Etosha. Piet van Rooyen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Piet van Rooyen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153324
Скачать книгу
ek weet. Op die oomblik verskuif ons ons leeus nog net na die Republiek se nasionale parke toe.”

      “Gaan dinge verander? Wat reken jy?”

      “Ons het ’n vroumens hier wat die afgelope twee jaar al besig is met navorsing oor die aanteel en die beweging van ons leeus; hoeveel skade hulle op die plase aanrig. Dalk, as sy klaar is, sal die Ministerie eendag ander besluite neem.”

      “Hoe lank gaan sy nog besig wees?”

      “Geen mens weet nie. Navorsers het hulle eie tyd met dinge. Minstens ’n paar jaar nog.”

      “Te laat vir ons. Skuld trek rente.”

      “Mag wees.”

      “Smart vroumens. Julle kan gerus met haar gesels as julle in die Panne gaan draai,” sê Fanie. Hy het Olivia reeds een of twee maal hier in sy bakkery ontmoet en was hoogs beïndruk.

      “Se gat!” sê Karel se vrou, dwarsweg.

      “Hoe dan?”

      “Sy sal nie tyd hê vir gesels nie,” sê Karel nors. ’n Onverklaarbare gevoel van deernis pak hom beet as hy aan Olivia dink. Hy sal van hierdie gevoel moet ontslae raak, dink hy ergerlik. Maar op ’n manier maak die feit dat sy by hulle in die huis inwoon, soort van onder sy vlerke, hom voel dat hy die een of ander aanspraak op haar het. Haar andersheid as vreemdeling hier in sy gedeelte van Afrika maak hom voel dat hy as ’n soort gids vir haar optree. Nie dat hy ooit iets hiervan aan sy vrou sou erken nie. Sy is reeds jaloers genoeg op die Engelse vroumens se jeugdigheid, haar groot oë, die gladheid van haar vel, die lenigheid van haar lyf. Saans koggel sy hom dikwels as hulle swaar en warm op die bed gaan lê: “Wens dit was nou sy, nè? Lekker lus om my te verneuk met daai Engelsman, nè?”

      Hy antwoord nooit nie. Haal net diep asem en maak asof hy slaap, maar in sy hart weet hy dat dit is soos sy vrou aanvoel.

      “Nou ja, ons wil nie pla nie. Bly om te ontmoet.” Die Gautengers gaan sit weer en proe-proe aan hulle tweede rondte biere. Hulle het ver gereis om tot hier te kom agter die wild, en die hoop op goedkoop nuwe leeus aan. In hulle gedagtes is dit nog die ou Suidwes hierdie, die land aan die ander kant van die grens, waar wilde dinge gebeur, waar geleenthede oop lê vir die dapperes.

      “Bring vir my nog ’n stuk vlatert,” sê Magdel vir Fanie. “Mens gaan maar een maal dood.”

      “Maar een maal, ja. Ek maak so.” Hy wink vir die meisie by die toonbank en wys na Karel-hulle se leë borde.

      Daar is ’n rookreuk in die lug. “Wat brand?” vra Karel se vrou.

      “Ek kla al hoe lank daaroor,” sê Fanie. “Dis my buurvrou se skoorsteen wat te hoog is. Enigiets wat sy in haar oond aanvang, kom hiernatoe oorgewaai. Ek het al hoeveel keer gekla, by haarself en by die gesondheidsinspekteur, maar sy steur haar min aan my, aan enigiemand. Moet dit maar so aanvaar. Beneukte ou Duitse tante. Regte Nazi-tipe.”

      “Ruik nie lekker nie, al die rook en hierdie stink dreine van julle.”

      “Ja. Ek wil die plek verkoop, sukkel te veel.”

      “Jy wil al jare verkoop,” sê Karel.

      “Is so, maar op hierdie donnerse Outjo is alles gevrek. Mens kom nooit hier weg nie. Eerste kans wat ek kry, is ek in die Kaap.”

      “Daar gaan jy eers sukkel. Dis nie ons soort mense se plek daardie nie, ons wat hier grootgeraak het nie.”

      “Jy’s seker reg. As dit daarop aankom, sal ek seker maar bly. Sal nie oor my hart kry om die donnerse ou plek weg te maak nie. Al kry mens ook hoe swaar hier. Het te veel sweet al hier laat val.”

      “By my is dit ook maar so. Ek het my al hoeveel keer voorgeneem om te bedank en die Panne vir altyd vaarwel te roep, maar elke keer kom daar tog iets goeds, nes jy dink jy het so pas al die kak wat jy kan, opgevreet.”

      “Hoe’s sake nou daar?”

