Etosha. Piet van Rooyen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Piet van Rooyen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153324
Скачать книгу
wanneer sy die geleentheid sal hê om die verdowingsgeweer te gebruik, voordat die jagters kans kry om hom met die koeëls te kan bykom. Sy kan darem nie dink dat hulle ’n halfverdoofde leeu sal skiet nie. As sy net eers haar reg op die leeu kan vestig!

      Sy vrees ’n oomblik lank dat sy die sakemanne verloor het, want die dik wolke stof is skielik nie meer voor haar nie en sy ry in ’n arena van helder stoflose veld in. Die eerste sonlig is reeds besig om die blare se rande blink te kleur en ’n sagte skynsel te laat op die are van die boesmangras. Sy pomp die remme en roep vervaard na agter.

      Halfkop het reeds vorentoe geleun en beduie deur die oop venster skerp na regs: “Hiernatoe. Hulle is hier af.”

      “Hoekom sit een van julle nie voor nie?” verwens sy hulle weer ’n keer stilweg.

      Sy druk die Land Rover vinnig in trurat en laat skiet die koppelaar. Met ’n hoë gesing van die ewenaar brul die voertuig enkele meter terugwaarts. Nou kan sy sien waar die tweespoorpaadjie skerp deur die veld wegswaai. Die gebrul van die jagters se enjin is nog ’n honderd meter of wat vorentoe hoorbaar, maar nou teen ’n veel stadiger spoed as so pas. Sy laat los die koppelaar en ry haastig agterna. Sy verminder nie spoed nie. Sy sal nie omgee as die leeu padgee nie.

      Hulle moet nou naby die veepos wees. Sy kan sien dat die veld hier baie meer oopgetrap is deur die vee. Voetpaaie en los beesspore begin uit verskillende rigtings hier by mekaar aansluit. Eenkant lê die geboë wit ribbes van ’n ou beeskarkas, die kop met die paar vergeelde horings ’n ent daarvandaan. Die gate van meerkatte, springhase en ystervarke raak nou al meer hier naby die water. Sommige is direk in die spore van die pad, en die Land Rover klouter met ’n gewip van vere daardeur. Sy wens sy kon die angstigheid, wat nou al sterker in haar opwel, wegpraat deur ’n vraag of ’n opmerking aan die spoorsnyers, maar hulle staan onbereikbaar agter op die bak.

      In die ry steek sy haar kop deur die venster en praat na agter: “Sien julle al iets?”

      Die spoorsnyers se aandag is stip op die veld rondom hulle gerig. Hulle staan penorent teen die kajuit met die hande om die vensterrame geklem. “Nog niks,” hoor sy Kasupi dofweg antwoord.

      Met die vingers van haar linkerhand trek sy die geweer oor haar skoot en woel die pakkie verdowingspyle oop. Sy lig die seël aan die punt met die duimnael af. Terwyl sy die stuurwiel met haar knieë vasklem, trek sy die slot oop, druk die pyl in die kamer. As sy die geringste kans gebied word, gaan sy skiet.

      Dan is hulle by die veepos. Sy sien die sakemanne se blink Cruiser tussen ’n los klompie vaalgroen saliebosse staan. Die veewagters het uitgeklim en dig teen die jagters se kajuit kom staan. Nou beduie hulle met swaaiende arms in die veld in. Koeke droë beesmis lê wydverspreid op die kaalgetrapte terrein waar die veespore die sand omgedolwe het. Die kraaldrade is slap en vervalle en die ou sementdam lyk heeltemal uit plek uit hier tussen die bos en die bome. Die drinkbakke moet lek, want ’n plaat water staan teen die uitgeholde fondament daarvan. Stukke ou draad en sparre lê oral rond. Die windpomp staan half versteek agter ’n groot tambotieboom. Hier is nie op die oomblik beeste by die veepos nie; dis nog te vroeg om te kom drink. Na gister se vangslag sal die vrees hulle buitendien lank weghou van die water af.

      Olivia druk die Land Rover parmantig vorentoe langs die jagters se voertuig in, klim vinnig uit en stap nader. Die veewagters maak pad vir haar. Dis nou lig genoeg om die jagters se gesigte behoorlik te sien. Sy sien die dik swart lope na bo gerig waar die twee passasiers met die gewere tussen hulle bene vasgeklem sit. Die man met die baard is agter die stuurwiel: Palazzolo, onthou sy.

      “Asseblief, meneer Palazzolo,” vra sy weer. “Ons is besig met ’n belangrike navorsingsprojek. Laat my die leeu terugvat Park toe?”

      Dit lyk asof die man agter die stuur ’n oomblik oorweeg om toe te gee. Dis egter dadelik weer die kort dikke wat teëskop. “Ek het gekom om leeu te skiet!” sê hy, meer na sy maats as na haar kant toe.

