“Dit lyk my ons sal alles moet verkoop om ons skuld te delg, en wegtrek,” sê hulle pa.
“Nou moet ons die huis verloor wat ons liefhet?” sê-vra hulle ma met ’n knak in haar stem.
Chanelle bars in trane uit en huil so hard dat haar dogtertjie naderkom en ook begin huil. Ontsteld hardloop sy na haar ouma, wat haar arm om haar sit.
“Dis als jou skuld dat ons nou in dié gemors sit,” skree Chanelle vir Janus. Sy vlieg op en hardloop by die stoeptrappe af, in die rigting van hulle huis.
Janus sit met sy kop in sy hande. Stella hoor hoe hy ’n string lelike vloekwoorde uitsis. Op daardie oomblik verafsku sy haar broer.
“Ek gaan vir my ’n ander blyplek soek,” sê sy.
Haar pa kyk haar spytig aan, maar sê niks.
“Kom, Adèle,” roep haar ma die dogtertjies. “Julle moet aantrek, anders kry julle verkoue. Dan kan julle eet en neem ons Adèle huis toe.”
Stella kyk haar ma en die dogtertjies agterna toe hulle by die huis ingaan. Haar ma het altyd die vermoë gehad om onaangename dinge te ignoreer en net aan te gaan. Is dit ’n vorm van dapperheid, of is dit volstruistaktiek? Steek jou kop in die grond en weier om gevaar of lelike dinge raak te sien?
Janus staan op. Hy lyk skaamkwaad. “Moenie oorhaastig wees nie, Pa,” blaf hy. “Ek is seker ons sal deur dié gemors kom.”
Sy pa gluur hom aan. “Ja, ék is die een wat sal moet red wat te redde is. Gaan troos jou vrou, as dit moontlik is.”
Janus storm weg, in die paadjie af.
Stella kyk haar pa bejammerend aan. “Gaan dit regtig so sleg dat Pappa Swift House ook sal moet verkoop?”
Hy drink sy halwe glas whisky klaar voordat hy antwoord. “Ek voel soos ’n bestuurder wat ’n motor deur ’n rivier in vloed moet kry. Ek weet nie of ek lewend anderkant sal uitkom nie.”
Stella se hart gaan staan amper. Hy klink so moedeloos. “Ai, Pappa.”
Hy staan op en skink vir hom nog ’n glas skoon whisky. Gaan sit weer en neem ’n groot sluk. “Arm grootgeword, toe is ek gulsig. Ek wou vir my kinders gee wat ek nie gehad het nie, maar ek het dit oordoen. Net jy het reg uitgekom, Stellatjie. Ek is bevrees jou broer het die spoor byster geraak. Groot bedrae geld op daardie ander vrou gespandeer. Ek sal haar eenvoudig laat uitsit uit die duur woonstel wat Janus vir haar in Lynnwood gekoop het. Daardie spoggerige motor sal sy ook moet verbeur. Ons sal al ons skuld moet aflos en kyk wat dan oorbly. Miskien nog een winkel behou, maar ons lewe sal drasties afgeskaal moet word. Ek sê weer: dankie tog jy het ’n ordentlike beroep. Ek hoef my nie meer oor jou te bekommer nie.”
“Sal julle van alles gestroop word, Pappa?”
Hy gee ’n kort, humorlose laggie. “Ons wou met die magnate van die land meeding en meng, maar het ons vlerke lelik verbrand. Nou kan ons nie meer vlieg nie. Maar ons kan nog ry en loop. Paul Swift sal nie gaan lê nie. Daar sal net ’n Plan B wees.”
“So ken ek vir Pappa. Altyd optimisties en vol moed.” Hy is geslaan, maar nie platgeslaan nie.
Hy glimlag vir haar. “Ek skat jy aard na my, my lief. Ons laat ons nie onderkry nie.”
Sy glimlag terug. Haar pa het foute, maar sy het hom nog altyd bewonder, en hy het haar lewe maklik gemaak. Sy sal hom soveel moontlik bystaan noudat hy ’n terugslag gehad het. Hy ly nie net geldelike verlies en skade nie, maar sy blue-eyed boy het hom seer in die tande geskop.
“Gaan jy vanaand by ons eet?” vra hy. “Nie dat ek lus het vir eet na vandag se skokke nie.”
