Die een afspraak volg na die ander. Hulle sien mekaar daardie eerste paar weke elke dag, meestal selfs vir middagete. Deon maak geen geheim daarvan dat hy haar geselskap geniet en haar graag meer wil sien nie.
En Willa dink nie eens daaraan om haar ’n bietjie meer onbeskikbaar te stel nie. Soos hy, wil sy hom sien en by hom wees. Hulle kan nie genoeg kry van gesels nie, en Deon is versigtig om nie aanmerkings te maak wat haar verleë laat voel nie.
Hy raak selde aan haar. Sy oë lag in hare, en dit terg, maar dit liefkoos haar nie soos die eerste aand nie. Sy voel verward. As dit nie vir sy afskeidswoorde daardie eerste aand was nie, sou sy rêrig gedink het hulle is net vriende en dat daar geen dieper aangetrokkenheid van sy kant is nie.
Willa besef al hoe meer dat dit nie met haar die geval is nie. Hy is seker die aantreklikste man op die aarde, besluit sy elke keer opnuut. Die emosies wat hy by haar wek, word by die dag intenser. Sy gesigsuitdrukkings leer sy ken. Hoe lag eerste by sy oë begin en dan na sy mond versprei. Hoe hy ernstig kan raak, die lyne om sy mond duideliker. Sy hou van sy houding teenoor die lewe, die verantwoordelikheidsgevoel teenoor en respek vir sy werknemers, sy begeerte om ’n verskil te maak.
Een heerlike, warm Saterdagoggend nooi hy haar na sy huis. Sy raak dadelik verlief op die groot, ou huis met sy pragtige tuin. Gerieflik binne, en onpretensieus luuks, ’n mengsel van oud en modern.
Deon stel voor dat hulle in die swembad afkoel.
Hulle swem en speel met ’n bal, en klim later uit om in die son droog te bak. Deon probeer nie sy belangstelling verberg toe sy, effens selfbewus in haar bikini, sonblok aan haar lyf smeer nie, maar bied ook nie aan om dit vir haar te doen nie.
Sy huiwer tussen verligting aan die een kant – sy aanraking sou net te veel van ’n uitwerking op haar gehad het – en verwarring aan die ander kant: Ander jong mans het nooit die geleentheid verby laat gaan om aan te bied om so ’n takie te verrig nie.
Vir die eerste keer in haar lewe is sy intens bewus van ’n man se liggaam: sy lang, goed gevormde bene, sy breë skouers, sy gespierde borskas en maag, sy sterk arms.
Hoe sal dit voel …? Nee, keer sy haar gedagtes; haar gesig sal haar net verraai.
Toe sy later omdraai om op haar maag te lê, steek Deon sy hand uit en raak liggies met sy wysvinger aan die geboortevlekkie baie laag op haar rug.
“’n Geboortevlekkie?”
En toe sy glimlaggend knik: “Ek het vir ’n oomblik gedink dis ’n tatoeëermerk. Dis ’n perfekte hartjie.”
“Ek het dit by my ma geërf. Sy het op presies dieselfde plek ook so ’n geboortevlek gehad.”
“Baie sexy.”
Die lig in sy oë laat haar vir ’n oomblik voel dat hy haar baie begeerlik vind, maar hy spring op en trek haar aan haar hand op. “Kom, juffrou le Roux, jy word lui hier in die son. Kom swem weer voor ons gaan eet.”
Sy ontmoet vir Gladys, sy huishulp, wat na baie jare by die Jouberts feitlik deel van die familie is, vertel Deon, en hom help grootmaak het. Gladys sit ’n fantastiese middag- en later ook aandete voor, en Willa vertel haar na aandete met groot entoesiasme hoe sy dit geniet het.
Gladys se gesig straal. Nadat sy alles opgeruim het, bring sy vir Willa ’n bakkie met gesondheidsbeskuit. “Jy is heeltemal te maer. Jy moet eet dat jy kan lyf kry.”
Willa lag en bedank haar, maar toe Gladys haar uit die voete maak en sy na Deon kyk, verdwyn haar lag.
Sy blik is intens. Hy staan op en trek haar uit haar stoel op. “Net reg,” sê hy, terwyl sy oë oor haar gly. “Perfek. En ek moet jou eerder nou huis toe neem.”
Een Sondagaand sê Willa dat sy baie verpligtinge gedurende die week het en waarskynlik elke aand sal moet werk. Deon moet, op sy beurt, vir ’n paar dae Kaap toe. Hy sê hy sal haar Vrydagaand sien en dat hy reeds twee teaterkaartjies vir ’n skreeusnaakse komedie gekry het vir die komende Saterdag, sal sy saamgaan? Hulle kan voor die tyd eers iets gaan eet.
