Draairivier. Engela Ovies. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Engela Ovies
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798181242
Скачать книгу
dan klim ek in ’n sinkbad vol water. Skoongewas en afgedroog, trek ek my ligblou rok aan.

      Hoofstuk 5

      _____________

      1971

      Ek stap heen en weer, my bene kramp van die koue. Die brand in my keel is pynlik. ’n Sterker wind waai ook nou.

      Ná nog ’n halfuur se gewag gee ek op. My kop draai só dat ek moet keer om nie om te val nie. Ek loop stadig terug na die petrolstasie.

      “Hoe laat is dit?” vra ek vir die joggie.

      “Dis nou voor ses. Suster sal ma hier iewers moet gaan slaap. En suster sal moet gou loop, suster lyk vi my ma oes, jo! Nie eers ’n handbag nie. Hoe sal ek sê, wat is suster se lyk se naam?”

      Ek voel sommer of my kopboekie nog tussen my borste lê. “Ken jy vir antie Mina Swarts? Haar kinders is Martha, Ronnie en Mietjie.”

      “Ek ken vir antie Mina. Sy’s lankal witbene, en Mietjie ok.”

      “Wat het Mietjie makeer?” wil ek ontsteld weet. Sy was tog die jongste van antie Mina se kinders! Ek en Ronnie is portuurs, en Martha is tien jaar ouer as ons.

      “Koors. Sy was mos maar aan die dun kante gewies.”

      “Ja, ek onthou antie Mina was altyd so beskermend oor haar omdat sy so tengerig was.”

      “Martha is ook gatroud. Sy bly nog in die huis, en Ronnie en sy vrou bly in die straat net agter hulle.”

      Ons het Sondae ná kerk by antie Mina se huis vir meneer Bertus gewag. Dan het ons kinders die tyd omgespeel.

      Ek gaan vanaand by Martha slaap, besluit ek. Ek sal seker môre gelukkiger wees.

      “Suster, ek sê jou, jy kan ma bly tot Vrydag. Dan kô die boere katoenbale inbring en da het jy ’n beter kans om hie weg te kô.”

      “Dankie, hoor, en my naam is Sanna.”

      “Myne is Tjola Bruce Daries,” glimlag hy met ’n wye poort.

      Ek loop so vinnig as wat my bewerige bene my toe­laat. Die son trek al water. Mag ek tog gou die huis kry. Die sweet loop in my oë en my kop voel soos watte. Ek sluk van die water uit die botteltjie om my droë keel nat te maak.

      Ek kan my ou skool nie van hier af sien nie, baie huise het bygekom. Sou juffrou Klaaste nog lewe? Nou moet ek regs draai by die ou doringboom. Dit voorsien skadu aan ’n winkel wat nie voorheen hier was nie.

      So duidelik hoor ek Pa se stem: Hier bly ek nie. Dis om­dat die plek so kaal is dat dit so koud is.

      My oë skiet vol trane. Here, hoe verlang ek nie nou na die warmte en veiligheid van ons huis nie. Wat in ’n oogwink van my weggeneem is …

      By Martha se huis huil ek met mening. Die deur is toe en daar is nie ’n lewende siel in sig nie. By geen huis roer eens ’n gordyn nie. Waar kan sy wees?

      Ek soek vir ’n lap om oor my skouers te gooi. Daar is net ’n bankie op die stoep. Met die deurmatjie op die bankie vir ’n bietjie sagtheid gaan ek in die skuilte van die stoep sit.

      Ek vryf my voete, maar los dit toe ek vooroor wil val en druk my koue hande tussen my bene in. Ek moet maar wag tot Martha kom.

      Wat as sy nie hier is nie? Sê nou sy het iewers gaan kuier?

      Nee, liewers nie daaraan dink nie.

      ’n Skielike vaakgeit oorval my. Maar sodra ek my oë toe­maak, voel dit ek val in ’n gat in.

      Ná wat soos ’n ewigheid voel, hoor ek die hek oopgaan.

      Dis Martha! Al het ek haar seker sestien jaar laas gesien, ken ek haar aan die gesig. Sy het vet geword. Blasend kom staan sy voor die deur en haal sleutels uit haar rok se sak.

