Snak
||Hui !Gaeb Boek 2
ROUXNETTE MEIRING
Tafelberg
1
Kara
Dit kom stadig na my aangedobber. Donkerbruin en uit gloeiende hout gesny. K-A-R-A. Stadig, maar lewend en polsend, vloei dit tot by my. Ek moet reageer, dis ek, hierdie lyf, hierdie een wat dink.
“Kara.”
My oë moet oopgaan, maar teen my wil, die letters is so mooi …My ooglede beur hulleself stukkie vir stukkie oop.
Alles om my is wit, daar is ’n skerp lig wat in my gesig skyn. Ek kan skaduwees van figure uitmaak. Menslike vorms.
Ondertoe voel dit asof daar niks is nie …asof ek net ’n kop is. Ek probeer my lyf voel, maar ek kan nie. Net my brein en my oë werk.
Die skaduwees om my het agtergekom ek is wakker, want hulle beweeg vinniger en meer doelgerig. Ek voel ’n ander energie aan, tog praat hulle steeds nie met mekaar nie.
Het ek my verbeel dat iemand my naam genoem het? Of het ek myself wakker geroep? Ek probeer onthou waar ek is, hoekom ek hier is, wat met my gebeur het, maar ek kan nie. My geheue is wit soos die vertrek. Tog het ek my eie naam onthou …
“Wat is jou naam?” vra die skaduwee.
Ek wil antwoord, maar my mond en stembande wil nie saamwerk nie.
Die skaduwee draai terug na die ander, wat lyk of hulle om ’n soort skyngram saamdrom. Niemand praat nie.
Ek konsentreer hard om die woorde te vorm.
“Sit seblief die skerp lig in my gesig af.” Dis ’n verligting om myself te hoor.
Die lig gaan dadelik af.
Die kamer is nog steeds wit. Een van die figure kom nader. Waar het ek al voorheen so iemand gesien?
“Wat is jou naam?” vra die perfekte mensfiguur.
Vir ’n oomblik sien ek die buitelyne van my skelet in haar oë weerkaats, maar dalk het ek my verbeel.
Ek weet ek is Kara, maar dis absoluut al wat ek weet. Ek wil praat, maar iets keer my. As ek alles gesê het wat ek weet, wat bly oor?
“Ek …weet nie,” sê ek.
Die vrou lyk nie verbaas nie, dis asof ek net iets bevestig.
Sy draai weg van my, daar is niks oor om te vra nie.
“Waar is ek? Wie is jy? En wie is ek?” Of wát is ek? Maar ek sê dit nie.
“Moenie bekommerd wees nie,” antwoord sy. “Jy was in ’n ongeluk, maar jy is nou veilig. Jy het net rus nodig. Jy sal binnekort weer alles onthou en teruggaan na jou …familie.”
Ek weet sy jok. Sy klink of sy ’n versie opsê.
“Watse ongeluk? Waar het julle my gekry? Wie was by my?”
Ek kan aanvoel die vrou is onseker.
Dan praat sy sonder dat haar lippe beweeg. Sommerso in die lug, met iemand wat nie daar is nie, haar lyf met ’n ander soort aandag.
Orpheus …
Hoor ek die woord, of is dit net in my verbeelding?
2
Shivani
Haar neusvleuels bewe. Die oë sper wild, asems kom klam en hortend, daar’s angs in die lug. Dis ’n oomblik of ’n ewigheid. Ek is sy en sy is ek, ons asem saam …
Te laat. Die oomblik is verby.
’n Paar goed gebeur gelyk. Sy skop vas, asof sy genoeg gehad het en nie die onreg verdien nie. Klippe spat eenkant toe en sy is weg. My pyl trek links by haar verby en tref ’n soetdoringboom. My boog val slap op die grond.
Die jagters klik en klak vererg vir my en beduie wild met die Chinafrika-skieters na waar die steenbokkie verdwyn het.
“Kai-am !nâb,” sê een. Grootpraat.
Hulle dink seker ek kan nie skiet nie. Ten minste is die bokkie nou weg.
Kxûm staan voor my en sy is kwaad. Sy het mos gesê ek is nog nie reg om saam te gaan nie, ||Hui !Gaeb lewer nie jagters op nie, hulle eet net blare en blomme.
Ek weet alles wat sy dink sonder dat sy dit klik-klak hoef uit te spoeg.
Ek het haar gesig stowwerig gemaak, sê sy, want almal dink sý het gesê ek kan saamkom, en hoe gaan sy nou weer haar gesig skoon kry voor die ander jagters? Sy beduie woes met haar hande en die bossie stink balderjablare om haar polse wip op en af.
Al die oordadige emosie irriteer my.
“Wel, Kxûm, jy weet waar’s die waterput!” snou ek haar in Afrikaans toe.
Terwyl ek terugwoed grotte toe, skree sy nog agter my aan – ek kaikaisen, my boog is slap, en nog iets oor dorings en blare wat ek nie kan uitmaak nie.
Ek voel lus om iets te skop. Ek het genoeg gehad van almal se klein wêreldjie hier en van grotswamme en platbrode en bolplante. Van ’n polser wat ophou werk het en net goed is vir lig maak. Van onbetroubare inligting wat soos bokspore doodloop. Van wag vir Kara-hulle om terug te kom. Van kwaad wees vir die leegte wat Vega in my gelos het.
En Amber …daar sit sy en die storieverteller-sonder-naam met sy !gora en die kinders weer buite die grot. Sit daar onder die invloed van stories en simbole en raad wat hulle dalk op ’n dag gaan nodig kry. Plaas dat die kinders bietjie oefening kry.
Die storieverteller hou aan speel op sy eenstringboog, maar Amber staan op asof sy my lankal sien kom het.
“Wat het nou gebeur, Shivani?”
“Niks. Absoluut niks het gebeur nie, soos vandat ons al hier bly.”
“Ons is gaste hier,” begin sy. “Ons moet die plek inneem wat hulle vir ons gee. En dis nie ons plek om te gaan jag nie.”
“Word wakker, Amber!” Ek weet my woorde is te kras, maar dis te laat. “Was jy nie by toe ||Hui !Gaeb in vlamme uitgebars het nie? Ons is nie meer in ’n koepel toegedraai nie, dit het gekraak, onthou? Dis tyd om te verander!”
Selfs sý irriteer my nou.
“Niemand ken die begin of einde van verandering nie, Shivani. Moenie so ongeduldig wees nie …U-tixo het gesê ons moet vandag buite die grot bly.”
“Ag, mdisi! U-tixo het seker weer ’n spelonksampioen geëet wat af was. Sy aanvoelings oor wanneer ons waar moet wees, het nog nooit sin gemaak nie.”
Ek bly nie hier by hulle nie. Die skerp lig buite die koepel gee my nog steeds soms hoofpyn.
“Ha!” skree die storieverteller agter my aan. En dan nog iets van Ga-gorib en
Grotmonster, ontplof en anders-maak. Seker nog een van sy transformasiestories. Ha jouself, ou man …Ek het meestal respek vir stories, maar vandag het ek genoeg gehad. Stories neem te lank.
Ek hou net aan stap, verby die slaapsaal en die swamgroeigrot, die badsaal en insekteelspelonk. Ek voel lus om grotkristalle af te breek en die kinders se muurtekeninge te bekrap. Maar net vir ’n oomblik.
Selfbejammering