      “Dis ons leeu, die Panne s’n,” sê sy en staan nog nader aan die venster om seker te maak dat hulle die epoulette op haar skouers raaksien.

      “Wys my die brandmerk en hy’s joune,” sê dieselfde onbeskofte ene. Hy sit vorentoe oor die geweerloop gebuk en speel met sy hande oop en toe daarop.

      “Stadig nou, Mario,” maan Palazzolo hom.

      “Dit is ons leeu,” sê hy. “Die wet sê sodra hy bees vang, is hy ’n ongedierte.”

      “Basta die vroumens!” sê die kort dikke sydelings aan die ander. “Kom ons ry!”

      “Jammer, Juffrou,” laat die donker man sag deur sy baard hoor. “Dit is my bees, en my grond, en my vriende, en die wet is aan ons kant. Jy kan die volgende leeu kry. Julle het nog baie.”

      Olivia hoor die finaliteit in die stem. Hy is ooglopend ’n man wat gewoond daaraan is om gesag te voer.

      Die twee veewagters het intussen reeds weer agter ingeklim. Sy kan hulle gesigte dofweg deur die kajuit se agterruit uitmaak.

      “Kom ons ry,” hoor sy die man in die middel weer sê.

      “Waarnatoe?” vra die donker man na agter. Die beeswagter se dun arm kom van agter deur die skuifruit gedruk en dui met ’n sirkelbeweging ’n algemene rigting aan. Palazzolo maak ’n kort, teatrale saluut met die regterhand teen sy voorkop en sit die voertuig in beweging.

      Olivia drafstap terug na haar trok en spring in. Sy trek die verdowingsgeweer terug oor haar skoot en volg die Cruiser deur die bos.

      “Mooi kyk!” roep sy na agter.

      Die spoorsnyers antwoord nie. Sy het tog geleer om ten volle op die twee te vertrou. Waar daar ’n leeu is, sal hulle hom deur die dikste bos en in die donkerste skaduwee raaksien, selfs waar hy diep verskuil lê in die lang geel gras waarmee sy eie geel vel so gemaklik saamsmelt.

      “Daardie bees lê hier voor,” hoor sy Kasupi langs haar sê. Sy skrik vir die onverwagse stem hier langs haar oor.

      “En die leeu?”

      “Ek sien hom nog nie.”

      Die Cruiser het by die beeskarkas tot stilstand gekom. Die bestuurder lig hom halflyf by die oop ruit uit en kyk rondom hom in die veld rond. Ook die kort dikke kom nou deur die venster orent. Ondanks die erns van die situasie, kan Olivia nie help om te grinnik nie. Dit lyk hoogs potsierlik, die twee dapper jagters halflyf by die venster uit, nie een braaf genoeg om uit te klim en op eie voete leeu te soek nie. “Kan jy dit glo?” brom sy ergerlik.

      “Hier agter,” hoor sy vir Kasupi sag maar dringend sê.

      Olivia steek haar kop vinnig by die venster uit om te sien in watter rigting die spoorsnyer beduie. Dan draai sy die Land Rover met ’n wye draai soontoe.

      Sy span haar oë tot die uiterste in om deur die bos te priem, die gestalte in die swak oggendlig raak te sien. Uit die hoek van haar oog hou sy dop waarnatoe Kasupi met ’n wuiwende hand wys. Sy ry stadig en rukkerig deur die dik sand, swenk om die digste bos en ry van die kleineres met die buffer plat.

      Meteens is die leeu voor haar. Sy kan hom nou duidelik sien waar hy halfverskuil onder ’n rosyntjiebos lê. Sy massiewe voorlyf en kop het regop gekom. Sy aandag is stip in hulle rigting gerig. Dis die eerste keer in die drie dae van spoorvat dat sy die mannetjie te sien kry. Dis ’n pragtige dier, nog ’n jongerige mannetjie, op pad na die fleur van sy lewe, donkergeel met bruin maanhare, nog nie so dig en vergroeid soos by ’n ouer mannetjie nie, maar reeds indrukwekkend.

      Die leeu lyk dikgevreet en glad nie lus om pad te gee nie.

      “Skoert!” skree sy en slaan met die plat hand teen die Land Rover se bakwerk. Dis ’n ondeurdagte gebaar. Dalk moet sy eerder dadelik die verdowingsgeweer gebruik, soos sy aanvanklik gereken het. Maar dit kan ’n hele paar minute vat voor die verdowingsmiddel sy uitwerking het, en met die jagters hier so by haar is dit hopeloos te lank. Sy weet sy moet die dier tot elke prys probeer wegdryf van die jagters se gewere af. Sy kan môre, of oormôre terugkom op die spoor. Tyd het sy genoeg. Dis haar werk. Hierdie sakemanne in die Cruiser moet binnekort weer terug wees by hulle lessenaars in