“Dit klink soos ’n helikopter wat in julle voortuin land,” sê Jaco. “Maar ek het dit nie sien aankom nie. Sal ons gaan kyk wat dit is?”
Die gebrul word harder soos hulle deur die huis vorentoe loop. Ander mense volg ook.
Toe hulle by die voordeur uitloop, snak Stella na asem.
Daar staan ’n rooi Ferrari, skitterblink en duidelik splinternuut.
“Wie is dit?” vra Jaco verstom.
“Dit kan net Janus wees,” spot Leonie. “Lyk my hy wil al weer aandag trek.” Sy kon hom nog nooit verdra nie en maak geen geheim daarvan nie.
Die lae, blink motor se deure vlerk oop. Janus klim uit. Chanelle klim ook uit, in ’n wit chiffonrok wat haar amper soos ’n bruid laat lyk, met los blonde hare en juwele wat aan ore, polse en hals skitter.
Stella kyk hulle geskok aan. Wat besiel hulle om so hier aan te kom? En van wanneer af ry Janus met so ’n flashy motor?
“Haai, kyk ons nuwe vuurwa,” roep Janus met ’n grinnik. Sy pak kom van Armani en sy hare is in die nuutste styl geskeer, lank bo en baie kort aan die onderkant.
“Bling,” sê Jaco minagtend.
Tiaan sê niks. Frons net, asof hy dink dis verspot.
Stella kry erg skaam.
Haar pa het langs hulle kom staan. “Magtag,” is al wat hy sê. Hy lyk geskok en onaangenaam verras.
Sy vermoed haar broer troos homself. Wys hy het geld, al het hy nie soos sy neef Jaco gepresteer nie.
“Hogging the limelight,” sê Leonie sarkasties.
Stella voel ongelukkig ook so.
Janus kom met ’n grinnik na hulle aangeloop. Steek sy hand uit, eers na Jaco en toe na Tiaan. “Geluk, manne.”
Albei sê hoflik dankie, maar nie een is juis oorvriendelik nie.
Leonie draai om en loop terug na die deur. Hulle volg.
Stella huiwer eers toe sy sien haar pa loop na Janus. Hulle praat sag, maar sy hoor een of twee woorde.
“… besiel … Ferrari … bekostig …?”
Sy draai om en loop liewers weg.
Janus se uitspattigheid en spandabelrigheid gaan hom nog inhaal. Sy kan sien haar pa is glad nie gediend met dié nuwe aankoop nie.
Hulle eet en drink, lewer toesprake en drink heildronke. Dit is veronderstel om ’n heuglike en feestelike geleentheid te wees, maar Stella se pa lyk vir haar omgekrap. Sy hartlikheid kom vir haar gedwonge voor. Hy is altyd die onberispelike gasheer, maar sy kan sien hy geniet nie die viering nie.
Waarom moes haar broer alles kom bederf het? Hy drink ook te veel, lag te hard en vertel te veel grappies.
Dit is veronderstel om Tiaan en Jaco se groot dag te wees. Dit lyk wel of hulle dit geniet, maar hier hang ’n wolk oor die skynbare plesierigheid.
Stella staan langs Tiaan en kyk op na die berg agter die landgoed. Die hange is groen. Ondertoe is die tuine ook groen en geil. Alles is so mooi hier en word so goed versorg. Dit lyk asof niks ooit verkeerd kan gaan nie en of daar nooit tekorte in die Swifts se lewe kan wees nie.
Janus kan tog seker daardie Ferrari bekostig?
Waarom lyk hulle pa, wat Janus nog altyd bederf het en niks ontsê het nie, dan vandag so omgekrap?
Skaam hy hom ook dat sy seun die ander jong mans se triomf, waarvoor hulle lank en hard gestudeer en gewerk het, probeer oorskadu?
3
Dit was ’n lang, besige dag waarin Stella heelwat pasiënte gesien het, waaroor sy bly is. Ten minste begin die praktyk min of meer momentum kry. Aanvanklik was dit so stil dat sy en Leonie bekommerd was dat dit nie gaan slaag nie.
Stella staan kaalvoet in haar kombuisie en drink ’n glas koue witwyn terwyl sy uie en knoffel fynkap wat sy in die pan wil braai. Die maalvleis en kruie staan gereed, so ook die blik tamaties. Op een van die stoofplate borrel die soutwater waarin sy die spaghetti moet gooi.
