My oë loop vol trane. Hy het natuurlik gebel om te hoor of ek nie ontsnap het nie.
Martha klap haar tong. “Siestog, jy was regtig siek die twee dae.”
“Twéé dae?” vra ek. “Watter dag is dit dan nou?”
“Dis Vrydag, mens. Het suster Anna jou nie gesê hoe lank jy uit was nie?”
“Die joggie het gesê ek moet vandag teen die pad wees.”
“Wie? Moet tog nie sê jy raak al weer deurmekaar nie. Ek roep gou vir suster.”
Ek trek haar aan haar rok terug toe sy opstaan. “Wag, Martha, ek is nie deurmekaar nie. Die petroljoggie het gesê ek sal vandag ’n geleentheid Kliprant toe kan kry.”
“Hoekom sê jy dan nie so nie! Maar jy’s nog nie sterk genoeg om teen die pad te gaan staan nie.”
Sy gaan sit weer swaar op die stoel. “Ek wou nog sê, ek gaan Mietjie se klere uitspoel. Dit behoort vir jou te pas, jy’s nou net so dun soos sy was. Ewe lank ook. Net laas week sê ek vir Lukas ek sal moet van die klere ontslae raak. Dis ook nou al ses maande dat Mietjie weg is. En hier kom jy aan! Die Here het geweet iemand gaan dit nodig kry.”
As besoektyd se einde net wil aanbreek. Lieflik soos Martha is, wil ek nou alleen wees. Dit voel of ek enige tyd in trane gaan uitbars. Hoekom ek vandag so weerloos voel, weet ek nie.
“Sodra Lukas vandag sy geldjie kry, gaan ek vir jou ’n paar ondergoedjies koop,” babbel Martha voort.
Ek lê toe-oë en luister en sug byna hardop van verligting toe die klokkie aankondig besoektyd is verby.
“Ag nee!” sê Martha. “Ek wou jou nog vertel van Mietjie se groot begrafnis en wie almal daar was. Maar ek sal vanaand weer kom. Hier, dis vir jou.”
Sy tel die plastieksak langs die stoel op en sit dit op die bedkassie.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.