurg verby moes alle oorblyfsels van lewe in hom oombliklik uitgedoof het, sy kersie geblaas het soos Karel altyd sê.

      “Krap bietjie hier,” sê sy en beduie met haar kneukels na haar wang.

      Hugh Brown, ’n bruingebrande middeljarige man met netjies gekamde grys hare, het tot dusver sy hande skoongehou, net soms met die vingerpunt na die een of ander merk op ’n orgaan beduie. Hy kan dus sy hand uitsteek en in weerwil van sy ingetoënheid met die voorvinger teen haar wang krap. Daar lê reeds ’n bloedstreep waar sy onnadenkend na die gejeuk getas het.

      Tussen die disseksie deur kyk Olivia op na die saamgestelde kaarte en lugfoto’s teen die muur oorkant haar. Die kaarte en foto’s is op ’n groot houtbord vasgeplak en bedek byna die hele oppervlak van die muur. Dit sluit die Nasionale Etosha Wildtuin, ’n gedeelte van die Opuwo- kommunale gebied en die boerderydistrikte van Outjo, Grootfontein en Tsumeb in. Die grense van die plase is in blou penstrepe getrek en die name daarby ingeskryf. Hier en daar is rooi vlaggies met kodenommers ingesteek waar die leeus op plase doodgeskiet is, groen vlaggies op die plekke waar sy betyds kon kom om die verdowingspyle te gebruik en van waar sy die leeus kon terugvat Park toe. Geel vlaggies binne die Park dui die verskillende gebiede aan waar sy verdoofde leeus vrygelaat het met hul nuwe identifikasie-halsbande aan. Sommige kodes verskyn meer as een maal op verskeie plekke op die kaart. Dikwels eindig ’n kode met ’n rooi vlag. Sy het pas ’n vars rooi vlaggie ingesteek in die sentrum van Môrester, die plaas waar die leeu op die tafel vanoggend vroeg geskiet is.

      Deur die venster kan hulle die twee patrolliebakkies van Karel se teenwilddiefstaleenheid voor die drankwinkel sien stop. Hulle dreunsing die lied wat Fechter hulle uit sy eie weermagdae geleer het: “When you hear this battle cry, the APU boys are marching by … When you hear this trumpet blow, the APU boys are on the go …”

      “Vol bravade,” sê doktor Hugh en skud sy kop.

      “Karel gaan te ver met hulle. Netnou, netnou ruk hulle hand uit. Dan kry hy hulle nie meer beheer nie.” Olivia voel ’n onverklaarbare opwelling van vrees deur haar ingewande stu.

      “Hy kry sy resultate. Maar ek stem met jou saam. Eendag is eendag, dan gaan hulle te ver.”

      “Ambrosius, wat sê julle mense van hierdie APU’s? Watse soort manne is dit?” Olivia rig haar direk tot die assistent. Hy het tot dusver woordeloos en bot die werk gedoen wat sy en doktor Hugh hom aangewys het. Hulle ken hom al so en het geleer om sy stilswye te ignoreer. Nou hoop sy dat hy haar die antwoord sal kan bied wat haar eie vrese sal kan besweer.

      “Dis nie ons mense daai nie.” Hy skud sy kop.

      “Hoekom sê jy so?” probeer sy hom aanpor.

      “Sleg.” Hy byt die woord asof hy iets onaangenaams proe, ’n skuins trek om sy mond. Aan die manier waarop hy haar oë ontwyk en by die venster uitkyk na die paar wolke wat bo die top van die uitkyktoring draai, kan sy sien dat hy onwillig is om te praat. Los hom dan liewer uit. Sy sal wel met die tyd leer.

      “Hulle knip ten minste die wilddiewe se draadjie kort,” sê Hugh ironies aan Ambrosius, ter verdediging. Ambrosius antwoord nie.

      Olivia neem haar voor om, sodra sy die kans kry, ernstig met Karel oor sy teenwilddiefstaleenheid te gesels. Sy weet die APU’s se bedrywighede het niks direk met haar te doen nie. Sy, nes Hugh, is bloot navorsingspersoneel hier en het niks uit te waai met die bestuur van die Park nie. Tog bekommer sy haar oor die toenemende astrantheid waarmee die manne van die eenheid die afgelope maande die Park op horings neem. Daar moet iets meer wees wat sulke baldadigheid veroorsaak. Dit kan nie net van die enkele kere wees dat hulle met die een of twee verflenterde wilddiewe terugkeer van ’n suksesvolle patrollie nie. Dalk is sy bloot jaloers, wil sy haarself gerusstel.