Met kinderlike afwagting stoot Engela die deur effens oop en loer na binne. Op die oog af lyk alles nog dieselfde. Tog ruik dit skoon en vars en is die gordyne oopgeskuif.
Dan word die deur onverwags deur ’n ander hand wyer oopgestoot en kan sy die man wat verby haar skuur net stomverbaas agternastaar. Hy praat kortaf: “Dis nog nie besoektyd nie, dogter, en allermins ’n plek om rond te dwaal.”
Met groot oë staar sy na die oortreder terwyl hy sy wit jas uittrek, dit oor die stoel hang – háár stoel! – en dan sy lang lyf agter die lessenaar tuis maak.
Toe die frons op sy breë voorkop verdiep en die donker oë gesteurd opkyk, besluit sy om liewer spore te maak, terug na oom Kosie toe.
“Wie was dit?” vra sy sommer met die intrapslag aan oom Kosie.
“Wie?”
“Die beer daar in my kantoor.” Sy beduie in die gang af en herhaal sy woorde spottend: “Dis nog nie besoektyd nie, dogter, en allermins ’n plek om rond te dwaal.”
Oom Kosie gooi sy kop agteroor en lag lank en heerlik. Hy is skoon hees toe hy weer praat. “Dit kan nét Gerhard de Beer wees.”
Hy proes-proes eers weer en wei dan met smaak uit. “Hy is nou ou dokter De Beer se kleinseun. Onthou jy dat hy sy praktyk aan die kleinseun bemaak het? Nou, dit is nou die uwe. Nogal ’n knap chirurg. Die mense het baie gewonder en bespiegel oor wat so ’n bekwame dokter op so ’n klein plekkie kom maak, maar ek sê vir jou vandag … dokter De Beer het ons ’n groot guns gedoen. Daardie jong man het al wonders vir hierdie hospitaal verrig vandat hy hier aangeland het.
“Die eerste paar weke het die vroulike geslag hom blykbaar oorval by sy spreekkamers, maar soos wat hy besiger geword het, en die ander dokters hom ál meer begin gebruik het, het hy sowaar ’n groot aanwins vir Bredasdorp geword. Hy kan blykbaar toor met ’n skalpel.”
“Wonderlik. Net jammer sy maniere laat hom in die steek.”
Oom Kosie glimlag. Hy kan verstaan dat Gerhard dié ene vandag vir ’n kind aangesien het. Met haar poniestert agter deur haar pet getrek, haar tennisrokkie en tekkies sonder sokkies lyk sy vir hom ook niks ouer as dertien nie. Dié gedagte sal hy egter maar vir homself hou.
Engela snak na asem toe sy op haar horlosie kyk. “Genade, hoe kan dit al so laat wees!” Oom Kosie kry ’n vlugtige soen op sy voorkop en dan draf sy daar uit met ’n vlugtige “Sien oom Woensdag!”
Met ’n laggie waai hy vir haar. “Ja, totsiens, jong!” En dan vir homself: “Van Woensdag af sal die plek ook weer lewe kry.”
Matrone Filander is opreg bly om Engela die Woensdagoggend te sien. Hulle gesels ’n rukkie oor Engela se reis en oor die verwikkelinge by die hospitaal, en dan loop die gesprek na die nuwe personeel.
“Ek verstaan hier is nogal heelwat nuwe gesigte?”
“Ja, so met ’n nuwe jaar is daar mos maar altyd veranderings. Meisies maak klaar met hul opleiding en soek werk. Ander vra vir ’n verplasing, en dan is daar dié wat gaan trou of swanger raak. Ons was gelukkig, die nuwe meisies is almal regtig oulike kinders. Twee is van hierdie kontrei. Van Deventer se ouers bly hier op die dorp en Neethling s’n boer hier na Rivier se kant toe. Suster Mkani is al ’n ou hand, het sewe jaar in Caledon se hospitaal gewerk. Sý het nou voorwaar ’n slag met ouer pasiënte.”
“Enige nuwe dokters?” vra Engela ongeërg. Sy brand om meer omtrent ’n sekere dokter uit te vind, maar wil darem nie nuuskierig klink nie.
Matrone glimlag en vir ’n oomblik wonder Engela of sy nie haar gedagtes kan lees of dalk met oom Kosie gesels het nie. Haar oë blink skielik te veel na Engela se sin, maar dan knik sy haar kop en wei lustig uit.
