Vandag is dit die mat in haar en haar ma se kamer. Sy het dit met ’n gesteun uit die kliphuisie en by die klein agterdeur uit gesleep. Maar sy kla nie. In hierdie huis moet almal help om te doen wat gedoen moet word.
Haar ma is winkel toe om die su böreği – pasteie propvol kaas en spinasie – en die bakke börek – goudbruin deegrolle, volgestop met maalvleis – te gaan aflewer. Die vrouens in hulle familie wonder jaloers oor haar ma se maalvleisresep, maar haar ma kyk anderpad as haar maalvleisresep ter sprake kom. Hoor niks, sê niks.
Meryem glimlag. Haar ma tog! En hoe het hulle lewe nie die afgelope twee jaar verander vandat haar pa weg is nie. Haar ma is soos iemand wat nie links of regs kyk nie, beur net doelgerig vorentoe teen die wind in. Hoor niks nie, sien niks nie, soos met haar maalvleisresep.
Sy en haar ma het tot in die oggendure in die klein kombuisie gespook om al die kos gemaak te kry. Dis elke aand se ding.
Azir, haar neef, kom laai haar ma elke oggend met sy taxi op en karwei haar en die vele bakke wat op die kar se agtersitplek en in die kattebak gelaai word, na die winkel naby die Sultanahmet-plein waar dit aan die toeriste en die plaaslike inwoners verkoop word. “Party eet sommer so terwyl hulle loop en rondkyk, Meryem,” vertel haar ma wanneer hulle saans deeg knie in die kombuis vir die volgende dag se sarsie. Die toeriste is mál oor haar su böreği, sê haar ma dan trots. Hulle kom terug om weer te koop.
Haar ma werk ook bedags in die winkel se kombuis en kom eers by die huis wanneer dit begin donker word en Azir haar weer met die leë bakke by die huis kom aflaai.
Dis Meryem se werk om al die leë bakke te was in die klein sinkopwasbak op die agterstoep. Sahib is te moeg om hulle met die voorbereiding van die kos vir die volgende dag te help wanneer hy laat van die speserymark af kom.
Sahib moes baklei vir dié staanplek nadat hulle pa weg is. “’n Seun!” het van die mans in die speserymark onthuts gemompel. Maar Sahib het gemaak of hy nie hoor nie. “My pa se plek is my pa se plek,” het hy net gesê. En aangehou totdat hy sy staan mooi tussen die ouer mans gekry het. En nou is hy miskien een van hulle, vermoed Sahib. “Meryem, hulle skinder oor als met my. Tot oor die Galatasaray wat so vrek sleg gespeel het sover vanjaar.”
Meryem glimlag. Sahib se sokkerspan, Galatasaray. Haar broer met die pikswart oë.
Wanneer hy saans moeg by die huis kom en sy motorfiets by die syhek van die agterplaas instoot, gaan sit hy kruisbeen op die mat in die voorkamer met ’n glas granaattee langs hom op die tafel. Hy pak die munte en geldnote in hopies en tel die dag se wins. Dan lyk hy vir Meryem soos sy haar pa onthou: die frons op die voorkop, daai trek om die mond. Kyk, hulle vat nie nonsens nie. Jy moenie eens probeer nie.
Sahib tel die hopies altyd ’n tweede keer, net om seker te maak. Dan sit hy die munte in die blou lapsak, vou dit dubbel en gaan bêre dit onder die matras in sy kamer om die volgende dag bank toe te vat.
Wanneer die blou sak veilig onder sy matras is, tap Sahib water in die sinkbad in die agterplaas. Hy maak water warm in die groot kastrol op die stoof. As dit ’n baie lang dag was, maak hy tot drie groot kastrolle op die stoof warm. Trek die gordyn wat oor die wasgoeddraad hang toe om hom van die res van die huishouding af te skort.
Sahib lê eers lank doodstil. Jy hoor nie ’n geluid nie. Meryem weet hy lê in die warm water en dink. En hy maak planne. Sy weet nie hoe Sahib se planne werk nie; hy praat nie daaroor nie.
Wanneer hy klaar geëet het, gaan lê Sahib op die bed in sy kamertjie langs die agterstoep. Hy lê gewoonlik met sy hande agter sy kop na die plafon en staar voordat hy aan die slaap raak. Sy loer soms versigtig om die deur.
