Toe sy so tien minute voor die diens begin daar aankom, ontwyk sy die nuuskierige blikke van die paar mense wat buite rondstaan deur vinnig die gebou binne te gaan. Sy gaan sit op die heel agterste bank, vanwaar sy almal kan sien wat die gebou binnekom. Daar daag egter net twintig mense op. Almal vreemde gesigte.
Terwyl die ouderling al besig is met ’n paar afkondigings, kom sy agter daar is iemand wat langs haar op die bank inskuif. ’n Ligte skokkie gaan deur haar toe sy sien dis die man wat haar motor uit die sand gesleep het. Vir wat moes hy nou kerk toe kom? Sy verwens haarself dat sy nie dieper ingeskuif het op die bank nie.
Maar dan besef sy haar gedagtes is onredelik. Vir al wat sy weet, is hy ’n inwoner van De Meer. En wat traak sy onvriendelikheid haar in elk geval? Dis baie beter as die vriendelike, geselserige tipe mense wat glo hulle moet alles van ’n mens af weet.
Sy neem min in van die ouderling se preek. Sy dink aan ma-Anna en pa-Kerneels wat nie kerkmense was nie. Haar eerste kennismaking met die Woord van God was toe die welsyn haar kom haal het en sy na die Kinderhuis op George is.
Pa-Kerneels het sy Sondae met ’n bottel wyn en slaap verwyl. En ma-Anna met die was en stryk van die ryk mense teen die hang se klere. Dimitri-hulle het Sondae George toe gery vir kerk. Hulle het eendag gevra of hulle haar kan saamneem, maar ma-Anna se antwoord was kortaf. “Nee. My fiets se wiel is pap. Nadia moet die mense se wasgoed gaan wegbring.”
Sy het met graagte van tyd tot tyd die wasgoed gaan wegbring. Sommige mense het haar binnegenooi en vir haar koeldrank gegee. Dan kon sy haar vergaap aan die netheid en mooi goed in hul huise. Ander het weer vir haar ’n geldjie gegee. Sy het dit in haar broekie weggesteek sodat ma-Anna nie daarvan moes weet nie, en lekkers gekoop wat sy en Dimitri dan in die oop veldjie agter die bosse of op die rotse in die meer gaan eet het.
Toe die diens klaar is, staan die man langs haar op, maar hy gee eers al die ander mense kans om met die paadjie langs na buite te loop. Dit noodsaak haar om ook te wag.
“Dis ’n verrassing om jou hier te sien,” sê hy toe hulle eindelik deur toe beweeg.
“Hoekom? Lyk ek vir jou soos ’n heiden?”
Die woorde is kwalik uit, of sy verwens haarself. Dis mos nie in haar aard om so bitsig te wees nie. Wat gaan met haar aan? Hoekom het sy so ’n renons in hierdie vreemdeling? Hy moet glo sy is ’n ware heks.
“Nee, ek het maar net gewonder,” sê hy met ’n frons. “Dis selde dat besoekers by ons kerkdienste opdaag. Vakansiegangers verkies mos meesal om laat te slaap.”
“Ja, dit is seker so,” dwing sy haar tot bedeesdheid. Sy rek nogtans haar treë om by haar motor te kom. Hy bly egter langs haar.
“Hoe lank gaan jy nog hier kuier?”
“Ek gaan Dinsdag terug Kaap toe.”
“En wat gaan jy tot Dinsdag doen?”
“Ek … het oorgenoeg om te doen. Dankie nogmaals dat jy my gister gehelp het.”
Toe drafstap sy onder hom uit, klim dadelik in haar motor en trek vinnig weg.
Terug in die kamer by tannie Sara se gastehuis kyk sy weer deur die venster uit oor die meer. Dis ’n lieflike dag, en daar is ineens ’n hunkering in haar om weer, soos toe sy ’n kind was, op een van die rotspunte te gaan sit. Wel, daar is niks wat my verhoed om dit te doen nie, besluit sy dan. Sy kan tog nie die hele dag hier in die kamer sit nie.
Dis laaggety, merk sy op toe sy langs een van die murasies by die oewer parkeer. Die rotspunte steek verder bo die water uit as met hooggety. Sy gaan sit op die sandstrook en rol haar langbroek se pype op. Gelukkig is sy nou groot. Dis nie meer nodig om haar rok uit te trek soos toe sy ’n kind was nie. Die water sal kwalik tot by haar knieë reik.
By een van die uitstaande rotse aangekom, gaan sy sit, haar sandale langs haar op die rots. Sy vou haar hande om haar knieë en besigtig die meer tot waar dit deur die berg gestuit word, en verder tot waar dit agter Slangkop verdwyn. Maar dan dwaal haar blik na die huis waarin sy grootgeword het. Daar is werklik niks goeds wat sy van haar sogenaamde pa kan onthou nie. Die hardste werk wat sy kan onthou wat hy ooit gedoen het, was om af en toe ’n paar visse by Vissersbaai te gaan vang. Dan het hy een huis toe gebring, die ander aan oom Koos by die viswinkel verkwansel, en kantien toe gestap met die geld.
