Tafelberg
Vir Hannes, Ma en Hanlie
Without a family, man, alone in the world, trembles
with the cold. – André Maurios
1
Einde Maart
Villa Persephone
Die vraag is: Sal hy hom kan doodmaak? Sy kop kan, maar kan sy lyf? Al wat hy het, is sy knipmes. En woede. ’n Woede wat wil vermorsel, verskeur.
Haat.
En die feit dat hoenderbrein-Einstein se rug op hom gedraai is. As hy sy kaarte reg speel, kan hy reg agter hom wees voordat Ertjiebrein kan sê “mes”.
As …
Vraag twee: Waar sit hy die mes in?
Sy knipmes was nog altyd ’n tool. Nie ’n moordwapen nie. Die lem is vlymskerp, maar kort. Die ribbes gaan in die pad wees as hy vir die hart mik. Dalk eerder die nek? Flip, dimwit het die nek van ’n stoetbul. Paul wonder vir ’n sekonde of budjiebrein so gebore is: met ’n pellet-koeël-kop en ’n spanspeknek. Die blote gedagte daaraan laat hom giggel. Hy weet dis senuwees. ’n Swerm vlinders klap hande, rondomtalie in sy maag.
Paul kyk ’n laaste keer deur die venster. Bullet se grys Diesel-hemp span styf oor sy steroid-skouers. Hy dink hy is coolstes. Eintlik is hy seriously yesterday. Iemand moet hom nog net sê. Bullet se kaalgeskeerde kop blink in die son, daar is nat kolle op sy rug en onder sy arms. Paul weet hy sal moet beweeg, gou speel. Bullet gaan nie meer lank besig wees nie. Bullet lig ’n pakkie uit ’n rugsak en laat dit iewers in die deur van die swart BMW verdwyn, saam met die ander wat hy reeds in die sypanele van die Beemer weggesteek het.
Hy wens hy het geweet wat in die pakkies is. Beslis nie sherbet nie. Geen nugter mens doen soveel moeite om sherbet weg te steek nie.
Iets waarmee mens ’n draak kan jaag? Miskien coke, of cat?
Hy wil ’n loodpil deur Bullet jaag. Sy gesig in daai poeier druk totdat hy daaraan verstik, daarin versmoor.
Paul maak sy kamerdeur stadig oop. Die veiligheidshek aan die punt van die gang staan oop. Wonderwerke is dank die hemele nie saam met die apostels dood nie. Een van die meisies moet tog net nie nou haar deur oopmaak en simpel vrae kom vra nie. Die Persiese mat demp sy voetstappe. By die trappe af. Nog ’n stel. Alles is doodstil. Te stil. Sy maag draai.
Die restaurant onder is leeg. Die voordeur is toe. Paul sluip hoopvol nader, draai die handvatsel van die ruitjiesdeur. Gesluit. Damn. Die kombuis is die enigste ander opsie. Die kombuiswerkers het af na middagete. Hulle sal eers 16:00 weer inkom. Paul kyk op sy horlosie. 15:30.
Hy draai stadig die handvatsel van die buitedeur. Dit gaan oop.
Yes!
Sy hart raas in sy ribbekas. Iewers hoor hy ’n klikgeluid. Hy versteen. Luister.
Hoor hy iets?
Nee.
Net Bullet se gewerskaf buite.
“Let’s Marvin Gaye and get it on …” sing Bullet in ’n vreeslike falsetto saam met die radio. Paul stoot die deur saggies toe. Ertjiebrein staan op sy knieë met sy rug na Paul gedraai. Hy het ’n skroewedraaier in die hand. Net buite die kombuisdeur lê ’n verdwaalde baksteen. Paul se hand vou om die baksteen. Miskien eers Mister Brainiac met ’n baksteen teen die agterkop moker? Net om seker te maak hy is buite aksie.
Hom dan keelaf sny soos ’n vark.
Paul huiwer.
As Bullet omdraai en hom sien, is sy hele plan in sy maai. En ertjiebrein het ’n skedel so dik soos ’n krieketkolf, want sy IK neem beslis nie baie spasie in beslag nie. En as daai tamaai vingers hom beetkry, stoot hy vandag nog wolke rond. Hy sit die baksteen weer saggies neer. Vergeet vir eers van wraak. Hy moet wegkom.
Nou!
