“Ons het probeer om alles op te los sonder dat almal daarvan te hore kom, maar dis eenvoudig onmoontlik om alles weg te steek. Mense snuffel dinge uit.”
Was julle dan oneerlik? wil sy hom vra, maar sy hou haar in. “Maar … net onlangs het Janus daardie peperduur Ferrari gekoop …”
“Dis vandag teruggeneem. Natuurlik kon hy dit nie betaal nie.”
Sy ruik die uie brand en ruk die pan van die plaat af. Sit dit eenkant. Skakel die borrelende water af.
Haar bene voel lam.
Sy trek ’n hoë stoel nader en gaan sit. Staar haar pa onbegrypend aan. “Ek is dan heeltyd onder die indruk dit gaan so goed met Swift Meubileerders. Pappa gee nog beurse vir die universiteit, sover ek weet.”
Hy vryf met al twee hande oor sy gesig. “Dit sal herbeding moet word, ongelukkig. Dit het lank baie goed met ons gegaan, maar nie meer nie. Ek is net goddank bly jy het klaar gestudeer en het ’n praktyk. Ons het seker te lekker gelewe.” Hy lag wrang, sonder humor. “Ek dink daaraan om ons huis op Plettenbergbaai te verkoop. Dit sal darem ’n aantal miljoen inbring. Ons het baie skuld.”
Stella dink aan die partytjie ná die gradeplegtigheid met die vele gaste, die duur spyseniers en weelderige kos. Die Franse sjampanje, asof Suid-Afrikaanse vonkelwyn, wat eintlik uitstekend is, nie goed genoeg is nie. Toe kom Janus boonop met ’n duur Ferrari daar aan.
“Wat van dié plek, Pappa? Moenie vir my vertel ons gaan Swift House verloor nie?”
“Ons moet probeer vashou, net nie meer so uitspattig lewe nie. En minder onthaal. Dis duur om te onthaal, veral as jy ryk vriende moet imponeer.”
Skokvlae trek deur Stella. “Ai, Pappa, wat kan ek doen om te help?”
Sy glimlag is hartseer. Daar is trane in sy oë wat haar hart laat ruk. Hy was altyd so vrygewig. Die eerste keer wat sy tekort geken het, was in haar gemeenskapsjare ver van die huis af, en selfs dít kon nie regtig as swaarkry geklassifiseer word nie. In elk geval is sy heeltyd van die huis se kant af ingestop. Haar ouers het goed vir haar gesorg.
Maar daar is sy gekonfronteer met hoe mense lewe wat arm is. Wat met veel, veel minder as sy moet klaarkom. Sy was skaam oor haar oorvloed en het links en regs uitgedeel.
“Ek gaan vir my blyplek op die dorp kry en dan kan julle hierdie kothuis verhuur,” stel sy voor.
Haar pa glimlag skeef. “Dankie, my kind, maar dit sal ons probleme nie oplos nie.” Hy kreun en vryf weer oor sy gesig.
Stella se hart krimp ineen van jammerte.
“Het ek maar beter toesig gehou, maar ek het te veel op ander vertrou. Om so in die steek gelaat te word, is ’n baie groot skok.”
Stella is agterdogtig. “Pappa, is dit net die boekhouers wat oneerlik was, of het Janus …?”
Haar pa se oë is kwaad en hartseer. “Jou broer het te veel van ons winste afgeskep. Jy weet hoe lief hy vir blink karre en die perde is. Ek kan nie verstaan hoe ek so blind kon gewees het nie. Alte dikwels het hy sonder Chanelle naweke in Pretoria gebly en wat daar aangegaan het, wil ek liewer nie weet nie.”
Arme Pappa, maar jy het vir hom die voorbeeld van dié lewenstyl gestel, dink Stella meewarig. Janus het altyd alles gekry wat hy begeer. Natuurlik sal hy ’n sense of entitlement hê.
Maar het sy nie ook alles gekry wat sy nodig gehad het sonder om te sukkel nie? Wie is sy om vinger te wys?
Sy was darem nog nooit oneerlik nie en het hard gewerk vir haar kwalifikasies.
En haar broer is die een wat altyd agteraf met Arend Barnard gespot het, maar Arend het in matriek met ’n ou Volkswagen gery en hy het dit steeds gery toe hy by die Tygerbergkampus gaan studeer het.
