Saartjie Omnibus 7. Bettie Naudé. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Bettie Naudé
Издательство: Ingram
Серия: Saartjie
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798178532
Скачать книгу
ion>

      

      Saartjie

      Omnibus 7

      Saartjie se verjaarsdag

      Saartjie se drome

      Saartjie se sirkus

      Bettie Naudé

      Human & Rousseau

      Voorwoord

      Dokter Jan Baumann se groot dubbelverdiepinghuis teen die heuwel het ’n pragtige uitsig oor die vallei. Op ’n helder, sonnige dag kan ’n mens vanuit Saartjie se venster op die boonste verdieping Johannesburg se wolkekrabbers sien.

      Lynnekom word as ’n voorstad van Johannesburg beskou, maar dit is ’n stil plekkie met ’n tipies plattelandse atmosfeer. Al die inwoners ken mekaar en kom goed oor die weg.

      Op die oomblik is die hele vallei in ’n sagte, rooi skynsel gehul. Dit is skemer – ’n tyd van vrede.

      Maar skielik word die stilte verbreek deur ’n klavier wat hard in dokter Baumann se huis gespeel word. ’n Opgewekte deuntjie weerklink deur die buurt.

      Dan begin iemand sing. Dis ’n pragtige, suiwer stem.

      Menige inwoner se voete begin op maat van die vrolike musiek tik. Hulle glimlag en sê met ’n teer kyk in die oë:

      “Die Saartjie … Ai, dié Saartjie …”

Saartjie se verjaarsdag

      1

      Die graadneges

      Die graadneges is hard besig om te werk. Hulle skryf ’n opstel oor die maan.

      Saartjie Baumann trek ’n netjiese streep onder haar skryfwerk en lees dan met ’n tevrede glimlag weer wat sy oor die maan geskryf het.

      Dit is vir haar ’n pragtige opstel. Sy het die romantiese sy van die maan beklemtoon en ’n hele paar groot woorde gebruik. As sy nie omtrent volpunte hiervoor kry nie, dan weet sy sowaar nie. Dit sal bewys, dink Saartjie nou, dat juffrou Nortjé nie net g’n benul het van hoe om dissipline in ’n klas te handhaaf nie, maar ook dat sy nie weet wat die verskil tussen ’n goeie opstel en ’n swak een is nie.

      Saartjie is veertien – amper vyftien. Soos ons haar lankal ken, is sy ’n regte rabbedoe. Sy het helderblou oë en donker krulhare en is ’n baie mooi meisie. Selfs seuns wat niks van meisies hou nie dink so. Sy het ’n paar oulike sproete op haar effense wipneusie en as sy glimlag, verskyn daar ’n kuiltjie in elke wang.

      Die kuiltjies is juis nou weer daar. Saartjie glimlag terwyl sy lees hoe die pragtige maan se sagte glans die hele aarde soos ’n towerwêreld laat lyk en hoe dit nou tyd is vir verliefdes om hande vas te hou en in mekaar se oë te verdwaal.

      Saartjie wonder of die onderwyseres hierdie meesterstuk van haar gaan waardeer. Sy kyk ingedagte na die juffrou wat voor by die tafel sit en huiswerk nasien.

      Die kinders se bynaam vir juffrou Nortjé is Ou Duifie. Hulle weet nie eintlik hoekom hulle haar so noem nie, maar dit is hoe sy onder hulle bekend staan.

      Ou Duifie is nog baie onervare. Dit is haar eerste aanstelling hierdie en sy sukkel maar om die woelige klomp seuns en meisies in die beroemde Hoërskool Saamwerk te beheer.

      Die klas is nou besonder stil omdat die tieners daarvan hou om ’n opstel te skryf oor verliefde paartjies wat in die maanlig wandel.

      Saartjie het hare klaar deurgelees en sit nou sommer net en rondkyk. Langs haar sit haar vriendin, Anna Strydom.

      Anna woon langs Saartjie in Lynnekom. Hulle het mekaar ontmoet toe hulle albei nog in hul stootwaentjies was. Van daardie eerste dag toe hulle hul armpies na mekaar uitgesteek het, is hulle al maats.

      Net agter Saartjie en Anna sit hul ander vriendin, Lina Rens. Lina bly ook in Lynnekom en sy het Saartjie en Anna leer ken toe hulle nog op laerskool in graad vier was. Die drie vriendinne is bekend as Lynnekom se Drie Muskiete.

