Justus weet hoe skurf die pad tot by Otjondeka is, hoe daardie rooi kwartsklip aan die sole van velsandale kan sny. Hy voel skuldig dat hy nie dadelik na sy eksamen huis toe vertrek het, soos hy oorspronklik beplan het nie. Hy probeer hom verskoon met alles wat nog hier gedoen moet word, maar hy weet hy’t sy mense versuim. Hy het weg begin groei van die wat agtergebly het.
Des te meer kla sy gewete hom aan na die ontvangs van Kapia se boodskap. Dit is nie net sy pa se verdwyning, sy ma se ver loop om die nuus te gaan afgee nie. Sterker nog knaag die belofte wat hy aan Kakambi gemaak het. Hy weet daar is toekomsplanne wat albei hulle families vir hulle voorberei het, planne waaraan hulle hul eie toekomsverwagtinge meet.
John Kapia was vir die sitting van die Nasionale Raad in Windhoek en het laat weet dat Justus hom moet kom sien by die huis in Katutura waar hy altyd tydens sittings oorbly. Hy moet dadelik terugkom huis toe, het sy ma laat weet. Iets slegs het gebeur. Sy pa het gaan jag. Sy weet net dis iewers na die môrebreek se kant toe. Dis nou reeds langer as ’n week en hy is nog nie terug nie. Dalk is hy die Park in.
Die brief, die woorde wat sy vir John Kapia op papier laat neersit het, sê bloot: “Justus, kom huis toe. Ons soek jou pa.” Maar Kapia kon hom meer vertel – hoe sy ma na dae se reis daar by hom aangekom het, hoe smekend haar stem was, hoe dringend die manier waarop sy na hom gekyk het. Op grond van die bekommernis op Kapia se gesig, die manier waarop hy sy stemtoon laag en vol emosie hou, kon Justus hom die erns van die verdwyning goed voorstel. Kapia vertel hom nie hoe hy haar vir langer as ’n uur buite laat wag het voor hy haar te woord gestaan het, dat hy haar nie die stoel oorkant hom aangebied het om op te sit nie, dat sy heeltyd moes staan. Dit is goed dat die mense uit die platteland ontsag behou vir die Posisie, vir die manne van die Raad.
Hy is darem bereid om vir Justus die geld te leen om by die huis te kom. Justus se ma het hom al klaar ’n bok of twee belowe.
Justus het ’n voorgevoel dat hulle dié keer nie so maklik uit die moeilikheid uit gaan kom nie. Hy ken sy pa. Hardekop. Vetamunua Tjambiro laat hom nie deur grenslyne of deur parkdrade stuit nie.
Hy wou nooit vir Justus toelaat om saam te gaan op sy togte nie; hy’t altyd gesê hy is vir hom meer werd as die grootste kraal beeste, dat hy later nog sy kans sal kry. Tog het hy altyd vertel as hy teruggekeer het van die ver plekke af, saans by die vuur met die ander kinders wat in ’n halfmaan plat op die grond om hulle sit, die blink lig van die vuur in hulle oë, Justus opgelig tussen die ander, ’n posisie van voorrang op sy pa se knie.
Daar was die keer toe sy pa gaan bokke ruil het in Angola. Vetamunua het alleen gegaan, niemand saamgevat nie. Hy het net gesê die rivier is leeg genoeg, en dat hy sal deurkom met die vee. Hy het getrek tot by Otjimaka, is in die nag daar oor die grens met die bokke, sonder dat iemand van iets geweet het. Hy het die voorbok al blêrend aan die horing deurgesleep, die res van die trop wat skeef-skeef agterna swem.
Drie weke later was hy terug op Onaiso, by die huis, die eienaar van ’n outomatiese geweer en ’n sak vol patrone. “Ons het nog baie bokke,” het hy vir sy vrou gesê. “Hier lê ons toekoms,” en na die geweer gewys.
“Jou dood, ja,” het sy sag gesê, maar nie verder gepraat nie. Justus was by. Hy het gedink sy ma is verkeerd om so te sê. Nou was sy dalk tog reg.
Hy weet baie goed van sy pa se jagtogte die Park in. Dis ’n ou storie daardie. Al het sy ma ook hoe gewaarsku, sy pa was ’n Man. Sy pa het sy hande oopgesper, die vingers wyd in ’n gebaar wat die wêreld ingesluit het, die ronding van die hele horison, of hy daarmee die noodwendigheid van sy swerftogte wou bevestig. “Dit was nog altyd ons plek, hierdie wêreld, hoekom sal ons nou uit ons eie jagveld afgekeer word?”
Hy het ook nou iets om sy pa te wys. Hy is na jare se hard leer uiteindelik klaar met sy graad. Die uitslae sal goed wees. Sy pa sal trots wees, dit weet hy. Dis sy pa wat hierdie pad so mooi vir hom oopgemaak het. Hy’s sy pa se kind, van daardie tyd af toe hy verwonderd op sy knie na die stories van die ver reise gesit en luister het, saam met hom dikmelk gedrink het, saam in die veld naby hulle nedersetting voëls en hase gejag het.
