Trompie Omnibus 6. Topsy Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Topsy Smith
Издательство: Ingram
Серия: Trompie
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798176637
Скачать книгу
Trompie se manskappe is nou al verveeld met sy dinkery en besluit om iets aan die saak te doen. Hulle gaan die dinkproses ’n bietjie aanhelp.

      Rooie leun met sy bolyf oor die hekkie. Hy sien hoe Dawie vir hom knipoog en beduie hy moet aan die hekkie pluk. Blikkies sien wat Dawie wys en staan nader. Hy wil ook aan die hekkie ruk. Dawie kom nou ook nader.

      Die drie kyk glimlaggend na mekaar. Hul hande rus op die hekkie. Hulle is gereed.

      Trompie sit net mooi en dink hoe verbeeldingloos sy drie vriende is dat sy ernstige, denkende houding nie enige indruk op hulle maak nie, toe hulle aan die hekkie pluk. Die Grootkaptein het nie vasgehou nie en die pluk is onverwags. Hy tuimel van die hekkie af en val hard op die sypaadjie.

      Rooie, Blikkies en Dawie skater soos hulle lag. Trompie is so verbaas dat hy net een woord kan sê: “Jissie!”

      Dit laat hulle nog meer lag. Hulle hou eintlik hul mae vas.

      “Probeer julle snaaks wees?” blaf Trompie en dan lag hulle nog harder.

      Trompie besef nou eers wat ’n simpel vraag dit was. Natuurlik probeer hulle snaaks wees. Hy begin half teësinnig glimlag, maar dis nie lank nie of hy skater ook van die lag.

      Die Grootkaptein staan op en skud die stof van hom af. Dan sê hy: “Kom! Dis tyd om vergadering te hou.” Rooie, Blikkies en Dawie volg hul leier na die somerhuisie toe.

      Hulle gaan sit en Trompie kyk tevrede van sy een manskap na die ander. Die drie sit in hul tipiese houdings. Rooie is soos gewoonlik kaalvoet. Sy pa is die dorp se skoenmaker, maar hy kan nie skoene aan sy voete verdra nie. Hy moet skoene skool toe dra, maar huistoegaantyd pluk hy hulle uit, bind die veters aan mekaar vas en dra die skoene dan oor sy skouer.

      Rooie sit ingedagte na sy voete en kyk. Hy probeer sy tone wikkel sonder dat die groottone ook beweeg. Dit is nogal moeilik, maar Rooie glo hy gaan dit eendag nog regkry.

      Blikkies sit-lê op die bankie. Sy lang bene is ver voor hom uitgestrek en sy rug rus teen die bankie se leuning. Net ’n deel van sy sitvlak is op die sitplek. Sy kakebene beweeg ritmies op en af soos hy kougom kou. Wanneer Blikkies se geldsake in ’n toestand is – dit is ongelukkig meer die reël as die uitsondering – kou hy gewoonlik grashalmpies.

      Dawie sit op ’n stoel en gebruik sy skoenpunt om met Trompie se hond, Boesman, se maag te speel. Dawie wil probeer om Boesman te kielie dat hy lag. Hy het nog nooit in sy lewe ’n hond gehoor lag nie. Maar Boesman lag nie. Hy tik-tik net met sy stert op die grond om te wys hy geniet die gekielie.

      Die vier lede van Kwaggaberg se beroemde (of is dit miskien berugte?) Boksombende is gereed vir die groot amptelike vergadering wat Trompie belê het.

      Die Grootkaptein staan op en maak keel skoon. Blikkies kyk na hom en versit die stukkie kougom in sy mond behendig van die een kies na die ander. Rooie hou op om sy tone te wikkel. Dawie haal sy skoenpunt van Boesman se maag af.

      “Ek het groot planne,” sê Trompie met ’n diep stem. “Die vergadering begin nou amptelik.”

      “Orraait,” sê Blikkies lui.

      “Orraait wie?” snou Trompie hom toe. Hulle moet die regte prosedure volg – die vergadering het mos nou begin.

      Blikkies weet goed wat Trompie van hom verwag, maar kou eers ’n paar keer voor hy antwoord: “Orraait, kaptein.”

      Trompie is altyd gesteld daarop dat sy manskappe hom as kaptein moet aanspreek wanneer dit ’n amptelike vergadering is.

      Die volgende stap in die regte prosedure is dat hy moet tel of hulle voltallig is.

      “Is ons almal hier?” vra Trompie en voor iemand hom kan vra of hy blind is en nie kan sien al vier lede van die Boksombende is teenwoordig nie, begin hy hulle tel. ’n Vuil wysvinger wys na Dawie, dan Rooie, dan Blikkies en dan na homself terwyl Trompie hardop tel: “Een, twee, drie, vier.” So ja, hy is tevrede. Die Boksombende is voltallig.

