Nou vir die oomblik van waarheid. Waar sy vanoggend nie kon wag om die verbasing op Gerhard se gesig te sien wanneer hy haar as die dogter in die kantoor herken nie, voel sy nou nogal skrikkerig. Tog stap sy hom met ’n breë glimlag tegemoet terwyl sy haar masker stadig aftrek.
“Engela … dokter Gerhard de Beer.” Aan Johan se stem kan sy hoor hy is geamuseer.
Sy steek haar hand na Gerhard uit. “Aangename kennis, dokter. Ek het al soveel van u gehoor, ek is bly ons kan uiteindelik ontmoet.”
Hy skud haar hand vlugtig, draai dan om en loop sonder ’n woord uit. Engela kyk verbaas na Johan wat half ongemaklik eenkant staan.
“Het ek iets verkeerd gesê, of gedoen?” Hierop was sy nie voorberei nie! “Het jy gesien hoe bleek het hy geraak?”
Johan lig sy skouers. Iets is inderdaad nie reg nie. Hy kan verstaan dat Gerhard se wind uit sy seile is – syne was ook toe hy die eerste keer in daardie viooltjieblou oë gekyk het en daardie kuiltjies so mooi vir hom gelag het – maar Gerhard was nou net blatant onbeskof.
“Ek het jou gewaarsku,” laat Marlene hoor vanwaar sy besig is om die nuwe baba in ’n kombersie toe te wikkel. “Ek dink dit was die vinnigste keisersnee wat ek in my lewe nog gesien het. Het julle gesien –”
“Dit kan jy weer sê. Weet jy wat hom so beduiweld gemaak het, of is dit maar sy manier?”
“Vra vir dokter Kotzé … dokter De Beer kan maar redelik mislik wees, maar so het ek hom nog nooit gesien nie.” Marlene kry ’n ligte kleurtjie toe sy sien dat Johan nog daar rond is. “Jammer, dokter, ek het nie bedoel om disrespekvol te wees nie.”
In die herstelkamer staan Engela nog ’n oomblik by die pasiënt om seker te maak dat sy haar bewussyn ten volle herwin, en keer dan terug na die sterilisators.
“Dit wil voorkom of die mense reg was.”
Sy kyk vraend op na Johan wat hom met dié woorde weer by haar aangesluit het.
“Wat bedoel dokter daarmee, as ek mag vra?”
“Dat jy ’n buitengewone persoon is.”
“Ek het dokter al gewaarsku om nie alles te glo wat die mense praat nie.”
“Ek kon nie anders nie … ek het dit pas met my eie oë gesien.”
Sy loer fronsend na hom.
“Jy is ’n briljante teatersuster.”
“Baie dankie, dokter.”
“Ek bedoel dit.”
“Maar wat dink dokter was dokter De Beer se probleem? Was dit omdat ek laat was? Hy kon tog nie sy voet só seer gestamp het teen my trappie nie? Dit het gelyk of hy ’n spook gesien het toe dokter ons bekend stel.”
Hy vryf vinnig met sy wysvinger oor haar neus. “Moenie jou te veel aan hom steur nie. Ek dink ek weet wat hy makeer.”
“Dokter?”
“Wees jy maar net jouself. Kom, die volgende pasiënt is hier.”
2
In die teekamer mors Gerhard ’n klomp melk op homself en vloek binnensmonds. Sy hande bewe toe hy die melk met sy sakdoek probeer afvee. Sy verlede staan skielik voor hom. Lilani Verwey, klein en fyn met potblou oë en die pragtigste kuiltjies … verraaier, bedrieër en almal se liefling.
Hy boor met sy duime in sy oogkasse. So lank het hy dit weggesluit – die prentjies in sy kop, die stemme wat skree en verwyt. Net die haat het hy gekoester … die haat teen blondekoppe, blou oë en mense wat dink hulle kan die wêreld om hul pinkies draai. En vandag is alles skielik weer terug. Uiteindelik het die gesiglose suster Engeltjie ’n gesig, en voel dit of die noodlot hom teister met ’n identiese vreemdeling.