Eers as student het sy geleer hoe om kos te maak en vanaand maak sy vir haar spaghetti bolognese, haar gunsteling. Dis lekker om self kos te maak en sommer voor die TV te eet. Terwyl sy in haar ma se huis gewoon het, het sy nooit kos gemaak nie. Haar ma se sjef en die huishulpe het dit gedoen.
Sy glimlag toe sy onthou hoe geskok Leonie was toe hulle die eerste keer saam in hulle woonstel was en Stella haar vertel sy het nog nooit ’n maaltyd voorberei nie. Leonie het resepte gehad of gegoogle en sy het eintlik vir Stella leer kook.
“Jy moet by ons kom eet,” neul haar ma heeltyd, maar sy sê nee. Sy wil nie meer van haar ouers afhanklik wees nie en haar kom en gaan is buitendien ongereeld. Nog ’n rede waarom sy nie by die groot huis wil gaan eet nie, is dat Janus en sy gesin altyd daar is. Sy het eenvoudig nie lus vir hulle geselskap en sy manier van terg nie. Daar is altyd ’n angel in sy grappies.
Sy tel die wynglas op en neem ’n teug. Hoor iemand aan die voordeur klop. Met ’n sug skakel sy die stoofplate af en loop voordeur toe.
“Haai, Pappa. Dis ’n verrassing.”
Hy dra nog sy werksklere, pak en das. Sy kry die indruk dat hy moeg is.
“Ek kom net ’n bietjie gesels, my kind.”
“Pappa is welkom. Kom in. Ek is besig om spaghetti bolognese te maak. Pappa kan kyk hoe ek kook en dan saameet. Daar sal genoeg wees. Ek het gewoonlik heelwat kos oor. Hier is ook lekker koue wyn in die yskas.”
Hy lag. “Nou toe nou. Ek het net op die regte tyd gekom, lyk dit my. Nie dat ek mag eet nie, hoor. Jou ma verwag my mos vir ete.”
“Ag, hou my geselskap.”
Haar pa woel sy das los, trek sy baadjie uit en hang dit aan een van die eetkamertjie se stoele. Sluk van sy wyn. Hy gaan sit op een van die hoë stoeltjies by die toonbank van die kombuis.
Stella skink vir hom ook wyn en skakel die plate weer aan. Die uie is nog net halfpad klaar en sy begin weer kap. “Sjoe, dit laat my oë altyd traan.” Sy lag en kyk na haar pa, wat haar sit en dophou. Hy sluk van sy wyn.
Stella wonder waarom hy gekom het. Hy moet iets op die hart hê. “Hoe gaan dit, Pappa? Baie besig?”
Hy frons en kyk na sy glas. “Halfleeg in plaas van halfvol.”
Sy maak die gekapte uie en knoffel bymekaar, gooi dit by die olyfolie in die pan en roer dit. “Hoe bedoel Pappa nou, dit gaan halfleeg?”
Sy sug is amper meer van ’n kreun, en dit maak haar onrustig.
“Ons het nou al ons plattelandse winkels gesluit. Nog net die een op Stellenbosch is oor. Ek sal die groot winkel in Pretoria ook moet sluit of verkoop.”
Stella skrik so groot dat sy die vleis amper laat val wat sy intussen opgetel het. “Wat? Ek glo nie wat ek hoor nie. Waarom sluit Pappa winkels?”
Daar was ses plattelandse winkels en een in Kerkstraat-Wes in Pretoria. Die een in Pretoria was hulle groot “moneyspinner” soos haar pa dit altyd genoem het. Hy wou egter nie in Pretoria gaan woon nie, veral nadat hy die pragtige landgoed in Jonkershoek gekoop het, maar het verkies om op en af te vlieg.
Deesdae vlieg Janus meer rond as haar pa. Hoe op aarde gebeur dit dat haar pa nou die winkels sluit?
“Sake het ietwat agteruitgegaan,” sê hy, sy oë neergeslaan, asof hy skaam is om haar in die gesig te kyk.
Sy kyk na sy duur hemp en snyerspak. Hy lyk versorg genoeg. Nie na ’n man wat finansieel in die knyp is nie.
“Wat het dan gebeur?”
Sy oë is troebel. “Ons het verliese gely en die boekhouers het ons verneuk. Korrupsie is toegesmeer. Ek moes wakkerder