“My pa is byna sestig en hy glo oefening is goed vir hom. Stem jy nie saam nie, Wiandri?” vra Floors uitdagend, asof hy verwag dat sy hom gaan weerspreek.
“Ek is ’n verpleegster, nie ’n oefeningfoendi nie, Floors,” antwoord sy kortaf.
“Kom sit hier langs my, kindjie,” nooi Lerina hartlik, “en help my met hierdie legkaart. Daar is soveel blou lug en see dat ek tot volgende Kersfees aan die ding sal bou. Floors gee nie om om te lees nie, selfs al hou hy kamstig nie van liefdesromans nie.”
Sy het nie meer beheer oor haar verraderlike emosies nie, dink Wiandri met groeiende kommer, want om in dieselfde vertrek as Floors te wees, is voldoende om haar op net een onderwerp te laat fokus: op hom. Haar gedagtes, haar sintuie, selfs haar hartklop maak haar intens bewus van sy teenwoordigheid, en gebruik sy nie al haar wilskrag nie, staar sy asof betowerd na sy gespierde arms en bene. Sy weet sy sal haar verheerlik in die volmaaktheid van elkeen van sy gelaatstrekke, daarom durf sy nie na hom kyk nie. Floors sien haar skaars raak, maar hy beskik oor ’n magiese krag wat haar aantrek en hom die middelpunt van haar bestaan maak.
Gevaarlik.
Die woord fluister deur haar gedagtes, maar sy ignoreer die waarskuwing van haar verstand. Tant Lerina vertrou hom, so sy het niks te vrees nie. Maar sy mag nie vergeet nie: Floors is ’n onbekende indringer met ’n onbekende verlede.
“Ek is bly jy het gekom, Wiandri. As jy die boek verder sal voorlees, sal ek oom Ben in die tuin gaan help,” onderbreek Floors haar tobbende gedagtegang en hou die boek uit na haar.
“Nee, Floorsie, jy word met ’n bord kos betaal om te lees. Ek het hope ander dinge om te doen,” sê sy vermakerig, draai om en draf vinnig in die gang af na haar slaapkamer.
Tant Lerina sal haar verkwalik oor haar geniepsige woorde, dink Wiandri skuldig, maar tant Lerina was nog nooit in haar situasie nie; nie dat sy sekerheid het oor wát haar situasie is nie. Sy weet net dat Floors haar terselfdertyd aantrek en grensloos irriteer. Sy is kwaad vir hom omdat … omdat sy hom byna in ’n oogknip liefgekry het en so weerloos voel, huiwerend tussen blydskap en hartseer, dat sy wil huil.
“Nee!” bars die luide ontkenning oor haar lippe.
Wiandri skrik vir die klank van haar eie stem, raap ’n boek op en storm by haar kamer uit na die trap. Dis die spanning van haar finale eksamen, die lang ure agter die stuurwiel en die gebrek aan slaap wat haar denkvermoë aangetas het, redeneer sy met haarself. Sy sal in die somerhuisie gaan wegkruip, haarself opkrul op haar geliefkoosde bamboesstoel en lees – en nie een maal aan Floors Venter dink nie, want sy is twee-en-twintig, ’n hospitaalsuster en veels te intelligent om op ’n geheimsinnige vreemdeling verlief te raak, besluit sy, en draf by die agterdeur uit.
Sy hou al byna twee uur lank haar liefdesroman in haar hande vas, maar sy het nog nie ’n enkele woord gelees nie, besef Wiandri wanhopig. Hoe kan sy konsentreer as sy oor en oor elke woord, elke kyk, elke gebaar van Floors voor haar geestesoog herroep? wonder sy en sit haar boek met ’n oorwonne suggie neer. Sy sal nie lees nie. Sy sal aan Floors dink en met haar verstand ’n logiese verklaring vind waarom sy haar verbeel dat sy holderstebolder op hom verlief geraak het. Nee, sy het nie …
“Oom Ben!” hoor sy Floors naby die somerhuisie roep en voel haar hart bly ruk in haar bors. “Het oom nie vir Wiandri gewaar nie?”
“Nee, Floors,” herken Wiandri hul tuinier, Ben Moolman, se stem. “Wiandri het my net ná middagete kom groet, maar ek neem aan sy is weer terug huis toe. Of dalk het sy by die perdestalle gaan inloer. Tag, dis ook al amper vyfuur. Die dag hardloop weg as ’n man besig is met dinge wat die moeite werd is.”
Wiandri sluip na die noordelike venster van die somerhuisie en loer tussen die digte jasmynranke deur na waar Floors en Ben in die roostuin staan.
“Oom het darem ’n pragtige tuin. Hoe lank werk oom eintlik al hier?” vra Floors en kyk bewonderend om hom rond.
