My kop draai, maar ek is op voor jy kan sê “eina” en beweeg mank-mank eenkant toe. Die palm van my regterhand brand soos vuur waar ek gekeer het dat my kop die sement tref. Ek kom nie ver met my seer skeenbeen nie en gaan sit eers op die trappie om dit te vryf.
“Auw, auw,” sê ek, “dis sweerlik af.”
“Dit voel so,” kreun hy vanuit die stoel. Blykbaar kan hy nie op nie. Hy is vooroor gebuig en vryf met albei hande sy laerug. Sy blonde hare hang wild om sy gesig.
Ek hobbel nader. “Laat ek kyk.”
“Oor my dooie liggaam,” knor hy.
“Laat ek jou dan net ophelp.” Ek bied my linkerhand aan.
“Liewer nie!” Hy vryf oordrewe aan sy stuitjie, gryp albei die stoel se armleunings vas en beur met ’n vertrekte gesig orent. Kan die blikskottel nie sien ek probeer hier ekstra nice wees terwyl ek self in pyn is nie? Nee. Soek na sy keps waar dit op die gras geval het, en gluur my aan.
En dis toe dat ek hom herken. My gedagtes fladder op soek na uitkoms soos ’n kwikkie wat by ’n kerksaal ingevlieg het. Want dis hy. Die blonde man wat by Dricus se ateljee was. Met die tatoe waarvan hy wou ontslae raak.
En op die oomblik maak dit vir my saak. Dat ek, Lilian Beekman, so laag gedaal het dat ek gedink het dis ’n uiters kreatiewe idee om die naam op hierdie man, wat volgens almal heelwat weet van kuns en ontwerp, se biseps in doringdraad te omskep? Ek kan net hoop dat hy en almal anders in die kunswêreld nooit daarvan te hore kom nie. My reputasie het nog nooit iets te make gehad met ’n gebrek aan kwaliteit wat my werk betref nie, so hierdie is nou een skande wat ek nie bekend wil maak nie. Ek is op die plek naar. En supernugter, en al wat ek wil doen, is wegkom.
Hy draai na my. “Is jy oukei?”
Nee. Ek is glad nie oukei nie, wil ek vir hom sê. Sou jy oukei wees as jy ek was, huh?
“Ja wat,” antwoord ek, “ek dink ek bloei op ’n paar plekke, maar dis fine, dankie.”
Hy vat my stewig aan die arm. “Nou kom,” sê hy, “ek het ’n noodhulpkissie daar by my.”
“Liewer nie.” Ek draai weg uit sy greep, tel my handsak op en begin my huissleutel soek. Vergeet skoon ek is nie ek nie. Ek kom kuier mos net by sy buurvrou. Onthou eers van die leuen toe ek my sleutels raakvat.
“Jong, laat ek ten minste solank die plekke ontsmet.”
Ek skud my kop byna van my nek af. Wys jou, mens moenie lieg nie. Liegstories kry kleintjies en hier staan ek nou met die baksel. Voor hierdie man. Kan nie by my eie huis in nie.
Hy wys: “Daar’s bloed aan jou been. Laat ek net die wond skoonmaak.”
Ek kyk af. Ja-nee. Net mooi daar waar die fashionable skeur sit in my nuwe jean wat Thuli my ingepraat het om te koop, het die rand van die trappie my lekker beetgekry. My maag draai oor die bloederige streep. En my regterhand klop van die pyn.
“Regtig,” sê hy, “ek ken van.”
“Van wat?”
“Van noodhulp. Ek help op gereelde basis hier onder by die dierekliniek, so ek -”
Ek voel hoe raak my wange aan die brand. “Ag rêrig,” sê ek, “in daai geval sal ek ’n skiep vat. Dankie, hoor?”
Ek staan pennetjieregop met my handsak teen my maag gedruk. Wens hy wil nou net loop.
“Aangesien ek nou nie heeltemal ’n beseerde koei is nie, oukei?” voeg ek by. Onnodig skerp. Hy hoef nie te weet ek wil nie aan gevat wees nie.
Hy gee my ’n vuil kyk. “Luister, ek het regtig nie tyd hiervoor nie. My rug pyn ’n helse hou. Sit jy dan nou hier en wag tot daai vroumens eendag huis toe kom.”
Toe loop hy stokkerig om na sy kant van die huis. En toe besef ek waarom hy my nie herken het nie. Ek het mos die dag Thuli se bleddie pruik opgehad. Ek sou myself nie herken het nie.