“Dokter De Beer se kleinseun het toe begin. Wonderlike chirurg, en regtig iets vir die oog … hy’t die vroue van Bredasdorp se hormone heel deurmekaar gehad daardie eerste paar weke.”
Engela roep die beeld weer op wat heel dikwels die laaste drie dae by haar kom spook het. Sy moet erken … hy was nogal nie onaansienlik nie. Sy wonder of hy haar sal herken as die dogter wat hy so kwaai aangespreek het. Sy besef dat sy matrone se volgende woorde gemis het en probeer vinnig om op te vang.
“… Kotzé, daar van Namakwaland. Pragtige mens. Ek is mal oor daai aksent.”
“Ja-nee. Die Namakwalanders is sulke gasvrye mense.” Sy hap na ’n strooihalm en voel hoe haar gesig warm raak asof sy op heterdaad betrap is.
“Nou toe, jonge dame, laat ons jou aan die werk kry.” Matrone beduie vir Engela om voor te stap. “Ek het jou tot Vrydag toe in die kindersaal ingedeel. Maandag kan jy weer in teater begin. Dit gee jou darem ’n bietjie tyd om jou voete te vind. Suster Du Plessis het nou twee dae verlof gevra en die kindersaal bars juis uit sy nate.”
Engela is verlig. “As ek moet eerlik wees, voel ek nogal ’n bietjie dom vanoggend. Miskien is die kindersaal net wat ek nodig het.”
Matrone glimlag. “Vier maande is lank, maar darem nie lank genoeg om tien jaar se ondervinding te vergeet nie. Jy sal gou regkom. Kom, ek gaan stel jou voor aan die nuwe gesigte.”
Engela hou dadelik van verpleegster Neethling. Haar donker krulle is hoog op haar kop gestapel en hang dan saggies na onder. Haar donker oë is wakker en sy verwelkom Engela vriendelik.
“Ek het al so baie van suster gehoor, aangename kennis, en welkom terug.”
“Dankie, jong. Jy sal my maar vandag moet help, ek is behoorlik verroes.”
“Ons sal vir suster gou weer in ’n roetine kry. Suster Wanda wag al vir ons om oor te gee. Gelukkig is dokter De Beer en dokter Bruwer al klaar met saalrondtes, dit maak dit ’n bietjie makliker.”
Engela kan nie help om teleurgesteld te wees nie. Sy sou hom graag van aangesig tot aangesig wou ontmoet het.
Wanda se groet is ook hartlik en matrone Filander sê saaklik: “Tussen julle twee sal julle seker vir suster Matthee aan die nuwe gesigte bekend stel, nè? Ek moet by my kantoor kom, daar wag ’n berg lêers.”
“Dankie, matrone. Ek sal vanmiddag weer inloer as ek vandag oorleef.” Engela draai met ’n glimlag na die res van die verpleegpersoneel wat aangestap kom om haar te groet.
Die oggend vlieg verby. So tussen die werk deur het sy die meeste van die personeel gegroet en die nuwe gesigte ontmoet. Sy voel weer soos ’n verpleegster, en gereed vir nuwe uitdagings.
Dis eers teen elfuur dat sy haar trompop loop teen ’n harde borskas. In haar poging om nie die bakkie met die spuitnaald te laat val nie, verloor sy haar balans en voel al hoe sy grond toe tuimel toe twee stewige arms haar opraap en weer netjies terug op haar voete sit.
“Oeps!” Sy glimlag, rooi in die gesig. “Dit was amper. Dankie!”
Vir ’n paar oomblikke staar die mooiste paar blougroen oë wat sy nog by ’n man gesien het haar verbaas aan. Dan glimlag die welgevormde mond skeef en verhelder die gesig.
“En jy moet suster Engeltjie wees.”
“Suster Engela, ja.” Sy steek haar hand uit en hy omsluit dit met syne sonder om sy oë vir een oomblik van haar gesig af te haal. Sy blik swiep vlugtig oor haar gesig en sy weet dadelik dat sy vir ’n paar dae ’n spesiale aanhanger gaan hê.
“Raai ek reg dat u dokter Kotzé is?”
Hy knik: “Hulle was reg. Jy ís pragtig, die naaste aan ’n engel wat ek nog gesien het.”
“Moet asseblief nie alles glo wat u hoor nie, dokter.” Sy trek haar hand stadig uit syne en beduie dat hy moet saamstap. “Het u na u pasiëntjie kom kyk? Ek dink nie hy voel vanoggend te lekker nie.”
Sy het die onderwerp met opset verander om hom kans te gee om tot verhaal te kom. In