Boonop kry sy deesdae ’n soort voorgevoel dat die voorspoed dalk nie veel langer kan hou nie.
Nee, sy is net verspot. Verbeel haar dinge.
Al is sy dankbaar vir die voordele en voorspoed waarmee sy nog altyd geseën is, kan sy regtig sê sy is gelukkig?
Die studente van al die gesondheidswetenskappe kom in ’n lang stroom in en neem hulle sitplekke in totdat die saal vol is.
“Daar is ons manne.” Leonie wys met haar vinger, lag en wuif.
Stella wuif ook glimlaggend.
Tiaan en Jaco wuif terug.
Die volgende oomblik slaan Stella se asem iewers in haar keel vas. Langs Tiaan is Arend Barnard, wat nie eens in hulle rigting kyk nie.
Liewe hemel, maar die man is aantreklik. Op skool was hy al sag op die oog, maar kyk hoe lyk hy nou. Lank, regop, die toonbeeld van manlikheid. Sy donker hare is kort om sy goed gevormde kop gesny, maar nie te kort nie.
Sy loer oor haar skouer na die Barnards.
Hulle kyk ook almal in daardie rigting. Arend draai sy kop en kyk na sy mense. Glimlag.
Stella sien dat die mooi, donker meisie vir hom wuif. Die emosie wat haar summier vul, voel baie na aan jaloesie.
Jy is wragtig vandag verspot, Stella, raas sy met haarself.
Die musiek en die mense raak stil. Die akademiese prosessie kom by die sydeure ingeloop, rektor en dekane en die belangrikste bestuurders van die universiteit, die registrateur, die visedekane, die professore, in ’n verskeidenheid togas.
Hulle klim by die verhoog op.
Na ’n tou studente wat eindeloos oor die verhoog beweeg het, gekeil, gelukgewens en met bande behang is, kom die MMed-studente uiteindelik aan die beurt. In die gradeplegtigheidsgids staan Arend se naam heel eerste as die een wat met onderskeiding geslaag het.
Summa cum laude, het Tiaan nog gespot. Arend was ook die MBChB-student wat die kanseliersmedalje ontvang het as beste student.
Hy loop eerste op.
Stella hou asem op. Sy verbeel haar sy hoor ’n kollektiewe sug om haar opgaan.
“Jeez, maar hy’s ’n hunk, nè?” sê Leonie. “So blerrie mooi en dan nog so blerrie slim ook. Voor in die ry gestaan toe alles uitgedeel is.”
“Nogal,” probeer Stella lakoniek klink.
Die mooi meisie wat by die Barnards was, staan byna langs haar in die gang en neem woes foto’s, nie met ’n selfoon nie, maar met ’n kamera. Stella wens sy kon ’n foto van Arend neem, maar hoe sal dit nou lyk?
Toe Tiaan en Jaco die een na die ander aan die beurt kom, neem sy en Leonie en die ander almal foto’s.
Leonie en haar ma het trane in hulle oë toe Tiaan voor die registrateur staan en die band om sy skouers gehang word.
“Vandag is ek donners trots op my boetie,” sê Leonie en vee ’n traan af.
Hulle staan buite op die groot grasperk waar die mense mekaar omhels en gelukwens en foto’s neem.
Stella soen eers vir Jaco en toe vir Tiaan, wat besitlik met sy arm om haar skouers kom staan.
Leonie kom pomp hom in die maag met haar vinger. “Jy weet net nie hoe trots ek is dat jy my boetie is nie.”
Hy lag: “Ek kan dit sien, sussie.”
Hy lyk so gelukkig, dink Stella. Hy verbeel hom hy het nie slegs die graad verwerf nie, maar ook vir haar. Een of ander tyd moet sy hom ontnugter en sy vrees dit.
Naby hulle is die klomp Barnards en die vreemde mooi meisie. Almal val Arend om die hals en wens hom geluk. Die meisie bly trots aan sy sy.
“Ek wil darem ook my ou skoolmaat gaan gelukwens,” sê Stella.
Tiaan los haar nie, maar loop saam na die Barnards.
