Christelle frons van ergernis. “Ek het net soveel respek vir tant Lerina se privaatheid soos jy, Wiandri. Maar wat ek jou wil wys, het betrekking op Floors Venter, soos hy homself noem. Die man is onder valse voorwendsels en ’n vals naam hier. Ek moet tant Lerina waarsku dat Floors nie ’n liewe, hulpvaardige jongman is nie, maar ’n uitgeslape bedrieër wat vir haar – vir julle almal – ’n bedreiging is!”
“As dit waar is, waarom weet tant Lerina niks van die swart op wit bewys oor Floors se bedrog as dit in haar eie huis is nie?” vra Wiandri onbeïndruk.
“Tant Lerina was meer as dertig jaar gelede laas in die wesvleuel, my liewe kind. Sy praat nooit oor die wesvleuel of oor die dae toe dit nog in gebruik was nie. Jy weet self dis tant Grietjie wat persoonlik sorg dat die kamers gereeld skoongemaak word, want al waarin tant Lerina belang stel, is dat die deur na die vleuel gesluit bly. Sy het die verlede vergeet, daarom kan sy Floors so maklik vertrou.” Christelle swyg, kyk na die gangdeur en vervolg dringend: “Asseblief, Wiandri, vertrou my net. Ek staan onder ’n verpligting om tant Lerina te help, want ek het ’n groot deel van my jeug in hierdie ou huis deurgebring. Toe, kom ons gaan nou.”
“Ek dink nog dis nie reg nie, Christelle,” kla Wiandri en volg Christelle onwillig na die gang. “Hoekom vertel jy nie vir tant Lerina van jou vermoede dat Floors …” Haar sin rafel uit toe harde stemme en voetstappe regs van hulle opklink. Sy loop nader en sien Wessie holderstebolder by die trap afkom, ’n toornige Grietjie op haar hakke.
“Bose gebroedseltjie!” skel Wessie skril. “Ek het nie ’n skelm haar op my ronde koppie nie, Grietjie Verster! Vir wat sal ek jou huissleutels steel as ek my sigselwers moet lam dra aan my bos winkelsleutels? Los my, jou gryperige skarminkel, of ek byt jou vingertjies stomp af! Jy snuffel g’n in my sakke rond nie!”
“Gryp haar, Wiandri! Moenie haar laat wegkom nie!” roep Grietjie uitasem en rooi in die gesig toe Wessie met ’n waaghalsige sprong voor Wiandri se voete land. “Die agterbakse vroumens het my bos sleutels in haar sak gesteek en nou gee sy voor dis haar winkelsleutels. Hou haar vas, hartjie!”
Wessie trek haar langbroek, wat dreig om oor haar smal heupe af te sak, op, skud haar skouers en lig haar kop soos ’n strydlustige kapokhaantjie op. “Noudat ons tussen ordentlike mense is, sal jy jou ordentlik gedra, gryperige Grietjie. Matronetjie, jy en hierdie asempie is my getuies: Ek het niemand se sleutels gesteel nie. Kyk vir julle sigselwers wat in my broeksakke is: net my eie bos winkelsleutels, een van my oorle Petrus se sakdoeke en ’n paar rosyntjies en grondboontjies.” Sy kyk na Wiandri, vergeet van haar ergernis en vervolg met ’n vertroulike glimlaggie: “Ek bêre die twee bloues in my skoen sodat ek nie beroof kan word nie, dingetjie. Kontantgeldjies is skaars op onse dorpie.”
“Gryp haar aan haar voete en skud haar uit, Wiandri!” beveel Grietjie boos en bly met haar hande in haar sye geplant tronend oor die korter Wessie staan. “Wessie Winkel, ek vertrou nie mense wat sulke oorgroot klere dra nie. Wat steek jy alles onder daai wye hemp weg?”
“Net my goeie hartjie en my maer ribbebeentjies, ou Grietjie,” antwoord Wessie met ’n kekkelende koggellaggie, lig haar op haar tone om Grietjie in die oë te kyk en skud haar kop meewarig: “Jou arme sieletjie, jy is dodelik siek. Sulke rooi ogies beteken net een van twee dinge: bloeddruk of varkmasels. Matronetjie, waar is jou bloeddrukmasjientjie en jou inspuitingsnaald? Ou Grietjie is sterwende, maar as jy gou speel, kan jy dalk nog haar mislike lewetjie red.”
Wiandri sien hoe Grietjie haar oë styf toeknyp en haar vuiste bal en sê vinnig: “Ek het die huissleutels in die spens opgetel en vir Christelle gegee om vir tannie te bring. Ek is so jammer daar was ’n misverstand tussen tannie en tant Wessie.” Sy pluk die roerlose Grietjie bekommerd aan die arm en sê paaiend: “Tant Grietjie, jy kan nou maar jou oë oopmaak. Christelle het die huissleutels.”