      “Dis belaglik,” brom Rooie. “Jy kan mos sien ons is almal hier.”

      Trompie besluit om hierdie aanmerking te ignoreer. Hy maak weer keel skoon en sê dan met ’n dramatiese handgebaar: “Manne van die Boksombende, ons is vandag hier bymekaar …” Hy is op die punt om soos met ’n vergadering in hul fort, die ou waenhuis buite die dorp, by te voeg “onder die blou hemel” toe hy hom bedink.

      Hulle is nou in die somerhuisie en daar is ’n grasdak oor hul koppe. Hulle kan nie die blou hemel sien nie. Hierdie frase is altyd so indrukwekkend dat Trompie nou spyt is die vergadering is nie liewer op die grasperk nie. Dan kon hy mos nog steeds “onder die blou hemel” gesê het.

      “Soos ek sê,” gaan hy voort, “ons is hier bymekaar onder die … die grasdak van hierdie tuinhuisie … om oor ’n groot en ernstige saak te beraadslaag.” Trompie het sy spiets, soos hy dit noem, die vorige aand mooi in sy kamer beplan. Hy hou veral van die woord “beraadslaag”. Hy kyk vinnig watter uitwerking dit op sy manskappe het.

      Dit lyk nie of dit veel indruk op hulle maak nie. Rooie sit en wikkel weer sy tone terwyl hy probeer om sy groottone stil te hou. Blikkies lê nou so gemaklik agteroor met sy oë half toe dat dit lyk of hy slaap. Net sy kake beweeg nog steeds ritmies op en af soos hy kougom kou. Dawie is weer besig om Boesman se maag met sy skoenpunt te kielie.

      “Ek sê,” sê Trompie sag en dan skree hy so hard soos hy kan: “Ons gaan beraadslaag! Beraadslaag!”

      Blikkies wip soos hy skrik. Hy is nou heeltemal wakker. Rooie se oë is groot en sy tone is stil. Hy het ook geskrik. Dawie het so gewip dat hy Boesman per ongeluk in die maag geskop het. Die arme hond spring tjankend op.

      “Wassit met jou? Is jy mal of wat?” vra Rooie vies. “Hoekom skree jy so?”

      “Julle sit soos ’n klomp houtpoppe,” sê Trompie vies. “Julle moet luister as ek my spiets afsteek.”

      Die drie sit regop en spits hul ore. Boesman hou op tjank en kom weer lê.

      “So ja,” sê Trompie, “nou kan ek aangaan. Waar was ek?”

      “By beraadslaag,” sê Dawie droogweg.

      Trompie kyk agterdogtig na Dawie. Hy wonder of die slimkop miskien probeer snaaks wees, maar Dawie glimlag ewe vriendelik en onskuldig vir hom.

      “Nou ja, soos ek sê,” probeer Trompie weer om sy sê te sê en sy spiets af te steek, “ons is hier bymekaar om oor ’n ernstige saak te beraadslaag.”

      “Hier onder die grasdak,” kom Blikkies se lui stem.

      “Dis reg, maar ek het dit al gesê! Dis nie nodig om dit weer te sê nie!” snou Trompie hom toe.

      “Orraait, vat dit kalm,” paai Blikkies en kou weer smaaklik aan die kougom in sy mond.

      “Hierdie ernstige saak waaroor ons moet beraadslaag,” sê Trompie ferm en hy kyk so woes na hulle dat niemand dit waag om weer ’n aanmerking te maak nie, “weet een van julle wat dit is?”

      Sy drie manskappe skud hul koppe. Hulle het nie die vaagste benul nie, maar hulle stel nou belang. Hulle wil graag weet.

      “Wel,” sê Trompie tevrede noudat hy sy gehoor se aandag het, “laat ek julle sê. Die ernstige saak is ons finansies.” En dan voeg Trompie ’n sin by wat hom gisteraand voor die spieël in sy kamer groot plesier verskaf het. Hy het die sin gesien in ’n verslag wat op sy pa se lessenaar gelê het en dit dadelik uit sy kop geleer. Hy sê dit nou met ’n belangrike stem: “Die gesonde belegging van ons kapitaal om redelike winste te verseker.”

      Hierdie sin het net die regte uitwerking op Rooie, Blikkies en Dawie. Hulle gaap hom oopmond aan. Trompie voel hy maak so ’n groot indruk dat hy die sin moet herhaal.

      “Ja-nee,” sê hy trots, “dís waaroor ons moet beraadslaag – die gesonde belegging van ons kapitaal om redelike winste te verseker.”

      Sy