“Meneer, daar’s ’n sl-… ’n slang,” sê sy stotterend en wys met ’n bewerige vinger na die laai.
Die hoof en onderhoof beweeg versigtig nader en loer na die laai wat halfoop staan. Hulle deins albei effens terug. Hulle sien die slang duidelik.
“Hoe op aarde kom dit daar in die laai?” vra die hoof half vir homself. En dan gebeur presies waarvoor Saartjie bang was. Die hoof dink daaraan dat daar vanoggend ’n slang op die bus ook was – die bus waarin Lynnekom se kinders skool toe gery het. Hy is dadelik agterdogtig.
Die hoof gee nou ’n tree nader en kyk aandagtig na die slang.
“Meneer moet oppas!” waarsku die onderhoof.
Die hoof antwoord nie. Hy gee nog ’n tree nader en sien duidelik dit is maar net ’n speelding.
Hy steek sy hand na die laai toe uit.
“Oppas, Meneer!” waarsku die onderhoof weer. Hy weet mos nie dit is nie ’n regte slang nie. Maar die hoof pas nie op nie. Hy pluk die rubberslang uit die laai en gooi dit op die tafel neer.
Die slangetjie tril so ’n paar keer en kom dan tot stilstand. Almal kan nou duidelik sien dit is maar net ’n speelding en nie ’n regte slang nie. Juffrou Necker stoot haar bolla effens reg en gee ’n gemaakte laggie. Sy is vies vir haarself dat iemand haar so ’n simpel poets kon gebak het.
Die gekrulde rubberslangetjie met die koppie wat so regop staan, lyk heeltemal onskuldig en glad nie gevaarlik nie. Die kinders begin nou skater van die lag. Hulle het ’n poets lanklaas so geniet. “Bly stil!” bulder die hoof en almal is dadelik tjoepstil. Jy kan skielik ’n speld in die klas hoor val.
Die hoof se oë dwaal oor die klas. Saartjie vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg. “O gonna,” fluister sy vir die tweede keer.
Skielik slaan die hoof hard met sy hand op die tafel – so hard dat die kinders wip soos hulle skrik en die slangetjie tril. Die hoof bulder: “Aan wie behoort hierdie ding?” en wys met sy vinger na die rubberslang.
Saartjie sit doodstil. ’n Hele paar kinders loer vlugtig na haar. Sy staan nie dadelik op nie. Die dekselse ding behoort mos nie aan haar nie. Dit behoort eintlik aan Anna totdat Apie verjaar, dan sal dit aan hom behoort.
“Wie het die ding hier in die laai gesit?” vra die hoof ná ’n oomblik.
Die vraag is nou effens anders gestel. Saartjie sal skuld moet beken. Sy sluk, vee weer vinnig met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg en staan dan op.
“Is jy die skuldige, Saartjie?” Die hoof gluur kwaai van onder sy welige wenkbroue na haar.
“Ja, Meneer,” sê Saartjie. “Maar dit was sommer net ’n grappie, Meneer.”
“Net ’n grappie! Die hele skool is omvergewerp deur die lawaai uit hierdie klaskamer en juffrou Necker kon haar doodgeskrik het – maar jy noem dit ’n grappie!”
Saartjie antwoord nie. Sy glo nie die hoof verwag ’n antwoord op hierdie uitbarsting nie. En wat kan sy nou eintlik antwoord? Sy kan miskien sê sy het nie geweet haar grappie sal sulke ernstige gevolge hê en dat almal so ’n bohaai daaroor gaan opskop nie, maar netnou klim die hoof dan nog verder in haar keel af.
Die skoolhoof is egter nog lank nie klaar met haar nie.
“Saartjie!” sê hy skielik en sy stem is nou ekstra kil en koud. Saartjie sluk. Sy ken die hoof. Hulle almal ken hom goed. As sy stem so kil en koud klink, is hy op sy gevaarlikste.
“Ja, Meneer?”
“Het jy vanoggend in die bus amok met die slang gemaak?”
“Ja, Meneer.” Saartjie sug swaar.
“En dit was die rede waarom julle Lynnekommers laat was vir skool?”
“Ja, Meneer,” sê Saartjie weer gedwee, en sug weer swaar.
“Dit was uiters onverantwoordelik van jou en jy moet daarvoor gestraf word.”
