Die val van die dice. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703379
Скачать книгу

      Kosta paai en praat mooi: Moenie iets sommer holderstebolder doen nie, kalmeer eers. Môre gaan hy spyt wees, jy ken hom mos. Oor drie dae doop ek my dogter, ek sal dan met hom praat.

      Ek hoor Kristina se stem. “Next time I see that madman I shoot him!”

      “Mi fonázies!” Moenie skree nie, sê Kosta.

      Dan aan my: “Mi kles, Pattie.” Moenie huil nie. “Wait till I baptise my daughter, please wait. I want you there, Pattie. We have to think before we make any move.”

      Maar Pattie het in daardie oomblik klaar gedink, klaar besluit.

      Baptise the child, then let the Fat Lady sing.

      Nog voor ons eerste huweliksherdenking het ek reeds geweet my lewe saam met hom het ontspoor. Vir die afgelope agtien jaar al probeer ek moedig om die wiele weer op die spore en aan die loop te kry. Tevergeefs.

      Prisoner of love. Aangewese op die genade van my bewaarder. My sonde: ek is vrou, ek is Boer, ek haal asem.

      My vonnis: lewenslank.

      Voor die spieël trek ek my vingers deur my hare. My rooi, geswolle oë lyk aaklig in my wit gesig.

      Die man se benepenheid sal my nog doodmaak. Dis sý manier of geen manier, dis sý woord teen myne. No compromises. I am the man, sal hy sê.

      Maar waarheen kan ek gaan om weg te kom, en hoe? En my kinders. Wat gaan van hulle word as hulle ma haar goed vat en loop? Ek dink en dink, al vir so lank, maar ek kry nie antwoorde nie.

      En wat van die ou heer agter in my jaart, die een mens wat nog ’n bietjie vonkel in my lewe bring? Wat sal my pa sê? Nee wat, Dadda sal verstaan, besluit ek. Hy weet van elke knou, elke dolksteek, elke traan. Hy sal my nie verwyt nie.

      Met ’n bietjie koue water spoel ek die snot en trane af, vryf my geswolle gesig saggies droog.

      Terug kamer toe deur die lang gang. Kraak-kraak.

      Hy lê my en inwag. Tugmeester, afknouer, sadis sonder berou.

      Met die inklim onder die laken reik hy na my. Sy hande streel en sy lyf koester.

      Los my! Ek haat jou aanraking, praat my brein.

      “You must never go sleep angry. It is not good.”

      Sharrap! Ek haat jou stem, praat my brein.

      “Why you cross?”

      “What do you think? First you put the knife, in front of the children and my father, and now you want to put the bandage.”

      “Stop your nonsense. This is real life. I am your husband, I have the right. You know you always hurt the one you love . . .” En so aan en aan.

      Als soveel maal gehoor, soos ’n plaat wat vasgehaak het. As dít die definisie van liefde is, wil ek liewer nie gelief wees nie, baie dankie.

      Growwe vingervelle raak trillende senupunte aan en trek my in soos ’n vis aan ’n lyn. Aas is nie nodig om dié vis te laat byt nie. Sy word eenvoudig met ’n knuppel oor die kop geslaan, haak deur die bek geforseer en ingekatrol om oopgesper op die kole te lê, om tydsaam, stuk vir stuk, verorber te word.

      Ek soos ’n gewonde dier, maak die rug krom, soek wegkruipplek, maar sy tong rasper, soek die soutigheid van my skouer. Dan laer af oor twee verraderlike borste, dan nog laer, verby die ribbes . . . En sonder baklei trek ek die ou gevoel aan vir die tweede keer vannag.

      Woorde word geluide. En ritmies, soos die pendulum van die grandfather-klok wat heen en weer, heen en weer swaai, snoer hy my mond. Ritmies, vir die soveelste keer in negentien jaar.

      3

      Sy voete doef op die plankvloer. Hy gaap luidkeels en ek hoor hom uittrek, aantrek.

      “Get up! I think you enjoy last night too much.”

      Ek trek die kombers oor my gesig.

      “My mother always get up four o’clock. She milk the goat and start the fire. When everything is ready, she call the children.”

      Hy trek die beddegoed terug en ek sit met moeite regop.

      “We have electricity and we don’t have a goat,” sê ek ergerlik en nog deur die slaap.

