Daar was teerheid in sy gebaar, maar is sy gevoelens ooit so diep soos hare?
Dit is te laat om nou te probeer keer. Sy is tot oor haar ore verlief op hom.
Vrydagmiddag haas Willa haar huis toe. Sy stort gou, grimeer liggies en trek jeans en ’n koel bloesie aan. Sy maak ’n biltongslaai en begin met die voorbereiding van die paella-risotto wat sy beplan het.
Deon daag op met ’n bottel wyn en vra waarmee hy kan help. Sy wys hom waar die eetgerei is en vra hom om tafel te dek. Hy diep selfs iewers uit ’n laai ’n kers op wat hy aansteek. Toe skink hy vir hulle elkeen ’n glasie wyn en bring Willa s’n vir haar.
Sy skep op. Hulle eet en gesels oor die week wat verby is.
“Jou kos is heerlik,” komplimenteer hy haar. “Waar het jy leer kook?”
“My ma was baie lief vir kook en dit was altyd vir my lekker om by haar in die kombuis te wees wanneer sy kosmaak. Sy het graag met nuwe resepte geëksperimenteer. Ek dink my belangstelling is daar gekweek. En na haar dood …”
“En na haar dood …?”
“Toe het ek nie ’n keuse gehad nie, en moes ek kook.” Vervlaks, sy het nou meer gesê as wat sy in dié stadium wou. “Ons huishulp kon nie, en my pa het eers laatmiddag by die huis gekom. Ek was in graad agt toe sy oorlede is. My pa was adjunkhoof by ons plaaslike hoërskool, en het maar altyd werk en sportafrigting in die middae gehad. Hy is twee jaar na my ma se dood weer getroud, en hoewel my stiefma baie van my pligte oorgeneem het, het ek nog dikwels, veral naweke, vir etes gesorg. Kook was nie regtig haar of my stiefsuster se belangstelling nie.”
“En noudat jy nie meer in die huis is nie? Wie kook nou vir hulle?” vra hy.
“My pa is aan die einde van my eerste jaar aan ’n hartaanval oorlede. Ek het nie vreeslik goed klaargekom met my stiefma en my stiefsuster nie, dus is ek na skool uit die huis uit. Ek en Lien, die vriendin van wie ek jou al vertel het, het dié woonstel van die begin van daardie jaar af gedeel. Sy het ’n skoonheidskundekursus by die tegniese universiteit geloop en ek het by die universiteit met my kursus begin. Na my pa se dood het ek oorgeslaan na deeltydse studie en met klerkskap begin.”
“Ek sal jou vriendin graag wil ontmoet wanneer sy van haar vakansie terugkom.”
“Sy wil jou ook graag ontmoet. Sy is pragtig, binne en buite.”
Deon is ’n rukkie stil.
Willa is bly dat sy sit, want haar bene word heeltemal lam toe hy haar hand in syne neem en liggies met sy duim oor haar palm vryf.
“Wat jou familie betref, vermoed ek daar is heelwat meer wat ek nie vertel is nie.” Hy druk ’n soentjie op haar palm en vou haar hand toe. “Ek is gelukkig dat ek nog beide my ouers het. Ons is ’n gelukkige gesin, behalwe dat my suster op die oomblik deur ’n moeilike tydperk gaan. Sy is onlangs van haar man geskei. Die klassieke rede: ’n ander vrou. En al het ek van die begin af nie veel gedink van die man met wie sy getroud is nie, het ek ook geen simpatie met die ander persoon in ’n liefdesdriehoek nie. Die skade wat aangerig word, is net te groot. Ek wens ek kon verhoed dat haar hart gebreek word. Ek haat dit om haar so ongelukkig te sien.”
Willa kyk na die ernstige trek om sy mond. Dit is duidelik dat hy baie lojaal teenoor sy suster voel. Sy is voorwaar gelukkig om so ’n broer te hê.
Hoe anders was haar eie latere gesinslewe nie!
Willa teug aan die laaste bietjie wyn in haar glas terwyl haar gedagtes in die verlede dwaal.
Aan die begin was die vrae: Wat doen ek verkeerd? Dit moet my skuld wees dat my nuwe ma en haar dogter nie van my hou nie.
Melanie is so mooi, ’n ekstrovert. Aan die einde van elke dag die voorneme: Ek gaan harder probeer, nie in my dop kruip nie, vriendeliker wees.
Eers later het sy besef dat dit twee neem om te tango.
Van hulle kant het haar stieffamilie niks gedoen om haar te betrek nie. ’n Nuwe gesin het tot stand gekom, maar daar was geen poging om haar deel daarvan te maak nie.
