Op soek na Tretchikoff. Anita du Preez. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anita du Preez
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795802270
Скачать книгу
dit ook. Vandat Moira uitgevind het dat hierdie ou wat die ander helfte van die huis by oom Heydenrych huur, tradisionele bronsgoggas of -voëls en -goeters giet, kry sy nie end nie. Goeters wat glo by al die topgalerye in Europa in aanvraag is, sê sy. Wat weet.

      En Engela is nie ver agter nie. Nee, sy stem volmondig saam met Moira.

      Ek haal melk uit die vintage pepermentgroen yskas wat my met eindelose vreugde vul omdat dit lyk soos die een wat my ma-hulle op die plaas gehad het.

      Ja, Engela. Met haar spierwit Smeg (wie op aarde koop ’n wít Smeg?) en haar yslike pienk geraamde olieverfskildery deur die een of ander waningeligte Sondag-painter van ’n enkele, verlore pienk kosmos op ’n tamaai pienk agtergrond wat pas by haar Biggie Best bedspread. Pienk. Maar dis fine met my. Jou goed is jou goed. Ek glo in die demokrasie van dekor. Ék het nie ’n probleem nie. Dis hulle wat met my ’n probleem het. En met my goed. Oftewel … op die oomblik met oom Heydenrych se oorlede Olga se goed.

      Waarmee ek wél ’n probleem het, is dat nie een van die twee wat my ken, my werklik hóór nie. Nie wil begryp dat ná alles wat ek moes insluk en opvreet, veral in die naam van die hogere Kuns, ek nie juis meer ’n groot fan is nie. Nee. Nie van Kuns nie. En verál nie van sogenaamde ware kunstenaars nie. Dat dit een van die redes is waarom ek so mal is oor Tretchikoff. Waarom ek my van jongs af verlustig het in die feit dat hy geskilder het net wat en hoe hy wou, en op pad bank toe die middelvinger gelig het vir diegene wat nie sy werk in hulle steriele galerye wou hang nie.

      Dalk moet ek my verf-jean uitsmyt en net môre vir my ’n swart Dada-T-hemp maak met F*K Kuns in sierletters op die bors. Hulle kan tog lees?

      Maar ek weet voor my siel Moira sal dit bloot prettig en ironies vind. Oulik, eksentriek. ’n Foto’tjie neem vir Facebook. Ha-ha! Kyk, ek en my crazy kunsvriendin. Dáár is dit mos voordelig om met ’n kunstenaar bevriend te wees. Dit laat jou interessanter voorkom in die virtuele wêreld. Solank jy net nie met ’n werklike een se geite opgeskeep hoef te sit nie.

      En Engela? Sy sal heel moontlik haar oë rol en vra of daar nie eerder Drama Queen op die T-hemp moet staan nie. En dan vir my ’n Disprin gaan opklits. Dieselle Engela wat heeltyd stuipe wil kry oor my deurmekaar laaie en my uiters doeltreffende boekhousisteem van gekleurde wasgoedpennetjies. Ha! Sy met haar graad in finansies, wat by SARS werk en dan geld uit haar man se beursie moet steel? En Moira? I kid you not, Moira het ’n staandertjie by haar stoof om haar resepteboek regop te hou. En dan sê hulle ék is weird?

      Moira was altyd die wilde een en ek meestal die goeie kind. Ek het my oomblikke gehad op skool, ja, maar kon nooit die hoogtes bereik waar Engela rondgevlieg het nie. Daar was redes. En iewers het iets omgeswaai toe ek anderpad gekyk het. En hier is ek nou.

      So hoekom hulle nog by my kuier, weet die duiwel alleen, want ek is nie eens gaaf nie en ek stof ook nie af nie. Maar hulle kom. Vir naweke. Byna meer as destyds toe hulle vir koshuis-uitnaweke saam plaas toe gegaan het. Nie na hulle eie ma’s se huise nie. Nee. Strandfontein toe. Al het almal geweet dit was oor Aron en nie oor ons plaas ’n strand én ’n fontein gehad het nie.

      My ouer broer Aron. Ajay, soos almal behalwe ek en my ma hom genoem het. Op wie hulle albei smoorverlief was en om wie se aandag hulle vieslik meegeding het. Dis iets wat ek goed verstaan het, al het dit my net soveel as vir hom geïrriteer, want ek was dan self so lief vir hom. My groot broer. My hero.

      Dis ook waarom ek hulle nooit die waarheid oor hom kon vertel nie. Dit en ’n paar ander redes. Soos dat sy agteraf grappies oor die twee se manewales een van die kosbare dinge was wat Aron net met my gedeel het. En omdat mens net mooi goed van die dooies wil onthou.

      Ja. Ons kom ’n lang pad. Ek en Moira en Engela. Die enigste twee wat oorgebly het toe ek en Eric nou uitmekaar is. Die ander kon nie besluit watter kant toe nie, en het later bloot weggebly. Die twee maak behoorlik beurte sedert ek van verlede September af hier in Vishoek bly. ’n Mens wil nie ondankbaar wees nie, en ja, ek is lief vir hulle. Hulle is my go-to people. Goed of sleg, dag of nag. Dis vir hulle wat ek sal bel.

