Spoor. Deon Meyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798157469
Скачать книгу
na die groot sessitplek-tafel. “Kom sit gerus …”

      Staalgrys kyk vlugtig en takserend na my. Rot se oë rus spekulatief op Emma. Dan gaan sit hulle. Agterop Sportief se T-hemp staan die legende: If you can read this, the bitch fell off.

      Tannie Wilna neem vir hulle spyskaarte. “Watse bier verkies julle?”

      “Black Label,” sê Staalgrys. “Koud.”

      “Gaan haal gou vir ons vier Black Labels daar by Zelda, asseblief,” sê tannie Wilna vir Mietjie. “Vra tog dat sy van die koues uithaal.”

      “Antie,” sê Staalgrys, “maak dit twaalf.”

      “Baie drinkwerk om te doen,” sê Grote.

      “Dorslandtrek,” sê Rot, hofnar in die Huis van Staalgrys, want hulle lag. Hu-hu-hu. Kamerade.

      Tannie Wilna huiwer net ’n oomblik voor sy knik. “Hoor by Zeldatjie of daar twaalf koues is, anders moet ons dit in die deep freeze kom sit.”

      Mietjie loop. ’n Oomblik lank is daar stilte.

      Buite ry vier bruin mense op ’n donkiekar verby, Beaufort se kant toe, die hoewe klip-klop op die teer. Sportief kyk hulle agterna en sê: “Agterpaaie.” Die ander lag weer, ’n binnekring-grap. Hulle begin met ’n gesprek, die stemme harder as wat nodig is, sodat ons – die gehoor – kan luister.

      Emma gee my ’n klein nostalgiese glimlag wat sê ons magiese oomblik is verlore.

      20

      Rabid animals are often characterised by unusual behaviour, which may include attacking humans.

      – The Basics of Tracking: Dangerous Animals

      “Waar was ons?” vra sy sag.

      “Die Swart Swaan,” sê ek en sluk aan my koffie. Dit is ’n boeiende boek waarvan sy my sit en vertel het.

      “Ek was in elk geval omtrent klaar.” Emma skink tee in haar koppie, tel haar laaste broodjie op.

      By die buurtafel kondig Staalgrys aan dat hy ’n Porsche Cayenne gaan koop.

      “Vir wat?” vra Sportief. “Jou Q7 is nog nie ’n jaar oud nie.”

      “Want ek kan.” Hu-hu-hu.

      Staalgrys probeer te hard om die onverskrokke, hardgebakte swerwer te wees, die Hell’s Angel-kloon. Hy’s duidelik welgesteld, maar dié paradering dui op ’n onvergenoegdheid. Seker ’n hoë pos in ’n groot maatskappy, senior bestuur, maar hoofbestuur ontglip hom, bes moontlik omdat sy base die venynige diktator in hom raaksien. Ek raai: Finansiëledienstesektor, fondsbestuurder. Risiko, adrenalien, groot geld, grootheidswaan, verterende ambisie.

      Ek kyk na die ander. Grote is die maklikste om te plaas – hy’s Staalgrys se korporatiewe ondergeskikte, sy waghond. Die ander twee is moeiliker, nie kollegas nie, maar geesgenote. Staalgrys se kliënte, dalk. Speel saam gholf, lang drinkebroer-middagetes, nou en dan ’n skelm draai by Teazers. Al vier van hulle is ryk Afrikaners uit die Kaapse noordelike voorstede, op ’n verbeeldingsvlug in die skoolvakansie, vrou en kinders by die strandhuis op Hermanus geparkeer. Maar die kloof is net te groot tussen wat hulle is en die indruk wat hulle nou wil skep.

      “Jy’t te veel speelgoed,” sê Rot.

      “Heeltyd speeltyd,” sê Grote en kyk na Staalgrys vir goedkeuring.

      “Fokken reg,” kry hy dit.

      En dan begin hulle oor hul besittings praat.

      Mietjie kom aan met die bier en tannie Wilna bedien dit vir hulle. “Los maar die glase,” sê Grote.