“Ek is jammer vir jou suster,” simpatiseer sy. “Dit moet baie pynlik wees om deur so iets te gaan. Ek was in my hoërskooljare gelukkig om ’n vriendin soos Lien te hê. Sy én haar gesin. Hulle almal het hulle met liefde en deernis oor my ontferm. By hulle het ek telkemale weer moed gaan skep.”
Deon glimlag vir haar, sy oë baie sag. Hy kyk op sy horlosie, sê: “Ons het so lank geëet en gesels. Ek gaan die skottelgoed was, gaan sit jy voor die televisie.”
Daarvan wil Willa nie hoor nie. Hulle was saam skottelgoed en ruim die kombuis op.
Deon wil graag na ’n dokumentêre program kyk, en Willa neem die koerant om op hoogte te kom van die dag se nuus, maar toe sy in ’n stoel wil neersak, keer Deon: “Kom sit hier by my op die bank.”
Die afgelope vier weke het Deon gesorg dat daar fisiek ’n afstand tussen hulle is. Is dit die eerste stap om nader aan mekaar te beweeg?
Sy gaan sit op die ander sitplek van hulle tweesitplekbank, maar Deon trek haar nader sodat sy teen hom aanleun, sy arm agter haar skouers. Ongeërg skakel hy met die afstandbeheerder oor na die kanaal wat hy verlang en begin na sy program kyk.
Willa skop haar sandale uit en trek haar voete onder haar in, slaan die koerant oop en begin stadigaan ontspan. Geen bedreiging hier nie. Sy bly ontspanne selfs toe Deon na ’n rukkie liggies haar skouer en nek begin streel.
Later vou sy die koerant op en leun ontspanne en lomerig teen hom aan. Sy ander hand vou om haar gesig, lig haar ken op. Oombliklik is die spanning terug. Vir ’n paar oomblikke kyk sy in sy oë: Sy weet nie wat haar oë verraai nie, maar sy blik is enigmaties.
Hy buig sy kop en sy lippe sluit oor hare. Sy soen is teer, sy een hand streel haar nek en rug totdat alle spanning in haar verdwyn. Sy gee haar oor aan sy omhelsing, haar mond beantwoord sy soen. Deon trek haar stywer teen hom aan, sy soene word dringender.
Willa het nie geweet ’n blote soen is in staat om soveel emosies in haar op te wek nie. Die omhelsings waarvan sy ervaring het, was vir haar aangenaam tot op ’n punt, dan het sy haarself sonder moeite onttrek.
Maar dis nou … ánders. Sy wil nie hê hy moet ophou nie. Sy wil sy hande oral op haar voel. Haar bloed jaag deur haar are. Haar hande kruip op na sy skouers, meet dit oor en oor, beweeg op na sy nek en kop, streel dit, haar vingers in sy hare.
Hy streel met sy mond oor haar wang, druk sagte soentjies in haar nek. ’n Lam gevoel spoel deur haar, haar hele wese meteens sag. Keer op keer soek hy weer haar mond op.
Dis ’n skok toe hy haar effens hardhandig van hom wegstoot en vinnig opstaan. Hy stap ’n entjie weg, sy een hand teen die muur en sy kop geboë, sukkelend om sy asemhaling onder beheer te kry.
Willa staan wankelend op en stap na die venster, kyk uit oor die stadsliggies sonder om iets te sien. Haar enigste troos is dat hy, soos sy, nie onaangeraak is nie: Albei van hulle sukkel om hulle selfbeheersing terug te kry.
Toe haar asemhaling na normaal terugkeer, draai sy om. Sy voel sy blik op haar, maar dis moeilik om dit te ontmoet.
“Jy oukei?” vra hy, en toe sy knik, glimlag hy meewarig: “Jammer, Willa, dit was nie beplan nie. Maar jy gaan na ’n man se kop. Kom sê vir my tot siens by die deur. Ek wil jou nie hier groet nie, ek weet nie of ek dan sal wegkom nie.”
Die volgende dag bel Deon om hul afspraak vir die aand te bevestig en om af te spreek hoe laat hy haar sal kom kry. Sy stem klink saaklik oor die telefoon, maar toe hy die aand opdaag, kom hulle albei agter dat hulle ’n grens oorgesteek het. Daar is intimiteit, innigheid tussen hulle wat die een nie vir die ander kan wegsteek nie.
Hulle eet by ’n restaurant wat al ’n paar keer genomineer is as een van die beste restaurante in die land. Hulle kies verskillende geregte en laat mekaar