Sy het pa-Kerneels ook soms gepols, want hy was nie heeltemal so kwaai met haar soos ma-Anna nie. Maar hy het net sy kop geskud en gesê sy moet ophou tob oor dinge wat nie kan verander nie.
“Oom Koos, was my ma mooi?”
“Kind, vergeet van dié dinge. Ma-Anna slaan jou dood as sy hoor wat jy praat.”
“Ek wil net weet. En my pa, oom? Hoe’t hy gelyk?”
“Ek weet niks. Hier, vat die vis en sê vir jou ma dis die laaste keer wat ek haar help. As sy nie genoeg geld gee nie, kry sy nie weer vis nie. Toe, loop nou.”
Eendag toe sy van die skool af kom, sê haar pa vir haar dat haar ma dood is.
“Ek weet. Ma-Anna het vir my gesê sy’s dood. Maar hoekom het sy doodgegaan? Was sy siek?”
“Ek praat van jou má, Nadia. Nie van die vrou wat jou in die wêreld gebring het nie.”
Sy het lank gevat om te snap. “Pa meen … ma-Anna is dood?”
“Ja. Ek weet nie wat nou van jou gaan word nie.”
Dinge was baie deurmekaar agterna. Sy onthou min daarvan, hier en daar iets. Van ’n paar mense om die graf, haar pa wat hom soms dae lank in die kamer toegesluit het, en hoe honger sy geraak het … Totdat daar mense opgedaag het. Hulle het haar paar stukkies klere in ’n tas gepak en gesê sy moet saam met hulle gaan.
Dit was lekkerder in die Kinderhuis op George as by die huis. Daar was ten minste elke dag kos. En by die nuwe skool het niemand met haar die spot gedryf nie. Sy was omtrent ’n jaar daar, toe is pa-Kerneels dood.
Daar was mense wat haar sommige naweke en vakansietye by die Kinderhuis kom haal het om haar na hul huis te neem. Gegoede mense. Oom Jacques en tannie Mercia de Lange. Hulle het haar na De Meer geneem vir haar pa se begrafnis.
Dit moes seker ’n aanpassing vir die De Langes gewees het om hulle oor haar te ontferm, dink Nadia weeïg. Van dinge soos etiket en tafelmaniere het sy niks geweet nie. Tannie Mercia het soms geduld verloor, maar oom Jacques was baie goed vir haar. En sy was ’n gewillige leerder, ook by die skool.
Sy het nie gesukkel om werk te kry ná matriek nie. Weliswaar was dit maar as kelnerin by ’n restaurant, maar sy het ’n rekenaarkursus deurloop en gehoop dit sal haar help om mettertyd ’n beter werk te bekom. Ten minste het sy ’n verdienste gehad.
Sy het aan die begin ’n kamer gehuur en al die geld gespaar wat sy kon afknyp. Dit was dan ook nie lank voordat sy dit kon bekostig om ’n woonstelletjie te huur nie. Oom Jacques en tannie Mercia was op die punt om na Pretoria te trek, en het haar voorsien van meubels en gordyne. Die toekoms het belowend gelyk. Maar die lewe het anders verloop …
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.