      Groot behae as hulle diep uit bottelbekke drink. Staalgrys stamp die bottel se boom hard teen die tafel, vee sy mond af. “Moedersmelk.”

      Emma leun oor haar tee na my toe. “Regressie,” fluister sy. “Hulle is weer studente.”

      Hulle is dose, dink ek.

      “Nog bier,” roep Rot.

      Tannie Wilna dra aan. As sy verbykom, vra ek vir die rekening.

      “Gaan jy nie ’n dubbeldik drink nie?” vra sy verbaas. Die ridders is skielik stil, luister aandagtig.

      “Nie vandag nie, dankie tannie,” sê ek sag.

      “Dubbeldik,” giggel Rotgesig.

      Hu-hu-hu. Drink diep aan die bier.

      “Die botterbroodjies is fantasties,” sê Emma vir tannie Wilna.

      “Dankie, Emmatjie.”

      Emma skink tee in haar koppie.

      “Emmatjie, kom sit by ons,” sê Sportief.

      “Nee wat, sy’s dubbeldun,” sê Rot.

      “Closer the bone …” sê Sportief. Hu-hu-hu.

      “Hy lyk bietjie d-i-i-k,” sê Grote, kyk na my en tik met sy vinger teen sy kop.

      Lemmer se Eerste Strafproseswet: Geen hand in woede gelig op Loxton nie. Ek staan op, loop na die toonbank toe, haal my beursie uit, my rug na hulle gedraai.

      “Hoekom is Jesus nie op Loxton gebore nie?” vra Rot.

      Tannie Wilna frons.

      “Want hulle kon nie een wyse man hier kry nie,” sê Staalgrys.

      Hu-hu-hu.

      “Ook nie ’n virgin nie,” sê Grote. Hu-hu-hu, ’n oktaaf hoër.

      Tannie Wilna skryf ons rekening. Stadig en noukeurig, soos altyd.

      “Ek weet nie, Emmatjie lyk of sy nog ’n virgin kan wees,” sê Staalgrys.

      Ek sit my hande op die toonbank, laat my kop sak, haal asem. Stadig in, stadig uit. Ek weet hoe hulle koppe werk – hulle het na my gekyk, ’n vaal, skraal plattelander gesien, en hulle het dapperheid in hul getalle gevind.

      “Dubbeldun virgin,” sê Sportief.

      “You’re a poet, and you know it,” sê die groot een.

      “Emma, ko’ lê ma’ …” sing Rot. Hu-hu-hu.

      “ … sê ma’ vir jou grê’ma dié omie wil jou bybie hê.”

      Lag uitbundig.

      Ek maak my beursie oop, my vingers reg om geld uit te haal. Ek sien hoe my hande bewe.

      “Toe, Emma, ek sal sag met jou wees,” sê Rot.

      “Of miskien nié,” sê Sportief. Hu-hu-hu.

      Ek hoor Emma se stoel wat terugstoot en ek weet die moeilikheid is hier.

      “Kom,” sê Emma, “kom probeer.”

      “Hôôô …” sê Rot, maar met minder bravade.

      Emma se stem sny soos ’n lem: “Ek wonder wat jou vrou sal sê as sy jou nóú kan sien. En jou kinders …”

      Hulle het nie ’n slim antwoord vir haar nie.

      “Dis vyf-en-neëntig rand,” sê tannie Wilna fluisterend. Vir haar onthalwe moet ons hier uit. Nou.

      “Julle is pateties,” sê Emma.

      Swanger stilte. Ek sit my geld haastig op die toonbank neer en draai om. Emma staan daar voor hulle, haar lyf styfgespan van woede. “Emma …” sê ek, want ek het haar al in aksie gesien, hoe sy nege maande gelede ’n fyn vinger in ’n groot poliesman se bors gedruk het, herhaaldelik en vreesloos.

      Ek sien Staalgrys se gesig, die gif, en ek weet wat hy volgende gaan sê sal alles verander. Ek is op pad na Emma toe as hy vra: “Wie de fok dink jy is jy?”

      Ek klou verbete aan my laaste selfbeheersing. My kop skree: Loop uit.

      “Jý’s