Dis moeilik om haar aandag by haar werk te bepaal. Haar gedagtes is ’n maalkolk van verwondering en dankbaarheid teenoor almal wat so goed vir haar was en steeds is. Maar ook deurspek met bitterheid oor die dwarsklappe wat die lewe haar toegedien het. En al die onbeantwoorde vrae …
“O, is jy terug? Het meneer Duvenhage jou ook uitgetrap, of wat moes jy daar gaan maak?” word haar gedagtes onderbreek toe Bets die kantoor binnekom.
“Nee, hy’t my net ’n opdrag gegee om uit te voer.”
“O. Dan sal ek jou nie ophou nie. Maar sê gou vir my, is daar ’n moontlikheid dat jy my sluitingstyd ’n lift huis toe kan gee? Ek het die garage gebel, maar hulle is nog nie klaar met my motor nie. En my ou het nou net gebel om te sê hy moet vanaand laat werk.”
“Dis reg. Jy kan enige tyd saam met my ry.”
“Dis ’n bietjie van ’n draai.”
“Ag, dis nie só ver uit my pad nie. Ek doen dit met plesier.”
“Dankie tog. Anders was ek nou gestrand.” Bets loer op haar horlosie. “O gonna, kyk waar trek die tyd al! Sien jou netnou op die parkeerterrein.”
Al het Nadia vir Bets gesê dis ’n plesier om haar ’n geleentheid te gee, sien sy op daarteen. Sy weet sommer Bets gaan weer ongemaklike vrae vra. En dat sy weer sal moet lieg, soos talle vorige kere.
Hulle is dan ook skaars in die motor of Bets wil weet of sy darem al oor haar liefdesteleurstelling is.
“Ek werk nog daaraan, maar dit gaan al beter.”
“Daai ou het jou darem sleg gedrop,” sê Bets bejammerend. “Jy kan maar sê so vóór die kansel. Ek hoop net nie jy’t nou jou vertroue in alle mans verloor nie. Daar is darem nog eerlike ouens ook op die aarde wat nooit hul meisies sal verkul nie.”
“Ja, ek besef alle mans is nie dieselfde nie.”
“Jy’s so ’n oulike meisie, ek hoop jy loop sommer binnekort ’n betroubare man raak. Miskien moet ek jou aan Frans voorstel. Dis my ou se beste pel. Hy’s amper deur dieselfde ding as jy. Klaar verloof gewees en alles, toe besluit sy meisie sy gaan oorsee en toe sê sy sommer vir hom ook net daar goodbye. Wil jy hê ek moet ’n date reël vir jou en Frans?”
“Nee, dankie. Ek stel regtig nie belang nie. Daar is eers ander dinge waarby ek my aandag gaan bepaal voordat ek weer aan mans sal dink.”
“Soos wat?”
“Ag, sommer … om ’n kursus in houtsneewerk te deurloop,” gryp Nadia naarstig na uitkoms.
“O genade, nee, dis nie vir my nie. Ek sal my morsdood verveel. Jy’s so mooi en goed gebou, hoekom neem jy nie liewer danslesse nie? Dan ontmoet jy dalk ’n oulike instrukteur, en voor ons sien is jy getroud!”
“Moet ek jou môreoggend kom oplaai werk toe?” vra Nadia toe sy voor Bets se huis stilhou.
“Nee, moenie worry nie, my outjie sal my sommer daar drop op pad na sy werk toe.”
Leuens, leuens, dink Nadia toe sy verder ry. Leuens wat sommer so half vanself by haar opgekom het toe sy by die prokureursfirma begin werk het. Sy het eenvoudig nie die moed gehad om vir haar kollegas te sê sy was in die tronk en aangekla van poging tot moord nie.
Prokureur Duvenhage het haar ook afgeraai om dit te doen. “Dis nie nodig dat jy vir die mense saam met wie jy gaan werk daarvan vertel nie. En jy hoef ook nie bang te wees ek sal hulle inlig nie.”
