Die val van die dice. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703379
Скачать книгу
Hy kyk kwaai na die ander. “Shut up and close your eyes!”

      Hy sê die hele Onse Vader in Grieks op, sy kop nederig gebuig, sê hard amen en dan moet almal die kruis oor die bors maak. Hy maak die teken drie keer.

      Ek skep op en die kinders praat oor en weer. Te hard, te veel. Dis meesal die seuns wat deurloop. Hulle lag en skerts met mekaar. Hy kyk Janos kwaai aan, wys hom die vinger.

      Skásse, gaaithóéri, tha soe kópso ta xéria . . . Hou jou mond, donkie, ek sal jou hande afkap!

      Twee minute se stilte.

      Kla, kla. Mor, mor.

      Ons is almal Kaffers wat in die lokasie hoort. Hy het weer ’n lekkerpapiertjie op die grasperk opgetel. Die kinders aard almal na hul ma, met dieselfde vuil gewoontes, maar wat kan jy verwag van ’n ma wat nie eens volgens ’n menu kan kook nie?

      Maar ek weet: vanaand is dit weer moonlight and roses.

      Na die hel met hom! Vanaand lê ek agter Meno of Panajota se rug. My klein kamerade sonder besef.

      “Tell me,” begin klagte nommer honderd. Eers die mond volprop. Die vurk beduie. “Why you friends with Lettie and that stupid husband? Where you find each other? You know they not white?”

      My oë is op my bord kos, stoom in my oë en my pa se boekie in my gedagtes.

      “You know they not white?” herhaal hy.

      Ek sug.

      “You don’t like question, madam? I like answer.”

      “Daddy, you always fight when we eat, and you are being racist,” sê Soela. “Tannie Lettie is much nicer than uncle Takos’s stinky wife.”

      Die hele etery kom tot ’n stilstand, die kinders skater van die lag, party vee glad trane af.

      Takos se vrou se naam is Triandafillo, wat roos beteken. Haar olierige hare hang soos ’n vuil mop oor vet, ongewaste skouers. Die klank tussen naeltjie en knieë ding mee met die klank van sweet en knoffel. Takos se koesternaampie vir haar is Daffy.

      Die man is woedend. Kap met die agterkant van die mes ’n paar keer hard op die tafel. Die kinders kan nie bedaar nie, wil hulle doodlag. Vee nogmaals trane af. Ek lag in my mou, saggies, want ek weet wat vir my voorlê.

      Hy lig sy gebalde hand op en kap Janos hard teen die kop met sy kneukels.

      Janos protesteer luidkeels. “I didn’t say anything! It was Soela!”

      “You laugh like a fool. Shut up. You are a big stupid. This is how your mother teach you? You must have respect for people. Aunty Daffy is good wife for uncle Takos. She is not like your mother. You really are big stupid, and your brother and sisters too.”

      Janos prop sy mond vol kos. Die groot bruin oë onder die mooi wenkbroue kyk nou stip na sy bord, mes en vurk. Hy weet stilbly is ook ’n antwoord.

      “You must lesson if your father speak . . .” dreun die man voort.

      Oudergewoonte druk Panajota se handjies haar ore toe. Sy neurie. ’n Kind het sy eie manier om van sy bangheid weg te kom, sy eie manier om dinge te verwerk en uit te wis.

      Die vyfjarige Meno se pofferhandjies waai deur die lug.

      “Daddy,” sê hy, “you must tell uncle Takos to tell aunty Daffy she must bath every night.”

      Nou moet ek ook lagtrane afvee, ek kan nie meer inhou nie.

      As ek hier uittrek en by ’n eie woonstel intrek, sal ons daar ook lag? Ek sal net ’n klein plekkie kan bekostig, daar sal nie eens plek wees vir ’n tafel groot genoeg vir al die kinders om om te sit nie. Hoe ver sal ek Kosta se geld kan rek?

      Hoekom moet die lewe so hels ingewikkeld wees? Ek wil nie bly nie en ek kan nie gaan nie.

      “Meno, my little child, you know nothing. Keep quiet.”

      “You tell me to bath every night.”

      “Keep quiet!”