Ben skuif sy strooihoed uit sy oë, krap agter sy oor en stoot ’n kuglaggie oor sy lippe. “Seker maar vandat ek kon loop, ou seun.” Hy kuglag weer en verduidelik: “Ek is in die tuinhuis gebore, ons is al vir geslagte lank tuiniers op Groeneweide. Ek het by die landbouskool geleer en toe het ek reguit teruggekom huis toe, want ons Moolmans woon langer op hierdie ou plek as juffrou Lerina. My oupa kon stories vertel oor die man wat die huis laat bou het.”
“A!” sê Floors en klink asof hy werklik belang stel. “Dan is die Rosseau’s nie die oorspronklike eienaars van Huis Groeneweide nie?”
“Nee, Floors. Juffrou Lerina was al hier toe ek gebore is, by die vyftig jaar gelede, maar my pa en veral my oupa het van die ander mense gepraat. Ek kan nie nou aan die van dink nie, maar ek meen juffrou Lerina sal jou kan sê. Hoekom vra jy haar nie?”
“Die geskiedenis van ’n ou huis is altyd interessant, maar dis nie belangrik nie, oom Ben. Ek veronderstel Wiandri sal eendag die plek erf, of het juffrou Lerina ander erfgename?” hou Floors sy ondervraging vol.
Floors is net so nuuskierig soos sy, dink Wiandri met ’n tevrede glimlaggie, geensins bekommerd omdat sy die rol van luistervink speel nie. Sy het die volste reg om in die somerhuisie te sit en lees en as sy toevallig mense hoor praat, mag sy maar luister, redeneer sy verontskuldigend.
“Geeftig, nefie, ek kan my nie voorstel dat juffrou Lerina Groeneweide aan enigiemand anders sal nalaat nie – nie sy of Grietjie nie, want hulle vertroetel Wiandri van haar kleintyd af soos ’n skaars orgidee. Nie dat ek hulle verkwalik nie: Wiandri was nog altyd ’n soet kind. Sy het hulle nooit enige hartseer of rede tot kommer gegee nie. Ek hoef nie juffrou Lerina se testament te lees nie. Ek weet Wiandri sal Groeneweide erf,” antwoord Ben beslis en kyk Floors skerp aan. “Maar hoekom vra jy my so uit oor juffrou Lerina se besigheid? Is Wiandri nie mooi genoeg sonder ’n groot erfporsie nie?”
Hoera vir oom Ben, dink Wiandri, en glimlag breed toe ’n donker gloed oor Floors se nek en gesig kruip. Floors het haar getreiter oor haar nat klere en die foto’s van haar in haar bikini, en nou kan sy hom heimlik uitlag oor sy nuuskierigheid.
“Ek is seker dit sal nie vir Wiandri nodig wees om vir haar ’n man te koop nie, oom Ben, maar wat sal sy met so ’n kasarm van ’n huis doen? Jongmense verkies die opwinding van ’n stad.”
“Wiandri is ’n kind van Groeneweide, Floors, sy is hier gebore en die ou plek is in haar bloed. As sy trou, sal sy haar man hierheen bring en haar kinders hier grootmaak. Nie dat jy sal verstaan nie, nefie, ek vermoed jy was seker ’n klerkie in die stad en nou sukkel jy om ’n plattelander en ’n handearbeider te wees.” Ben kuglag en skud sy kop meewarig. “Jy is ’n slim kêrel, Floors. Jy ken die Latynse name van die struike en ek sien jy het allerlei dik boeke op jou boekrak in jou woonstel. Soek maar weer vir jou ’n werk in die stad, julle geleerde jongmense het nie liefde vir die grond nie.”
“Dalk doen ek dit, oom Ben,” antwoord Floors bedroë. “Ek het net toevallig ’n bietjie kennis van plante omdat my pa soveel in tuinmaak belang stel.”
“Uhm. Moet ’n gawe man wees, jou pa. Dankie vir die gesels, Floors, maar nou moet ek my gereedskap gaan bêre. Dis vyfuur en my werksdag begin met dagbreek – ek het my rustyd verdien.” Ben lig die handvatsels van die kruiwa op, kyk reguit na die somerhuisie en roep gemoedelik: “Naand, Wiandri! Lig loop vir die stadskêreltjie, nooientjie. Hy stel alte veel in jou erfgoed belang!”
Wiandri leun tussen die jasmynranke deur oor die vensterbank en skaterlag toe Floors onthuts omswaai na die somerhuisie. “Ek het vier jaar lank lig geloop vir stadskêreltjies, oom Ben! Floorsie is net nuuskierig. Nag, oom!”
Wiandri hoor Ben se genotvolle kuglaggie terwyl hy die kruiwa wegstoot, maar haar oë is vasgenael op Floors se sonbruin bene wat met lang, kragtige hale oor die grasperk na haar toe beweeg. Sy is twee-en-twintig, nie ’n onervare tiener nie, herinner sy haarself en glimlag met liewe onskuld reg in sy oë.
“Wie is nóú