10
Hy neem ’n taxi tot in Otjiwarongo. Hier moet hy oorklim Outjo toe. In Outjo is hy ook gelukkig. Hy gaan klop by Veeartsenydienste aan. Daar is dadelik ’n geleentheid met ’n GRN-bakkie in Opuwo se rigting, grootpad verby. Hulle praat min, hy en die drywer. Sy gedagtes maal. Watter slegte nuus lê vir hom by die huis en wag?
Dis reeds sterk skemer toe die drywer hom by die afdraai na Onaiso langs die grootpad aflaai. Van hier stap hy in die maanlig die laaste twintig kilometer na Onaiso, sy koffer aan ’n stok oor sy skouer gehang.
Hy stap die res van die nag. Die lig breek net mooi toe hy die nedersetting voor hom op die vlakte in sig kry. Dis Onaiso, waar sy pa en sy oupa en sy oupagrootjie se mense al vir soveel generasies lank bly. Dis sy huis, moet hy homself herinner.
Dis vroeg, maar daar is reeds mense op, kan hy sien. By een van die hutte trek daar rook. Uit die rigting van die fontein kom ’n skraal vrouefiguur met ’n emmer op die kop teruggestap na die huise toe. Hy knip sy oë teen die vaak en die vermoeiing, probeer die figuur in die halflig herken. Dis nie sy ma nie, daarvoor loop die mens te regop, is die houding te jonk. Is dit sy?
Die vrou het ook nou vasgesteek. Sy het die man opgemerk wat so uit die nag uit die rigting van die grootpad nader kom. Sy sit die emmer langs haar neer. Die hingsel maak ’n klein klingelgeluid soos dit teen die rand van die emmer toeklap. Hy het al vergeet hoe stil dit hier is, hoe ver geluide in hierdie wydtes trek. Hy voel hoe sy keel toetrek, word bewus van die slae van sy hart in sy borskas. Die oomblik word lank, hulle twee vasgegryp in die stilte, die afwagting. Sy maak ’n klein beweging met die arm, ’n skaam wuif. Dit is sy, Kakambi! Hy het nie geweet dat hy so sou voel wanneer hy haar weer sien nie. Hy het gedog hy het al ’n bietjie van haar vergeet. Nou besef hy dat sy maar net diep gebêre, nooit weg was nie.
Sy los die emmer net so waar dit staan, verlaat die voetpad, kom vinnig oor die oop veld na hom aangestap. Hy gee een of twee onseker treë in haar rigting, loop dan met sekerder stap vorentoe. Soos sy in die helder-wordende lig nader kom, kan hy haar nou duidelik sien. Dis sy. Dis beslis sy.
Haar bolyf is kaal. Die stringetjie ysterkrale hang swaar om haar nek. Dit tref hom hoe die swaar string krale juis die elegansie van haar nek beklemtoon. Haar borste staan styf en rond bokant haar skraal ribbes, die punte daarvan hardgeword in die koue lug. Dis ’n skok om haar so kaal te sien. Hy het al amper vergeet van hierdie gewoonte van sy mense om so kaal te loop. In die stad sou dit onbehoorlik wees, krimineel byna. Daar dek almal toe. Nou staan hierdie “klein perdjie” so onbevange hier voor hom, die skaam glimlag op die gesig, die onmiskenbare blydskap om hom te sien, asof daar niks tussen hulle weg is nie, asof hy steeds dieselfde mens is, dieselfde ou speelmaat – hy Ndjipua, sy Kakambi, die ene met die donker oë.
Sy draai om, weg van hom af. “Oeloeloeloe!” roep sy meteens hard in die rigting van die hutte, ’n vreugdekreet, helder in die dun oggendlug. Sy hardloop die laaste paar treë, kry hom aan die voorarm beet, trek hom agter haar aan. Hy voel haar vingers om sy arm klem. Haar greep skuif na sy pols toe. Die greep is veel sterker as wat hy hom van so ’n skraal meisiekind sou voorstel. Dit dwing hom agter haar aan.
Die honde begin vaak-vaak blaf. Een na die ander kruip die inwoners uit die huise uit, bukkend van onder die lae deuropeninge, kom stram orent, vryf die slaap uit die oë. Hy word bewus daarvan hoe hierdie toneel, die wakker word uit die slaap om hom te groet, aan sy emosies raak. Dis vir hom dat die dag aan die breek is. Dis vir hom dat die mense van hierdie dorpie “oeloeloe!” roep. Dis om sy ontwil dat hulle die lomerigheid van die nag van hulle afskud.
Kakambi het sy hand gelos. Daar is dadelik ’n kring mense om hom, ou kennisse wat kom groet, mense vir wie die tyd stilgestaan het, in wie se oë hy maar gister hier