Dan wonder sy waar sy met ’n glas tee op die agterstoeptrappie sit en na die vaal sterre in die lug staar: Wat gaan van Sahib word wat nie skool klaargemaak het nie en nogal kwaad is vir die wêreld? Gaan hy vir altyd en altyd op hulle pa se plek in die speserymark kan staan en praatjies maak met die ryk toeriste van baie lande waar nie een van hulle twee waarskynlik ooit hulle voete sal sit nie?
Dié goed bedink Meryem terwyl sy die mat met ’n houtstaaf klop. Die stof wat uit die mat die lug in opstyg, lyk vir haar na blinkerige liggies. Die stoffies lyk fyn, amper onsigbaar as jy nie mooi kyk nie, soos die vuurvliegies wat sy eenkeer gesien het toe hulle op die platteland by familie was.
Sy sleep later die mat terug na sy plek binne die huis. Steun toe sy orent kom. Besluit om deeg aan te maak. Sy sal vanaand pide vir haar broer en haar ma maak. Daar’s nog maalvleis en spinasie van gisteraand se gewerskaf in die kombuis oor. En daar is nog baie van die homp börekkaas oor wat Sahib by sy buurman by die speserymark geruil het vir ’n sak orego en ’n sak komyn.
Pide is haar broer se gunsteling. Dit proe glo soos hulle pizza, sê die Amerikaners volgens Sahib. Sy kan vir ure na sy stories oor die toeriste luister. Hulle snaakse goetertjies en sêgoed. “Niks gewoond nie,” sê Sahib gewoonlik en klik sy tong. “Níks gewoond nie, Meryem, al het hulle geld om die wêreld vol rond te lê.”
Sy wil nie onthou van Sahib wat gisteraand met ’n swart hemp en broek en ’n rooi doek, wat hy in sy rugsak gedruk het, met sy motorfiets die nag in is nie. Sy wou dit nie gesien het nie.
HOOFSTUK 7
Markus en Nina sit in die binneplein van die Hotel van Trane. Markus dink oor die trane. Daar’s nie regtig vir hom ’n punt aan die hotel se trane nie. Hoekom huil die engeltjie?
Nina strek haar bene voor haar uit in die sonnetjie – “vir ’n bietjie Istanbulse kleur,” sê sy.
Markus luister nie juis na haar aanhoudende gebabbel nie. Sy kop is by die suite op die vierde vloer waar kopgekrap word oor die PowerPoint-voorlegging wat blykbaar so ingewikkeld is dat net Neil Privaatskool daarmee kan help.
“Kom saam met my speserymark toe, Boetie. Almal sê dis absoluut awesome. Ons kan maklik met die trem daar kom. Ek het op die app gekyk.”
“Moenie vir my Boetie sê nie. Daar is nou te veel boeties in jou lewe. Ons gaan maklik deurmekaar raak.”
Nina trek haar bene terug tot onder die stoel en sit regop.
“Weet jy, Markus, dis ook nie vir my maklik nie – Ma en Pa … Ek haal dit net nie soos jy op die res van die wêreld uit nie. Die lewe gaan aan. ’n Mens kan nie op een plek vashaak nie.”
Markus voel hoe hy sy moer strip vir hierdie preek wat hy nie wil hê nie, maar hy hou hom in. Hy staan op.
“Nee, dankie, speserye is nie my scene nie.” Hy maak die glasdeur na hulle kamer oop, gaan lê op sy bed en staar na die plafon.
Hy sit later regop en kyk of hy selfoonboodskappe het. Nie eens naby nie. Hy loer deur die venster. Nina sit nie meer buite nie. Hy gaan mal word as hy die res van die oggend in hierdie vertrek moet rondsit tot eenuur wanneer hy die Sonskyngroepie iewers vir knoffel moet ontmoet.
Volgens sy selfoon is dit nou halftien die oggend in Pretoria. Hy skakel sy rekenaar aan en maak Skype oop. Hy stuur vir sy ma ’n boodskap met sy foon.
Hy sukkel ’n ruk en toe skielik, die gekraak op Skype.
“Hallo, Ma.”
“Markus! Dis lekker om van jou te hoor. Geniet julle die vakansie?”
Sy lyk bly om hom te sien. Sy ma met die nuwe kort hare.
“Wat het Ma se hare getref?” Hy sukkel om sy sit op die harde stoel voor die spieëltafel te kry.
“Eet julle oukei?” ignoreer sy die vraag.
“Die kos is weird. Nina freak uit asof sy nog nooit iets beters in haar lewe geeët het nie. Maar ek sien in een van die hotel se brosjures hier is ’n McDonald’s iewers. Ek moet nog gaan soek. Ek gaan maar cheese burgers eet as ek honger word. Is Ma oukei?”
“Ja,