Op soek na Tretchikoff. Anita du Preez. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anita du Preez
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795802270
Скачать книгу
die girlfriend se naam is, sal ek seker nooit uitvind nie. Al wat ek kon uitmaak toe die man moes skuins draai om een arm halfpad uit sy mou gewikkel te kry, is dat dit begin met ’n M en eindig met ’n N of iets, in Gotiese krulletters hoog op teen sy gespierde boarm. Ek wou nog mooi kyk, maar ek moes haastig by die deur uit met verdomde voëlhok en al terwyl Naas sy solo lustig afsluit met: “Waar die kráááánse antwoord gee!”

      * * *

      Dit hou my heelnag wakker. Nee. Nie Naas se aanval van musikale patriotisme nie. Ook nie die feit dat ek moes erken dat Thuli reg is oor my hare nie. My weerkaatsing in die bespikkelde badkamerspieël was nogal glad nie onaardig so met die vals blonde haardos nie. Toe ek dit afpluk, kon ek duidelik sien sake was beter toe ek dit opgehad het. Maar dis nie wat my wakker hou nie.

      Ek kan nie slaap nie, want my kop wil nie tot ruste kom nie. Nie voor ek gedink het hoe om die man se ongewenste tatoe in iets anders te omskep nie. Kruis van die kunssinnige. Die geworstel met oplossings vir enigiets wat visueel van aard is. My brein het nog nie die boodskap gekry dat ek klaar is met kuns nie. Die stomme ding is skoon verward.

      Ek boks die kussings in toom en wonder oor meisiename met M’e en N’e. Marina? Nee. Marion? Marian? Die M kan dalk vlerke word? Ja. Maar wat van die res? Nee, liewer die hele naam omskep in ’n oopbek-tier. Hmm … Ek teken dit in my kop. Huh-uh. Eerder ’n swart luiperd? Ja. Dit kan werk. Meer pigment om mee te speel. Of … Liewe genade, Lily! Kan iemand asseblief ’n boodskap na die betrokke lob van my ooraktiewe breintjie stuur?

      Ek skakel die lig aan. Die feit dat dit baie sou gehelp het as ek geweet het wat die meisie se naam is, plus die feit dat dit net mooi niks met my te doen het nie, maak geen verskil nie. Ek gaan maak tee en klim weer in die bed met my tablet.

      Daar is hordes hartseer stories op die internet oor mense met “tattooer’s remorse”, met prentjies by. Wie sou dit nou kon dink? Meneer Depp het dit al ’n tweede keer gedoen, sien ek. Die tatoe van sy troetelnaam vir Amber Heard, SLIM, is summier verander na SCUM. Wys jou net. Wanneer liefde draai, word dinge maklik lelik. Vra my.

      * * *

      Ek word ure later wakker met die tablet op my bors en ’n oplossing in my kop vir die arme tatoeman se probleem. Ek sien dit so duidelik voor my geestesoog dat ek dadelik opspring en my ou sketsboek en ’n paar potlode gaan uitgrawe. Ek weet al uit ondervinding dat mens nie moet wag vir die dag van môre as so ’n briljante idee kom aanklop nie. Want môre kan jy niks onthou nie.

      Ek slaap glad nie verder nie. Toe dit lig word, is ek niks vaak nie en ek maak koffie.

      Gevolglik gebeur daar iets wat nog nie tevore gebeur het nie. Ek daag eerste op by Exotic Tattoos.

      “En dit?” vra Dricus toe hy aangestap kom. “Het jy in die bed gepiepie?”

      “Dis nie nodig om snaaks te wees nie, Dricus. Dis nie aldag wat mens inspirasie kry nie.”

      “O hel,” sê hy terwyl hy oopsluit, “ek is te bang om te vra, maar ek kan sien dit sal nie help nie.”

      “Doringtakkies,” blerts ek dit uit nog voor hy behoorlik sy sit kan kry. “Pure genius, huh? Al moet ek dit self sê?”

      “Doringtakkies?” Ek kan sien Dricus dink hy weet nou iets waaroor hy nog altyd gewonder het.

      “Ja! Só gepas vir die man se situasie!”

      “Ek is bly om te sien jy is uiteindelik weer opgewonde oor iets, Lily, maar waarvan praat ons?”

      “Die man, dommie. Die een met die verkeerde tatoe. Kyk!”

