– The Basics of Tracking: Classification of Signs
“Hel, maar dis darem mooi fietse hier buite – julle ouens is seker skatryk,” kom ’n joviale, diep stem van die deur af. ’n Groot figuur met ’n bekende gesig loop haastig voor my in. Hy knipoog vir my, keer my af. “Lemmer, my ou maat, ek soek jou die hele dorp vol,” sê hy asof hy my goed ken.
Iewers in my agterkop registreer dit wie hy is. Diederik Brand, boer van die distrik. Ek loop om hom, wil by Staalgrys begin, wil hulle seermaak. Grote begin al opstaan.
Emma sien my, kom tot haar sinne. “Lemmer, nee,” sê sy.
Diederik sit ’n breë, ferm hand op my skouer, sy stem sag en paaiend: “Jy wil dit nie aan jouself doen nie.” Hy draai na hulle tafel toe. “Menere, sê vir my wat kos een van daardie goed?” vra hy terwyl hy my deur se kant toe stuur.
Emma sien wat hy wil doen, kom vat my ander arm; haar hand is koel op my vel.
“Tweehonderd-en-twintig,” sê Rot, sy stem hoog van spanning. “En dis sónder die ekstras.”
Diederik en Emma het my by die deur, maar my oë is op Staalgrys – hy sien iets daarin, kyk weg.
“Ongelooflik,” sê Diederik. “Pragtige masjiene.” En dan is ons buite en hy sê sag vir my: “Dis nie wat jy wil hê nie.”
Emma trek hard aan my arm. “Ek moes nie kwaad geword het nie,” sê sy. “Ek moes hulle geïgnoreer het.”
“Nee,” sê ek en beur terug restaurant toe.
“Lemmer!” sê Diederik Brand skerp. Ek kyk na hom, sien sy twee kuiltjies, die gerusstellende glimlag.
Ek gaan staan.
“Luister,” sê hy, “hoe sal jy daarvan hou om die laaste twee swartrenosters in Zimbabwe te red?” Asof dit ’n heeltemal gepaste vraag is.
* * *
Ek weet net twee dinge van Diederik Brand. Hy boer groot tussen die Sakrivier en die Nuweveldberge. En as Loxton se mense sy naam noem, sê hulle: “Ai, dié Diederik,” en dan lag hulle en skud die kop soos oor ’n geliefde maar onnutsige seun.
Ek ken hom van sien, meestal net ’n harige arm wat uit ’n bakkie se venster groet. Nou sit hy en praat in my sitkamer, op die nuwe leerbank – Emma se vredesoffer nadat sy my ou Isuzu op die grondpaddraai net voor Jakhalsdans gerol het.
Ons het saam met hom tot hier gery, hulle al twee wat my paaiend oortuig het die ridders is nie die moeilikheid werd nie. Nou sit ek na Brand en luister, ’n deel van my kop nog in die Rooi Granaat, besig om straf uit te deel.
Hy is ’n groot man in sy vyftigs, die skouers breed, sy gelaat songebrand soos alle Karooboere s’n. Swart-en-grys hare krul oor sy ore en die netjiese kakiehemp se kraag, hy het ’n militêre snor en lagplooitjies langs die ondeunde oë. Sy natuurlike sjarme is van die innemende, selfontkennende soort. Hy sit vooroor, elmboë op die knieë, en vertel sy storie boeiend, behendig en met groot dringendheid. Emma hang aan sy lippe.
“Ons probeer al twee jaar lank om swartrenosters in die hande te kry, maar dis moeilik. Om ’n permit te kry is omtrent onmoontlik – daar’s ’n helse lang waglys, jy moet gekeur word, genoeg grond hê, die regte habitat, jy moet bereid wees om by die teelprogramme betrokke te raak. Die nasionale wildtuine kry voorkeur. Zambië het die afgelope jaar die enigste tien beskikbares gekry, want daar is die goed sedert ’98 as heeltemal uitgesterf beskou. En jou swartrenoster is duur, jy praat van ’n halfmiljoen rand stuk. Maar ons moet plan maak, want hulle was inheems aan hierdie wêreld, destyds. Nou, omdat ek so wyd gaan vra het, weet almal in die bedryf ek soek die diere. En drie weke gelede, toe bel ’n ou my uit Zimbabwe uit, hy was by Zim Natuurbewaring, natuurlik al lankal deur Mugabe se stormtroepe verjaag, maar hy doen nog private safari’s in die Chete. In elk geval, hy bel en hy sê hulle het ’n bul en ’n koei gekry, toevallig, langs die Sebungwe-rivier, so ’n entjie suid van Kariba. Die goed is verskrik, wild, bitter kwaai, jy kan nie naby kom nie. Hy sê as ons nie die goed red nie, gaan hulle in elk geval binnekort vir die horings geskiet word, maar hulle het nie geld vir verdowing en vervoer nie, as ek instaan vir die koste, sal hulle die diere grens toe smokkel, ek moet net daar kom haal. En dit is nie so eenvoudig as wat dit klink nie, want die Sebungwe is 700 km te pad van die SA grens af en hulle moet versigtig wees met al die padblokkades en die goed, so dis ’n helse opoffering van hulle kant af, maar dit gaan vir almal oor die saak …”
Hy hou skielik op met praat, kyk venster se kant toe. Van buite kom die hoë noot van ’n vliegtuigenjin, enkelmotore, al hoe harder. Diederik Brand knik, asof hy dit verwag het.