Baie mense het gesê die kantien is onwettig, hy mag nie daar wees nie. Maar toe sy hier weg is, was hy nog steeds daar tussen die bosse langs die uitdraaipad van De Meer. “Die Hel se plek” het ma-Anna op die kantien geskel wanneer pa-Kerneels die huis besope binnegestrompel kom. Teen daardie tyd was sy, Nadia, lankal klaar met die skoonmaak van die vis wat hy by die huis kom afgee het. Sy moes dit langs die meer krap en die binnegoed uithaal. Om haar vinger raak te sny was slegtigheid.
“Jy sal ons nog uit hierdie huis ook suip, soos jy ons uit die plaas gesuip het,” het ma-Anna meermale getier. “Moenie weer die droogtes en veevrektes die skuld gee nie. As daar iets in jou gesteek het, kon jy gaan werk en die plaas weer opgebou het toe die reën kom. Maar nee, toe vergryp jy jou mos aan die bottel! En kyk hoe gaan dit nou met ons!”
Soggens voor skool moes Nadia eers vier emmers water by die dorpskraan langs oom Koos se viswinkel gaan tap. Dit was die naaste kraan. Dimitri-hulle was beter daaraan toe. Hulle het ’n groot watertenk op ’n hoë stellasie langs hul huis gehad, en daar was ’n opwasbak met ’n kraan in hul kombuis. Ma-Anna het die wasgoed met die meer se water gewas, maar kraanwater gebruik om dit uit te spoel. Die jaar voor Nadia hier weg is, is daar water en ’n rioolstelsel ook na die oewer se huise aangebring, maar dit moes die mense ná hulle gewees het wat die badkamer aangebou het.
In haar tyd was alles nog primitief. Daar was net ’n buite-closet met ’n emmer. Wanneer dit vol was, het ma-Anna dit in die meer gaan uitgooi. Die enigste bad wat Nadia geken het, was ’n sinkbad. Ma-Anna het haar meesal met ’n stukkie seep meer toe gestuur wanneer sy vuil was.
In die elf jaar wat sy hier gewoon het, was sy net so vyf of ses keer op George. Dit was lekker. Veral die keer toe sy saam met die Grieke daarheen was. Die kere wat sy saam met haar ma daarheen gegaan het, moes hulle saam met ander mense ry, want hulle het nooit self ’n motor gehad nie. Sy moes agter in oom Frans se vragmotor met die seilkap sonder vensters sit.
Dimitri-hulle het ’n motor gehad. Sy pa móés ’n motor hê, want hy het geskilder. Mooi prente van die meer, see, bome en diere. Dan het hy dit in houtrame gesit wat hy self gemaak het, en George toe gery daarmee om dit te verkoop. Partykeer is hy na ander dorpe toe ook.
Die dag toe sy saamgery het George toe, het sy en Dimitri op die agtersitplek van die motor gesit. Sy het haar vergaap aan alles wat sy langs die pad gesien het. En in George het tannie Carina hulle twee aan die hand gevat en die hele dorp met hulle platgeloop, of so het dit vir haar gevoel.
Sy verskuif so effens op die rots en laat haar blik oor die Grieke se huis dwaal, en na die buitekamer waar oom Alexander die skilderye se rame gemaak het. Dis net so netjies opgeknap soos die huis. Die buitekamer het altyd lekker na verf en houtsaagsels geruik, onthou sy. Sy onthou ook nog die gesaag en getimmer. Dan het haar pa gesê die geraas gee hom kopseer, en haar ma het gesê hy lieg, dis die dop wat hom kopseer gee.
Die Grieke het getrek, so ’n jaar of wat voor ma-Anna se dood. Haar lewe was daarna saai; sy het nie meer ’n speelmaatjie gehad nie. Dit was nie meer lekker om hier op die rotse in die meer te kom speel nie, of in die oop veldjie, of om teen Slangkop uit te klim nie. Sy kon nie maats maak met die kinders by die skool nie. Hulle het haar gespot. Met haar dronk pa wat haar ma soms die huis moes binnesleep as hy nie verder as die sypaadjie kon kom nie. Oor sy nie sulke mooi klere soos hulle gehad het nie, en later ook oor sy nie ’n regte ma het nie.
Nadia gee ’n suggie. As sy net iets van haar biologiese ouers geweet het. Watter tipe mense hulle was, en hoe dit gekom het dat sy in Anna en Kerneels Pretorius se sorg beland het. Sy kan waaragtig nie glo dit was met die goedkeuring van ’n welsynsorganisasie nie. Hulle sou nie toestemming vir die aanneming van ’n baba aan mense