Arend draai hom na hulle, en die glimlag verdwyn van sy gesig af.
“Onthou jy my?” vra sy.
Hy glimlag weer, maar dit is effe spottend. “O, ja. Ek onthou jou, Stella Swift.”
Sy beweeg onder Tiaan se besitlike arm uit en bied vir Arend haar hand aan. “Veels geluk. Blykbaar is jy die grootste presteerder van die kursus.”
“Ek is maar ’n werkesel, van jongs af,” spot hy. “Dis die groot chip op my skouer wat my so aanjaag.”
Sy voel haar wange warm word. Dit is Janus wat altyd so gespot het oor die enorme chip op Arend se skouer. Hy het dit seker gehoor of dit op een of ander manier te wete gekom.
“Nee wat, dis net intelligensie en ambisie wat jou jaag,” sê sy. “’n Mens moet die gawes gebruik wat jy ontvang het.”
Hy lag. “Kan ek jou voorstel aan Annemie Terblanche? Dokter Annemie Terblanche, moet ek seker sê. Annemie, dis dokter Stella Swift, wat eentyd saam met my op skool was. Sy was in graad agt toe ek in matriek was. Haar broer was in my klas.”
Die meisie se mooi donker oë lyk nogal waaksaam. “Bly te kenne, Stella.”
“Bly te kenne, Annemie.”
Arend se suster, Tessa, is meteens langs Stella. “Ja, ou Stellatjie was weer in mý klas. Die mooiste en slimste meisie in die skool.”
Stella is so verleë dat haar wange brand. “Ag nee …”
“En die rykste, maar ons het dit nie teen haar gehou nie,” grap Tessa. “Sy was plat op die aarde en altyd vreeslik nice.”
Arend kyk af na Stella, sy gesig onleesbaar. “Verskoon ons, asseblief. Ons gaan op ’n wynplaas eet.”
“Ek drink sommer ’n hele bottel vonkel uit,” lag Tessa. “Of miskien sal ek dit op my boet uitspuit soos die renjaers maak wanneer hulle wen.”
“Moet dit nie waag nie,” raas hy kastig, maar hy omarm haar en soen haar op die wang.
Stella hou hulle dop en wens sy het so ’n verhouding met haar broer gehad. Janus sal haar eerder spot as soen. Eintlik het hy haar wreed geterg en nogal afgeknou. Haar ouers het hom nooit werklik gestraf nie, want hy is mos hulle blue-eyed boy.
Tot vandag toe kan sy nie anders as om hulle kwalik te neem nie.
“Geniet dit,” sê sy met ’n gedwonge glimlag.
“Waar gaan julle vier?” vra Tessa.
“Ag, by die huis. Mamma het met mening voorberei.”
“Het Janus nie gekom nie?” Tessa kyk rond asof sy dink hy gaan enige oomblik verskyn.
“Nee, hy is by die werk.”
Hulle groet, en Tiaan vat Stella se hand. Lei haar weg na waar die ander vir hulle wag.
Stella se ma het spesiale moeite gedoen, nie net vir hulle klomp nie. Verskeie vriende is ook genooi. Spyseniers het ’n spogete berei en bedien vooraf die versnaperinge en drankies. In die groot eetkamer en op die breë agterstoep is daar blomme en pragtige eetgerei. Franse sjampanje en ander drank van alle moontlike soorte.
“Dit lyk amper soos ’n onthaal na ’n troue,” skerts Leonie toe hulle inloop.
Stella is amper verleë oor die oordaad, al besef sy dat haar ma altyd alles in styl wil doen. Haar onthale is legendaries, en haar man kla nooit oor die onkoste nie.
Stella, Tiaan, Leonie en Jaco staan op die stoep met sjampanjeglase. Tiaan se glimlag strek van oor tot oor en hy kyk Stella soos ’n verliefde skoolseun aan. “Jy lyk wragtig mooi vandag. Kan ons nie sommer wegloop nie?”
Sy glimlag, maar is ongemaklik. “Nie sommer nie.”
Leonie draai haar kop en lyk of sy luister. “Wat