By die Sonop-kafee ry sy stadiger om na die gebou aan die oorkant van die straat te kyk. Ja, die huis daar is voorwaar nou in ’n spreekkamer omskep. Dis nogal die huis waarin Engela Viviers-hulle destyds gewoon het. Miskien het Engela se ouers die huis verhuur toe hulle Riversdal toe is en kan sy hul adres by die dokter kry.
Dog, toe sy in die motor se truspieël kyk, besef sy dat sy nie só haar verskyning daar kan maak nie. Sy is vol stof, van haar grimering is daar weinig oor, en daar is ’n lang swart streep oor haar linkerwang. Toe ry sy maar verder tot by Sara Bester se huis.
“Ja,” sê Sara. “Ek het vir jou ’n kamer, maar dis vooruit betaalbaar. Ek is al meer as een keer verneuk deur mense wat in die middel van die nag verdwyn het, so ek vat geen kanse nie.”
Nadat Nadia gestort en haar hare droog geblaas het, kyk sy op haar horlosie. Dis al amper sesuur, so die spreekkamer sal gesluit wees. Dis die ideale geleentheid om die omgewing daar te besigtig. Wat gaan sy in elk geval die res van die aand doen? Sy is moeg, maar darem nie so moeg dat sy nou al in die bed kan gaan klim nie. En sy moet buitendien iets te ete gaan koop by die kafee. Sara gee net ontbyt, nie aandete nie.
Nadat sy haar motor voor die Sonskyn-kafee tot stilstand gebring het, klim sy uit. Die spreekkamer aan die oorkant van die straat sit taamlik diep in op die erf, en daar is parkering aangebring onder ’n groot koelteboom langs ’n mooi uitgelegde tuin. Sy loop nog ingedagte die blomme en besigtig toe die spreekkamer se deur skielik oopgaan.
“Kan ek help?” vra ’n ligtekopmeisie. “Ons sou eintlik al gesluit het, maar ek wag nog vir dokter. Hy is gou vir ’n besoek Vissersbaai toe.”
“Ek kyk sommer net rond,” sê Nadia onkant betrap. “Dis ’n pragtige tuin wat julle hier het.”
“Ja, dokter Louw hou van blomme. Hy bring heeldag en aldag nuwe plante hier aan.”
“Is jou naam Santjie?”
“Ja,” sê die meisie verras. “Van waar ken jy my? Ek kan my nie voorstel dat ek jou al vantevore gesien het nie.”
“My naam is Nadia. Ek is van Kaapstad. Tannie Emsie Struwig het vir my gesê jy werk hier by dokter Louw, maar dat jy van plan is om te bedank. Is dit so?”
“Dit is so, ja. Om die waarheid te sê, ek het klaar bedank.”
“Is hier al iemand anders in jou plek aangestel?”
“Nee, nog nie,” sê Santjie en kom sommer nadergestap. “Dokter het juis gisteraand vir my gesê hy weet nie wat hy gaan doen nie. Hoekom vra jy? Stel jy belang in die werk?”
“So half en half.”
“O. Is jy getroud? Kom jou man op Vissersbaai werk?”
“Nee, ek is ongetroud.”
“Wat wil jy dan hier kom maak? Jy sal jou mos morsdood verveel in dié ou simpel plekkie. Of kom jy in Vissersbaai bly?”
“Ek oorweeg dit om tannie Struwig se huis te koop.”
“Ja, ek het gehoor dis in die mark. Wel, ek kan ongelukkig nie vir jou sê die werk is joune nie, maar ek glo dokter Louw gaan baie verlig voel as jy die werk by my sal oorvat. Hoe haastig is jy? Hy behoort nou enige oomblik terug te kom.”
“Ek weet nie so mooi nie. Wat ek van medisyne en dinge weet, is ’n ronde nul.”
“Ag, ek het ook niks geweet toe ek hier begin werk het nie. Jy sal gou leer. Dokter Louw is gaaf en hy is ’n geduldige mens. Afhangende van wanneer jy kan begin, kan ek jou dalk nog touwys maak voordat ek weggaan. Ek gaan eers oor ’n maand Johannesburg toe.”
“Ek werk by ’n prokureursfirma in die Kaap en sal eers daar ’n kennismaand moet uitwerk. Sê my, hierdie huis wat nou in die spreekkamer omskep is, kan jy onthou of hier op ’n keer Viviers-mense gewoon het?”
