Bertie skuif ’n bietjie hoër op teen sy kussings en knik. Sy wangetjies lyk koorsig en voordat Johan Kotzé sy oë van die suster oorkant hom kan wegskeur, begin die outjie hewig hoes.
“Ag nee, met daardie hoes moet ons dadelik ’n plan maak.” Johan kyk op na die suster oorkant hom en sy sien die besorgdheid in sy oë.
Nadat hy die knapie deeglik ondersoek het, gaan hulle uit gang toe en vra Johan dat sy moet reël dat daar X-strale van die seuntjie se bors geneem word, en dat sy medikasie aangepas word.
“Reg so. Ek sien dokter dan vanaand weer. Ons sal laat weet as daar verwikkelings is.”
Hy stap ’n paar treë weg, draai om asof hy iets wil sê, bedink hom en verdwyn om die hoek. Oom Kosie en die matrone was reg … dokter Kotzé lyk na ’n gawe man en sy hou van hom, as persoon en as dokter.
Vir dokter Gerhard de Beer het die dag verkeerd begin, en toe hy ná ’n vermoeiende teaterlys boonop ’n nota onder sy ruitveër aantref, is hy baie na aan ontplof.
“Hierdie is my gereserveerde plek; parkeer asb. in die toekoms elders!”
Hy lees weer die fyn geskrewe woorde en voel hoe die bloed in sy nek opstoot terwyl sy blik vlugtig oor die swart letters op die geel bordjie voor sy motor gaan.
Hy is sommer goed keelvol hiervoor. Al waaroor enig-iemand nog die hele dag praat, is “suster Engeltjie”. Selfs matrone is opgeskeep met “suster Engeltjie”. ’n Mens sou sweer die plek behoort aan die verdomde vroumens! En van wanneer af het ’n teatersuster in elk geval ’n gereserveerde plek vir haar motor?
Met ’n vaart trek hy in sy motor weg en laat die twee verpleegsters wat hom deur die teekamervenster dopgehou het, grootoog na mekaar kyk. Hy het dié Engela nog nie eens ontmoet nie, maar hy weet: Daar is níks wat hom meer irriteer as iemand wat dink sy of hy is die son, die maan en die sterre self nie.
Sy ontvangsdame by sy dorpspreekkamer groet vriendelik, maar moet vandag tevrede wees met net ’n kortaf kopknik. Die afspraakboek maak die lewe ook nie vir hom makliker nie, en teen laatmiddag voel dit asof hy teen die mure kan uitklim. Die ganske Bredasdorp het skynbaar vir suster Engeltjie op die brein.
Terwyl hy later weer die bult uit ry vir sy hospitaalrondtes, wens hy dat hy dié sogenaamde Engeltjie in die hande kan kry om vir goed van haar ontslae te raak. Dit is reeds besoektyd en hy parkeer sonder huiwering weer tussen die geel strepe voor die nou al bekende bordjie. Vir ’n oomblik tuur hy daarna en lag dan honend.
“Ons sal nog sien wie hierdie geveg gaan wen, ‘suster Engeltjie’. Ons sal sien.”
Sy gedagtes is so aan die stoei met die engel van die hospitaal dat hy byna teen Johan Kotzé vasloop. Hulle groet en gaan dan op hul onderskeie weë.
“Gerhard!” Hy draai in antwoord terug na Johan, wat reeds aan die onderpunt van die trappe staan.
“Het jy haar al ontmoet?” vra Johan.
De Beer voel hoe sy nekare swel en trek sy skouers vierkantig. “Wie?”
“Die oulikste dingetjie op twee bene,” kom dit met ’n breë glimlag.
Gerhard besluit dat hy heeltemal genoeg gehad het vir een dag, lig sy hand tam op in ’n groet en stap woordeloos aan.
Hoe hy dit regkry, weet nugter alleen, maar toe Engela Maandagoggend haar teaterklere aantrek, het sy die baas van die wit dubbelkajuitbakkie nog nie met ’n oog gesien nie. Sy het gehoor dat hy sy saalrondtes vroegoggend en weer ná besoektyd saans doen. Dit was blykbaar boonop sy af naweek.
Ten spyte van die nota onder sy ruitveër moes haar rooi kewertjie Donderdag- en Vrydagoggend ’n ander heenkome vind. Vanoggend se rondte het sy egter gewen.