Paul hou asem op, sluip saggies om die hoek van die huis. Sy hart bons soos ’n pingpongballetjie. Twintig meter nael vir die vale hel tot by die waghuisie. Dan oor die heining. Paul trek sy asem in.
“Where do you go, my lovely?” ’n Hand vat aan sy skouer.
Paul draai om.
Miguel se pistool kyk hom in die oë.
2
Januarie
Bloemfontein
“Alicia! Kom terug!” roep Mia. “Asseblief!”
“Vlieg hel toe en pluk bliksems,” mompel Alicia. Sulke vriende het sy nie nodig nie.
Hoekom het Mia haar nie lankal gesê nie? Dis tog wat vriende doen. Stilbly oor die waarheid is net so goed soos lieg. Dis verby. Sy wil Mia nooit weer sien nie.
Alicia se poniestert swiep heen en weer in die draf. Haarslierte plak aan haar gesig vas. Met die agterkant van haar hand vee sy vererg oor haar nat neus, haar kakebeen. Sy moet die tweede periode toets skryf, onthou sy skielik.
Whateveeer!
Pythagoras kan liegbek-Mia vergesel op die trip hel toe. Juffrou Klopper ook. Sy kan vir haar ’n ander “ster” gaan soek – in die flippen melkweg as sy wil. Verrassing! Selfs die sterre brand uit. Eventually.
Niks wat is, is regtig nie. Nie mense nie. Nie eens die verdomde sterre nie. Sterretjie flonker verwoed, meanwhile is hy ligjare gelede al uitgebrand. ’n Koue stuk klip.
Selfde met mense. Net skyn. Niks eg nie. Bo blink, onder stink. Jy kan die lieg nie in die donker vaskeer nie. Dis soos die dood – die enigste sekerte in die onsekerheid.
Sy vee weer oor haar oë en kyk op. By die hoek draai sy links. Net nog dié stukkie opdraand, dan is sy by Oliewenhuis. Sy stap stadiger teen die opdraand uit. Snuif hard en vee met haar hande oor haar oë. Dan rol die trane weer.
“Flippit, Alicia, stop dit! Jy’s nie ’n baba nie,” praat sy met haarself. Sy snuif weer. Sy kan nie by Oliewenhuis aankom en soos ’n lekkende kraan lyk nie. Sy sal moet trane afvee, voorgee, besef sy. So flippen what? If you can’t beat them, join them!
Langs haar stop ’n motor. ’n Swart BMW. Die ruit aan die passasierskant rol af. ’n Ouer man leun half na haar kant toe oor, druk met sy linkerhand op die passasiersitplek, sy gesig laag. Sy ignoreer hom; stap verder. Laat hy nét iets sê omdat sy skool bunk. Dit het boggerol met hom uit te waai.
“Hi. I’m on my way to Heuwelsig. Do you need a lift?”
Pedofoes. Kry vir jou ander geselskap! Sy byt die woorde agter saamgeperste lippe vas en beantwoord nie sy vraag nie. Sy skud net haar poniestert vererg en hou die motor uit die hoek van haar oog dop. Dit kruip stadig vorentoe.
“Haven’t I seen you before? At a hockey festival at Saint Nicholas, I think?”
Sy kyk na die man, maar antwoord nie. Sy frons. Hy lyk vaagweg bekend. Donker hare, grys teen die slape, blas vel, plooie om die oë. Waar het sy hom al gesien? Sy weet sy het hom al gesien. Waar? Waar?
Nou weet sy! Hy was in die Courant, of Bloemnuus. Een van daai. Genomineer as Bloemfonteiner van die Jaar of so iets. Saam met entrepreneurs, dokters, ’n middestad-predikant en so aan. Sy is seker dis waar sy sy foto gesien het. Sy en haar pa het onlangs deur al die foto’s en name gekyk om te sien of hulle vorige buurman, ’n kardioloog, ook genomineer is. En hy was toe wel genomineer, maar die toekenning het uiteindelik – dank die hemele! – aan iemand anders gegaan. ’n Vrou. Solank die kardioloog-buurman dit tog net nie gekry het nie, het sy en haar pa saamgestem. Ná hulle ondervinding met die hartslagter weet sy nou ook wat “anaal” beteken. Wat ’n pyn in die gat! Agteraf het hulle hom Aarbei genoem. Eintlik “aambei” bedoel, maar haar ma het gesê dit klink darem net te kras.
“Okay, if you don’t need a lift …” Die ruit begin oprol.
“Wait.”