Ons dorp. Skielik ’n miernes op ’n Saterdagoggend.
“Meneer Brand, wil jy nie koffie hê nie?” gebruik Emma die oomblik. Terwyl ek sit en wonder wat sy storie met my te doen het.
“Diederik, sê vir my Diederik. Dankie, Emma. Nee, die probleem is, daar’s nie tyd nie.” Hy tel die dik swart lêer op wat hy met die inkom op my wakis-koffietafel neergesit het, slaan dit oop, begin in die pak dokumente rondblaai. “Nou, die eerste ding wat ek gedoen het, was om met ons minister se mense te praat, want dit help niks die diere kom tot by die grens maar ek kan hulle nie inbring nie. Omgewingsake is baie simpatiek, ek dink daar’s ook maar skuldgevoelens oor Zim, as jy verstaan wat ek bedoel, maar dis vir hulle ’n tameletjie, want ons gaan nie ’n sertifikaat van oorsprong kry nie, geen uitvoerpermit vir Zim nie, dis smokkel, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie.”
Hy kies ’n dokument, sit dit plegtig op die wakis neer. “Nou, daar’s ’n paar goed wat die deurslag gegee het. Die eerste is die genepoel. In Suid-Afrika is dit maar klein – ons swartrenosters is omtrent almal nou nasate van die KwaZulu- en Kruger-troppe. So die Zim-diere is in daardie aspek goud werd. Ek moes teken dat Natuurbewaring eerste reg op die kalwers het. Die tweede ding is, ek is afgeleë. Net ’n handjievol mense sal weet ek gaan renosters aanhou – waarvan julle nou deel is, ek vra mooi, hou dit tussen ons, want die horings verkoop hier teen twintigduisend dollar per kilogram, so jy praat van meer as sestigduisend dollar vir een horing, dis amper ’n halfmiljoen rand. En die derde ding is, ek het die ruimte en my heinings is geëlektrifiseer. Hier …” Hy tik met sy omvangryke voorvinger op die dokument. “ … is my permit.”
Hy haal nog ’n vel papier uit die lêer uit. “Hier is ’n brief van die direkteur wat bevestig dat hulle ’n uitsondering maak met die invoerpermit, aangesien dit ’n ‘noodsending’ is.” Hy trek die aanhalingstekens met sy twee dik wysvingers.
“Diederik …” sê ek.
“Lemmer, ek weet wat jy gaan vra. Wat het dit met jou te doen? Nou, laat ek vir jou sê. Jy ken vir Lourens le Riche?”
“Ek weet van hom.”
“Lourens is op hierdie oomblik in Musina met Nicola se wildlorrie, vannag laai hy die renosters net oos van Vhembe op die Zim-grens, dan moet hy al die pad hiernatoe ry met ’n vrag wat ’n fortuin werd is, en nou praat ek nie net in geldterme nie. Dis meer as ’n duisend-vyfhonderd kilometer, as daar iets moet gebeur …” Brand kyk betekenisvol na my. Dit neem my ’n rukkie om te snap.
“Jy wil hê ek moet saam met hom ry?”
“Asseblief, ou Lemmer, man,” sê hy asof ons ou vriende is. “Ek betaal jou volprys, sê net wat jou tarief is.”
Emma se uitdrukking sê sy dink ek moet dié edele saak ondersteun.
“Diederik, dis nie so eenvoudig nie …”
“Alles is amptelik, Lemmer, jy hoef oor niks te bekommer nie.”
“Dis nie die probleem nie. Ek is op kontrak. Ek kan nie vryskutwerk doen nie.”
“Hoe bedoel jy?”
“Ek werk vir ’n