“Ek dink dit is nou my beurt om vir jou ’n ete te maak,” sê Willa. “Wat van Vrydagaand hier by my?”
“Ek wil nie hê dat jy Vrydag na werk nog moet koskook nie,” besluit Deon. “Ek weet hoe hard jy gedurende die week werk.”
“Jy kan my altyd kom help.”
“Goed,” glimlag hy, “ek sal kom kyk dat jy die kos nie brand nie,” en vang haar hand toe sy ’n oppas-vir-jou-vinger na hom wys, vou dit in syne toe. Hy groet met ’n hand teen haar wang.
Tog bel hy haar Donderdagoggend: “Ek is op Kaapstad se lughawe. Ek het vroeër klaargekry as wat ek gedink het. Is jy by jou werkplek al senior genoeg om vanmiddag ’n paar uur af te knyp, dan gaan speel ons gholf?”
Willa se hart bokspring van vreugde toe sy sy stem hoor. Sy dink vinnig: Sy het die week al lang ure gewerk, en sy kan vanaand weer ’n paar ure insit.
“Goed,” stem sy in, “hoe laat?”
Hy kom haal haar met ’n viertrek sodat die gholfsakke kan inpas en neem haar na ’n minder bekende, minder besige gholfbaan sodat hy haar bietjie kan afrig, vertel hy.
By die eerste bof slaan Deon eerste af, waarna hulle na die damesbof stap.
Willa is so beïndruk deur sy afslaan dat sy sommer senuweeagtig voel. Haar eerste afslaan is dan ook glad nie ’n sukses nie.
Deon gee vir haar nog ’n balletjie aan. Hy demonstreer hoe sy haar drywer moet terugtrek en afswaai: “Oefen eers. Probeer die gras raakslaan.”
Willa probeer doen wat hy sê, maar sien duidelik dat sy nie laag genoeg swaai nie. Sy sou die bal nooit optimum getref het nie.
“Jy trek jou drywer te laag agter jou skouers af. En jy gebruik jou gewrig: dan het jy nie beheer oor die stok nie,” kritiseer hy, en kom staan agter haar. Sy een hand rus op haar heup, die ander vou oor haar hande, trek die stok op en sê: “Tot hier, en dan swaai jy af,” en demonstreer met sy hand oor hare die afwaartse swaai. “Onthou, jy hoef nie krag in te sit nie, dis die spoed van die afwaartse swaai wat belangrik is. Hou jou bene effens gebuig. Swaai deur. En moet nié jou kop optel voor jy nie klaar geslaan het nie, dis die grootste fout wat beginners maak.”
Nou hoe moet ek al dié goed onthou as my hele lyf in skok is van jou aanraking?
Willa dwing haar om te konsentreer. Lig die drywer so ver soos hy gedemonstreer het, swaai af en slaan die bal … mis. ’n Freshie! Sy kyk verbaas op na Deon, sien hoe hy sy onderlip vasbyt om nie te lag nie, en dan tog, toe hy haar kwasiverontwaardigde blik sien, toegee.
Willa lig haar stok kastig dreigend en loop op hom af.
Laggend gryp hy haar pols en trek haar nader, soen haar vol op haar mond.
Dit is binne ’n oomblik verby, maar vir Willa is die wonder daarvan kosbaar in haar hart.
Later, by die klubhuis, terwyl Deon ’n bier en sy ’n vrugtesap drink, vra hy of sy tyd het om iets ligs saam met hom te gaan eet.
“Ek weet nie, Deon,” antwoord sy aarselend. “Ek sal vanmiddag se werk moet inhaal.”
“Jy moet in elk geval eet. Ek belowe jy sal op die laatste halftien terug by jou woonstel wees. En omdat ek nogal voorsien het dat jy dalk sal moet werk, het ek klere in ’n sportsak gegooi om vanaand aan te trek in die hoop dat jy saam met my sal gaan eet. Dus, as jy instem, stort ek sommer by jou om tyd te spaar. Is dit reg so?”
“Reg so,” stem Willa in. “En ek is rasend honger. Kan ons gaan?”
Toe Willa later daardie aand, nadat Deon haar terugbesorg het, in die badkamer van hulle woonstel kom en die talmende geur eie aan hom ruik, word haar hele wese week.
Ek wil hom die res van my lewe ruik, en voel, en sien, en hoor. Die gedagte laat haar skrik; sy weet