Janus het in matriek al ’n nuwe BMW 1-reeks gekry en in die eerste jaar op universiteit het hy die ding laat rol en toe koop hulle pa vir hom ’n BMW 3-reeks. Toe druip hy daardie jaar, want hy het te veel partytjie gehou en niks geleer nie.
Janus se klere, sy sportuitrustings was altyd die duurste en beste. En die ironie is, hy was nie eens goed in sport nie.
Stella krimp ineen wanneer sy nou daaraan dink. Haar maats het gesien hoe bevoorreg hulle is, maar ook dat hy nie presteer nie.
Arend het ook alles gesien. En kyk waar trek hý nou in die lewe? In ’n praktyk waar hy groot geld verdien. Hy het hard gewerk daarvoor en op ’n eerlike manier gepresteer. Sy vrou sal nie tekorte ken nie.
“Het Pappa al vir Janus gekonfronteer?” vra sy kwaai.
“Ja, my kind. Hy is glo spyt, maar dit kom te laat. Veels te laat. Ek moet nou probeer red wat te redde is. Jou ma huil sonder ophou.”
Hy staan op en sug diep. “Ek moes jou kom vertel. Nou moet ek seker teruggaan.”
Stella staan ook op. “Ek is bly Pappa het my vertel. Ek sal help om aan oplossings te dink, en onthou, ek het ook ’n inkomste.”
Hy glimlag hartseer. “Dankie, my kind. Dit gee my gemoedsrus dat jy minstens vir jouself kan sorg.”
By die deur gee sy hom ’n drukkie en kyk hoe hy kop onderstebo in die tuinpaadjie af loop.
O aarde! Hy het sy baadjie vergeet.
’n Stuk papier val uit toe sy dit optel. ’n Dagvaarding vir skuld … Sy druk dit terug in die sak en draf uit: “Pappa, jou baadjie!”
Hy gaan staan.
Sy draf na hom. Gee hom sy baadjie. Moet sy iets sê van die dagvaarding? Liewer nie. Sy sal wel mettertyd van al die aaklige waarhede hoor.
Terug in haar huis gaan sit sy op ’n sitkamerbank. Haar eetlus is daarmee heen.
Dit voel asof die hemel op haar – op hulle – koppe val.
Mense praat altyd van die hoë bome wat val. Hoe val die Swifts tog nie nou nie!
’n Hele ruk sit sy so, verslae en bewegingloos. Toe besluit sy om vir Leonie te bel en haar te vertel voordat alles op die lappe kom. Sê nou net dit benadeel hulle praktyk wanneer almal besef sy is die dogter van Paul Swift wie se besigheid vir ongerymdhede ondersoek word? Mense kan so verdoemend wees.
“Haai,” kom Leonie se vrolike stem oor die foon. “Hoe is dit dat jy my bel? Nooi jy my vir ete, of iets?”
Stella is te swaarmoedig om te skerts. “Ek bel omdat hier ’n lelike ding opgeduik het. Ek het gedink jy moet onmiddellik daarvan hoor.”
’n Kort, swanger stilte.
“Hemel, dit klink nie goed nie. Wil jy oor die foon praat of sal ek gou oorry na jou toe?”
“Dis ver van Die Boord af Jonkershoek toe.”
“Ag nee, dis oukei. Daar is mos nie dié tyd van die aand verkeer nie. Ek kan hoor daar is ’n krisis. Ek kom.”
Stella is dankbaar. Leonie is altyd so ’n staatmaker. “Goed, dan maak ek vir ons spaghetti bolognese wat klaar sal wees teen die tyd dat jy hier aankom.”
“Lekker. Sien jou nou-nou.”
Stella staan op en gaan kombuis toe. Die uie en knoffel het net so ’n klein bietjie geskroei, maar dit is nog eetbaar. Sy kry die kookwater aan die gang en gooi die spaghetti in. Roer die maalvleis in die uie-en-knoffelmengsel, toe die tamaties en roer. Sy doen alles werktuiglik. Haar gedagtes is ver weg.
Nou begin sy dingetjies onthou wat waarskuwingstekens moes gewees het. Hoekom het sy dit nie reg vertolk nie? Sy was te besig met haar eie beroep, haar eie dinge. Haar pa koop elke jaar vir hom en haar ma elk ’n nuwe motor, maar hy het dit nie vanjaar gedoen nie. Hulle het minder onthaal as voorheen. Ook nie weer omtrent oophuis op Plettenbergbaai gehou nie. Voorheen het mense gedurig daar kom eet en bly.
Sy het altyd gekla dat dit te besig is, soos ’n miernes, wanneer