      “That is not the point. A wife must get up early. The Pappasani family is not lazy people. My mother work very hard. Now she is old, she still work hard. And you? What you do?”

      Gaan vrek. My lyf is seer. En dis jou skuld.

      Hy maak die deur hard agter hom toe.

      Ek lê terug teen die kussings, trek die beddegoed ’n bietjie op. Ek dink aan gisteraand se dooppartytjie, die verwyte oor Karretjies se gedrag. Dit sal weer opgehaal word. En weer en weer. Your rubbish friends.

      Ek weet Karretjies kan soms skurf wees, maar ek en Lettie is lief vir mekaar. Ons loop ’n lang pad saam. Maar sy is bruin en ek is nou wit. En dis waar die seer lê.

      Trane begin brand agter my ooglede. Ek vryf saggies oor my seergekniede borste. Die kamer stink. Ek moet opstaan voor hy terugkom en die vensters oopmaak voor die kinders inkom.

      My oë verken die klonterige bed, die stille getuie van oeroue gevoelens en dade in die donker gepleeg. Ek moet die bed skoon oortrek. Ek skuif die gordyne opsy en maak die vensters oop. Dis November en die belofte van ’n lekker warm lentedag vul my neusgate.

      “Get up! Get up! Lazy people sleep late,” kom die stem gang-af.

      Kinderstemme protesteer. Selle ou storie, dag ná dag.

      Ek vat my dagboek; die storie moet vertel word.

      Kosta en Kristina doop op Sondag, 4 November 1990.

      My besluit nou vasgemaak:

      Soek woonstel, prokureur. Egskeiding. Finaal.

      Die agterdeur gaan oop en my pa se stem roep. Ek haas my na die badkamer, skoon pantie in die een hand, bra en rok in die ander. Ek wonder of die meisies skoon, gestrykte skoolrokke het om aan te trek.

      By my werk in die meubel-cum-pandjieswinkel sit ek agter die lessenaar en skryf verder in my dagboek. Gedagtes wat draaie loop. Ná die lente is dit somer, en met die somer kom Krismis. Wat ’n verfoeilike tyd van die jaar! In mý huis, anyway.

      Die vraag wat ek moet beantwoord, is: Gaan ek nog ’n Krismis saam met hom kan deurmaak? Die walging stoot op in my keel. Nee! skree dit in my. Hoe gou kan ek ’n prokureur gaan sien? Hoe gou kan ek ’n woonstel kry?

      Krismis, Easter, verjaarsdae en nou selfs ’n doop – op dié dae is hy op sy beste van sy slegste. Daar is iets aan ’n spesiale dag en gelukkige samesyn wat sy kop laat uithaak. Die vorige Krismis het hy Soela se portable radio, wat ek gekoop en betaal het, weggeneem omdat sy nie haar hare wou vasmaak nie.

      Sy het niks gesê nie, nie eens probeer protesteer nie, dit eenvoudig aanvaar: sy die oortreder, hy die gereg, sy die sondaar, hy die god. Nes ek dit nog al die jare noodgedwonge aanvaar. My hart het gebloei vir my kind.

      ’n Paar dae later het hy die radio teruggegee. He proved his point, wat dit ook al was.

      Ek en sy het nooit daaroor gepraat nie. Wat kon ons vir mekaar sê? Maar ek wonder nog steeds wat sy van my stilte gedink het. Miskien dat haar ma nie omgee nie.

      Maar sy gedrag daardie dag het my tot stilswye geskok. Soos altyd het almal deurgeloop. Dimitri en Irini-hulle was by ons vir Kersfees. Hulle het van Griekeland gekom vir ’n vakansie, hul eerste in Suid-Afrika. Irini het my nog vertel hoe plesierig hulle in hul huis is dié tyd van die jaar, hoe hulle heeldag musiek speel, saam dans.

      In ons eie huis is die geskenke vroegoggend oorhandig. Kinderoë het gestraal, daar is dankie gesê. Toe begin die gekerm, oudergewoonte. Eers kla hy oor die geskenkpapier wat oral op die vloer rondlê. Toe oor sy lui vrou wat nie brekfis maak nie, die kinders wat te hard skree en lag, dan dit, dan dat. Aan en aan.

      Verwyte, beskuldigings,