Nadat sy vrygespreek is, het sy haar blonde hare kort geknip en donker gekleur. En sy dra omtrent pal ’n donkerbril wanneer sy op straat gaan om nie herken te word nie. Sy vermy ook gesprekke oor haar verlede, maar die prokureursfirma se personeel kon tog dadelik agterkom sy is nie ’n stralend gelukkige meisie nie. Dié dat sy ’n storie opgedis het van ’n man wat haar op die vooraand van hul huwelik in die steek gelaat het. Ironies genoeg, ook nie heeltemal so ver verwyder van die waarheid nie …
Toe sy haar woonstel binnegaan, probeer sy haar gedagtes in ’n ander rigting dwing. Na die onverwagte vakansie wat om die draai op haar wag. Maar sal dit help om haar te laat vergeet? Die klap van die skoot, die bloedstraaltjie langs Johny se oor …
Sy gooi haar handsak op ’n stoel neer en skakel die ketel aan. As sy net kan uitvind of dit regtig haar biologiese pa is wat haar so uit die bloute tot hulp gekom het. Maar niemand wil vir haar sê nie. Allermins advokaat Duvenhage. Elke keer loop sy haar vas teen dieselfde antwoord: Jou weldoener is ’n terminaal siek persoon wat anoniem wil bly tot ná sy of haar dood. Daarna sal jy ’n brief van die weldoener se prokureur ontvang wat alles sal verduidelik.
Dis moeilik om daarmee vir lief te neem. As sy net ’n naam tot haar beskikking gehad het! Die naam van haar biologiese pa, wat volgens haar grootmaakouers “weg” is. Waarheen of hoekom, het hulle geweier om vir haar te sê. Sy was ook nog te klein en te bang om aan te dring op ’n antwoord, want ma-Anna en pa-Kerneels Pretorius het nie ’n geneul verdra nie.
Nadat sy vir haar ’n koppie koffie gemaak het, loop sy kamer toe daarmee. Maar van haar planne om gemakliker klere aan te trek, kom daar niks. Meneer Duvenhage is reg, sy hét baie om voor dankbaar te wees. Sy is inderdaad dankbaar. Dankbaar dat die hofsaak in haar guns afgeloop het. Ook vir die werk wat sy het.
Maar dis alles te danke aan die barmhartige Samaritaan wat so onverwags na vore gekom het toe sy die donkerste tyd van haar lewe beleef het. Sonder hom … of haar kon dinge lelik skeefgeloop het. Sy het nie geld gehad vir ’n prokureur nie, laat staan nog vir ’n advokaat!
Nadia gaan sit op die kant van haar bed. As sy maar net destyds die oom en tannie van die viswinkeltjie by De Meer verder uitgevra het. Sy is seker daarvan hulle het meer geweet van haar biologiese ouers as wat hulle bereid was om te sê. Of as sy Johny uitgevra het daardie noodlottige nag …
Sy gee onbewustelik ’n suggie. Dié asse gaan haar nêrens bring nie. Sy was maar elf jaar oud toe Engela die dag by die skool vir haar gevra het of sy weet dat sy ’n aangenome kind is.
“Waar hoor jy dit?” wou sy weet.
“Ek het gehoor toe my ma gister met ’n tannie op George gepraat het.”
“Wat het sy gesê?”
“Die tannie het gevra of jou pa nog so suip. En toe my ma sê ja, dit gaan maar nog so aan, toe sê die tannie sy kan nie verstaan hoekom jou pa en ma jou aangeneem het nie, want hulle het skaars kos vir hulleself. Toe sê my ma sy verstaan dit ook nie.”
“En toe?”
“Toe niks. My ma het gesê ons moet loop, want sy’t nog baie om in die dorp te doen.”
“Wie was die ander tannie?”
Engela het haar skouers opgetrek. “Hoe moet ek weet? Ek het haar nog nooit vantevore gesien nie.”
Vir ’n wonder gil Nadia haar nie weer gedurende die nag wakker nie. En vir die volgende drie dae kry sy nie tyd vir tob nie, want sy moet prokureur Duvenhage se susterskind inlig oor haar pligte. Nie dat dit ’n moeilike taak is nie, want die meisie is bekwaam en snap vinnig.
Donderdagnag droom sy van haar kinderdae in De Meer, en van Dimitri, die skraal seuntjie van hul Griekse bure wat ook haar enigste speelmaatjie was. Hy was so twee jaar ouer as sy, maar soos sy het hy ook nie eintlik maats by die skool gehad nie. Die mense wat teen die hang gewoon het, wou nie hê hul kinders moes bevriend raak met die kinders van die sukkelaars op die oewer van die meer nie. Sy en Dimitri was dus maar op mekaar aangewese om hul ledige tydjies te verwyl. Nie dat ma-Anna haar veel ledigheid gegun het nie.
Sy droom ook van die man wat eendag ’n foto van haar geneem het terwyl sy op een van die rotspunte in die meer gesit het. Maar die droom is vaag, want dit was jare gelede. Sy was te klein om notisie van die man te neem.
Vrydagoggend toe sy by die kantoor kom, wil meneer Duvenhage weet of sy al besluit het waar sy haar vakansie gaan deurbring.