Wals met Matilda. Dan Sleigh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Dan Sleigh
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624053484
Скачать книгу
met skade aan die romp en tuig; hy sal nie maklik weer vlot kom nie. Binne-boord hoor jy nog lewe, maar dit is so ’n soort lewe: die bemanning lê leeg, speel kaart, die bootsman se drif is weg, hy gee nie meer bevele nie en kla die dag om, die skipper sit lusteloos aan wal teen ’n duin en droom. By die uitgewery noem hulle dit skrywersblok. (“Koos sit daar in Sans-souci met sy kop ín soos ’n skilpad, rus op sy louere en droom oor die verlede. Totale, massiewe skrywersblok.”) Skrywersblok is nie ’n verbeeldingsdroogte nie, jy het nie verbeelding nodig om dit te besef nie.

      Hy skraap ’n hand vol droë sand bymekaar en laat dit uit sy vuis vloei soos tyd deur ’n uurglas: traag, leeg, sinloos. Agter hierdie duine, agter sy rug, lê die land waarmee hy niks te doen wil hê nie en waarvoor hy netsowel nie hoef te bestaan nie. Hy stel die verkyker op meeus wat in die vlak water met hulle lewe voortgaan, verstel die lens voor sy linkeroog, skuif dit stadig oor die stad wat soos Venus uit die see gebore is, maar hom in waansin daarvan afgesny het. “Stedelike selfmoord deur swak stadsbeplanning,” het Gawie, die aartsbewaringsargitek wie se opinies koerantopskrifte word, geskryf. “Argitektoniese sluipmoord, deur sakebelange gedryf.” En dit is Kaapstad, maar kon Hamburg, Malakka, Marseille, Rotterdam of enige ander hawestad wees, almal met hulle meeus wat in ’n dooie hoek van die dok pik tussen drywende sigaretpakkies, leë bottels, prostitute se onderklere en pienk, verdrinkte katte, en almal ewe moeg, oorbewoon, met te veel beton en te min geld.

      Ou panoramas en kaarte van Kaapstad wys die intieme verhouding tussen stad en see, jy sien hulle lepellê van die heel begin af. Maar allerhande mense met hulle eie belange het tussenin gekom en stad en see is later geskei. Die stad het van toe af oud, grys en lelik geword en agter hoere aangeloop terwyl die see op ’n afstand ongeliefd vereensaam en verwaarloos het. Hulle kinders is groot, party het weggegaan, ander het sleg geword. Die stad se museums onthou nie die intieme saamlê van sy jeug nie, maar nuwe intrekkers uit die binneland prys die mooie moederstad, nêrens vind jy fraaier nie.

      Duidelik, weer, dié negatiewe gedagtes: Dit ís siekte, jy het hulp nodig.

      Voor sy verkyker staan twee oranje oliebore in Duncandok. Hulle torings vang die vroeë sonlig hoog bo die dubbelry wit hyskrane. Hy soek op teen die berghang, sien die kabelkar ondertoe sak, swaai die verkyker links oor Vredehoek, af na Woodstock, oor Paardeneiland se siellose grou industriële strukture, stadig verder links óm die baai tot by die lelike liggroen vyfverdieping-woonstelgebou waar hy woon. Iets mensliks, het die Rumpelstilzchen vir die jong koningin gesê, iets mensliks is vir my meer werd as al die skatte van die hele wêreld. Bay View Villas is vir hom meer werd as die hele stad, tussen berg en see.

      Hy stoot sy voete in die los sand; die harde polgras op die duin roer in die wind, ritselend asof ’n spooknavorser deur ’n boek blaai. Die see se rustige oopte laat hom kalm voel, maar hy vertrou dit nie; hy ken die misleidende, sluimerende stilte in die oog van ’n orkaan. Dáárdie gebou, dié see, hierdie stukkie strand op die oorblyfsel van ’n strook duineveld met uitheemse helmgras getem en teen oortreders afgekamp, is die ekostelsel waarin hy gewortel is, sy eie opvanggebied, sy hele en enigste leefwêreld. Hy leef hier soos ’n graspol in ’n droë landskap wat na water verlang, maar met min vooruitsig op lawende reën.

      “Aanvaar en berus, Koos,” het die HGB gesê. “Dit sal vir jou en ons almal die maklikste wees. Jy vryf self sout in jou wonde. Jy kan vir jou mense niks meer doen nie. Jy kan hulle probeer vereer, blomme op die graf sit, maar hulle weet nie daarvan nie. As hulle kón weet, kan hulle dit in elk geval nie vir jou sê nie. Moenie jou situasie erger maak nie. Dit is tyd dat jy na jouself begin kyk, óm jou begin kyk.”

      Dit is nou ses maande vandat die HGB met die nuus hier gekom het: Aanvaar hulle dood en verlaat hierdie huis. Aanvaar? Dit was ’n verstommende slag soos die diagnose van kanker; hy kon dit nie eens glo nie. Om dit te glo sou wees soos om in aanvaarding te kapituleer. Aanvaarding kom veel makliker waar tevore twyfel was. In die groen kerkhoffie van Waltham-abdy se oorgroeide ruïne, waar Harald Godwinson, laaste Saksiese koning, voor die altaar begrawe lê met ’n lang pyl deur sy oogkas en uile en vlermuise snags die vloerstene bevuil, het hy toevallig ’n vierkantige leisteentjie plat in die gras gevind; die grys oppervlak het ’n geriffelde silwer patroon, dit lyk of die paar woorde daarop in water geskryf is. Night-night, Tom. Sweet dreams. Finale afskeid: Ons laat jou hier, ons gaan nou weg. Dít is berusting, dít is aanvaarding.

