Die kinders is nou besig om hul boeke in hul tasse te pak en die lawaai word selfs nog erger.
“Bly stil! Hou asseblief op raas!” skree juffrou Nortjé.
Niemand steur hulle egter aan haar nie.
“Ek gaan julle nie laat loop voor julle stil is nie!” skree Ou Duifie nou nog harder. Sy klink skielik regtig kwaai.
’n Hele klomp kinders hou nou hul monde en probeer om die ander ook stil te maak. Saartjie is een van hulle.
“Galpil!” skree sy vererg. “Sjoes!”
“Hè, ou perd?” vra Galpil laggend. Maar dan bly hy nogtans stil. Die ander seuns kom ook tot bedaring.
“Ek gaan julle nie laat loop voor julle nie absoluut doodstil sit nie!” sê die jong onderwyseressie nou. Dit lyk of sy baie na aan trane is.
Daar is ’n geweldige geraas soos banke geklap word terwyl die kinders gaan sit.
Die klok lui vir die einde van die periode. Die graadneges moet klasse verwissel en besef dat hulle nou na meneer Burger toe gaan vir algebra. Hy is ’n senior onderwyser en baie kwaai. Hulle sal dit nie waag om by hom so die gek te skeer nie!
Die leerders is baie bang vir Ou Grompot. Hulle weet hulle sal gestraf word as hulle laat by sy klas aankom en kom effens tot bedaring.
“Ek is moeg vir die alewige lawaai,” sê Ou Duifie. “Julle bly hier sit tot julle doodstil is.”
Die kinders raak nou rustiger. Dié wat nog praat, word deur ’n “sjuut” van die ander stil gemaak. Hulle is bang Ou Grompot gaan hulle straf as hulle laat by hom aankom.
Die klas is nou uiteindelik heeltemal stil. Die jong onderwyseressie kyk na hulle. Sy lyk bleek. Al sit hulle stil, sê sy nog nie hulle mag gaan nie. Die minute gaan verby. Die kinders begin onrustig word. Hulle ken vir Ou Grompot. Hy sal nie die verskoning aanvaar dat juffrou Nortjé hulle agtergehou het nie – en as hy dit wel aanvaar, sal hy hulle straf omdat hulle so in haar klas lawaai het!
Die klomp sit nou so stil dat jy ’n speld kan hoor val. Hulle is al ’n hele paar minute laat vir Ou Grompot se algebra, maar Ou Duifie laat hulle nog steeds nie gaan nie.
Die leerders word al hoe meer onrustig. Dan staan Galpil op en sê: “Juffrou, meneer Burger gaan ons velle van ons lywe afslag as ons laat by hom aankom.” Die res van die klas knik met hul koppe en dit is duidelik dat hy namens almal praat.
“Dit kan my nie skeel nie!” sê die onderwyseres. “Julle sal sit tot ek julle laat loop.”
Die kinders kyk haar vies aan.
“Dis onregverdig,” brom Galpil en gaan sit teësinnig.
Die kinders lyk nou regtig bekommerd. Hulle wil nie hul velle van hul lywe afgeslag hê nie. Ou Grompot is ’n moeilike man wat feitlik altyd in ’n slegte bui is. Hy aanvaar nooit enige redes of verskonings nie.
Ná die leerders nog ’n minuut of twee roerloos gesit het, sê juffrou Nortjé: “So ja, nou kan julle gaan.”
Vinnig, sonder om te babbel en te lawaai, staan die kinders op en stap in ’n mooi, netjiese ry by die klaskamer uit.
Hulle loop so vinnig moontlik na meneer Burger se klaskamer toe.
“Ek sê julle ouens,” fluister Saartjie oor haar skouer vir Anna en Lina wat agter haar stap, “vandag is daar groot moeilikheid.”
En Saartjie is reg. Hulle is diep in die sop!
Die graadneges stap gedwee by meneer Burger se kamer in. Hy staan in die deur.
Ou Grompot is ’n bejaarde onderwyser en al jare lank hoof van die wiskundedepartement. Sy bruin oë is wakker en kwaai. Hy het digte wenkbroue en ’n bruin bokbaardjie. Hy skree nooit op die leerders nie. Maar as hy koel en kalm praat en sy oë vlam kwaai en hy speel so met sy bokbaardjie, dan weet die kinders hy is op sy gevaarlikste. Ja-nee, hulle is baie bang vir hom.