      Ek ruk my sketsboek uit en plak dit voor hom neer. Beduie. “Sien? ’n Hele halfmaan krullerige, dekoratiewe doringtakkies. Die M word ’n takkie vol dorinkies en dit krul so oor die ander letters tot by die N, en dan …”

      “Doringtakkies, Lily? Dis jou idee van genius? Rêrig?” Die kyk in Dricus se oë is gevaarlik naby aan bejammering.

      Ek sak terug op my hurke, my borrel geprik. Ek wat op papier baie meer van kuns behoort te weet as hy. Hier doen ek dit al weer. Soek goedkeuring vir my werk by ’n verdomde man. Nothing has changed, Lily Beekman. Geen wonder jy kon nog nooit jouself laat geld …

      “Wag nou, wag nou,” keer Dricus toe hy my gesig sien. “Dis te veel so op my nugter maag! Almal weet van NFBC. Oukei?”

      “Askies?”

      “No Focus Before Coffee, Lily.”

      En ek dog ek kry ’n toeval, want hy kyk verlangend bo-oor my sketsboek in die kombuisie se rigting. Ek is so uit die veld geslaan dat ek nie dadelik agterkom dat ons mos nou hier besig is om oor ’n waterskeidende grens in my huidige beroep te tree nie. En ek gaan maak vir my baas koffie.

      Dis eers toe sy koffie op is, dat Dricus die durf het om my die waarheid te vertel.

      “Doringtakkies en doringdraad wat om die boarm krul, is omtrent so passé en common soos kan kom, Lily. Sorrie. Buitendien, hy het gister geloop. Net na jy hier uit is met Naas.”

      “O,” sê ek en klap my sketsboek toe. “En het hy gesê wanneer kom hy weer?”

      “Nee. Nie sommer gou nie, soos dit vir my gelyk het. Hy is sonder ’n verdere woord hier uit.”

      “Oor Naas?”

      “Ja, wel … e … die feit dat Mevrou Hello Kitty en Thuli die arme kêrel feitlik oopmond aangestaar het, terwyl Naas die volkslied sing, het moontlik bygedra tot sy besluit om elders te gaan hulp soek. Onder meer.”

      Ek kry skaam. Net waar ek gaan, maak ek amok.

      “Sorrie, Dricus,” sê ek, “nog koffie?”

      Ek is dankbaar toe hy knik, net toe die dreamcatcher die aankoms van ’n bestaande kliënt van hom aankondig en ek ’n rede het om na die kombuis te vlug. Voor ek dié ook verwilder.

      * * *

      “By the way, wat was die naam op die man se arm wat hy wou laat afhaal?” vra ek later toe ons weer alleen is.

      “Not a clue,” sê Dricus, “alles was so deurmekaar, ek het nooit die ou se tatoe mooi onder oë gekry nie. Iets met ’n M? Hoekom pla dit jou so? Dis nie die eerste keer dat iemand ’n tatoe wil laat verander nie.”

      Ek trek my skouers op. “Wel, dis mý eerste keer.”

      “Hmm … dalk omdat hy nogal ’n dish is? Of hoe?”

      Ek vervies my. “Nee, Dricus. Ek sou dieselfde gevoel het as dit ’n vrou was.”

      “O, rêrig? Nou hoekom het jy dan heelnag daaroor gewonder?”

      “Want dis hoe my kop werk. As so iets my pla. Ek wil dit oplos. Klaarmaak. Soos ’n blokkiesraaisel of ’n puzzle.”

      “Toemaar wat,” sê Dricus, “vergeet nou maar daarvan. Ek twyfel of ons ooit weer van hom sal hoor.”

      Die dreamcatcher klingel weer.

      “Hoekom lyk julle so? Is iets fout?” vra Thuli in die deur.

      “Nee, net Lily wat nog steeds worry oor gister se ou met die verkeerde tatoe.”

      “O ja! Shame.”

      “Ek wonder maar net wat die naam op sy arm was. Omdat ek …”

      “Uh-huh.”

      Ek hou vol: “Weet jy wat dit was? Marion? Marlin? Ek kon nie mooi sien nie en ek wou nie stáár soos sekere mense nie.”

      “Jip.” Sy pluk haar selfoon uit haar pienk stretch denim se agtersakkie en hou dit na my toe uit. “Ek het ook palpitations gekry tot ek kans gehad het om dit mooi te bekyk.”

      Mooi duidelike foto. Die digte bos hare. Die trotse profiel. Die tatoe net-net sigbaar waar die hemp afgeskuif hang oor een skouer.

      MARTIN. In daardie Gotiese krulletters.

      Thuli rol haar oë.

      “Pity,”