      “Ek is tevrede met my manne, die APU’s doen hulle werk.” Hy wonder ’n oomblik of hy vir Fanie van die dooie renoster sal sê, maar hy het nog nie eens met sy vrou daaroor gepraat nie. Hy was nie lus nie. Sy stel buitendien nie belang nie. Maar as dit nou uitkom, neem sy hom weer kwalik dat hy nooit met haar kommunikeer nie. Laat hy liewer stilbly. Wat help dit ook buitendien om te praat? Dit maak dinge nie ongedaan nie.

      “Ook reg so. Jy was reg om die Unitas en die Koevoete te gebruik vir daai askari’s van jou. Hulle is goed opgelei, en getrou. Bang vir niks. Beter sal jy nie kry nie.”

      “Sal maar sien. Die grootbase in die regering sien dit nie so nie. Vir my minister is dit ’n hengse turksvy. Volgens hom moes hulle almal lankal al diep in die tronk gesit het. Huursoldate. Kriminele. Net uit op genade. Versoening is al wat hulle nog buite hou. Wat jy dit ook al wil noem. En die president se draadjie raak kort, sê hy. Hy sê hy moet net paai om dinge reg te hou by die Grootbaas.”

      “Behoede my! Rooikoos hoort self in die tronk! Julle loop op dun ys. As jy en jou manne eers uit die pad uit is, gaan ons die Park verloor. Vir daardie spul Swapo-politici maak natuurbewaring g’n saak nie. Van bo af, regdeur, van daai rooisnorgorilla van ’n minister van jou, tot by die permanente sekretarisse verby, almal. Al waarmee hulle gepla is, is ’n groot genoeg juigkoor om vir hulle hande te klap, ’n blinknuwe kar, ’n moerse paleis in Windhoek en ’n pens vol pap-en-vleis.”

      “Miskien, ja. Maar ons moet bly moed hou.”

      “Dit gaan jy beswaarlik regkry.”

      “Ek probeer my bes.”

      Fanie bly skielik stil, dop sy kop skuins na agter. Oor die radio kom die stem van die staatshoof net mooi op daardie oomblik. Sy stem is hard en hoog. Noudat almal stilbly om te luister, sny dit deur die hele vertrek. “Die Grootbaas is weer op sy stukke vandag,” sê Fanie.

      “Die bliksem! Praat nou net van die duiwel.”

      “Die regering sal beslis optree teen uittartende lede van die blanke gemeenskap en hulle meelopers,” sê die president. “Dis nie ’n leë dreigement nie. Die skrif is aan die muur vir daardie wit mense wat die inheemse inwoners van die land steeds probeer mislei. Julle sal die wind van voor kry. Ek self sal toesien. Pasop, julle geweldenaars, julle dronklappe, julle korrupte amptenare en vandale! Die tyd vir julle ongure gedrag, julle bose dade is verby! Ons het die wapens, die vermoëns, om julle vir ewig stil te maak!”

      “Kan jy meer?” mompel Karel sag.

      Karel kyk skuinsweg na die besoekers uit Suid-Afrika. Hy wonder watter indruk die president se dreigemente op hulle maak. Hulle eet egter ongestoord aan hulle burgers, neem slukkies bier tussenin. Hier is dit beter om te maak of jy nie hoor nie, dink hy. ’n Groot wrewel stoot in hom op. Hoe lank gaan hulle hom nog duld? Hoe lank sal hy nog kan aanbly by sy geliefde diere? Hoe lank sal hy nog sy wildpatrollie in die veld kan hou teen die oormag daar buite?

      “Daarom het ons besluit om te veg. Vir grond in die eerste plek. Wat anders? Ons gee nie om of die kolonialiste daarvan hou of nie. Ons wil die kolonialiste vertel dat ons vier-en-twintig uur per dag gereed is vir hulle. As hulle dit waag om ons aan te vat, sal hulle summier met ons te doene kry!”

      “Draai sy bek toe,” sê Karel vir Fanie.

      “Nee, laat die donner klaar praat. Netnou speel hulle weer musiek. Dan kan ons luister.”

      “Sal ook maar boendoe-beat wees.”

      “Dis orraait.”

      “Hoekom kry jy nie vir jou ’n behoorlike klanksisteem vir CD’s nie?” vra Magdel vir Fanie. “Dan hoef ons nie na hierdie soort stront te luister nie.”

      “Die radio is makliker.”

      “Gmf.”

      9

      Justus kry die boodskap oor sy pa se wegraak ’n week na sy finale eksamen vir sy graad in die politieke studies aan die Universiteit van Namibië. Hy is besig om sy kamer op te ruim, sy klere in koffers