“Nee, dankie, Pappa. Ek het ook nie lus vir eet nie. Ek gaan liewer huis toe.”
Sy staan op, buk oor hom en soen sy wang. “Pappa weet waar om my te kry wanneer Pappa wil praat.”
5
Stella vlieg orent toe haar selfoon lui. Nog nie opstaantyd nie, merk sy vervaard op. Waarom sou haar ma …?
“Ja, Mamma?” vra sy ongerus.
“Kom tog gou, Stella.” Haar ma se stem is skril van paniek. “Chanelle wil nie wakker word nie … Sy’t pille gedrink … Leanne het ons kom roep …”
“Watse pille, Mamma?” Stella is reeds uit die bed, helder wakker.
“Slaappille, antidepressante … ’n klomp … Sy’s op medikasie en …”
“Ek kom.” Stella bel die ambulans om dadelik te kom en trek gou aan. Gryp haar mediese tas en hardloop.
Janus-hulle se voordeur staan oop.
Haar ma en Leanne huil.
Sy storm by die slaapkamer in. Haar pa buk oor Chanelle wat doodstil en slap daar lê, haar nagrok opgetrek teen haar bobene, haar hare beswete en deurmekaar op die kussing.
Op die vloer lê twee of drie botteljies gesaai. Stella kyk vlugtig na die etikette.
“Staan terug, Pappa, ek sal oorneem. Waar is Janus?”
“Hy’s weg,” sê haar pa. “Leanne sê haar ma en pa het gisteraand vreeslik gestry en toe ry hy. Hy’t nie vannag hier geslaap nie.”
Haar pa het sy werkklere aan, al is dit nog vroeg, maar haar ma en Leanne staan daar in nagklere.
“Pappa, vat die pilhouers, asseblief, sodat ons weet wat om vir die noodpersoneel te sê.”
Sy buk oor Chanelle. Toets haar asemhaling en pols. “Asemhaling en pols flou,” prewel sy. Onmiddellik druk sy Chanelle se neus toe en begin mond-tot-mond-asemhaling doen. Sy moet net hartstilstand voorkom totdat hulle haar skoonsuster by ’n lewensondersteuningstelsel kry.
Tussendeur bid sy kliphard terwyl sy werk.
Vaagweg hoor hulle nou die geloei van ’n sirene. Kort daarna storm twee paramedici die kamer binne.
Stella kom uitasem orent. “Haar toestand is kritiek.”
Hulle laai Chanelle op ’n trollie wat een blitssnel van buite af ingestoot het en haas met haar na die ambulans.
Stella kyk toe terwyl hulle haar aan apparate koppel, en toe wegjaag.
“Ek volg.” Sy gryp die pilhouers uit haar pa se hande.
Toe sy by die ongevalle-eenheid van die Mediclinic aankom, laai hulle reeds vir Chanelle af. Twee dokters wat Stella ken, wag hulle in. Vir die een gee sy die pilhouers. “Sy het dit gedrink.”
Sy volg om te kyk hoe hulle Chanelle aan monitors koppel om haar suurstofvlak, hartklop en bloeddruk te meet. Chanelle kry ook onmiddellik bloed.
“Gee haar minstens twee sakkies om hart- en longversaking te voorkom,” sê die een dokter aan die verpleegster.
Chanelle lewe nog, net-net. Nou moet sy haar in haar kollegas se hande laat.
Uitgemergel loop Stella uit. Sien skaars die aktiwiteit om haar raak. Dalk was sy nét betyds. Dalk sou Chanelle gesterf het as sy nie mond-tot-mond-asemhaling toegepas het nie. Dit was al waaraan sy in daardie kritieke minute kon dink. Watter ramp sal dit nie wees as Chanelle ná al die teenspoed boonop sterf nie.
Waar is die verbrandse Janus? Die oorsaak van alles.
Haar ma het Chanelle se ouers seker laat weet. Hulle sal groot skrik.
En die arme klein Leanne wat alles moes aanskou!
Op daardie oomblik verafsku sy Janus soos nooit tevore nie. Hy het gevlug en sy ontstelde vrou agtergelaat. Pleks hy haar bygestaan het. Probeer vergoed het vir die groot skok wat sy gekry het. Sy is reeds