Die leerders staan nou netjies en eerbiedig langs hul banke. Meneer Burger staan voor die klas. Hy speel-speel met sy bokbaardjie. Sy oë skiet vonke.
Saartjie is ’n monitor in die klas. Sy sluk en sê dan: “Goeiemôre, Meneer.”
Die hele klas wens die nors onderwyser nou ’n goeie môre toe.
Hy sê vir ’n hele paar oomblikke nie ’n woord nie. Hy streel net sy bokbaardjie. Dan sê hy skielik kil: “Dis nie môre nie – dis middag.”
Party kinders dink dit is ’n grap en hulle moet lag om te wys hulle waardeer dit, daarom gee hulle ’n effense verbouereerde laggie.
“Bly stil!” bulder Ou Grompot.
Die klas is tjoepstil. Die onderwyser se oë dwaal oor hulle. Sy welige wenkbroue beweeg effens op en af.
“Dit sou nog oggend gewees het,” sê hy sissend, “as julle betyds was. Hierdie klas moes om vyf voor twaalf begin het. Dit is egter nou vyf oor twaalf. Waar was julle?”
Dit is ’n direkte vraag en die onderwyser verwag ’n direkte antwoord. Die kinders kyk na Saartjie. Sy moet antwoord. Sy is mos die klasmonitor. As Ou Duifie so ’n vraag gevra het, sou hulle sommer almal die antwoord uitgebulder het. Maar dit is nou nie sy nie, dit is Ou Grompot.
“Meneer, ons was in juffrou Nortjé se klas,” sê Saartjie. Sy vee met die agterkant van haar hand oor haar voorkop. Sy voel glad nie gemaklik nie. Sy hou nie van die kwaai manier waarop die onderwyser haar aankyk nie. Sy hou ook nie van die manier waarop hy sy bokbaardjie staan en streel nie. Dit is ’n gevaarteken.
Saartjie hoop maar net Ou Grompot bestorm haar nie sommer en gee haar ’n oorveeg nie! Sy is nie alleen skuldig nie. Almal is mos. Sy doen maar net die praatwerk.
“So,” sê die onderwyser, “julle was in juffrou Nortjé se klas?”
“Ja, Meneer,” sê Saartjie.
“En dit,” kom die onderwyser se stem nou woedend, “terwyl julle hier in myne moes gewees het!”
Saartjie besluit om liewer niks hierop te sê nie. Dit is mos duidelik dat hulle in juffrou Nortjé se klas was en hulle kon dit nie help dat sy hulle daar gehou het nie. As Ou Grompot iemand wil kwalik neem omdat hulle so laat is, dan moet dit mos Ou Duifie wees. Hy moet met haar gaan skoorsoek, nie met hulle nie. Dit is wat Saartjie dink, maar sy sal dit natuurlik nooit waag om dit vir hierdie kwaai onderwyser te sê nie.
Die ander kinders dink ook almal so, maar hulle sê ook nie ’n woord nie. Hulle is te bang vir meneer Burger. Al is hy al redelik oud kan hy nog steeds soos blits deur ’n klas vlieg en jou regsien voor jy nog kans het om te probeer keer. Hulle het dit al baie gesien.
“Julle was tien minute laat,” sê die onderwyser nou en sy stem is koud en kil. “Daarom bly julle vanmiddag tien maal daardie tien minute ná skool. Kom hier na my klaskamer toe. Ek sal vir julle werk gee. Sit!”
Die kinders maak so terwyl almal hard besig is om die som in hul koppe uit te werk. Tien maal tien minute is ’n honderd minute. Dit beteken hulle moet sowaar een uur en veertig minute skoolsit!
Die leerders sal dit nie waag om iets te sê nie, maar hulle is baie vies. Hulle voel dit is onregverdig. Hulle sou mos nie laat gewees het as Ou Duifie hulle nie so lank daar in haar klas gehou het nie!
Hulle vergeet gerieflikheidshalwe dat die juffrou dit gedoen het omdat hulle so ’n lawaai gemaak het en nie na haar wou luister nie.
Die klas werk hard aan die algebra-probleme wat meneer Burger vir hulle gee. Hulle moet hul opgekropte gevoelens maar wegsteek. Daar is niks wat hulle nou aan die