“Dit was seker voor ons hierheen getrek het. Dokter het die plek van Wolvaardt-mense gekoop. Praat van die duiwel, hier kom hy nou net aangery. Ek het jou mos gesê hy behoort binnekort hier te wees.”
Nadia voel ongemaklik toe dokter Louw haar aandagtig bekyk nadat Santjie sonder omhaal vir hom vertel het wie sy is en dat sy belangstel in die pos. Die dokter is veel jonger as wat sy te wagte was. As sy moet skat, sal sy sê hy is in sy vroeë dertigerjare. Maar dis die frons op sy voorkop en die stip kyk van sy blou oë wat haar verbouereer. Vroulike instink sê vir haar hy is nie die soort mens wat haar gaan glo as sy kluitjies bak nie.
“Hoekom wil jy jou hier kom begrawe?” is sy eerste vraag.
Nadia voel hoe haar wange warm raak. “Ek hou van die platteland.”
“Wat het jy in die Kaap gedoen?”
“Ek werk by ’n prokureursfirma daar. Om die waarheid te sê, ek het geen ondervinding van verpleegkunde of iets in daardie lyn nie, maar …”
Sy wenkbroue lig toe sy swyg. “Maar?”
“Ek oorweeg dit om ’n huis hier te koop. Tannie Emsie Struwig by die oewer se huisie. As ek hier iewers kan werk kry,” verduidelik sy ongemaklik.
“Wanneer kan jy begin?”
“Ek sal ’n maand kennis moet gee by die prokureursfirma, en ek weet ook nie hoe lank dit sal neem om die huis te koop nie.”
“Kyk maar hoe vinnig jy jou dinge kan reël, en laat my weet.”
Toe hy omdraai en die spreekkamer binnegaan, kyk Nadia oorbluf na Santjie. “Wat beteken dit?”
“Dit beteken jy’t die pos gekry en jy moet hom laat weet hoe gou jy hier kan wees,” sê Santjie met ’n glimlag. “Ek sweer Marda Kotze het weer iewers sy pad gekruis, dié dat hy skielik so bot is. Sowat van agter ’n man aanloop, het jy in jou lewe nog nie gesien nie!”
Nadia neem nie notisie van Santjie se opmerking nie. Sy voel te oorbluf. “Is jy seker dis wat hy bedoel het?”
“Ja. Hy’s darem nie altyd so kortaf nie, hoor. Dis net wanneer hy omgekrap voel oor iets.”
“Wat behels die werk hier?”
“Dis maklik. Jy reël afsprake, deel die medisyne uit wat dokter voorskryf en hou die plek skoon. Dis omtrent al. Ons gee net behandeling vir dinge soos verkoue, griep, maagpyn, keelseer, oorpyn en so aan. Ernstige gevalle stuur ons George toe.”
“Hoe besig is julle?”
“Jy kan maar vir jou breiwerk of ’n boek saambring. Jy sal jou beslis nie doodwerk nie.”
“Is dit dan betalend om ’n spreekkamer hier te hê?”
“Ja wat, ek glo so.” Toe laat sak Santjie haar stem. “Ek dink nie dokter Louw is op winsbejag uit nie. Hy moet goed daarin sit, want hy’t ’n lieflike huis op Vissersbaai. Ek dink hy’t hierheen gekom om sy wonde te lek. Hy’s mos geskei, en sy eks is glo skaars ’n maand ná die egskeiding met sy beste pel getroud. Maar jy moenie laat deurskemer ek het jou vertel nie. Ek het dit maar met ’n omweg gehoor; hy het nog nooit self ’n woord daaroor teenoor my gerep nie.”
’n Rukkie later klim Nadia asof in ’n dwaal in haar motor. Sy het verwag dokter Louw gaan ’n meer bevoegde persoon verlang. Dan sou sy sonder gewetenswroeging vir Emsie Struwig kon sê sy kan nie die huis koop nie. Maar nou … Nou weet sy waaragtig nie wat sy moet doen nie.
Sy lê tot laat die nag wakker in Sara Bester se huis. Dis nie die hol bed en pap matras wat haar wakker hou nie, maar haar verstand wat nie wil afskakel nie. Dit gryp hier en los daar sonder om sin te maak. Amper soos die nagte in die tronksel.
Wat dryf haar om die huis te wil koop? Sy’s kwalik gevestig by die prokureursfirma. Wat gaan prokureur