      Ek vermy sy oë, maar ek weet hulle boor gate in my kop. Ek buk laag oor my bord kos, kou mooi en probeer onskuldig lyk, maar die kraak in die muur word ’n gat. Groter en groter terwyl die verwyte en beledigings uitstroom. Almal gooi wal, van klein tot groot. Tevergeefs.

      Skielik kom lê die stilte oor ’n ma en vier kinders asof daar dood in die familie is. Die een is banger as die ander. Sy tong sny, ons lê in repe. Slegter as sy vrou en kinders kan daar nie wees nie.

      Die kinders het klaar geëet, hulle wil opstaan, wegkom. Huiswerk moet kamma gedoen word, sê een, daar is ’n program op TV, sê ’n ander. Daar is baie dinge wat gedoen moet word, ver weg van hul pa se tong.

      “Soela, onthou dis jou beurt om af te droog!” roep ek haar agterna.

      “Mana, ek wil net gou my kamer aan die kant maak, dan sal ek kom!” roep sy terug.

      Hy draai en draai om my. Stoele word ’n bietjie rondgepluk, ’n kombuiskas se deurtjie hard toegeklap, brom-brom.

      Ons gooi rug en rekriminasies soos kinders balle gooi. Bevuil die hart, bevlek die siel.

      “You have no appreciation,” verwyt hy vir die soveelste keer. “I give you everything, but you no appreciate anything.”

      Takos se vrou staan heeldag in die kafee, sê hy, en vanaand kook sy kos. Maak nog vir ander mense se kinders klere ook. Daar is altyd gebak in haar huis. Hoe durf ek ’n gek van die vrou maak, en dit voor die kinders? Sy ondersteun haar man en sy is onderdanig aan hom, soos dit ’n goeie, Godvresende vrou betaam.

      “Ek het nie ’n woord gesê nie.”

      “But you laugh like a fool. I hate that sarcastic laugh!”

      Ek trek my asem in. Dis nou genoeg vir vandag. Gooi alle selfbeheersing oorboord.

      “Is daar enigiets omtrent my wat jy nié haat nie? Foreigner!”

      Nou is dit oorlog. Die streep is getrek. Dié kant is myne, daai kant is joune. My eerste skoot is gevuur, dis nou jou beurt.

      “What you say?” vra hy dreigend. Ons ken mekaar se teer punte soos die agterkant van ons hand. Stilbly is verby.

      Foreigner, herhaal ek. Uitlander. Vreemdeling. En vir good measure las ek by: Pes!

      Hy ontplof. Die oë skiet vuur en die mond spoeg gif.

      “Poetána! Poetána! That is your name. You don’t belong in decent home, you belong in gutter. Get out! Get out! Voertsek!”

      Iemand klop aan die agterdeur. Die geskree bedaar. Die deurknop word stadig gedraai, die deur versigtig oopgemaak. Bang vir skietery tussen die mure, bloed wat vloei, lyke wat val.

      Dankie, my God, vir die ingryping. Dankie, Dadda, gelukkig kom jy net op die verkeerde tyd.

      “Hello, my boy. How are you?” groet die ou man hom vriendelik, katvoet.

      Hy mompel ’n antwoord, vloek my in Grieks en verlaat haastig die kombuis.

      Dadda bêre die skoon bord wat hy saamgebring het. Hy vat die afdroogdoek van die haak af en kyk na die vuil skottelgoed. Ek sal moet was.

      “Dankie, Pettie, die kos was heerlik. Jy weet mos ek is lief vir macaroni en kaas. Jy kan dit maar elke aand maak. Dankie, my kind.”

      ’n Bietjie waardering. Nogmaals dankie, Dadda.

      Sy lang, benerige vingers vryf oor my skouer waar ek voor die wasbak staan. Die warmte van sy sagte aanraking laat iets in my knak. Stil snikke in my borskas soos naels wat krap oor muur en ruit, maar ek uiter geen geluid nie, praat nie ’n woord nie. Ek stik in die ou, bekende emosies van verwerping, walglike afsku en uitgerafelde gevoelens.

      Sy stem weerklink nog in my ore. Poetána. Prostituut.

      “Is hy weer op sy stukke?” fluister my pa.

      Ek knik, sluk