Tussen haar en die twee verpleegsters aan diens kry hulle die teater al geselsend gereed. Engela voel amper uitbundig opgewonde oor al die nuwighede. Sy was verheug om te sien hoe baie die teaters opgegradeer is. Dit voel of sy vanoggend in een van Switserland se peperduur privaat hospitale is.
Sy groet Johan Kotzé vriendelik toe hy saam met Marlene Louwrens die teater binnekom. Sy het hom die laaste paar dae heelwat te siene gekry en moet erken dat sy nogal baie van hom hou. Sy vat die teaterlys by haar groot vriendin Marlene en haar oog val dadelik op die eerste geval. “Keisersnee – dokter De Beer.” So, die dag van ontmoeting het uiteindelik aangebreek!
“Ek kom ontvang net gou julle baba,” sê Marlene en fluister dan in Engela se oor: “Sterkte, ek is bly dis vanoggend jy en nie ek nie. Hy is glad nie in ’n goeie bui nie.”
Engela frons en wil net iets vra toe ’n verpleegster van die deur se kant af na haar roep. “Suster, daar is telefoon. Dis blykbaar dringend.”
Engela voel hoe ’n doodse angs haar beetpak … haar ma! Ten spyte van al die uitstekende behandelings wat sy gekry het, is sy steeds siek. Sy kyk vlugtig op haar horlosie, besef dat die tydsberekening fataal is. Maar sy sal nooit deur hierdie operasie kan konsentreer as sy nie weet nie. Die teatertelefoon is half om die hoek en sy sal van daar nie kan sien as dokter De Beer arriveer nie. Maar sy moet antwoord.
“Suster Matthee, goeiemôre.”
“Engela! Dis sowaar jy. Ek het ’n yslike kans gevat, gesê dis dringend, net om seker te maak hulle doen moeite. Hoe gaan dit? Ek het jou selfoonnommer êrens verloor … ek móés jou net weer opspoor.”
Engela luister onthuts terwyl verligting nietemin oor haar spoel.
“Eduard, is dit jy?”
“Surprise, surprise!”
“Eduard, ek’s vreeslik jammer, maar ek –”
“Hoe gaan dit nou met jou ma? Ek dink so baie aan julle, en noudat ek en Jolandie finaal opgebreek het … ek moet met jou praat …”
“Eduard, luister. Skryf gou my nommer neer, dan bel jy my vanaand ná agt. Hulle wag vir my in teater, as ek nie nou gaan nie, is ek in diep moeilikheid.”
“Ag jammer man, ek wou jou nie in die moeilikheid gehad het nie!” Sy hoor hoe hy rondskarrel vir ’n pen en trippel self rond van haastigheid. Moes hy juis nóú bel!
“Goed, gee gou jou nommer.”
Sy sê die nommer haastig en sit die foon neer nog voordat hy behoorlik gegroet het.
In die teater is almal gereed, die pasiënt reeds op die tafel, toe Gerhard de Beer met ’n frons opkyk. “Is ons nie ’n bietjie min vanmôre nie?” Sy oë beweeg vlugtig oor die operasietafel en mis nie die vinnige blik wat die verpleegster en Johan Kotzé wissel nie.
“Suster sal nou –” probeer verpleegster Linda Visagie verskoning maak, maar net toe stamp Gerhard sy voet teen iets langs hom. Sy skrik die res van haar woorde weg toe hy met verbasing na die trappie langs hom kyk en toe weer sy oë op haar laat rus.
“Wat de joos is dit?”
Johan loer om die tafel vanwaar hy besig is met die narkosemasjien en lig sy skouers.
Engela is net betyds om Gerhard se vraag te hoor. Half uitasem en aan die sukkel om ’n handskoen aan te kry klim sy op haar trappie.
“Dis myne.” Die blou oë bokant haar masker lag vir ’n oomblik in Gerhard s’n en gaan dan vergoeilikend oor die res van die personeel. “Jammer julle moes wag, dit was dringend. Ek is nou reg.”
Gerhard voel hoe verbasing en woede mekaar in hom afwissel toe die blou oë weer in syne vashaak. Ten spyte van die trappie moet hy steeds effens afkyk na haar.
’n Onheilspellende stilte hang oor die teater. Selfs die tortelduif in die boom buite die venster het sy eentonige gekoer gestaak. Die blik in Gerhard se bruin kykers raak koud met die besef van wie hier langs hom staan. Tog swig die bloues nie voor die aanvallende bruines nie. Hulle lag vir hom en dit bring hom nog meer van stryk. Vir die eerste keer in ’n lang tyd voel Gerhard hoe sy hande effens bewe toe