Later word die groep snaakse miershope ’n groot bruin stad. Die klomp uitsteeksels word geboue. Groot uitgestrekte areas weerskante, met geboutjies wat huise kan wees. ’n Blink rivier vloei soos ’n reuseluislang deur die bruin landskap. Dit moet ’n helse groot stad wees, dink Markus verwonderd.
Die vliegtuig maak ’n wye draai en begin daal. Die vlieënier is seker nie in Etihad se eerste span nie, dink Markus benoud, toe hulle half rof en hop-hop land.
“Welcome to Istanbul,” sê die vlieënier oor die interkom.
HOOFSTUK 2
In die ontvangsarea van die lughawe staan ’n man met ’n wit kennisgewingbord voor sy bors. In krom handgeskrewe letters staan op die wit bord: Mr Johanes Combrink, Sous Africa, welcom ! Dit moet seker ’n Turk wees te oordeel aan sy pikswart hare en die meneer van ’n swart snor, dink Markus.
Hulle pa skud hand met die vriendelike Turk.
Markus en Neil beur met die volgelaaide trollies agter die Turk aan. Die twee groot tasse is albei Nina s’n. Wat de hel, gaan sy in Istanbul agterbly? wonder Markus vies. Hy hoop so. Vrede in Pretoria sonder haar kan dalk net pret wees.
“Op hierdie lughawe het daar twee maande gelede ’n bom ontplof. Daar’s mense dood,” sê hy vir Neil.
Neil antwoord nie.
Die Turk vat hulle na ’n kiosk in die ontvangsvertrek waar hulle plaaslike simkaarte vir hulle selfone koop. Dan laai hy hulle bagasie agter in ’n wit Toyota-minibus met die logo van vermoedelik die hotel waarna hulle op pad is. Hy praat een stryk deur met hulle pa, wat voor langs hom inklim.
Die wêreld lyk nou nie na iets waarvan jy ’n foto op Instagram sal wil sit nie, dink Markus terwyl die Turk die oprit na ’n besige snelweg vat. Ou en nuwe geboue, baie karre. Dit lyk nie na die wêreld waaroor Nina die laaste paar dae onophoudelik gefaff het ná ure op die internet nie.
Die bestuurder draai later van die besige snelweg af en geleidelik begin die wêreld anders lyk. Nou straatjies waarin voertuie op en af jaag.
“Wat ek nie kan verstaan nie, is dat daar nie ’n ongeluk op elke hoek is nie. Die mense jaag soos mal hase in hierdie nou straatjies rond,” mymer Neil, sy gesig teen die venster gedruk.
“Maar hulle weet van bestuur,” sê Markus se pa. Hy loer skrams na die bestuurder. “Ek het nog nie een oomblik onveilig gevoel nie.”
“Wel, ék voel onveilig,” sê Markus. “Blerrie hel, hoe dink hy gaan hy by daai bus verbykom wat op ons afpyl? Hier is nie plek vir twee goed om in die straat by mekaar verby te ry nie!” Hy sit vooroor op die sitplek en leun deur die gaping tussen die twee voorste sitplekke deur terwyl hy benoud met sy vinger beduie.
Asof die bestuurder die gesprek in Afrikaans kan volg, glip hy vinnig by ’n opening in en stop tussen twee karre wat langs die sypaadjie geparkeer staan. Dis ’n piepklein gaatjie. Hoe het die ou dit reggekry? wonder Markus verstom. Dalk is sy pa reg: die mense is seker gewoond daaraan om in hierdie deurmekaar plek te bestuur.
’n Bus vol toeriste rammel verby en die busbestuurder waai vriendelik vir die bestuurder van die hotel se bussie. Dié waai terug.
Hulle draai af in ’n nou straatjie.
“Sultanahmet,” sê die bestuurder met sy vreemde aksent. Sy regterhand vee vaag na regs. “Ons toeristebuurt. Baie mooi, baie mooi.”
Nou straatjies, stringe winkeltjies met mense wat op stoele op die sypaadjie voor die winkeltjies sit en gesels, rye en rye restaurante. Talle toeriste, kameras om die nek, stroom op die sypaadjies verby.
“Ag, kyk hoe cute!” sê Nina.
“Wat is vir jou so cute, Nina?” vra Markus sarkasties.