      “Ons weet jy wil hier wil bly, Koos,” het die HGB gesê, “maar ander wil ook en ons het jou woonstel aan iemand beloof. Onthou dat ons in twaalf jaar net twee manuskripte van jou gekry het, en dit is nie in die gees van ons ooreenkoms nie. Kyk na jou Akte van Ooreenkoms.”

      Hy het sy kop geskud en sy hand afwerend tussen hulle gelig. “Ek kan nie êrens anders woon nie.”

      Die HGB het vaderlik probeer klink – advokaat Jan Opperman, soms genoem Opperwese, maar meesal bekend as die HGB, ’n gebore Voorsitter met netjiese hare, ’n reguit snor, wit hemp, duur linnepak die kleur van volstruiseierdop, en iets van die professionele kavalier, soos ’n luitenant-generaal met vakansie by die see. “Ons weet van jou terugslae. Wees verseker, ons verstaan jou gevoel. Die Direkteur: Finansies sê op gister se vergadering: ‘Koos was in ’n kettingbotsing met die noodlot se nagwa.’ Hahaha … jammer, dit is natuurlik geen grap nie. Ons sal jou help om ’n ander plek te kry; so ver as moontlik help met trek, vervoer, so aan. Dit was moeilik, maar ons moes besluit.”

      “So ver as moontlik? Waarheen? Dit is my huis, ek kan nie dít verloor nie.”

      “Aanvaar net, algaande word dit makliker. Die maatskappy moet die woonstel hê. Sê teen die einde van die jaar, dit gee jou genoeg tyd. Die D:F sal die reëlings kom tref. Frolich, jy ken hom.” Hy weet van Frolich: ’n man met ’n binnenshuise voorkoms, benerig bleek asof hy van ryswater leef.

      Van toe af staan maandeliks ’n geregistreerde brief in sy posbus wat die Uitgewery se besluit herhaal, om hom te herinner, wakker te skud, aan te por: Jou tyd is verby, Koos. Begin pak, Koos. Gee pad en vertrek, Koos. Maar dié woonplek, met ’n uitsig op strand, berg, see en eiland moet hy vir sy oorblywende dae hê. Ses maande lank gooi hy hulle briewe weg en sluit sy oë teen hulle eise. Hulle moet dit aanvaar.

      Dit is iets waarby niemand anders as hyself betrokke is nie. Hy klou aan ’n gevoel, aan iets soos hoop, die ál wat oorbly nadat geloof en liefde gefaal het. Wat hoor ons daar, wie fluister, is dit hoop wat met ons probeer praat? Hoop is ’n chemiese reaksie wat in benarde situasies vanself in die brein aanskakel en later weer afskakel. Soos met vorms van kranksinnigheid sal hulle eendag in ’n laboratorium die presiese formule van hoop ontrafel en pille daarvoor maak. Neem een ná ontbyt, geniet die dag.

      Hy moet met sy verstand vasklou, aan alles vasklou, om nie hier onder te gaan en te verdrink nie. As kind het hy ’n boot gehad met die naam Heks van Endor en ’n gelapte seil (voor die glibberige dacron en terylene),’n swart Finn was dit, nie mooi om na te kyk nie, ’n geskenk van die ma van sy maat wat dertig of miskien honderd kilometer buite Houtbaai verdrink het, die boot ontmas deur ’n rukwind, weggewaai oor die horison, oop see toe. Alleen, ’n nag, ’n dag, miskien nog ’n nag, verlate en hulpeloos, tot die koue en uitputting sy hand van die tou losgemaak het. Die Finn, amper gelyk met die water, drywend gehou deur vlotte voorin, agterin, is daglank, naglank deur die steil Benguellastroom gedra voor ’n suidewind wat weke aaneen gewaai het, twintig knope, tot vyf-en-twintig maar nooit minder nie; die aanhoudende stewige stoot van die somerpassaat met sy fluistering van diepte en eindeloosheid en reuke van sout en osoon, die onskuldige bries wat jou in een nag honderd kilometer see-in sleep en daar los. Hoop is al wat jy dan oorhet. Hoop, het professor Walker van Ekonomiese Geskiedenis gesê, is geen strategie nie, maar dit wen gevegte, roer die aandelebeurs en is geneig om in die voormiddag sterker as in die namiddag te wees.

      ’n Houtbaaise treiler het die leë Finn ingesleep. Hy het die romp ligpers geverf en ’n mas daarvoor laat maak, dit Waratah gedoop omdat dit ’n noodlottige naam was, en met ontsag hanteer omdat dit al een seiler dood gehad het. As die Finn op haar sy loop met die kiel uit die water en hy buiteboords tussen wind en water hang, kon hy voel dat sy te hoog getuig was vir hierdie see. ‘Rank’ is die woord, die boot was rank. En hy het sy maat en sy maat se ma onthou, albei alleen in oop water, in bootjies te klein vir hierdie lewe waar selfs aan hoop, die laaste