Die mense wat in die winkels werk, sit geselsend op stoele voor hulle winkels. Diep in gesprek, teeglasies in die hand. Tee is groot in Istanbul. Slim Nina. Wat is dit met die baie tee? wonder Markus. Het julle al van Black Label en cream soda gehoor?
“Hamburger?” vra hy moedswillig vir ’n bleskop oom wat in die straat om hom koek en sy bes doen om Markus van Pretoria as eter te werf.
“Ja!” sê die oom entoesiasties. “Hamburger, hotdog, tjips, alles, Americano! Kom in, kom in!”
Markus is effens oorbluf. Hy wou maar net die man uit sy lewe kry en hy wil nie sy sakgeld op kos bestee nie. Dis sy pa se werk om op te dok vir etes omdat hy hulle na hierdie vreemde plek saamgesleep het om sy gewete te laat chill. En dis nou nie dat hy hulle spesiáál na hierdie stad saamgesleep het nie. Hy moet by ’n internasionale kongres praat. Die organiseerders betaal sy pa se vliegkaartjie en sy verblyf.
Hy drentel dikbek agter die man aan, wat hom by een van die buitetafeltjies met ’n rooi tafeldoek en ’n kers, na aan die straat, laat sit. Maar hy ís nogal honger en nie lus vir die could-be-Lunch Bars in die hotel se yskas nie.
Die eetplek het minder mense as die meeste ander, sien hy dankbaar. Daar is rooi liggies in ’n boom op die sypaadjie voor die restaurant. Oor die luidsprekers sing iemand hartseer in ’n vreemde taal. Markus verlang na sy ma. Wat sou sy nou in Pretoria doen? Televisie kyk? Hy wonder hoe laat dit nou daar is.
“Hamburger, chips, Coke?” vra die kort, dik omie met die snaakse Engelse aksent terwyl hy sy handpalms teen mekaar vryf.
Markus knik. Oom Bles swaai ’n groot geruite vadoek oor sy skouer en verdwyn deur die restaurant se bloedrooi binnedeur.
Markus kyk om hom rond op die stoep. Daar is nie veel mense in die restaurant nie. Sy pa sê die politieke onrus in die land het die toeristebedryf geknou, soos die ou met die blink tand by die hotel ook gesê het. Mense is bang om hierheen te kom. Hulle het gelees van die bomme om elke hoek en draai. Maar die Combrinks sal veilig wees, het die konferensie-organiseerders glo verseker. Markus is nie so seker nie.
Drie ou tannies sit eenkant en rook. Hy kan nie raai van watter land hulle is nie. ’n Ent weg sit ’n jong paartjie in mekaar se oë en kyk. Hulle velle is wit in die kerslig, amper deurskynend. Blond. Seker van Europa of Skandinawië.
Die oom sit ’n groot glas Coke met baie ys voor Markus neer. Hy proe huiwerig. Dit is Coke, régte Coke, besef hy verlig.
Hy hou die mense dop wat voor die restaurant verbystap. Die toeriste stap anders as die regte inwoners. Die toeriste gesels opgewonde en beduie met inkopiesakke in hulle hande. Die locals stap meer doelgerig, asof hulle iewers iets moet gaan doen.
Hy dink weer aan sy ma. Sy probeer oukei lyk en sy probeer haar bes om aan te gaan met die lewe asof niks horrible met hulle gebeur het nie. Maar hy weet. Hy ken sy ma. Hy kan in haar oë sien sy is nie meer die ma wat van die pawiljoen af vir hom geskree het wanneer hulle die 1 500 gehardloop het nie. Die lewe gaan aan, sê sy as mense vra hoe dit met haar gaan, maar haar oë sê nog nie die lewe het vir haar aangegaan nie.
Dis ’n vreemde konkoksie wat oom Bles op die tafel neersit. Hy vou sy arms voor sy bors en beduie trots na die bord, bont vadoek oor die skouer.
“Dankie,” sê Markus en wag dat die man moet loop voordat hy proe. Oom Bles bly glimlaggend staan. Beduie afwagtend met sy kop na die bord voor Markus. Markus kyk fronsend na die man.
“Nog ’n Coke, asseblief,” sê hy toe maar, al wou hy nie nóg van sy sakgeld uitgegee het nie. Hy is steeds nie seker hoeveel rand die kos in die bord voor hom gaan kos nie. Die prys word in Turkse lira aangedui en hy is nog nie heeltemal seker hoe om dit na rand om te skakel nie. Die oom stap glimlaggend weg en verdwyn by die rooi deur in.