“Dis eksoties! Dis so anders as daar by ons – en kyk al die katte oral. Ek is al klaar mál oor die plek!”
Markus sug.
Die bestuurder draai af in ’n nog nouer straatjie en stop voor ’n klein hotel. Daar is ’n hele paar soortgelyke hotelle verder af in die straat, sien Markus. Motors staan aan die linkerkant van die straat ingeryg, soos mense wat voor die Lotto-toonbank in Checkers tou. Hier is nou baie minder mense as in die strate waardeur hulle pas gery het.
Hulle klim uit en staan na die hotel en kyk. ’n Groen rankplant met geel blommetjies peul geil oor die rooi baksteenmuur voor die hotel. Dis omtrent net drie treë tussen die muur en die straat.
“Angel Tears Hotel,” lees Nina. Bokant die ingang hang ’n koperafbeelding van ’n engeltjie met ’n kruik in die hand waaruit pienk en rooi blomme na benede rank.
“Ag, cute! Kyk, die liggies rondom die engeltjie se wangetjies lyk soos regte egte traantjies.”
“Wat is vir jou so—” begin Markus, maar Neil val hom vinnig in die rede.
“Dit ís liggies. Die trane is klein liggies. Hulle het beslis nie Eskom-probleme hier as die goed in die dag brand nie.”
Wat ’n nar is jy nie, ou grote, dink Markus geïrriteerd.
Die bestuurder dra hulle bagasie die hotel binne. Markus en Neil help. Markus sleep een van Nina se extra-large tasse agter hom aan. “Wat is alles in hierdie doodskis, Nina? Jy kan tog nie so baie klere nodig hê vir tien dae nie?” vra hy steunend.
Sy ignoreer hom. Neil vat sonder ’n woord die tas se trekstang by Markus. Markus ruk die trekstang van Neil af weg. “Ek kan dit blerriewil self doen!” Neil tree afgehaal terug.
“Markus, ek hoop nie jy gaan die hele vakansie so ’n pyn wees nie,” sê sy pa.
Markus trek die reusetas verder die hotel binne sonder om te reageer. Daar is ’n klein ingangsportaal met ’n paar wynrooi gemakstoele, ’n groot platskermtelevisie waarop ’n sokkerwedstryd uitgesaai word, plastiekblomme in ’n pot op die ontvangstoonbank. Die Turk agter die toonbank skeur sy oë met moeite van die skerm af weg om na die aankomelinge te kyk.
“Welkom in Istanbul,” sê hy. Daar is ’n goue tand in sy mond. “Mag julle julle verblyf hier by ons geniet.”
Nie sommer nie, dink Markus. Hy is eenvoudig nie lus vir hierdie spul nie. Wat de hel kom soek hulle nou eintlik in hierdie vreemde plek? Hy kyk in die vertrek rond. Die televisie se klank is gedemp, maar daar is baie aksie op die skerm. Die kommentaar is in Turks, vermoed hy, as hy na die opgewonde kommentator luister wat hy vaagweg kan hoor. Daar is kort-kort kameraskote van toeskouers wat lekker mal gaan.
Sy pa vul vorms in en haal sy kredietkaart uit sy beursie. Nina en Neil fluister opgewonde onder mekaar. Nina en hulle pa het ’n suite met twee kamers op die vierde vloer van die vyfverdiepinggebou. Op die verdieping bo “die suite” is glo ’n daktuin waar hulle ontbyt gaan eet. Markus en Neil deel ’n kamer iewers op die grondvloer naby die ingang van die hotel.
“Nou ja, kom ons pak uit en dan kry ons mekaar oor ’n halfuur in die portaal. Die son sak al, maar ons kan ’n bietjie die wêreld gaan verken. En ek is lus vir egte Turkse kos,” sê hulle pa.
Markus loop lusteloos agter Neil aan, wat ná ’n soektog in die skemer gangetjie by kamer 9 stop. Hy sluit die deur oop. Hulle kyk rond. Twee enkelbeddens, ’n klein badkamer met blou handdoeke, ’n bedkassie met ’n leeslamp langs elke bed, ’n skryftafel tussen die twee beddens met ’n spieël daarbo, ’n ingeboude kas en groot vensters straat se kant toe. En ’n glasdeur wat op ’n klein binnehof oopmaak. Geel-en-groen gestreepte gordyne hang voor die vensters.
Die