      Maar die duiwel weet wat so lekker is hier by mý, wat dan so eienaardig is.

      “Haai, soeka,” mompel Naas onder sy lappie.

      Ja-nee wat, Lilian, sê ek vir myself en rangskik die doilie oor die getjipte suikerpot sonder deksel, hou tog op met mor. Ek werk my partymaal so onnodig op. Dis net … behalwe oom Heydenrych, is Naas omtrent al wat ek deesdae nog kan verduur. Omdat niks wat een van hulle twee kwytraak in die minste probeer sin of saak maak nie. Soos die lewe.

      Ek sit die melk terug in die ou yskas en klap die deur effens te hard toe. Die paar glas-melkbottels uit ’n vergange era wat bo-op staan, rittel. Ek hoor hoe Naas fladder na die hoogste swaaitjie in sy hok en ek gaan loer om te sien of hy oukei is. Sy koppie peul onder sy vlerkvere uit en hy eyeball my vies.

      “Red nou ’n volk!” kras hy vakerig. So kompleet met sy oubaas Heydenrych se stem wanneer hy saans die slegte nuus kyk, dat ek skoon tranerig voel. Oor oom Heydenrych. Wat sy huis, sy Olga se mooi meubels en sy papegaai moes opgee. En sy Tretchikoffs. Net omdat hy oud geword het en nie meer mooi kan onthou nie.

      Ek trek die lappie weer netjies haaks oor Naas se hokkie, skakel die lig af en vat my tee. Dalk moet ek ook maar gaan inkruip. Môre vroeg maak ek ’n draai by oom Heydenrych. Net om nog ’n slag dankie te sê dat ek hier kan bly. Tot tyd en wyl.

      Natuurlik het ek vergeet om suiker in te gooi. Natuurlik kom ek dit eers agter toe ek ál drie die verekussings net reg agter my rug geskik het en besluit het die lewe is dalk nie heeltemal so bitter nie. Al is ’n mens ’n geskeide vrou met issues, sonder geld in ’n geleende bed en met ’n tydelike werk by Vishoek se tatoewinkel.

      Ek oorweeg dit om die tee net so af te sluk, besluit daarteen en slof weer kombuis toe. Naas se pootjies krabbel geïrriteerd oor my lawaai, en raak weer stil.

      Ek is net op pad met vars tee toe ek dit hoor. Iewers vroetel iemand. En dis sommer naby. En ek is vroualleen. Ek staan doodstil en spits my ore. Party van die knippe is so verroes dat ek nie al die vensters behoorlik dig kan trek nie, en die diefwering is maar petieterig. Ek het gehoor deesdae se skelms buig of ruk dit sommerso uit die muur as hulle sin kry om by jou huis in te kom.

      Ja-nee, die geluide kom van my kamer se kant af. Ek loop voetjie-voetjie soontoe. Daar is ’n dowwe stampgeluid en ek hoor iets skraap. En … ja … iemand luister na Leonard Cohen.

      Dis die buurman, besef ek. Die een aan die ander kant van die muur. Engela en Moira se “regte” kunstenaar. Ha. Gelukkig het ek dié vreeslike famous persoon nog nooit gesien of van gehoor nie. Blykbaar was hy nog heeltyd weg. Blykbaar is hy nou terug?

      “Hallelujah …” sing Leonard Cohen al hoe harder soos ek met my teekoppie nader beweeg. Die klank kom deur die stukkende plek, agter The Dying Swan wat bo die bed se kopstuk hang.

      Oh well, hallelujah to you too, dink ek half vererg, maar tog effens minder allenig toe ek die duvet oor my bene vou en ’n sluk van my warm, soet tee neem.

      Daar is actually nog heelwat goed wat ek môre vir oom Heydenrych wil vra, besluit ek. Soos wie nou eintlik die grootste Tretchikoff fan was – hy of tannie Olga? En ja, presies wie en wat is hierdie man anderkant my muur?

      2

      “So wie het jóú Weet-Bix afgevat?” vra my baas, Dricus, toe ek die volgende oggend selfs later as gewoonlik by Exotic Tattoos inloop.

      Nou laat ek sommer heel eerste verduidelik: Daar is absoluut niks eksoties aan Dricus of sy “studio” nie. Nee. Die plek skreeu cheap and nasty met sy ylerige dekor. Maar dit pla my nie. Inteendeel. Ek vind dit eerliker as al die pretensieuse kunsgalerye waarmee ek die afgelope dekade te doene gehad het. Veral die laaste een. O vrek. Ek kan my eintlik verlekker in die driedubbele angsaanval wat Veronique Markgraaff en haar man, Kurt, eienaars van Galerie Zeitgeist, sou kry ten aanskoue van Dricus se paar verbleikte plakkate teen die mure en die verlepte monsterplant in die vensterbank.

      Dricus self is ’n boerseun van Phalaborwa wat nie wou boer nie en besluit het hy wil liewer met stensils speel en permanente prentjies op niksvermoedende