Ek wag net tot sy voordeur toegaan, toe sluit ek haastig oop. Naas sit en slaap op sy hoogste swaaitjie en ek los hom net so en gaan tap vir my ’n diep bad. Waterbeperkings en al. Baai my geskraapte handpalm en seer ego in die warm watertjies. Dankie vader die buurman is nie my tipe nie. Wel … eintlik is ek nie sýne nie. So. Gelukkig lyk dit nie of ons spoedig mekaar gaan oornooi vir teetjies of enigiets anders nie. Hy het after all nie ’n clue wie ek is nie. Ook maar goed so. Hy sal weldra uitvind wanneer ek hom aanvat oor sy kat.
En tog. Iets het vanaand gebeur. Iets het verskuif. Ek was lanklaas in die minste gepla oor die feit dat ek my rug op kuns gedraai het. Omdat ek my vermoë om kreatief te dink doodgesmoor het ná wat gebeur het. Tot netnou. Toe dit my opnuut getref het hoe skandalig dit is vir iemand soos ek om met so ’n powere ontwerp tevrede te gewees het. En dit vir so ’n man? Nee. Nie net tevrede nie. Who are you kidding, Lilian? Jy het jou nie daaroor geskaam nie. Jy was opgewonde. Jy het jou doringdraad-prentjie onder Dricus se neus gaan rondswaai.
Ek word van voor af skaam en besluit dat dit nie my job is om Dricus in te lig dat die man wat die dag in sy studio was een en dieselfde persoon as my kunstenaar-buurman is nie. Hy moet dit maar eendag self uitfigure.
Ek lê lank so. Draai later die warm kraan weer oop met my toon en sien hoe my skeenbeen al klaar blou verkleur. Effense swelsel ook. En ek dink. Nooit ’n goeie ding vir my om te doen nie, om te veel te dink. Want dink kom vir my dikwels ná doen. En as ek eers begin dink oor wát ek gedoen het, is ek gewoonlik spyt. Oor wat ek gedoen het én oor die feit dat ek daaroor dink.
Dis ’n goeie ding dat ’n mens nie jou toekoms kan sien nie, of hoe? lê ek en dink. Kyk, aan die verlede kan jy niks verander nie, maar sê nou jy kon ’n voorskou kry van jou toekoms. Die goed wat nog met jou gáán gebeur. Soos ’n lokfilm vir ’n blockbuster movie. Ja, ek weet dat hulle al die beste tonele vir jou wys om jou lus te maak, maar wat as jy in jou geestesoog ’n ongeredigeerde voorskou van jou lewe kon sien? Hè? Daar sou beslis ’n hele paar tonele in myne wees waar ek “Cut!” sou skree.
Een fout na die ander … ’n Mens kan actually moeg raak daarvan. Hang af hoe ver terug jy wil rewind …
Ek dink definitief groot stukke van die footage van my volwasse lewe, sedert ek vol hoop en idees omtrent myself uit die kunsskool getrippel het, sal op die virtuele cutting floor bly lê, as ek ’n sê in die saak kon hê.
Soos die aand van my laaste uitstalling. Toe ek feitlik die plek afgebrand het.
Of die oggend toe ek op Morning Live voor die hele nasie skandes gemaak het?
Om van die koerantopskrifte ná elk van my misstappe nie eens te praat nie.
Soos die oggend toe ek met Eric langs my in die bed wakker geword het in daai steriele huis in Constantia, en finaal geweet het hier moes ek nooit gewees het nie. Soos die dag toe ek geweet het iemand soos ek moes nooit die werk by daai flippen posh galery aanvaar het nie. Omdat dit uiteindelik tot my deurgedring het dat die motivering vir my aanstelling met Kurt Markgraaff se waardering van my meer persoonlike bates te make gehad het, en nie, soos ek geglo het, met dié van my kuns nie.
Daar is nog heelwat.
Of ek Vishoek toe sou gekom het as ek in die toekoms kon sien? Miskien nie. Ek het dit immers glad nie beplan nie. Aan die begin het die plek geruik en gevoel soos ’n vreemde land waarheen ek gedeporteer is, maar dit raak beter. Hoe weet mens?
Maar dis blykbaar nog nie verby nie. Ek sal geld betaal om die horlosie terug te draai na waar ek nou die aand my sketsblok en potlode gaan haal het om doringdraad te ontwerp. En vra vir ’n reshoot waarin ek met iets ordentliks opkom. Ja, right, Lilian. Dit gaan nou nie gebeur nie, reg?
Ek tap nog warm water in.