“Ek het jou gehoor, my engeltjie, maar ek wag vir die onvermydelike,” antwoord Grietjie met aanvaarding en knyp haar oë stywer toe toe Wessie se vermakerige kekkellaggie deur die huis skeerlem.
“Wie is nou oud en kort van gedagte, Grietjie Grootbek?” vra Wessie uittartend en vervolg toornig: “Sê my so sleg dat ek my nie met ’n boks waspoeier sal kan skoon was nie, en al die tyd het jy jou sleutels verloor. En wil sommer my sakke uitdop asof ek ’n ertjiepeul is – eiegeregtige ou vrou! Grietjie, jy skuld my,” sê Wessie bitter.
Grietjie ruk haar oë verontwaardig oop. “Ek skuld jou nie ’n dooie duit nie, Wessie Winkel. Goed, ek is jammer ek het jou vals beskuldig, maar wie anders kon ek verdink?” vra sy verontskuldigend en hou haar regterhand gebiedend uit na Christelle. “My sleutels, kind. En opskud, voordat ek jou uitdop soos ’n ertjiepeul.”
Wiandri voel haar wange gloei van verleentheid toe Christelle haar ’n verwytende blik toewerp voordat sy die bos sleutels aan Grietjie gee. “Was al die lawaai nou nodig, tant Grietjie?” vra Christelle afkeurend. “Ek is seker julle het net vir tant Lerina onnodig ontstel. Julle huispersoneel is lankal huis toe en hulle is in elk geval almal betroubaar. Of is tannie nie seker van Floors Venter se eerlikheid nie?”
“Sies vir jou, asempie!” berispe Wessie haar voordat Grietjie kan reageer. “Onse Floorsie het nie al sy skroefies en moertjies nie, maar hy is ’n alte mooie seunskind met ’n dierbare ou hartjie. Dis mos waar, Grietjie?”
Grietjie staar Wessie oomblikke lank stom aan en glimlag oorwonne. “Ja, Wessie, ja. Floors is ’n goeie kind, maar jy, Wessie Winkel … Dink jy ek het vergeet dat jy my Grietjie Grootbek genoem het? Ek laat my nie beledig deur mense wat met bak handjies voor my agterdeur staan as ek koek en beskuit bak nie!”
“Wag nou, julle twee,” sê Christelle streng. “Tant Wessie, gaan drink nog ’n koppie tee saam met tant Lerina en hou haar ’n rukkie geselskap. Ek het tant Grietjie se hulp nodig.”
“Lekker! Met jou uit die pad, lastige Grietjie, eet ek al daardie koesistertjies en die res van die melktert op!” jubel Wessie en fladder met verbasende spoed die gevleuelde trap op na die eerste verdieping.
“Wat sy nie soos ’n honger meerkat verslind nie, prop sy in elk geval in haar broeksakke,” mor Grietjie en draai afwagtend na Christelle. “Hoekom dra jy jou Sondagsgesig, my hartjie? Het jy gesê ek kan jou help?”
“Ek hoop so, tant Grietjie. Het tannie of tant Lerina Floors Venter in diens geneem?” vra Christelle saaklik.
Wiandri voel haar senuwees in haar maag saambondel, wens dat Christelle nooit kom kuier het nie en wag in ademlose spanning dat Grietjie haar antwoord.
“Ek en juffrou Lerina doen alles saam-saam, want sy is die baas wat die salarisse moet betaal en ek is die huishoudster wat moet sorg dat almal hulle werk doen. Maar hoekom vra jy, Christelle? Floors gesels nie graag nie, maar hy is ’n gewillige werker.”
“Het tannie-hulle Floors se identiteitsboekie gesien?” vra Christelle skerp.
Grietjie frons en vryf-vryf met ’n wysvinger langs haar neus, asof sy ernstig nadink. “Noudat jy vra, my engeltjie … Nee, ek is jammer, maar ek kan nie onthou nie,” antwoord sy eindelik.
“Maar dis ongehoord, tant Grietjie! Alle werkers moet geregistreer word en dis uiters belangrik dat …” objekteer Christelle.
“Sjoes, kind!” maak Grietjie haar stil. “Ons het Floorsie nie geregistreer nie, want hy verdien nie ’n salaris nie. Die stomme seun het sy vorige werk verloor en nou speel hy maar nutsman vir ons, net vir ’n dak oor sy kop en kos in sy maag. Hy is ’n bietjie onhandig met ’n hamer en spykers, maar daar is baie ander werkies wat hy kan doen.”
“Floors versorg my perde,” sê Wiandri partydig en kyk uitdagend na Christelle. “Ek het Floors se identiteitsboekie gesien, Christelle. Hy is Florentius Venter gedoop. Is dit nie ’n besonderse naam nie?” vra sy en glimlag met liewe onskuld in die verbaasde Christelle se oë.
Grietjie byt haar onderlip vas om te verhoed dat sy glimlag en sê tevrede: “Noudat ek weer dink: