Rohn is ’n 51-jarige veteraan. Daarom staan hy eers by die vensters wat uitkyk na die aanloopbaan en maak seker hy eien Osman wanneer hy van die vliegtuig afstap, op pad na die gebou toe. Rohn memoriseer die gesig, die kleur van die snyerspak (ligbruin), die oopgeknoopte hemp (ligblou), en die klein swart reistas wat Osman op wieletjies saamsleep.
Dan stap hy uit by die gebou, oor die vaal geplaveide paadjie en die sanderige parkeerterrein na waar sy wit Toyota-bakkie staan. Hy klim in, draai die vensters oop, haal die klein verkyker uit die paneelkissie, fokus dit op die ingang en wag.
Sewe minute later sien hy vir Osman uitkom, let op dat die bruin man geen ander bagasie het nie, slegs die reistas. Hou hom dop terwyl hy na Avis se parkeerterrein stap, tot hy buite sig is.
Rohn skakel die bakkie aan en draai dit om sodat hy die regte toegangspad kan dophou.
15
Om nege minute oor vier in die middag rapporteer Quinn aan sy baas dat Rohn se agtervolging van Shahied Latief Osman in Walvisbaai foutloos verloop het. “Osman is met ’n Avis-motor reguit na die hawe toe, waar hy parkeer het voor die kantore van Consolidated Fisheries, in die vissersvloot-gebied. Hy is by dié maatskappy se gebou in om 13:35 en het eers twee uur later, om 15:30, weer uitgekom. Hierna is hy na die Protea Hotel in Sam Nujoma Avenue, waar hy ingeboek het. Rohn het ook ’n kamer daar gekry en sal sake verder dophou. Ons is nou besig om Consolidated Fisheries na te vors en Raj se mense sal môreoggend ’n verslag gereed hê.”
* * *
Om twintig oor vier roep Moeder Killian vir Jessica die Godin in om haar die nuwe opdrag te gee. Wanneer Jessica tien minute later swetsend terugstap na haar werkstasie (“A fucking fishing company in a fucking boondocks harbour town …”), breek sy Milla Strachan se intense konsentrasie, sodat sy haar kop lig vanaf die lywige navorsing oor straatbendes en vir Donald MacFarland sê: “Mac, there’s stuff in here that doesn’t reflect well on the government …”
“So?”
“So do I include it?”
“Of course. Die yskerkoei moet wéét, even if it hurts.”
“O.K.”
* * *
Verslag: Misdaadbendes op die Kaapse Vlakte
Datum: 14 September 2009
Opgestel deur: Milla Strachan en Donald MacFarland
Agtergrond
In die laaste dekade van die apartheidsera was bendebedrywighede in die destydse Kaapprovinsie in groot mate beperk tot die voormalige bruin groepsgebiede, veral in die laer sosioëkonomiese woonbuurte van die Kaapse Vlakte.
Ook die aard en omvang van hul misdade was relatief begrens, hoofsaaklik as gevolg van internasionale isolasie, inperking deur die Groepsgebiedewet, en ’n effektiewe, ervare polisiemag met uitgebreide magte, waaronder aanhouding sonder verhoor, en bedenklike ondervragingsprosedures.
Dié situasie het vroeg in die jare negentig subtiel begin verander, toe die destydse SAP se mannekrag al hoe meer aangewend was vir onderdrukking van politieke onrus. Straatbendes kon asem skep, hul werwing versnel en hul bedrywighede stelselmatig uitbrei, in dié tydperk nog op klein en beperkte skaal.
Dit was egter die oorgang na ’n demokratiese regering, in 1994, en die reuse-veranderings in die land in die daaropvolgende ses jaar, wat aan georganiseerde misdaad die geleentheid gegee het om van tuisnywerheid tot internasionele speler te ontwikkel.
Die volgende faktore is van toepassing:
• Ná 1994: Opening van grense en internasionale toestroming
Afskaffing van streng grensbeheer en Suid-Afrika se hertoetrede tot internasionale handel het ’n toestroming van buitelandse toeriste, valuta en investering tot gevolg gehad, wat ook die vernaamste spelers in transnasionale georganiseerde misdaad ingesluit het. Dit was veral sindikate van Nigerië, Rusland, China, Italië en Colombia wat die geleenthede gesien het, en hulle spoedig in veral Johannesburg, Durban en Kaapstad kom ingrawe het.
Na raming het meer as 100 000 Nigeriese burgers in dié tydperk Suid-Afrika onwettig binnegekom, en hulle hier kom vestig.
• Bestaande infrastruktuur
Die Suid-Afrika van 1994 het, ondanks die land se isolasie, oor uitstekende infrastruktuur beskik – ’n hoogs doeltreffende bankwese, uitstekende telekommunikasienetwerke, en uitgebreide pad-, spoor- en lugverbindings.
Misdaadsindikate het net soveel hierby baatgevind as die buitelandse sake-investering en nuwe besighede.
Daar was boonop reeds ’n basiese struktuur van georganiseerde misdaad, in die vorm van die bendes van die Kaapse Skiereiland. Veral heroïen en kokaïen het in groot hoeveelhede die land begin binnevloei, en ’n bestaande, basiese hanterings-en-verspreidingsnetwerk gevind, hoewel nog ongesofistikeerd.
Ook die smokkel van en handel in ander dwelmmiddels, wapens, ivoor, hout, edelgesteentes, perlemoen en mense het algaande begin toeneem.
• ’n Verswakte polisiediens en moderne wetgewing
Te midde van die instroming van transnasionale misdaadsindikate het die voormalige SAP van 1994 tot 1998 getransformeer in die nuwe Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die gevolge van dié proses sou, ironies genoeg, beskou word as een van die sleutelfaktore in die opkoms van georganiseerde misdaad in veral die Wes-Kaap.
Regstellende aksie, ’n hoë persentasie bedankings en aftredes van senior offisiere, heropleiding en herontplooiing, verandering van strukture en verplasings het nie net ’n massiewe verlies aan ervaring binne polisiegeledere meegebring nie, maar ook die vertroue tussen lede en algemene moraal binne die Diens ernstig geknou. Binnegevegte, frustrasie, dwarstrekery en politiekery het ook daartoe bygedra dat die SAPD sy oog van die georganiseerdemisdaad-bal afgehaal het.
Strafproseswetgewing, geskoei op moderne humane en internasionaal-aanvaarbare menseregte, het ook in dié tyd gevolg, wat wetstoepassers gedwing het om die regte van verdagtes te respekteer, arrestasie-prosedures te verander, en ondervragingstegnieke daadwerklik te hersien (onder meer ’n totale wegbeweeg van die sg. bekentenis-formule – lees fisieke intimidasie – van die apartheidstydperk).
Misdaad-intelligensie het as gevolg hiervan in groot mate in duie gestort, en moes van die grond af herbou word.
Die resultaat was ’n geleentheidsvenster vir georganiseerde misdaad, wat hulle ten volle benut het.
• Pagad, CORE en POCA
Met die polisie lamgelê, het burgerlike weerstand teen misdaad in die bruin gebiede opgevlam. Die vernaamste daarvan was Pagad (People Against Gangsterism and Drugs), die Moslem-drukgroep, wat in 1996 met vigilante-optrede teen bendebase op die Kaapse Vlakte begin het.
Opmarse na dwelmhuise, skietvoorvalle, aanrandings en eliminasie van leiers het bestaande bendes erg in die wiele gery, bevelstrukture verwoes en misdadige bedrywighede dramaties geknou.
Vir die Vlaktebendes was dit evolusionêr – net die sterkste het oorleef. Die oorblywende sindikaatleiers se reaksie was die stigting van die Community Outreach Forum, of CORE. Die naam is doelbewus sinies gekies, en het niks met die gemeenskap te doene gehad nie. Dit was ’n konsolidasie en hergroepering, en, vir die eerste keer in die geskiedenis, ’n samewerkingsooreenkoms van georganiseerde misdaad. Hulle het ’n klein, doeltreffende uitvoerende komitee in die lewe geroep, wat binne ’n kwessie van maande dwelms, geldwassery, smokkelary en internasionale samewerking vaartbelyn gemaak en tot nuwe vlakke van professionaliteit en geheimhouding gevoer het.
Die ander gevolg van Pagad se optrede was dat bendes se topstruktuur uit die bruin gemeenskappe getrek