      Saartjie glimlag terwyl sy skielik aan iets dink. Dit is nie meer lank voor haar verjaarsdag nie. Sy gaan omtrent al die kinders in Lynnekom vra om na haar partytjie toe te kom. Hoe meer mense sy nooi, hoe meer presente gaan sy mos kry!

      Die onderwyseres kyk op en toe sy sien ’n hele paar kinders sit en gesels nou, vra sy: “Is julle klaar?”

      “Nee!” skree ’n groep seuns van agter uit die klas.

      Saartjie dink dit is ongemanierd om ’n juffrou so te antwoord, maar Ou Duifie berispe nie die seuns wat sommer so op haar gegil het nie. Sy gaan net weer aan om huiswerk na te sien en die klomp seuns hou aan gesels.

      Juffrou Nortjé het aan die begin van die kwartaal hier by Hoërskool Saamwerk kom skoolgee. Sy is om die een of ander rede nie juis gewild nie. Dit is nie omdat sy kwaai is nie – inteendeel, dit is miskien omdat sy te saggeaard is. ’n Leerder hou daarvan dat ’n onderwyser vriendelik moet wees, maar ook streng. Ou Duifie is nogal baie gaaf, maar glad nie streng nie – dit is amper asof sy witvoetjie by die kinders soek. In haar klasse maak die leerders feitlik net soos hulle wil.

      Partykeer skree sy hard vir hulle om stil te bly, maar hulle steur hulle min daaraan. Haar geraas gaan by die een oor in en by die ander een uit.

      Sy gaan juis nou weer aan die gil: “Is julle klaar? Bly stil!”

      Daar is ’n lawaai soos die leerders hul opstelboeke aangee na die kinders wat voor in die rye sit. Niemand antwoord op die juffrou se vraag of hulle klaar is nie. Dis mos ’n simpel vraag, voel hulle. Sy kan mos sien hulle is klaar.

      “Jy weet, Anna,” sê Saartjie vir haar vriendin langs haar, “dit lyk vir my Ou Duifie se senuwees is al klaar gedaan. Sy gaan dit nooit tot die einde van die jaar uithou nie.”

      “Sy weet nie hoe om met kinders te werk nie,” sê Anna en skud haar kop. “Hoe meer sy skree, hoe minder luister ons na haar.”

      Juffrou Nortjé is te saggeaard om dissipline te handhaaf en die klas het dit vinnig agtergekom. Daarom het hulle, veral die seuns, haar siel begin uittrek en dit is toe dat sy die gewoonte aangekweek het om op hulle te skree.

      Die kinders het egter gou agtergekom haar geskree en dreigemente beteken niks nie. Die nuweling is te skrikkerig vir die hoof, die onderhoof en ander senior personeellede om die leerders by hulle te gaan verkla. Ja-nee, hulle maak met haar feitlik net wat hulle wil.

      Eendag, dink Saartjie, gaan daar nog groot moleste in Ou Duifie se klas wees.

      En dit kom gouer as wat Saartjie gedink het!

      “Is daar nog opstelboeke wat moet ingedien word?” skree juffrou Nortjé bo die lawaai van die klomp kinders wat nou niks het om te doen nie.

      “Nee!” skree die groep seuns wat agter in die klas sit en die eintlike moeilikheidmakers in arme Ou Duifie se klasse is.

      Saartjie kyk vies na hulle. Met ’n tipiese gebaar vee sy met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Sy hou niks daarvan dat die seuns so onbeskof met die juffrou is nie. Hierdie hele klas gaan eendag nog in groot moeilikheid beland!

      Onder die rumoerige seuns agter in die klas is daar ook drie van die voorstad Lynnekom af. Hulle was jare lank saam met Saartjie, Anna en Lina op laerskool.

      Die leier van die drie seuns – en hy lyk ook na die leier van die groep wat daar agter so ’n lawaai maak – is Lodewyk le Fras de Waal. Niemand noem hom egter ooit op sy doopnaam nie. Nee, almal behalwe miskien die onderwysers noem hom Galpil.

      Galpil se twee boesemvriende is Gert Bakker en Piet Heyns.

      “Haai, Saartjie!” skree Galpil nou toe hy sien sy kyk na hom. “Hoe’s dinge, ou perd?”

      Hy het die slegte gewoonte om ’n ieder en ’n elk as “ou perd” of “pêrre” aan te spreek. Saartjie hou niks daarvan nie.

      Galpil was eenkeer