      “Naand, Martha.”

      Sy draai verbasend vinnig om. “Wat! Wie is jy?!”

      Ek wil opstaan, maar los dit toe my bene nie my gewig wil dra nie.

      “Dis ek, Sanna.”

      “Sanna van antie Sara? Sowaar! Hoe kom jy hier? My genade, is jy dan nie –?”

      “Nee, ek is nie,” val ek haar in die rede.

      Ek wens sy wil net die deur oopsluit en my innooi, maar die deur bly toe.

      Sy staan hande op die heupe na my en kyk. “Is jy vrygelaat, Sanna?”

      Dink die vrou ek het ontsnap?

      “Martha, ek is jammer as ek jou laat skrik het, maar ek is moeg en honger.”

      “Nou kom in, ek maak koffie.” Sy sluit oop en waggel in. “Kom jy?” roep sy om die deur.

      Ek probeer, maar daar is geen krag in my bene om op te staan nie.

      Sy kom terug en trek my aan die arms op. “Jy’s dan vuur­warm, Sanna! Hoekom sê jy nie jy’s siek nie?”

      Sy lei my die huis in en laat my in die kombuis op ’n stoel voor die koolstoof neersak.

      Eenkant staan ’n pot en prut. Op die sterker hitte kook ’n ketel dat die stoom doer trek.

      Martha maak koffie en sit die beker voor my op die stoof se muurtjie neer. Sy haal ’n boksie Disprins uit die kas en dop een uit.

      “As jy klaar koffie gedrink het, moet jy die pilletjie sluk en in die bed kom. Ek het gou by ouma Nokkie gaan inloer, sy is siekerig. Jy onthou haar seker nog?”

      “Ja, sy’t mos ook Sondae saam met Ma-hulle op die stoep gekuier.”

      “Haar kinders gee nie juis aandag aan haar nie, nou gaan kyk ek maar altyd of alles reg is daar.”

      Sy maak die stoof oop en skuif aan die ronde brode in die oond. Wat my weer aan my ouma Bet laat dink. Sy het ook sulke brode gemaak. Ma het nie ’n stoof gehad nie, want oom Dries het Ouma s’n gevat.

      Ek tel die beker op en neem ’n sluk koffie, maar laat dit amper val, so pynlik is dit om iets in my seer keel af te kry.

      “Jy moet die koffie eers laat afkoel. Wag, laat ek jou help.”

      Martha haal ’n piering uit die kas en gooi van die koffie daarin. “Blaas eers, dan vat jy klein slukkies.”

      Die tronkvoël word met ’n piering koffie gevoer. As ek nie so siek gevoel het nie, sou dit koddig gewees het.

      Martha maak die pot oop en begin roer. Die reuk van die ertjiesop maak my naar.

      “Sanna! Jy kan mos nie voor die stoof sit slaap nie! Sluk die pil, dan gaan jy bietjie lê.”

      Toe ek my weer kom kry, lê ek op ’n bed. Iemand is besig om my gesig af te spons. Nog een lig my voorlyf op.

      “Kom, sluk!” sê ’n stem.

      Iets word teen my mond gedruk en galbitter vloeistof loop in my keel af.

      “Sy het gesluk,” praat ’n manstem bo my kop.

      Seker Martha se man, dink ek voor die donkerte my weer toevou.

      Hoofstuk 6

      _____________

      1955

      Die meisiekind se gordyne is steeds toe, nes die res van die huis. Miskien moet ek haar saamnooi om na die eendjies te gaan kyk!

      Daar is seker niemand anders by die Groothuis nie, want ek het gisteraand gehoor Pa praat dat hy vandag saam met meneer Bertus en Nols aan ’n windpomp gaan werk. Die honde is ook veld toe, lyk dit my.

      Ek sit my hoed op en kies koers na die Groothuis. Maak die hekkie oop en stap na die voordeur. Ná die derde klop loop ek om agterdeur toe.

      Ek voel aan die deur, maar dis gesluit. Die sleutel, weet ek, lê onder die stoepmatjie waarop ek staan, maar om net oop te sluit en in te