Dié keer sug Saartjie net. Sy sê nie weer “Ja, Meneer” nie. Dit is mos heeltemal onnodig.
Die hoof spreek nou haar straf uit. Eerstens lê hy beslag op die slangetjie, en tweedens moet Saartjie vanmiddag twee uur lank skoolsit. Juffrou Necker sal vir haar werk gee wat haar so lank besig sal hou.
“Verstaan jy, Saartjie?”
“Ja, Meneer.”
Sy wil eers vra of sy nie liewer twee middae twee uur op ’n slag kan skoolsit en die slangetjie in ruil daarvoor kan terugkry nie, maar dan besluit Saartjie om dit eerder maar te los. Sy is seker dit sal tog nie help nie. Sy wonder net wat op aarde Anna nou gaan doen. Hoe gaan sy vir Apie ’n present gee wat nie volledig is nie? Hy sal mos dadelik sien daar was iets in daardie een afskortinkie van die houtkissie, en daardie iets is nou nie meer daar nie.
Die hoof en die onderhoof stap by die vertrek uit.
“Carry on with your work,” sê juffrou Necker vir die klas. Sy kyk kwaai na Saartjie. As die hoof die meisie nie gestraf het nie, sou sy dit gedoen het – en haar straf sou baie erger gewees het.
Die eerste kans wat Anna kry, fluister sy vir Saartjie: “Ek het jou mos gesê!”
“Ag, Anna,” brom Saartjie, “gaan jy nou weer dae aanmekaar by my kerm met: ‘Ek het jou mos gesê’?”
“Maar wat gaan ons doen?” vra Anna bekommerd.
Saartjie weet hierdie vraag is gemik op Apie se geskenk wat nou nie meer volledig is nie.
“Ons sal later daaroor praat en ’n plan maak,” fluister sy vir Anna.
Saartjie kyk een of twee keer om na Galpil, trek haar neus op en draai haar kop dan weer vinnig vorentoe. Dit is om vir hom te wys sy is baie kwaad vir hom.
Galpil wonder hoekom die “ou perd” so kwaad is. Sy het eerste begin deur hom ’n streep te trek. En sy het die slangetjie mos daar in die laai gesit sodat Ou Nukke moes skrik as sy dit oopmaak. Hoe kan sy nou kwaad wees omdat hy aspris ’n uitveër gevra het sodat Ou Nukke in die laai moes kyk? Galpil skud sy kop. Meisies is darem maar snaakse goed.
Toe die klok vir die einde van hierdie opwindende periode lui, roep juffrou Necker Saartjie na die tafel toe en gee vir haar genoeg werk om haar twee uur lank besig te hou. Sy moet dit hier in die klaskamer kom doen. Galpil sal ook hier wees om strafwerk te doen. Maar hy hoef net ’n uur te bly.
Pouse gesels die Drie Muskiete oor wat hulle gaan doen en watter plan hulle kan maak om Apie nie te laat agterkom sy present is onvolledig nie. Lina stel voor dat Anna die foppotlood en woer-woer net eenvoudig as een pakkie moet toedraai en dit nie in die houtkissie sit nie.
“Maar die kissie is deel van die present,” hou Anna vol, “en dis ’n mooi ding.”
“Ek sê jou wat doen ons,” sê Saartjie. “Ons prop mooi gekleurde papier in die afskortinkie waar die slang moes gewees het. Apie sal nooit weet daar moes nog ’n speelding daarin gewees het nie. Hy sal dink jy het dit maar so by die winkel gekoop.”
Anna stem in om dit te doen, al twyfel sy sterk dat Apie dit sal glo. As daar drie afskortinkies is, moet daar mos drie goed wees en nie net twee met een afskortinkie vol papier nie. Maar nou ja, sy hoop maar vir die beste.
Aan die einde van die skooldag leen Anna en Lina vir Saartjie geld om lekkers en ’n koeldrank by die snoepwinkel te koop. Dit sal haar middagete wees. Anna sal gou by die Baumanns langs gaan en vir haar ma sê Saartjie moet by die skool bly en kan eers later huis toe kom.
Saartjie loop kouend na die klaskamer waar sy die strafwerk moet gaan doen. Sy is nie ontevrede oor die straf nie – sy weet sy verdien dit – maar sy is vies dat sy so onnosel was om die slangetjie in juffrou Necker se laai