Markus bekyk die burger. Dit is ’n vreemde plat brood en daar is ’n spul slaai langsaan waarmee jy ’n bok ’n jaar lank sal kan kosgee. Die chips is plat, groterige stukke gebraaide aartappel.
Hy lig die boonste deel van die plat brood versigtig op. Binne-in is ’n klomp maalvleisbolletjies wat na Mini-Me-weergawes van sy ma se frikkadelle lyk. Baie tamatie en uie, en langsaan ’n bakkie met pienkerige sous waaraan hy versigtig proe.
Njammies. Hy proe aan ’n maalvleisbolletjie. Ook njammies. Hy steek een van die groot chips in sy mond. Dit proe soos die chips by die Wimpy in Pretoria, net lekkerder. Dis effens hard buite-om, maar sag binne. Hy doop een in die pienk sous. Jamie, ou pel, waar is jy nou? In hierdie town kan dit dalk nog lekker word. Sy pa-hulle kan maar hulle fancy kos eet. Hy wat Markus is, eet lekker – baie lekker, dankie. Hy tik die naam van die restaurant, The Red Door, op sy selfoon se reminders in en kyk mooi waar dit geleë is. Op die hoek is die winkel met die honderde gekleurde lampies. Hy kan dalk sorg dat sy pa-hulle môre per ongeluk hier kom eet.
Op sy selfoon tik hy ook onder reminders: kofta. Dis die lekker frikkadelletjies se naam. As hulle hier kom eet, gaan hy kofta bestel sonder om na die spyskaart te kyk. Hy is seker sekere lede van die Sonskyngroepie gaan beïndruk wees. Hy sit behaaglik agteroor en druk sy foon in sy sak.
Toe hy die hand vol lira vir die ete betaal wat hy op die lughawe met sy debietkaart getrek het, besluit hy om nie uit te werk hoeveel rand hy uitgegee het nie. Dit was die moeite werd.
Hy sal nog besluit wat hy in Istanbul gaan doen, dink hy toe hy terug hotel toe stap.
Neil is nog nie terug nie, die sleutel hang by ontvangs.
Markus wonder of die hotel se daktuin in die aand oop is. Hulle was nog nie daar nie en hy is nuuskierig. Hy stap met die nou trappies op wat, soos die hotel se gange, dof verlig is. Bo druk hy aan die houtdeur. Dit gaan oop. Die daktuin is donker, maar die ligte van die geboue weerskante sorg vir ’n bietjie lig sodat hy kan sien waar hy loop. Dis sag onder sy voete. Dit lyk na gras in die donker. Hy buk en voel daaraan. Dit voel nie na regte gras nie.
Hy kyk verras na die liggies van Istanbul. Hy besef nou eers hoe groot die stad regtig is. Die Blou Moskee, waarvan Nina ook tot vervelens vertel het, lyk soos ’n reuse-verjaarsdagkoek met baie kersies op. Hy stap tot aan die ander kant van die daktuin en kyk na die donker see, waar ’n boot soos ’n spookskip verbyvaar. Van die Bosporus, die groot stuk donker see wat Istanbul se historiese deel van die moderne stad skei, weet hy nou al.
En toe begin ’n gesing wat oor die hele stad weergalm. Dis ’n man se stem wat eentonig en effens hartseer van iewers kom en vermoedelik deur luidsprekers versterk word om dit so hard en duidelik te laat klink.
Hoendervleis slaan op Markus se arms uit. Hy voel die haartjies regop staan. Hy luister totdat die gesing ná ’n paar minute stil word, draai terug na die deur en stap weer versigtig met die nou trappies af.
Hy weet nie van Istanbul nie.
* * *
Liewe Liesie
Ons is veilig. Dit was ’n ernstige lang trip en ons is nogal moeg. Istanbul lyk awesome. Ons het nog nie veel gesien nie, maar ek hou baie van wat ek sover gesien het al wil ek glad nie hier gewees het nie. Dis so oud en anders. Hier het al mense gebly eeue voordat Jan vR aan die Kaap geland het.
Ons het vannaand by ’n restaurant geëet en die kos was beautiful. Hoender met so ’n vrugtestorie bo-op. Ek en jy moet dit google as ek terug is. Ek gaan nou slaap want ek is nogal gaar. Sal later in die week weer mail.
Die Combrinks? Oor hulle het ek nog nie ’n clue nie. Ek het ook nog nie ’n clue hoekom ek hier is nie. Ag shame?
Liefde
Neil
HOOFSTUK 4
Jy sal nie sommer die geroeste draadhekkie in die hoë, ruwe baksteenmuur tussen die twee ou geboue raaksien nie. Dis ’n stil Istanbulse straat, iewers aan die buitewyke van die stad. Al is dit net enkele blokke van die