Die saadjie van veragting teenoor die kamstig wonderlike suster Engeltjie is al geplant kort nadat hy hier begin praktiseer het. Min het hy geweet dat sy uiteindelik sy hele verlede gaan kom vol staan. Sy is toe presies net soos hy gedink het. Sal ’n suster wat laat kom in teater nie jammer wees nie? Nee, nie sy nie. Klim op haar pedestal asof die teater aan haar behoort en dink sy kan met haar mooi glimlaggie alles regmaak!
Met een teug is sy koppie tee in en dan stap hy met lang treë terug teater toe. “Ruk jou reg!” berispe hy hom toe hy die teaterdeur met ’n bietjie te veel krag oopstamp.
Sy wag hom in soos ’n skim uit die verlede, teaterjas en handskoene in die hand. En weer lyk dit vir hom asof sy vir hom lag, asof sy hom tart.
Die operasie verloop foutloos maar in doodse stilte. Tussen Engela, Johan en Linda Visagie word net met hul oë gekommunikeer. Engela kan nie help om te wonder of al dokter De Beer se operasies onder sulke onuithoudbare omstandighede verloop nie. Dit lyk of selfs Johan maar katvoet is vir hom.
In die herstelkamer is dit ook Johan wat sy kop eerste skud. “Heng, maar dit was vinnig.”
“Regtig? Dit het vir my soos ’n ewigheid gevoel. ’n Mens kan nie –”
Engela sluk haar woorde vinnig. Gerhard de Beer het die kamer binnegekom. Hy wissel ’n bruuske woord of twee met Johan terwyl hy sy teaterjas loswikkel, en dan is hy weer daar uit.
Die res van die oggend se teatergevalle is dokter Mulder s’n en verloop veel geselliger. Omdat hy ’n man is wat lief is vir grappies en gesels, is daar sommer gou weer ’n gemaklike atmosfeer in die teater.
Die teekamer is vol verpleegsters toe Engela en Linda kort ná elf daar instap en Engela haar moeë lyf in die naaste stoel neergooi. Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe.
“Hoe lyk dit dan asof die teater suster vanoggend ondergekry het?” Sy herken Lien Breedt se diep stem hier naby haar oor en glimlag sonder om haar oë oop te maak.
“Jy spot nog! Dit was baie erg, en terselfdertyd wonderlik om terug te wees.” Sy sit regop en maak haar oë stadig oop. “Miskien was dit maar die senuwees wat ook ’n bietjie geknaag het.”
“Kan ek vir suster ’n koppie tee skink?”
“Dankie, Lien, dit sal lekker wees, maar dis darem nie nodig dat julle my so bederf nie.”
Lien oorhandig die beker tee en maak haar dan met ’n ondeunde glimlaggie styf langs Engela tuis.
“Waarmee is julle verpleegsters weer vanoggend besig?” Engela weet al uit ondervinding: As Lien se ogies so lewe, is daar iewers ’n slang in die gras. “Kom! Uit daarmee. Julle lyk glad te geheimsinnig.”
Een verpleegster giggel, ander kyk kamstig verbaas-onskuldig na mekaar, maar dan val Lien tog met die deur in die huis.
“Dis dokter De Beer … wat dink suster van hom?”
Engela merk die afwagting op hulle gesigte en laat haar blik vlugtig oor hulle gaan. Dan lag sy.
“Verbeel ek my … nee, sowaar nie. Julle is almal halsoorkop verlief op die man.”
“Ons stry nie, maar komaan, sê nou … wat dink suster van hom?”
“Wel …” Haar oog vang Linda s’n en sy voel hoe haar maag ’n draai maak. “Hy is uiters bekwaam, en miskien is hy ook aantreklik, maar ek verkies dokter Kotzé.”
“Aaa!” kom dit in ’n koor van die jong verpleegsters.
“Wat? Julle het my opinie gevra. Ek dink dokter Kotzé is net so aantreklik, indien nie nog meer nie, en hy is definitief baie vriendeliker as Beertjie.”
“Beertjie? Beertjie!” Die verpleegsters bars almal uit van die lag.
Matrone kom voor die teekamerdeur tot stilstand en glimlag. Wanneer laas het die hospitaal gelag? Dan plak sy egter haar matronegesig op en loer by die deur in.
“Wat gaan hier aan? Het julle nie werk